1.11.11

Vreemde spesie , die mens, darem

“Die mens is darem maar ‘n vreemde spesie. Hoe meer ek van hom leer ken, hoe minder verstaan ek hom.”

Nie ek wat so sê nie, maar my skoonpa wat twee weke gelede, toe ons vir die naweekwegbreek Bosveld toe gou  gaan groet, vir my ‘n slagyster stel.

Ek trap oop-oog daarin met ‘n “Hoe dan so, Pa?”

“Die kind  is siek, maar julle gaan weg vir die naweek.”

Ek het van beter geweet as om te reageer en maar stil gebly. Ek het die argument in stilte verder gevoer, en (in my kop) gewen.

Ook nie heeltemaal nie. Ek en Annieka het daardie Klaradyn daardie Vrydagnag in die donkerte van ‘n tent pimpel en pers geknyp in een of ander toets om te sien of die kind nie gevaarloop om te dehidreer nie.

Maar dis nou twee weke later. Ons het deur die genade nie nodig gehad om hoed in die hand en stert tussen die bene terug te keer nie. Tog eggo sy woorde, hoe meer hy van die mens leer ken, hoe minder verstan hy hom, kort-kort steeds in my gedagtes.

En dan het niks, soos in ons geval met die siek kind, met die onverantwoordelikheid van die nuwe geslag te doen nie.

Soos vanoggend weer, toe ek vuurhoutjies wil koop by die garage op die hoek en ek wonder of die vrou wat so mooi Afrikaans praat enigsins danger pay kry.

Jy kry Afrikaans, ‘n pragtige Afrikaans, Swartafrikaans en ‘n pragtige Swart-Afrikaans. Hierdie vrou is swart en praat die pragtigste Afrikaans, Boereafrikaans nie Swartafrikaans nie. As jy tegelyk na haar luister en vir haar kyk, is dit asof jy ‘n lemmetjiegroen melkskommel drink wat na aarbei proe:  wat jy hoor klop nie met wat jy sien nie.

Toe ek my nuuskierigheid nie meer kon hou nie, blyk dit toe dat sy ‘n nooi van Calvinia se wêreld is, wat ‘n beter heenkome in die bose stad kom soek het.

En as ek so na haar luister, is dit of sy wel ‘n beter heenkome gevind het.

En tog, maar tog, wonder ek vanoggend vir die soveelste keer die afgelope ruk toe ek daar verby ry, of sy danger pay kry, en verstaan ek die mens, gedagtig aan my skoonpa, al hoe minder, hoe meer ek met hom te doen kry.

Danger pay, vir die wat gelukkig genoeg is om nie te weet wat dit is nie, is die kontant bedrag wat weekliks (of was dit maandeliks) in die operasionele gebied aan dienspligtiges uitgedeel is om op drank en sigarette te spandeer, aangesien hulle net een maal elke ses maande by ‘n bank kon uitkom.

Ek, Annieka en Klaradyn word toe mos een nag so twee maande gelede op die Kaapse Vlakte wakker. Dis ‘n middernagtelike oor-en-weer-kruis-masjiengeweer-vuur wat herinner aan bendegeweld  wat baie lelik uitdraai.

Ek loer uit vir voortvlugtendes deur die tuin en bel die buurman opf te hoor of dit nie by hom is waar so geskiet word nie.

Dit blyk toe nou, met ‘n ompad oppad skool toe die volgende oggend, dat die kitsbank, soos die kraai vlieg twee huise van ons, en twee winkels van die motorhawe se One Stop/Quick Stop/Select Store af, opgeblaas is.

Onder andere die kitsbank. Ook ‘n jong polisieman. En ander gewond.

Maar nee, ‘n SA-misdaad storie, is hierdie steeds nie. Dis die mens, en wat hy elke dag doen, wat my stomslaan.

Die kitsbank is moer toe en ons raak net gewoond aan die ongerief van elders stop, toe die kennisgewing so ruk gelede die oog vang: New autobank opening soon.

En dit is toe ook so. Nie waar nie, binne die motorhawe se One Stop/Quick Stop/Select Store.

Dis die deurnagwerkers hier wat destyds die polisie laat kom het. (Ons had helikopters in die lug, letterlik vir ure, elke denkbare en beskikbare patrollievoertuig op die toneel, ‘n legioen in uniform en genoeg pad- en voetgangerversperrings om aan die opening van die Wêreldbeker-sokkertoernooi te herinner, maar geen geluk. Die polisieman is dood aan diens, die bank (en seker die geld nou lankal ook, maar anders) geblaas.

Dis daardie deurnagwerkers wie se lewens van nul en gener waarde vir die bank- en winkelbestuurder geword het.

Ons hoef nie daaraan herinner te word dat mense weekliks vir baie minder as die inhoud van ‘n kitsbankkluis vermoor word nie.

En tog stuur ABSA sy kitsbank nou binnenshuis sodat...

Ek weet nie hoekom nie. Dit kan tog nie wees ter wille van veiligheid nie. Dit kan tog nie wees in die hoop dat ‘n slapende nagskofwerker alarm moet maak as agt mans, gemasker en gewapen tot die tande toe, drie-uur een oggend daar instorm en sy of haar harsings een maak met die sigarette en pakkies kondome nie.

Wie is dit wat ek nie verstaan nie? Is dit ABSA, of die vriendelike winkelbestuurder wat van tyd tot tyd daar geld tel, wat tog sekerlik betaal word om muur- en rakspasie aan die bank af te staan?

En kry die vrou danger pay om daar te sit in die hartjie van die operasionele gebied?

Ek weet nie. Ek stop nie meer snags daar nie, ek is te versigtig.

Ook nie sommer bedags nie. Ek wil nie.

(Heerlik om hierdie, drie jaar later, weer te lees en raak te lees dat ek nog vir vuurhoutjies gestop het - dis nou elf maande en vyf en twintig dae dat ek nie aan 'n sigaret gevat het nie.)

No comments: