27.3.12

‘n Stukkie sinnelose onthou vir die Swartjies

Vanaand (dis nou Vrydagaand gewees) is my gedagtes by Oom Paul. Oom Paul Greeff, of Man from Atlantis, soos hy later van tyd bekend gestaan het.

Hy, al ‘n ou man kort voor aftrede, het by ons kom wetenskap gee, en die hiper-korrekte Departementshoof Wetenskap binne ‘n kwartaal of wat grys hare gegee.

Hierdie man, wat dadelik baie gewild onder die kinders geraak het, het, met jare en jare se ondervinding, op die punte van sy vingers uit sy kop gewerk.

Lêers het hy lankal nie meer nodig gehad nie.

So lêers het hy nie gehad nie.

Na die derde kwartaal se kwartaallikse lêerinspeksie het die Juffrou Departementshoof toe maar ewe konsensieus ingespring en vir Paul ‘n stel lêers gemaak.

Ag siestog! Die vierde kwartaal toe kry sy dit presies soos sy dit drie maande gelede vir hom gegee het.

Sy het nie opgegee nie.

Maar sy weg by die skool, ‘n jaar of wat voor Oom Paul se dood.

Straks het sy nie op- nie, maar oorgegee.

Dit was natuurlik ook die dae toe alles opgeteken moes wees, nie net die lesse en voorbereiding nie, maar, met die oog op jaarlikse voorraadkontrole, ook die chemikalië en glasbottels en dinge wat ‘n wetenskaponderwyser ook al mag gebruik in die veraanskouliking van sy eksperimente en werk.

En naas sy lesse was dit juis sy eksperimente wat Oom Paul so gewild gemaak het.

Oom Paul het in ‘n kwartaal gebruik wat ‘n hele departement normaalweg nie in vyf jaar kon opgebruik nie. As een of ander element ‘n gas of vreemde reaksie maak, het Oom Paul bomme gemaak. Bomme waarvoor die hele klas uit moes gaan, terug moes staan, partykeer sonbrille moes opsit. (Paul het van die metaalwerksentrum vir hom ‘n sweismasker laat haal.)

Met die graad 11-sillabus moes ek jaarliks so vyf keer ;n jaar, afhangend van hoeveel klasse hy had, my klas, net bo syne, ontruim, want dan het daar ‘n walm ingetrek wat Wouter Basson en sy manne jaloers sou maak.

En hoe meer slotte die departementshoof tussen Oom Paul en haar voorraad aangebring het, hoe sterker het die vertrouensverhouding tussen Oom Paul en die laboratoriumassistente geword. Ja, die stomme departementshoof het seker maar oorgegee, want Oom Paul se piesangtrosse vir hande het hom gebore nie in staat gelaat om iets in kleinmaat te kan vat nie.

Paul was nooit getroud nie. En as daar vrouens of ‘n groot liefde in sy lewe was, was dit lank voor hy by ons aangseluit het.

Hy het van Natal afgekom om sy sterwende moeder te versorg en in haar huis aangebly na haar dood. (Ook eintlik verniet dat hy sy lewe in Natal opgegee het, want hy was hier nie drie maande nie, toe is die ou vrou dood. By aftreeouderdom kon Oom Paul al verby gewees het, maar daardie jare kon jy mos uit eie keuse vir nog vyf vasbyt. En Paul het vasgebyt. Wat anders was daar immers om aan te byt?

So twee keer ‘n jaar het hy al die mans genooi om by sy huis te kom braai, ‘n worsie en ‘n broodjie.

Gedrink het ons nie. Nie waarvan ek kan onthou nie.

Iemand het vir hom ‘n hond present gegee en hierdie hond het vrou en vertroueling, kind en kleinkind geword.
Met ‘n groot pot rooibostee en pakkie sigarette sou Paul onder sy avokadopeerboom stelling inneem en die middaglank tennisbal vir sy hond gooi. Selfs die middae wat ons daar gekuier het.

Hierdie rooibos was deel van sy oggendroetine ook. Goed ‘n uur lank, elke oggend voor die vertrek skool toe, het Paul by die kombuistafel gesit en die een koppie tee na die ander gedrink, nooit gestop voor die emaljepot nie leeg was nie.

Ons het geweet om nie drank te vat as ons by sy huis gaan wors braai het nie, nie dat hy sou omgegee het nie, want sy mond aan drank sit, in die middel van die week, sou Paul nooit doen nie. Selfs al nooi jy hom uit, por jy hom aan, of waai hom dit voor die neus.

Drank was daar ook nie in sy huis te kry nie. Nie op ‘n rak, in ‘n kas, yskas of selfs êrens tussen sy onderbroeke (of waar ‘n man ook al sy botteltjies wegsteek) nie.

Maar naweke, elke naweek, klokslag, was dit anders, dan het Oom Paul homself buite weste beskonke gesuip.

Daar was diegene wat so iets vermoed het, maar ek en my kollega het geweet. Dit was die jare dat ek en sy ‘n serenadegroepie onder die leerlinge saamgestel het en een keer ‘n kwartaal deurnag die strate ingevaar het en vir die onnies gaan sêr het. Dan met die kombi, dan met ons fietse.

Ag siestog, en die kinders was so opgewonde om by hul gunstelingwetenskaponderwyser te gaan sing. Of dit nou middernag of drie-uur was dat ons daar aangekom het, kan ek nie onthou nie. Die ligte was aan en ons het die man vallend, nee kruipend, in sy huis gekry.

Dit was lank terug, die kinders naïef (of miskien ordentlik) en Oom Paul seker maar koorsig of baie siek.

Ek het die Maandag vir Paul omverskoning gaan vra. Hy het nie nag nie juis iets registreer nie maar kon vaagweg ‘n iets onthou wat anders of vreemd aan die naweek was.

Ek het verduidelik, en toe is dit hy wat, grote man wat hy was, wat omverskoning vra en soos ‘n kind benoud is wat die kinders nou straks van hom dink.

En hy het belei.

Hoeka oor ek nou vir die eerste keer in jare op ‘n mannenaweek is, dat ek aan Paul dink.

Daardie jare het ons mans elke dan en wan gaan visvang. En was dit nie vir ‘n naweek nie, dan was dit sommer vir ‘n aand en nag.

En Oom Paul is altyd saam.

Soos ‘n mens se ligaam gewoond raak aan ‘n Sondagmiddagslapie en later vir jou sê, as jy dalk vergeet, dat dit nou Sondagmiddag is en hy wil hê jy moet gaan slaap, het sy ligaam hom seker ook maar elke Vrydag herinner dis nou Vrydag.

En sy blou volksie het vanself die pad tot voor die drankwinkel gevat.

Want aan sy roetine het hy nie kon verander nie. Of hy nou Vrydagmiddag alleen huis toe en hond toe is, en of hy geselskap het en saam met die manne gaan hengel het.

Dit was die betrokke naweek ook al nader aan winter as somer, ek is teen elfuur al slaapsak toe, Oom Paul het so sittend in sy stoel (op ‘n bakkie staangemaak) aan die slaap geraak. Warm (of gevoelloos) van die drank, ook warm van ‘n moerse dik swart wintersjas en ‘n oudedoos serp.

Beesblaas, die Arries-onnie, het in ‘n stadium saam met my tussen die bakkies in ‘n slaapsak kom skuiling soek van die wind en nanag se koue.

En dis hy wat my in ‘n stadium wakker maak. Want daar is Oom Paul, aan wie se snork ons intussen gewoond geraak het en eintlik die skielike stilte wat Beesblaas helder wakker gekry het, die dam in, tot by sy bors al, en steeds dieper in, reguit vorentoe, anderkant van die dam toe. Doelgerig en verbete. Daar begin hy swem. Jas en serp en al.

Ons moes die man gaan uithaal en Beesblaas is die water in.

Hy was op pas na die ligte aan die oorkant. Hy was glo by sy huis, op die stoep. Daar was groot reëns en oorstromings. Die hengelaars en kampeerders se ligte aan die oorkant was die redddingspanne waarheen hy op pad was.

In ’94 is ek met langverlof en Europa toe. In Hongarye het ek die boodskap gekry ons Man from Atlantis is oorlede.

Welke reddingspan hom verwelkom het, weet ek nie. Maar ek weet dit was ‘n redding.

18.3.12

Lekkerbekkigheid van 'n smulpaap

Dis darem maar hartseer, noudat ‘n mens groot is, waaroor gesprekke nie alles draai nie: geld en politiek en kinders en godsdiens en die geld, politiek, godsdiens en buite egtelike kinders (en ander verbandhoudende sekskursies) in ons Suid-Afrikaanse sport- en vermaaklikheidslui se lewens.
Nooit meer vra iemand jou “my gunsteling groente is dit en dat, en joune?” nie. Wanneer laas het iemand gevra watter kos jy sal wil hê voor hulle jou in een of ander elektriese stoel of ding teregstel?
Miskien het dit te doen met die feit dat die doodstraf afgeskaf is en moet ek eerder met ywer inskakel by die groepe wat hulle beywer vir die herinstelling daarvan.
Hierdie lawwe vraag was destyds op skool ‘n gewilde onderwerp gebore uit tweede-pouse-verveling wanneer jou huiswerk klaar afgeskryf en toebroodjies ook al op was.
Later van tyd het dit egter dodelike erns (sonder die dood, natuurlik) bygekry tydens jou twee jaar diensplig, as jy ses maande later gereed maak vir jou seven of fourteen days pas, en was jy ‘n hond, het jy sweerlik aan die kwyl gegaan bloot by die gedagte aan die kos wat jy mis.
Toe ek destyds na twee jaar uitklaar was my hele vriendekring op civvy-straat via voortydige briewewisseling gerat vir ‘n uiteet waar ek boere-kookkos kon geniet, in oormaat. En is ons, ironies genoeg, na die restaurant oorkant die Mark-teater in Newtown, Johannesburg waar jy propperse opgekookte groente kon geniet.
Maar synde niemand ooit meer vra nie, sê ek dan maar:  myne is boereboontjies of Dutch beans soos my Engelse skoonsus dit noem, groenbone op die boeremanier gaargemaak — groenboontjies, ertappel, ui, tamatie, sout, baie peper en botter, so fyn gedruk soos jy lus voel.
Ek eet ‘n sopbak vol vir middag of aandete, ek eet dit warm of koud en het kleintyd by ‘n maatjie se ma geleer dis die volgende dag heerlik op brood.
Met diep teleurstelling ook dat ek nou hier sit en tik — die kooksel wat ek al 9:00 opgesit het vir vanaand se aandete, het te min opgeëindig dat ons vanmiddag al daarvan kan hê.
En vir die res bly ons by groen, hou wit en geel maar verby as dit gaan om gunstelinge en terwyl ek vasgesteek het by groente. In voorkeurvolgorde dan naas groenboontjies: spinasie in enige vorm, brokkoli en Brusselse spruite. Net nie ertjies nie. Lees ek, op universiteit nog, van hierdie een sjef en koskenner wat gesê het, sonder om dubbelsinnig of snaaks te wees:  “I had a pea… once.” Ditto, wie hy ook al was.
Vir wortels is ek ook lief, maar dan soos Tannie Lenie dit gemaak het: presies soos die boereboontjies, net minus die tamatie. Hou net enige iets soet verby, sommer ver verby.
Overgesetsynde dan eintlik maar enige stamppot-gereg soos die Hollanders dit maak: ertappels en een of meer groentesoort fyngestamp.
Ek het een keer stamppot ge-google en die wonderlikste eenskottel-groentegeregte afgelaai. Nogal jammer dat daar van al die baie, net boereboontjies en boerewortels in ons kostradisie oorgebly het. Ook maar by die stamppot-tradisie dat ons in dele van die land byvoeging van spekvleis en allerhande gerookte spekkighede en dinge kry.
Hulle sê ‘n gesin eet maar wat die pa voor lief is, so asof die patriarg sy kosvoorkeure op die vroutjie agter die kospotte afdwing. In ons huis werk dit andersom, Pa kook en sy Brusselse spruite is ‘n uitsondering op die tafel. Ma se voorliefde vir enige soet geel ding kom dan meer gereeld, letterlik, ter tafel.
In die besonder dan ook, pampoen, met suiker, geelsuiker, bruinsuiker, demerara-suiker, stroop, heuning en wat ook al dit soet sal maak saam met ‘n goeie knyp kaneel. Pa se porsie word voortydig uitgeskep, sout, peper en botter is voldoende dankie,
Gunsteling maaltye hang af van die seisoen. Ek volstaan maar by die volgende vier, in geen volgorde:
Beesstert en rys, mielierys, stampmielies of kaboemielies
Pekelvis en brood met botter
Kouevleis (self voorberei) en slaaie
Tuisgemaakte sosaties oor die kole
En, natuurlik, vars wit brood met botter. Oorval ‘n warm winkel-broodrolletjie se geur en gloed my, enige plek, maak ek summier ‘n draai by die yskas en koop ‘n klein bottertjie of ‘n klein bakkie Butro, wat ek later by die huis kan bêre en makliker smeer as jy die brood daaroor trek. Dan is dit ek en die kar en my brood en botter, voor ek huis toe gaan. Selfs al is die huis net om die draai.
Nie dat ek vir brood en botter sal vra op die oggend van my teregstelling nie. Die brood kan styl wees, die botter margarien. En margarien is niks anders nie as swart ghries wat hulle goudgeel kleur met ongesond giftige kunsmatige kleurstowwe.
Ek sal maar vra vir die meal of the day op voorwaarde hulle gee my ook ‘n liter yskoue volroom melk, nee, maak dit twee liter. Plaasmelk hoef dit nie te wees nie, dit kan maar ekstra gehomogeniseer ook wees en uit ‘n karton. Maak nie saak nie, want met ‘n melksnor oor my bolip stap ek my toekoms, enige toekoms, glimlaggend tegemoet.

(Ek was eintlik op soek na iets anders, toe ek hierop afgekom het. Sal die iets anders, as ek dit opspoor, more plaas,)

11.3.12

Sommer in die verbygaan voor ek vergeet

Ek het in my vier jaar op universiteit in toneelkunde kennis gemaak met Antigone sowel as Oidipus, trouens in twee verskillende toneelstukke gespeel wat met een of beide van hierdie karakters te doen het.


My jare lange beste vriend het weer Sielkunde geswot en deur hom het ek op ‘n ander manier met Antigone en Oidipus kennis gemaak – die Antigone-kompleks en die Oidipus-kompleks.


Maar hiervan weet ek net genoeg om soms te wonder of die feit dat Annieka en my ma dieselfde goeie punte deel, dalk verband hou met daai Oidipus-kompleks van jare gelede se studentegesels.


Ek weet van redelik vroeg in my en Annieka se verhouding dat sy geen afwesige vaderfiguur of so iets in my soek nie, wel dat sy ‘n groot gemis aan haar oupa het.


Ek moes ook al baie hoor hoe baie ek van hom sou gehou het, het ek hom net geken.


Ook lieflike staaltjies van die man wat sy van tyd tot tyd vertel.


Vir jare moes ek hoor dat haar oupa, toe sy nog op skool was, vertel het dat sy ‘n ongelooflike sin vir rigting het.


Vyftien jaar later, verlede week, laat val sy darem egter uiteindelik dat sy reken haar Oupa was op hierdie punt verkeerd, ver verkeerd.


Ek kon haar dit al vyftien jaar gelede gesê het.


Hoeka ook hierdie geloof in sy kleinkind (want veel meer as geloof kon dit nie gewees het nie) se sin vir rigting, dat ek nog altyd hierdie man wat ek nooit geken het se stories wat hom vandag nog lewendig hou, met ‘n gesonde skeut skeptisisme bevraagteken het.


Haai, en toe laat val Annieka voor die naweek ‘n stukkie opvoedingswerk van die man wat ek na hoogste waarde skat:


My oupa het my altyd gewaarsku om, kom ek op ‘n nuwe plek tussen nuwe mense, soos ‘n nuwe skool, te lande, moet ek altyd ligloop vir die outjies wat dadelik en heel eerste oorgretig is om met my maatjies te maak – volgens hom sal daar altyd ‘n rede wees waarom juis daai outjies nie maatjies het nie en so graag met ‘n nuweling bevriend wil raak.


En as jy twintig jaar of meer in die onderwys is, dan weet jy dis waar, dan het jy dit waarteen Oupa gewaarsku het,  jaar na jaar al by herhaling voor jou sien afgespeel.


Ja, dis waar – soort soek soort. Ek sweer hulle ruik mekaar oor ‘n afstand uit soos honde doen.


Ag, twee uit dieselfde hout gekap, hoef nie eers in dieselfde klas te wees, of ‘n enkele klas saam te kry nie; dis nie twee dae nie, dan het hulle mekaar opgespoor en gebind in een of ander onheilige alliansie.


Dis waar. Maar nie almal bind altyd dadelik tussen die eerste twee dae nie. Hoe ordentliker ‘n kind, hoe langer kyk die ander gevestigde ordentlike kinders hom of haar uit, alvorens die kind aanvaar word.


En dis hierdie outjies wat sag en gewillige prooi word van die aasvoëls  in die sosiale kringe.


En dis ongelukkig nooit die aasvoëls wat verveer en arende uitdraai nie, nee, dis die stomme arend wat onder groepsdruk (ja, aasvoëls is tropvoëls, hulle slaan altyd in groepsverband toe) sy nekvere afskud en kort voor lank sy lyf begin aasvoël hou.


Kom ‘n oulike kind met net ‘n effense selfbeeld probleem (‘n tikkie aknee of rokgrootte ‘n nommer groter as die gemiddeld) in die middel van die jaar en dan nog in die middel van sy of haar hoërskoolloppbaan tussen ‘n spul vreemdes aan, is sy of haar doppie geklink.


Partykeer kom ‘n nuwe kind by ons aan en ek wonder nog watter kant van die speelterrein  die kind gaan speel, dan sien ek die kind en die twee of drie wat hulle oor die nuweling ontferm het, en dan word ek sommer so koud – want dan is dit inderdaad al verby:  die regte maatjies het nie dadelik gebyt nie, jy was dalk self te onseker om ‘n hoek te vat, en nou het die pirannahs jou eintlik klaar kaal tot op die been gevreet. ‘n Letterlike feeding frenzy!


Ek is regtig bly Annieka het hierdie vermaning (lessie?) van haar Oupa met my gedeel. Ek het oornag respek en waardering vir die man gekry.


En wanneer ek (ons) Klaradyn met dieselfde lewenswaarheid opvoed, sal dit vir my lekker wees om altyd aan haar te kan noem dat dit van haar oupagrootjie is, dat ons hierdie stukkie wysheid met die grysheid, gekry en deel van ons lewens gemaak het:  Pasop vir die outjies wat dadelik oor hul voete val om met jou maats te maak; daar is altyd ‘n rede waarom hulle oor hul voete val, en dit lê nie noodwendig in hul tone nie.



In retrospeksie:

Ek veralgemeen darem lekker! Die suksesverhale van leerders wat in die middel van 'n skoolloopbaan by 'n nuwe skool aansluit is meer as die stories van die outjies wat die pad byster raak - baie meer. Die stories wat nie suksesverhale is nie, staan net soveel harder en helderder en duideliker uit.








Met dapper en stapper


As kind van die sewentigs is ek soorts van in die wieg gelê om ‘n stapper te wees en het ek die land al met rugsak, stapstok en skoene deurkruis, van Suid tot Noord, en letterlik net Natal se roetes wat ek nog nooit te voet leer ken het nie – die Drakensberge letterlik ‘n braakland.

Ek kan nie wag dat Klaradyn oud genoeg is, dat ons saam die Visrivier, ek seker vir oulaas, kan beleef nie.

Tog het ek Annieka nog nooit juis saam gestap nie.

Daar was in die begin van ons verhouding destyds ‘n Oktober-vakansie toe ek saam met vriende die  Sederberge  ingevaar het, ongelukkig op ‘n tyd wat dit nie die galantste ding vir ‘n vryer was om te doen nie.

Ons het in ‘n stadium twee of drie dae van die Tsitsikama gedoen, maar ek onthou dit ook nie as die lekkerste wandelroete van my lewe nie.

Tog probeer ons Klaradyn groot maak met die natuur, maar dis geen waarborg dat sy ‘n voorliefde vir die stof- en bospaaie van ons land gaan ontwikkel nie.

(Ek weet van kinders wat as tieners nie ‘n hand aan ‘n boek slaan nie, en dit terwyl hul ouers biblioteke met hul kindertyd se kinderboeke op die been kan bring.)

Tog beskaam die hoop nie.

Julie-vakansie was ek baie trots op so drie kilometer wat die kind in die Stormberge afgelê het, en hierdie vakansie op die wildsplaas het ons ook elke dag ‘n rigting ingeslaan, maar nooit meer as so vier kilometer nie.

Sy geniet dit, maar het te min blootstelling en oefening om dit werklik nou al te geniet soos ek sou wou hê sy moet.

Sy geniet die aanvang natuurlik elke keer verskriklik, maar stap glo presies soos Annieka as kind gestap het: sy stap vir tien treë en haak dan vas by die een of ander blom of spoor, klip of nes, veer of bolletjie mis.

Kyk sy op, is ons dertig treë verder en dan moet sy hol om in te haal.

En so is sy in 30 minute doodmoeg gehardloop, in plaas van opgewarm gestap.

Die verdere geneuk is dat sy verveeld raak (iets wat ‘n mens kan verwag van ‘n sesjarige); en dan vertel sy haarself sy is moeg. En as sy haarself dit eers vertel het, dan laat sy ons weet – en dit in ‘n stemtoon wat my siel onmiddellik omkrap.

Maar sodra jy haar aandag weer gestimuleer het met die een of ander iets, bv. ‘n slanggat toegespin deur spinnekoppe en toegewaai met grassies, is sy weer ‘n bondeltjie energie.

Dis dan dat sy my vra watse voël dit daardie is, en om nie my kind se vertroue te verloor nie is ek dadelik gereed met ‘n oortuigend-klinkende antwoord.

So sal ek ‘n wielewaal ‘n laksman noem, ‘n grondskropper as ‘n bosbekruiper aanmeld, of ‘n duidelike saadvreter die een of ander insekvreter noem, maar dit pla my nie, die kind hang aan haar pa se lippe en dis al wat saakmaak.

Dis dan ook op ‘n so ‘n punt dat Annieka se ornitologiese kennis in hoogste rat inklim en sy sal lostrek met iets soos “hoe kan jy daardie laksman ‘n spreeu noem, dis duidelik ‘n suidelike bontlaksman soos ons laas daar by...”

Dan sis ek gemaak ernstig uit die hoek van my mond, “Jy weet jy moenie my so lynreg teëgaan voor ons kind nie.”

Dan lag ons saam en stap verder.

Maar, o, liewe hemel, nie lank nie, of Klaradyn het vir haar ‘n stok opgetel en haar naïwiteit skop in.

Ander dogtertjies haar ouderdom, daar waar ons skool hou, speel Bratz en luister i-pod, kyk verveeld DVD’s of speel rekenaar- en televisiespeletjies, maar nie ons kind nie – op ses is sy steeds mal oor sand (al is dit ‘n grondpad) en begin sy vervaard prentjies teken met haar stok.

Nooit onder ‘n boom in ‘n skadukol nie, maar lynreg onder die blote son.

Dis ook op hierdie punt wat ek lankal wonder of sy my kind is.

Sien, ek hou nie van grond en sand en stof aan my hande of voete nie; Klaradyn skop haar skoene uit die oomblik dat ons uit die doringveld en in die grondpad, stofpad, klipperpad of sandpad is. Ek gril vir my in ‘n ander bloedgroep in, die haartjies teen my rug af staan soos die van ‘n rifrug wat wil aanval, maar sy laat staan haar stok en buk af om na hartelus te teken.

Die stap is nou lankal nie meer vir my lekker nie – ek soek meer skadukolle vir my en Annieka op, as wat ons stap.

En dan is ek mos nie iemand wat matigheid voor oë kan hou nie; is daar ‘n paadjie na links wat reguit soos ‘n kraai se vlieg kamp toe gaan, en daar is ‘n ander een, lynreg daarin teen en regs, dan sleep ek ons regs.

En wie moet die gelag betaal? Arme Mamma, wie anders? Sy word die goeie fee wat my kort voor lank uit die kind se hare, en die kind sonder trane, moet hou.

Hierin is sy natuurlik ‘n meester en ek bewonder haar heimlik.

Dan, om alles te kompliseer, verkies ek boonop ook the road less travelled by, trouens, I prefer to go where there is no road at all.

Bundu Bash kon my doopnaam gewees het.

Toe ek vanoggend op my prikkelbaarste en Klaradyn op haar moegste (d.w.s. verveeldtse) was, was ons ook net mooi op die verste punt denkbaar van die kamp.

So op soorts van ‘n hoogtetjie kon Annieka duidelik die swembad se toring in die verte sien, maar ook duidelik dat sowel die pad na links as die een na regs, ons slegs met ‘n moerse ompad daar uit sal bring.

Dis toe dat sy ‘n wildspaadjie lynreg in daardie rigting opspoor, en toe kom dit van haar af:  kom ons stap hierlangs deur die bos, ons sal daar uitkom.

O, wat ‘n heerlikte:  rooibokke, ‘n herbesoek aan die kameelperde, elande, wildebeeste en blesbokke.

Elke nuwe vonds het ons natuurlik so van koers gekry dat dit slegs deur die genade was dat ons vyf en veertig minute later uiteindelik weer die swembadtoring in die verte opspoor.

Maar dit was lieflik en elke oomblik die moeite werd.

Met die dat die kind nou soos ‘n mens fiets kan ry, sal ek maar vir my en Mamma elkeen ook ‘n fiets aanskaf.

Dan ry ons fiets (om die kind geoefen en fiks te kry [om Ma en Pa so effe fiks te kry]) en teen die einde van die jaar, of vroeg volgende jaar, dan stof ons die rugsakke af en durf ‘n korterige roete aan.

My gedagtes staan Suikerbosrand, buite Heidelberg, se kant toe. Jare gelede was dit lieflik en die afstande lekker naby.

Voor Sussie haar i-pod kry, is dit dan maar eers ‘n waterbotteltjie of steweltjies vir stap.

NS
Hoe gou vlieg die tyd nie. Hierdie was twee jaar gelede. Die fietse het ons gekry. By die Suikerbosrand het ek helaas nog nie uitgekom nie.

9.3.12

Met stomheid geslaan


En dan het hierdie stomheid niks te doen met die feit dat ek nou al ‘n week lank nie kan blog nie. Nee, hierdie is ‘n letterlike stomheid wat deels verband hou met die skubliesroos in ons agterplaas.

En moenie worry nie, ek het tot oomblikke gelede ook nie geweet dis ‘n skubliesroos nie, maar daar staan dit in Kritzinger, Schoonees, Cronje en Eksteen se Groot Woordeboek:  Pride of India — skubliesroos.

Ja, ‘n ellendige uitheemse Pride of India wat, soos met die spreeus waarmee dit ‘n land van herkoms deel, vir my geen plesier inhou nie. Die ding troon bo ons lapa uit en al wat ons ooit van hom te sien kry, is die blare en dooie blomme wat na elke dan en wan se stortbui oor die plaveisel tapyt maak — skoon snotterig van die reën en ‘n mens moet versigtig trap as jy na ‘n kuier onder die lapa die skottelgoed kombuis toe dra.

Vanuit enige van die bure se erwe maak hierdie Indiaan seker ‘n kleurvolle vertoning, maar waar ons ons ook al op die erf bevind, daarin kan ons nie deel nie. Behalwe nou dit wat ons opvee.

Maar sy blomme en blare, lewendig of dood, is nie die minste van my probleme nie.

Ook nie soseer die wortels wat die lapa se kraalmuurtjie ‘n kraak, nee ‘n bars, gegee het wat Van Wyk Louw met sy magiese beiteltjie hom dit nie sou kon nadoen nie. Dis nie vir toeplak en pleister nie, dis afbreek en oorbou se dinge. Nou hou ons Klaradyn net banger om binne ‘n twintig meter radius van die muur te speel, as om in spitsverkeer heen en weer oor Kerkstraat met al sy taxi’s met agter ‘n hopballetjie aan te hardloop.

Nog minder die wortels wat die lamlendige voorafvervaardigde sementmuur tussen die bure se pit bull terriers en ons drie spanjoele, so lendelam het dat die toepak en timmer van beide kante af, al jare lank reeds herinner aan ‘n shack in een of ander informele nedersetting (ook bekend as plakkerskamp) nie.

Ja, jare gelede het iemand die boom, sonder om in ag te neem wat dertig jaar later van die grensmuur gaan oorbly, hopeloos te na aan die grensmuur geplant. En Meneer Frost was reg, good fences do make good neighbours, veral as hulle tot twee verskillende bevolkingsgroepe behoort.

Die geneuk is net, my bure het niks te vrees nie, ons is destyds verwelkom met die tragiese nuus dat hulle honde twee van die vorige huiseienaars se honde morsdood gebyt het.

Die ander ding wat wie ook al destyds gedink het hy doen die nageslag ‘n guns, nie in ag geneem het nie, is nie soseer wat langs die boom staan (die muur) nie, maar dit wat met groot sorg onder die boom neergelê is, selfs nog voor die huis gebou is> Die riool-dreineringspype, mooi al met grenslyn af tot heel onder in die hoek iewers tussen die rododendrons (familie van die olifantsore, verbeel ek my).

Nou wanneer presies hierdie monster uit Bollywood die eerste keer sy wortels deur die rioolpyp gedring het, sal ek nie weet nie. Maar ons was hier nie ‘n jaar nie, toe stoot die water in al wat was- en spoel- en toiletbak is, op.

Kom ons trek maar liewers ‘n sluier oor Hans, toe nog nie ‘n jaar ‘n trotse huiseienaar nie, se eerste poging om loodgieter te speel nie. Ook nie poging nie, pogings, wat amper ‘n week met tientalle ritte Builder’s Warehouse en terug ingesluit het. (Hier van die Donderdag af het ons die huurder in die tuinwoonstel opgeklop as ons die toilet wou gebruik. Nie dat ons eie toilette tot rampgebied verklaar is nie; ek het buite iewers ‘n kanaal oopgekry wat ek nie weer kon toe kry nie en alles het daar, soos ‘n bose sweer, ‘n gesondheidsrisiko geword.

Dierbare Ernie, naas my pa en my broer die enigste man wat ek nie skaam is te sê ek oor jare heen leer lief kry het nie, se hulp is ingeroep en hy vind toe die bron van kwaad vyftien meter af in die tuin reg onder die Pride of India.

Kyk, Ernie is (was) deel van ons huis soos die kraak van die kombuis se sifdeur. Aand een. toe ek en vroulief uiteindelik in die bad kan klim, dis nou nadat ek moes ry om ‘n badprop te koop omdat die vorige eienaars hier weg is met elke denkbare bad-, sink- en wasbakprop onder die son, toe drup daar water vanuit die plafon op Annieka se skouers.

‘n Ongevraagde dak-natmaak-seremonie with a difference. Ek bel die eiendomsagent en sy sit ons Ernie se spoor.

Twee ure later toe trap Ernie toe ‘n gat deur die badkamer se plafon wat hy heel verskonend die volgende dag kom regmaak het. Maar hy het die plafon so mooi ge-patch dat ons hom oor ses jaar heen vir elke instandhoudingstakie, waaraan ek veiligheidshalwe nie my hande wou waag nie, ingeroep het. Boorgat, swembadpomp en pype, geyser, lekkende waterpype (in die dak én die tuin), voordeurklokkies, elektriese hekke, garagedeure, nagligte... noem maar op.

En elke jaar of wat, twee jaar as ons gelukkig is, bel ek Ernie om die skubliesroos se wortels uit die afvoerpyp te kry. En met daai boom se wortels letterlik in die beste denkbare vorm van vier-en-twintig-uur-sewe-dae-‘n week se organiese bemesting en bemisting, was dit elke keer nogal ‘n gedoente.

Hy bou ‘n ysterstaaf van tien of vyftien ysterstawe agtermekaar aanmekaar. En op die voorpunt ‘n lem wat herinner aan ‘n kurktrekker-tipe varkstertjie. (En eintlik ook nie ‘n varkstertjie nie, maar ‘n ander deel van die swyn se anatomie wat ek ter wille van die vrouelesers liefs verswyg.)

En nie te lank nie, dan vloei die water vinniger as oor die Victoriawaterval in hoogste reënseisoen.

Maar, soos ek sê, Ernie wás deel van ons huis soos die kraak van die sifdeur. Want hy slaan toe daar ‘n kontrak by een of ander boukontrakteur los wat hy so deeglik doen dat die man hom ‘n permanente aanbieding maak wat hy nie kon weier nie.

En hy verkoop sy instandhoudingsbesigheid aan die grootste paloekas in die suidelike en noordelike halfrond saam.

Toe nou ook daardie paloekas wat antwoord toe ek verlede week Ernie se nommer op my selfoon skakel, en symste paloekas wat ‘n ruk later hier opdaag in ‘n stukkend gestampte sedanmotor. (Verbeel jou, hulle is loodgieters dan daag hulle hier op in ‘n sedan!)

Ek sien hulle in en gaan trek geld by die kafee om die hoek.

En toe ek terugkom toe was hulle al hul hande en staan bakhand vir R180-00. Baie trots laat val die een analfabeet dat hulle die verstopping deurgedruk het tot anderkant die Magaliesberg.

Dit blyk toe nou, nie ‘n week later nie, letterlik presies te wees wat hulle gedoen het: hulle het die toiletpapier en wat daarmee saamgaan, bloot tussen die wortels deurgepomp tot anderkant die wortels. (Tien teen een nog met een van hierdie swart rubberpompe-aan-‘n-stok wat ek ook het en kon gedoen het.)

Hulle het bloot letterlik kak aangejaag. Presies dit, en niks meer nie.

Nie ‘n week later nie, toe stoot die water, sonder om in grafiese detail in te gaan, weer op.

My vingers hol deur die Geel Bladsye op soek na ‘n nommer in ons omgewing.

Die WA waarmee die man hier stop moes my gewaarsku het. Die verfwerk daarop is ‘n kunswerk en herken dadelik die maatskappy — ek het daardie waens al baie op die pad gesien. (En elke keer gedink daardie maatskappy is seker op die Johannesburgse effektebeurs genoteer, so fancy is hul vloot maatskappymotors.)

As taalonderwyser staar ek my toe blind teen die spelfoute in nood loodgieters dienste en registreer nie die nood nie.

Ook eers later dat ek besef die vriendelike dame het presies ‘n minuut na vyf , na werksure, gebel en gevra of sy die man maar kan stuur.

Ek vra toe die man, hier teen die einde, of hulle hoog op in die straat net hier bo ons is, of laag af. Hy kyk my eers vreemd aan en toe laat val hy dat hulle maatskappy (ek verwys eerder daarna as ‘n praktyk)  al vir jare nie meer daar is nie, en hy noem ‘n woonbuurt nader aan die Pick & Pay in Brits, as die een in Kwaggasrand — en dit terwyl ons in die Moot se heel Oostekant bly.

Toe is ons ook nou net mooi in die kombuis waar hy sy pampiere begin skryf.

Ek lees iets van R300-00 en dink my goeie alla ma kierriekat (of iets in oortreffende en intensiewe dier voege) die man het hier opgedaag, manalleen, en vyf en veertig minute lank van my tuinier se dienste gebruik gemaak, nou staan en charge hy my R300-00.

Maar ek trek Annieka se beursie nader, sy het gesê sy het kontant aan haar. Tussen ons twee se beursies sal ons seker R300-00 kan uitkraam (nie dat -kraam die werkwoord was wat onder omstandighede op daardie oomblik deur my gedagtes geflits het nie.)

Toe sien ek die man is nog nie klaar geskryf nie. En ek dink hy dui die BTW aan wat by die bedrag ingesluit is.

En steeds is dit het einde niet.

En nogmaals niet.

En nog ‘n maal.

Op die ou einde is dit ‘n som, ‘n hoofrekenesom waarvoor die selfoon se sakrekenaar ingeroep word, en dan nog ‘n optelsom sonder enige aftrekkings of minusse daarby, wat oor nie minder nie as vyf lyntjies strek.

In die halfdonker is al wat ek kan uitmaak R850-00.

Maar ek was verkeerd, dis R855-00. Dit vind ek eers uit by die motorhawe om die hoek waar ek moes gaan geld trek het. Ek is egter so gou by die huis uit en weg, dis nou voor die man se uurglas nog ‘n vyf of tien minute leegloop en hy sy somme oor moet doen, dat ek nie die laaste R5-00 kon registreer nie.

Dis eers nou, presies ses paragrawe gelde, dat ek genoeg moed bymekaar kon skraap om die pampiertjie weer op te spoor waar die man dit in my afwesigheid op die kombuistafel gelaat het.

En noudat ek tot verhaal begin kom, sien ek dit moes meer as 45 minute gewees het wat hy my tuinier sonder vergoeding gebruik het. Dis R450-00 vir die eerste uur en uitroepkoste, en dan ‘n verdere R300-00 vir ‘n volgende uur of gedeelte van ‘n uur. En dan die BTW van 105-00 wat ons op R855-00 te staan bring.

En hulle leuse, sien ek nou, is The bitterness op poor quality remains longer than the joy of al low price.

Ek lees darem ook, in dieselfde rooi gedruk Vakmanskap gewaarborg hoewel die mannetjie in sy eie handskrif bygevoeg het Geen waarborg word gebonde aan enige drein.

Dis beslis om meer redes as net dit wat hulle aan my taal doen dat ek hulle nie weer gaan gebruik nie.

Maar dan is ‘n mens ook nooit te oud om te leer nie. Ek het byvoorbeeld nooit geweet dat die ou Afrikaanse uitdrukking om jou geld deur jou gat te trek nie noodwendig net ‘n idiomatiese strekking hoef te hê nie, maar ook doodletterlik, aan eie bas gevoel, in ons alledaagse taalgebruik kan neerslag vind nie.

Wat moet ek alles koop om ‘n boom te sloop? En hoe lank gaan dit my vat?

Of beter nog, wat is die going rate vir volgroeide skubliesrose as hulle hom iewers in Silver Lakes of omliggende gholflandgoed verplant?

Aan die ander kant, die man het genoem hierdie varkstertgedoente en al sy verlengstukke is nogal duur, om en by die R2000-00 rand. En hy het in die gesels die groothandelaar genoem waar hulle dit aankoop.

Oor twee seisoene van nou af kan ek gelykbreek. En daarna score ek al die pad.

Decisions, decisions, decisions...

Venningpark se laning

6.3.12

Met ‘n lied op my lippe en in my hart

Vanmiddag is dit Ouma van Wyk se liedjie wat al die pad van die skool, tot daar waar ek foto’s vir die skool se jaarblad moet gaan optel, met my saamry. Ook nie net in my hart en gemoed nie, maar hard en luid op my lippe – met soveel oorgawe en passie dat ‘n vaal en saai motoris twee keer kyk by die robot op die hoeke van Duncanstraat en Lynnwoodweg.

Naas Springbokradio-stories in die middae as ek daar kuier, is daar net twee sterk kleintyd-herinneringe wat sy self gereeld lewendig gehou het tot ek al vier jaar op universiteit was:

Jan Verslae sit op die wa
hy sien die een die ander dra:
twee koppe, ses bene en ‘n stert.

En dan is dit ‘n roofvoël wat met ‘n skilpad in sy bek oor die wa vlieg waar Jan Verslae uitgestrek lê.

Die ander is ‘n liedjie waarmee sy my groot gemaak het, die een wat my vanmiddag in die motor vergesel het.

Ek het, jare na haar dood, ekself ook gevestig en al man, by musiekjuffrouens of musiekerige mense navraag gedoen, maar nie een het dit ooit geken nie.

Toe spoor ek dit vyf jaar gelede weer op in die Kleuterverseboek wat Klaradyn se ander oumagrootjie rondom haar geboorte vir haar gegee het. Miskien lui die woorde ‘n klokkie:

Ek en my vroutjie bly stoksielalleen
in ‘n vaal ou pondokkie wat lek as dit reën.
Vra die mense waarom dek ek hom nie,
dan sê ek as die sonskyn dan lek hy mos nie.

En ai, daar is so baie met wie ek sou kon identifiseer: Saul Barnard, Bart Nel, Hendrik McDonald, selfs Ampie for that matter.

Maar nou is daar net een karakter in die ganske Afrikaanse literêre skat wat Hans Moolman soos ‘n handskoen pas, of hy nou wil identifiseer of nie, en dit die boerestem aan die woord in hierdie ou volksliedjie, wat nie eers ‘n grootse digter of skrywer het wat kan pa staan vir die karakter nie, maar letterlik in die volksmond gestalte gekry het.

Ook niks met die stoksielalleen dat dit te doen het nie. Ook nie die pondokkie nie – my huis is my paleis. En ja, die dak lek as die geyser se pype deurroes, daar is ‘n dakbalk wat al lank stukkend is, ‘n elektroniese hek wat al maande nie werk nie en buitemure wat bly sal wees oor ‘n spoegseltjie verf. Maar ook rondom die pondokkie wat lek as dit reën is dit nie waarom dit gaan, as ek die liedjie, soos vanmiddag al die pad, sing en my dierbare vrou so jammer kry nie.

Dis daai “Vra die mense waarom dek ek hom nie, dan sê ek as die sonskyn dan lek hy mos nie” waarom dit gaan.

Die motto wat ek jare gelede vir myself uitgesoek het, het ek by Afrikaans se sonkind, Uys Krige, opgespoor:

Na die bron van alles: die son.
Één beurende drang;
Één goue verlang.

En sou iemand my ooit vra wat Hans Moolman beweeg, is dit al vir jare bloot net dit:  Na die bron van alles: die son. Één beurende drang; Één goue verlang.

Net jammer hierdie gevleuelde woorde pas my nie soos ‘n handskoen nie. Dit pas, dis my leuse, my opstaan en gaan slaap, maar dit pas nie soos ‘n handskoen nie.

Die handskoen wat my omvou is daai sleg Afrikaner wat antwoord, vra die mense waarom dek hy nie sy huis nie:  As die sonskyn dan lek my huis mos nie.

Nie dat ek hom ‘n sleg Afrikaner sal noem nie, nooit. Eerder ‘n laid back bliksem, iemand wat die bome en die bos raaksien, maar nie die blare en takke nie. Iemand wat hom nie laat dikteer deur die reënweer nie, maar dankseggend gerig word deur die mooiweer.

Min mense wat ‘n gat in die dak wat lek as dit reën so ‘n blinde oog kan gooi soos Hans Moolman. Ek sien dit nie raak nie, dit versteur nie my ekwilibrium nie, en registreer ek dit per toeval, wel, dan leef ek dit bloot dood, dis nie ‘n faktor nie.

Alles goed en wel vir Hans Moolman. Maar nie om met hom getroud te wees nie. En vir elke vlegsel wat ek het om te bind van die hare wat ek op my tande moet hê om met Annieka huis te hou, kan sy twee vlegsels, en ‘n bolla op die koop toe, knoop met al die hare wat haar gebit oor moet beskik.

Ons bly nou ses of sewe jaar in die huis. Seker al tien jaar of meer wat die hoofslaapkamer se badkamer verf kort, wat die stort ‘n nuwe stortdeur kort.

Verlede Desember vervang ek die dakwaaier-kamerlig-kombinasie in die hoofslaapkamer. Vir 10 maande sit ek nie gloeilampe in nie (as die son skyn het ons mos nie lig nodig nie, en as ons lig nodig het is daar mos die bedlampies).

Ons het darem nou al verlede week vier gloeilampe gekry. Maar dis net oor ek vir die tweede keer ‘n swart broek vir blou aangesien het en very strangely colour coded by die skool aangekom het. Die tweede keer was daar toevallig ook ‘n onpaar kouse by betrokke. En miskien is dit wat die deurslag gegee het. Ek weet nie.

Brandewyn ken nie brieke nie, het ‘n liewe kollega en vriendin altyd gespot. So het my motor oor die jare heen ‘n paar brandewyn-merke opgedoen (by wyse van spreke). Nou hierdie skrapies en duikies kry my nie onder nie, dit staan nie in die pad van die kar om my van punt A tot by punt B te kry nie, so vir wat moet ek neuk om te klop en te timmer aan die bakwerk — dit pla g’n iemand nie.

Dit ongelukkig ook presies wat ‘n kar is:  ‘n ding om my van punt A na punt B te kry. Niks meer nie. En solank hy dit doen is ek tevrede.

Ongelukkig ry ek daarom ook ‘n kar tot hy nie gebore daartoe in staat is om my punt B te kry nie.

Tot dan moet die reën hom ook skoon reën.

En hoekom moet ek nou die kampeerstoele wat ons verlede maand moes aanry na ‘n skoolfunksie uit die kattebak haal? Oor twee maande is daar ‘n braai iewers en dan moet ek weer stoele inlaai. En is die stoele in die kar as ons gaan kampeer, dan is dit ook nou net so goed ek het dit nie uitgehaal nie, want dan moes ek dit weer aangedra het.

En so kan ek aangaan, my klas, my kas, my motorhuis, Klaradyn se piksplinternuwe dakwaaier waarby ek toe nie verlede jaar uitgekom toe ek ons kamer s’n ingesit het nie en ek sien Annieka hom deur die loop van die jaar motorhuis toe verban het (maar nou is ek bly want vandat haar speelkamer nou my studeerkamer geword het, en anders om, dink ek eerder die studeerkamer het ‘n waaier nodig)

En hoe moet oorle’ Jan Verslae nou die wonders van die skepping om hom bewonder en na waarde ag as dit nie agteroor uitgestrek op sy rug, op ‘n bondel strooi, op ‘n wa is nie?

Maar ek het niks om te sê of by te voeg wat nie reeds opgesluit is in die volksmond van weleer nie:

Ek en my vroutjie bly stoksielalleen
in ‘n vaal ou pondokkie wat lek as dit reën.
Vra die mense waarom dek ek hom nie,
dan sê ek as die sonskyn dan lek hy mos nie.

Skuif tog net daar die emmer in en onder waar dit so drup-drup op die mat en maak jouself tuis.

Hoe lyk dit met ‘n lekseltjie koffie?

Moolman voer ek die van. En jy?