Vanaand (dis nou Vrydagaand gewees) is my gedagtes by Oom Paul. Oom Paul Greeff, of Man from Atlantis, soos hy later van tyd bekend gestaan het.
Hy, al ‘n ou man kort voor aftrede, het by ons kom wetenskap gee, en die hiper-korrekte Departementshoof Wetenskap binne ‘n kwartaal of wat grys hare gegee.
Hierdie man, wat dadelik baie gewild onder die kinders geraak het, het, met jare en jare se ondervinding, op die punte van sy vingers uit sy kop gewerk.
Lêers het hy lankal nie meer nodig gehad nie.
So lêers het hy nie gehad nie.
Na die derde kwartaal se kwartaallikse lêerinspeksie het die Juffrou Departementshoof toe maar ewe konsensieus ingespring en vir Paul ‘n stel lêers gemaak.
Ag siestog! Die vierde kwartaal toe kry sy dit presies soos sy dit drie maande gelede vir hom gegee het.
Sy het nie opgegee nie.
Maar sy weg by die skool, ‘n jaar of wat voor Oom Paul se dood.
Straks het sy nie op- nie, maar oorgegee.
Dit was natuurlik ook die dae toe alles opgeteken moes wees, nie net die lesse en voorbereiding nie, maar, met die oog op jaarlikse voorraadkontrole, ook die chemikalië en glasbottels en dinge wat ‘n wetenskaponderwyser ook al mag gebruik in die veraanskouliking van sy eksperimente en werk.
En naas sy lesse was dit juis sy eksperimente wat Oom Paul so gewild gemaak het.
Oom Paul het in ‘n kwartaal gebruik wat ‘n hele departement normaalweg nie in vyf jaar kon opgebruik nie. As een of ander element ‘n gas of vreemde reaksie maak, het Oom Paul bomme gemaak. Bomme waarvoor die hele klas uit moes gaan, terug moes staan, partykeer sonbrille moes opsit. (Paul het van die metaalwerksentrum vir hom ‘n sweismasker laat haal.)
Met die graad 11-sillabus moes ek jaarliks so vyf keer ;n jaar, afhangend van hoeveel klasse hy had, my klas, net bo syne, ontruim, want dan het daar ‘n walm ingetrek wat Wouter Basson en sy manne jaloers sou maak.
En hoe meer slotte die departementshoof tussen Oom Paul en haar voorraad aangebring het, hoe sterker het die vertrouensverhouding tussen Oom Paul en die laboratoriumassistente geword. Ja, die stomme departementshoof het seker maar oorgegee, want Oom Paul se piesangtrosse vir hande het hom gebore nie in staat gelaat om iets in kleinmaat te kan vat nie.
Paul was nooit getroud nie. En as daar vrouens of ‘n groot liefde in sy lewe was, was dit lank voor hy by ons aangseluit het.
Hy het van Natal afgekom om sy sterwende moeder te versorg en in haar huis aangebly na haar dood. (Ook eintlik verniet dat hy sy lewe in Natal opgegee het, want hy was hier nie drie maande nie, toe is die ou vrou dood. By aftreeouderdom kon Oom Paul al verby gewees het, maar daardie jare kon jy mos uit eie keuse vir nog vyf vasbyt. En Paul het vasgebyt. Wat anders was daar immers om aan te byt?
So twee keer ‘n jaar het hy al die mans genooi om by sy huis te kom braai, ‘n worsie en ‘n broodjie.
Gedrink het ons nie. Nie waarvan ek kan onthou nie.
Iemand het vir hom ‘n hond present gegee en hierdie hond het vrou en vertroueling, kind en kleinkind geword.
Met ‘n groot pot rooibostee en pakkie sigarette sou Paul onder sy avokadopeerboom stelling inneem en die middaglank tennisbal vir sy hond gooi. Selfs die middae wat ons daar gekuier het.
Hierdie rooibos was deel van sy oggendroetine ook. Goed ‘n uur lank, elke oggend voor die vertrek skool toe, het Paul by die kombuistafel gesit en die een koppie tee na die ander gedrink, nooit gestop voor die emaljepot nie leeg was nie.
Ons het geweet om nie drank te vat as ons by sy huis gaan wors braai het nie, nie dat hy sou omgegee het nie, want sy mond aan drank sit, in die middel van die week, sou Paul nooit doen nie. Selfs al nooi jy hom uit, por jy hom aan, of waai hom dit voor die neus.
Drank was daar ook nie in sy huis te kry nie. Nie op ‘n rak, in ‘n kas, yskas of selfs êrens tussen sy onderbroeke (of waar ‘n man ook al sy botteltjies wegsteek) nie.
Maar naweke, elke naweek, klokslag, was dit anders, dan het Oom Paul homself buite weste beskonke gesuip.
Daar was diegene wat so iets vermoed het, maar ek en my kollega het geweet. Dit was die jare dat ek en sy ‘n serenadegroepie onder die leerlinge saamgestel het en een keer ‘n kwartaal deurnag die strate ingevaar het en vir die onnies gaan sêr het. Dan met die kombi, dan met ons fietse.
Ag siestog, en die kinders was so opgewonde om by hul gunstelingwetenskaponderwyser te gaan sing. Of dit nou middernag of drie-uur was dat ons daar aangekom het, kan ek nie onthou nie. Die ligte was aan en ons het die man vallend, nee kruipend, in sy huis gekry.
Dit was lank terug, die kinders naïef (of miskien ordentlik) en Oom Paul seker maar koorsig of baie siek.
Ek het die Maandag vir Paul omverskoning gaan vra. Hy het nie nag nie juis iets registreer nie maar kon vaagweg ‘n iets onthou wat anders of vreemd aan die naweek was.
Ek het verduidelik, en toe is dit hy wat, grote man wat hy was, wat omverskoning vra en soos ‘n kind benoud is wat die kinders nou straks van hom dink.
En hy het belei.
Hoeka oor ek nou vir die eerste keer in jare op ‘n mannenaweek is, dat ek aan Paul dink.
Daardie jare het ons mans elke dan en wan gaan visvang. En was dit nie vir ‘n naweek nie, dan was dit sommer vir ‘n aand en nag.
En Oom Paul is altyd saam.
Soos ‘n mens se ligaam gewoond raak aan ‘n Sondagmiddagslapie en later vir jou sê, as jy dalk vergeet, dat dit nou Sondagmiddag is en hy wil hê jy moet gaan slaap, het sy ligaam hom seker ook maar elke Vrydag herinner dis nou Vrydag.
En sy blou volksie het vanself die pad tot voor die drankwinkel gevat.
Want aan sy roetine het hy nie kon verander nie. Of hy nou Vrydagmiddag alleen huis toe en hond toe is, en of hy geselskap het en saam met die manne gaan hengel het.
Dit was die betrokke naweek ook al nader aan winter as somer, ek is teen elfuur al slaapsak toe, Oom Paul het so sittend in sy stoel (op ‘n bakkie staangemaak) aan die slaap geraak. Warm (of gevoelloos) van die drank, ook warm van ‘n moerse dik swart wintersjas en ‘n oudedoos serp.
Beesblaas, die Arries-onnie, het in ‘n stadium saam met my tussen die bakkies in ‘n slaapsak kom skuiling soek van die wind en nanag se koue.
En dis hy wat my in ‘n stadium wakker maak. Want daar is Oom Paul, aan wie se snork ons intussen gewoond geraak het en eintlik die skielike stilte wat Beesblaas helder wakker gekry het, die dam in, tot by sy bors al, en steeds dieper in, reguit vorentoe, anderkant van die dam toe. Doelgerig en verbete. Daar begin hy swem. Jas en serp en al.
Ons moes die man gaan uithaal en Beesblaas is die water in.
Hy was op pas na die ligte aan die oorkant. Hy was glo by sy huis, op die stoep. Daar was groot reëns en oorstromings. Die hengelaars en kampeerders se ligte aan die oorkant was die redddingspanne waarheen hy op pad was.
In ’94 is ek met langverlof en Europa toe. In Hongarye het ek die boodskap gekry ons Man from Atlantis is oorlede.
Welke reddingspan hom verwelkom het, weet ek nie. Maar ek weet dit was ‘n redding.

