Met die
uitbreek van die burgeroorlog in Angola, ek was klein en nog op laerskool, het
iemand in Otjiwarongo ‘n paal op die terrein van die plaaslike laerskool staan
gemaak. Duidelik sigbaar vanaf die grootpad uit die noorde. Groot pad was dit
ook nie, eerder die enigste pad rigting suid. En aan die paal vasgespyker, ‘n
handgemaakte padpredikant met net een woord daarop. Was dit nou Johannesburg? Of Pretoria? Ek weet nie meer nie.
Maar soos
die konvooie, bakkies en karre en waens en groenterokke, vragmotors met karige
besittings, daar verbygaan, was dit die een woord wat die Portugese vlugtelinge
geken het en hul nader na Suid-Afrika gebring het.
Die een
onderwyser het sy kinders dan draad toe gestuur met die boodskap om vir die
vreemdelinge te waai en te glimlag, met hulle vriendelik te wees, “want daardie
mense,” het hy gesê, “het alles verloor, en nog meer.”
My ma, wat
in daardie stadium ‘n rokwinkel (ons het nooit van ‘n boetiek gepraat nie)
besit het, het in daardie tyd ‘n groep Portugese tannies uitgerus, sonder tolk
of gebrekkige kommunikasie in Engels, net met die hande, oë en die klank van
woorde wat vir haar vreemd op die oor geval het.
Geld kon
hulle nie aanbied nie, maar die groep het daarop aangedring dat my ma ‘n ring
van hulle neem. ‘n Goue ring met ‘n groen steen. Wat sy nooit gedra het nie.
Maar altyd gehou het.
En toe,
jare later, klaar met universiteit en in die weermag, hou ek op die walle van
die Okavango-rivier skool vir ander ontheemdes uit hierdie tyd. Onder die vlerk
van Jan Breytenbach het die klein groepie Angolese/swart Portugese
vlugtelinge/soldate gegroei tot ‘n hele bataljon, ‘n gemeenskap, wat later
selfs ‘n skool op die been moes bring.
Pica Pau
was die naam van hierdie skool.
In die laat
tagtigerjare was daar 21 kinders op hoërskool, meer as 350 op laerskool. Die
hoërskoolkinders het almal skool in Angola begin. Nie Engels as skoolvak nie,
maar Portugees en Latyn. Ook ander mooi herinneringe uit Luanda en elders.
Stories van Jakaranda-bome in blom. Gelukkige, lekker tye.
Maar toe
die algehele verval in Angola. Skepe, bote, blase op voete, landmyne en
konvooie.
Suid-Wes
toe, op in Afrika, party Amerika toe, eilande toe. Selfs Mosambiek toe.
En dan die
paar wat beskerming geniet het onder die destydse SAW. Vir jare in tente, later
houthuisies.
En die wat
te jonk is, of nie soldate is nie, later genoeg Engels om weer skool toe te kan
gaan. Op 20/21 in matriek. Engels op Huistaalvlak, Afrikaans as Tweede taal.
Die
speelgrond was sand. Die sokkerveld, grond. Die mure, halflyf, van hout.
Sinkplaat die dak.
En saam met
haar drie maats in standerd 8 was Judit Tamata.
Die einde
van die jaar was hulle net drie en nie meer vier nie, Rosalina het malaria
gekry en gesterf.
Hierdie
begeesterde taalonderwyser het die hele hoërskool die begin van die jaar ‘n
brief aan hulself laat skryf wat ek beloof het om nooit te lees nie, maar die
einde van die jaar sal uitdeel. Elkeen moes beloof om sy hart uit te skryf, en
hulle het ywerig meegedoen. Die einde van die jaar toe deel ek die briewe uit
en daar gaan die hele klas aan huil toe ek Rosalina se naam en brief uitlees.
Ook Judit,
en eintlik sy, meer in besonder haar oproep twintig jaar later, verlede week,
wat my nou agter die rekenaar het.
Wit
Portugese bloed het sterk in haar are gevloei. Sy was ‘n mooi meisiekind. Ek
verbeel my sy is selfs gekroon as Miss Pica Pau. (Met uitgehongerde troepe as
beoordelaars, hoe dan anders.) Toe die meisie wat vir vyf jaar hoofdogter was
(standerd ses tot matriek) skool verlaat, het Judit, as ek my dit nie mis het nie,
hoofdogter geword.
Maar toe
die tweede wegval van die nuwe bekende as Suid-Afrika hom aan Suid-Wes onttrek.
‘n Trek en gemeenskapsverhuising Suid-Afrika toe. Exodus.
Eers tente.
Later huise. Die destydse regering gaan plak hulle toe mos op Pomfret. Die ANC
wil later niks met hulle te doen hê nie en daar is baie van hulle vandag nog
steeds vergeet, lees ons elke nou en dan van hulle in die koerante.
Koerantberigte wat ek nie lees nie, dit maak my siek.
Suksesstories,
gelukkige stories, mooi stories van 32 Bataljon, geskryf na die roemryke
oorlogsjare, is daar min. Die mense, wat nie elders ‘n heenkome kon vind nie,
vandag niks meer as honde nie.
Kontak het
ek behou. Vir die eerste twee of drie jaar, elke jaar die 800 km aangepak vir
die jaarlikse matriekafskeid wat ons in 1988 vir die eerste keer gehou het.
Later was
almal vir wie ek skoolgehou het uit en oor die land versprei, oor die wêreld
versprei.
Baie van
hulle in Johannesburg. Dan voeter ek Hillbrow toe om daar in woonstelle sonder
krag met gebrekkige riolering te gaan kuier. ‘n sekretariële kursus hier, iets
anders by ‘n fly-by-night instelling
elders.
En as ek
weer daar kom, is daar niemand.
Judit, toe
ek laas van haar gehoor het, is Suid-Amerika toe, agter familie, wie se
vlugtelingboot hulle destyds in die sewentigerjare, tot daar gespoel het, aan.
En my hart
het so uitgereik na hierdie kind. Ek het my die Hillbrow van daardie jare na
die agterstrate en stegies van Rio verskuif, haar daar agter kospotte sien
terugverlang Luanda toe, Suid-Afrika toe. Selfs Pomfret toe. Agter ‘n knoffel
hoender met Portugese mieliepap. (Daai gemeenskap maak die lekkerste mieliepap
waarby hulle na 20 minute wit broodmeel bygooi wat dan so wit taaierige pap
oplewer. Ek het nou nog die resep wat Rosario, destyds 22 en in standerd 7 vir
my in haar hand geskryf het, die middag
toe ek haar dit voor my laat maak het sodat ek kan sien hoe hulle dit doen.)
Ek het haar
swanger gesien. Ontredderd. Stukkend. Haweloos. ‘n Banneling. Soekend.
Verdwaal.
En toe het
ek vir seker 15 jaar van Judit vergeet. Hoogstens elke nou en dan (elke vyf
jaar?) aan haar gedink as ek deur die fotoalbum blaai.
Toe search ek Pica Pau op Facebook. Vir jare
al op soek na ‘n seun vir wie ek ‘n borg gekry het om skool in Suid-Afrika
klaar te kom maak.
Wragtig ‘n
enkele hit. En ek skryf vir hierdie
Domingo Fernandes wat onlangs aan Pica Pau matrikuleer het, en vra of hy nie
kontak het met mense wat in ’87-’88 daar op skool was nie.
Ek hoor vir
twee maande niks. Toe ‘n nommer van Sabino in die inbus. Sabino Fernandes,
destyds in standerd 9. Toe polisie toe, op Brey. Nou in Pretoria.
Ons gesels
lekker. Hy sal my nommer deurgee. Ons kuier nes die skole sluit.
En daar bel
hierdie swart vrou my ‘n week gelede. Ek is ongeskik en vermoed ‘n
telefoonoperateur van Standerdbank, iemand wat ‘n nuwe produk wil bekendstel.
Toe is dit
Judit Mata. Haar getroude van het ek gemis.
Sy bly hier
anderkant in Newlands. En, glo my, net ‘n baie klein deel van ons bevolking kan
bekostig om daar te koop.
Haar dogter
is in die duurste privaatskool vir dogters in Pretoria.
Haar seun
gaan volgende jaar na die duurste privaatskool vir seuns in Pretoria.
Ons kuier
sodra dit vakansie is.
No comments:
Post a Comment