9.11.11

Groen koring en /of 'n lat vir jou gat


Ons almal weet hoe jy partykeer ‘n lat vir jou eie gat kan pluk, maar as daai lat ‘n ring om jou kind se nek word, doen jy nie net jouself ‘n onguns aan nie, maar ook jou kind.

Om daardie “ring om die nek” te verstaan, moet jy sommer baie oud wees. Ek het in jare der jare nie vroue gesien wat met dit loop nie, maar hier in die sestigs het ‘n mens gereeld nog vroue, ek verbeel my dit was Pondo-vroue, op die sypaadjies sien sit en handewerk doen. Hulle het sulke pragtige blink ringe om hulle nekke gehad wat die nek met verloop van jare,en elke nuwe ring, lank en fier en regop en slank gemaak het.

Nou, of dit waar is of nie, weet ek nie, maar my pa het te vertelle gehad, dat sou daardie vrouens “egbreek pleeg”, dan het hulle mans die reg om daardie rits ringe af en los te sny. (Wat “egbreek pleeg” was, het ek natuurlik nie ‘n idee van gehad nie, maar dit moes ‘n groot en gewigtige ding gewees het, die dominee praat dan Sondag na Sondag daarvan.)

Daardie “egbreek pleeg”-vrouens se nekspiere, wat in geen jare gewerk het nie, is dan so verswak (amper soos die van ‘n baba by geboorte) dat hulle net kan lê en geensins hul koppe kan oplig nie. (In my kinder-geestesoog het ‘n paar tannies hulle koppe probeer lig en dan het hulle koppe sommer so geknak, soos ‘n riet, en is hulle dood.)

Ek vertel graag hierdie vir my leerders as ek die boodskap wil tuisbring dat sekere goed wat mooi en goed en lekker is, op die lang termyn nie noodwendig is nie. As hulle met allerhande krukke deur die werk wil strompel, dan wys ek hulle daarop dat daai krukke jou van die vaardigheid ontneem om ‘n ding self te kan doen, en steun jy later so op die krukke, dat jy die vermoë om dit self te doen, laterhand heeltemal verloor.

Met die dat ek nog ‘n groen koringkorreltjie op die land het, én die laaste vier jaar al soveel keer verbrou het, moet ek seker my woorde tel, MAAR — DAAI DAG AS

·         Sussa by die huis kom sonder haar kosblik; kry sy more haar broodjie in waspapier

·         die punt van pa se hart en die appel van sy oog haar skoene/trui/baadjie by die skool los; is dit kaalvoet en hoendervleis die volgende dag

·         Klaarsie vergeet om te sê dis 16:00 en nie 14:30 wat ek haar moet optel nie; dan kom sy huis toe met haar twee apostelperde

·         Lief-pop-engel-skat daai broodjie in waspapier in die kare vergeet; dan doen Pa sy goeie daad vir die dag en voed die bedelaar by die robot

·         Pokkenoksie die skooltaak waaraan SY, en nie Pappa, Mamma, Ouma en Oupa nie, tot ounag toe gewerk het, op die tafel, waar sy aan die slaap geval het, vergeet; dan handig sy dit maar die volgende, laat, minus tien punte, met ‘n traan in haar oog in


Want so kom hulle op hoërskool en Meneer sukkel SES dae om ‘n handboek uit hulle te kry. En dan is dit die laaste dag voor die eksamen begin. En daar is nie weer geleentheid nie. En dan gooi Meneer ‘n tantrum en al sy poppe uit die pram dat die spoeg so spat.

En dan pruil hulle verskrik, maar tog met die wêreld se selfvertroue:  “Maar ek kan my boek na pouse / 14:00 vir Meneer kom gee.”

So nie, kom die eksamen, en as hulle handboeke nie in is nie moet hulle vir ‘n uur sit en tande tel in die saal terwyl die ander maatjies gaan swem, dan sê hulle dat hulle die boek vergeet het, “maar ek het klaar my ma gebel / ge-SMS sy bring hom gou skool toe en sal hom by die kantoor inhandig.”

O, en dan verloor Meneer dit: “Oor jy vir ses dae te slap was om die boek te bring, moet jou ma dit nou bring, moet jou pa nou huis toe jaag, agter jou aan!” Dit nadat ek selfs toegesien dat elke kind ‘n reminder op sy selfoon intik (selfone is wonderlike goed) om more sy handboeke te onthou.

Ek sê as Ma en Pa die kind kleintyd geleer het hulle ry nie aldag en heeldag agter hulle aan oor goed wat vergeet is nie, dan het hulle teen matriek geleer om ‘n ding gereed te hê as hy gereed moet wees.

Maar hoe moet hulle dit nou leer as ‘n krisis aan hulle kant, kort-kort telefonies ‘n krisis vir Ma en Pa word. En Ma en Pa spring maar net.

En dan laai Ma of Pa daai boek by die tannie in die kantoor af.  En dan is daar nie ‘n naam in daai handboek nie. En kan dit een van 13 kinders se handboeke wees. Dan is Meneer eers opgeklits.

Maar my bek mis groot. Ek weet.

Ai, Klaradyn, jy moet tog nie dat Pappa eendag nodig het om elkeen van hierdie woorde in te sluk nie!

Status update:

Dit was 12 November 2008. Sussa is nou in graad 1. Hierdie week, en hierdie week alleen, soek ons 'n R270-00 drymac (ek verbeel my dit is die tweede een vir die jaar) en 'n kosblik.

Die kosblik is weliswaar 'n eerste. En dit was toe nie nodig vir waspapier nie - ons het vier. En dan het ons nog die vier oues van verlede jaar wat ook die begin van hierdie jaar diens gedoen het.

No comments: