14 November 2010
Vanmiddag na skool stop ek by die groentewinkel (vir die hoeveelste week op soek na die eerste lietsjies en veselperskes) en stap minute later uit met ‘n bakkie kersies uit die omgewing van die Maluti’s en ook ‘n bakkie appelliefies (hoewel ek dit by Ouma as appelliepie leer ken het).
Vanmiddag na skool stop ek by die groentewinkel (vir die hoeveelste week op soek na die eerste lietsjies en veselperskes) en stap minute later uit met ‘n bakkie kersies uit die omgewing van die Maluti’s en ook ‘n bakkie appelliefies (hoewel ek dit by Ouma as appelliepie leer ken het).
Na Oupa se
skoenfabriek op George afgebrand het, is hulle Ficksburg toe om daar ‘n nuwe
fabriek te begin. Judy het daar laerskool en hoërskool voltooi en altyd die
lekkerste stories vertel van kwajongens wat snags gaan kersies steel het.
Ouma het
almelewe die lekkerste appelliefietert
gemaak.
Wat van die
resep geword het, weet ek nie – ek het al haar kookboeke, maar nergens is daar
‘n appelliefietertresep nie. Dit was geblikte appelliefies, maar dis ook al wat
ek weet. As ek moet raai het sy die appelliefiewater met vlapoeier verdik en
nog ‘n paar goed gedoen om die tert in plek te kry.
Toeval? Ek
weet nie, want toe ek by Judy kom (sy’t vanoggend so lekker geslaap, ek kon dit
nie oor my kry om haar wakker te maak nie) onthou ek om na die hangkas te stap
en haar ma se foto van die deur af te haal:
“Ouma van Wyk, Ma se ma, sou vandag verjaar het, dis sy hierdie.”
“Haai,
hoekom het sy nie gekom nie?”
“Nee, Ma, sy
is al jare oorlede”
1986 om
presies te wees.
Had sy nog
geleef, sou sy 110 gewees het. Of 109. Die een dokument het dit dat sy 1900 die
lig gesien het; ‘n ander stel dit as 1901; beide is ewe amptelik met baie
serieuse stempels en seëls, so hoe oud
Ouma ooit was, weet nugter.
Dis 24 jaar later
en ek het my ma dit nog nooit vergewe nie. En al maak dit lankal nie meer saak
nie, sal ek haar dit ook nooit vergewe nie.
Nie die feit
dat sy nie wou hê ek moet al die pad van Potch deur ry huis toe, toe Ouma
gehospitaliseer is nie; nie die feit dat ek daarop aangedring het om deur te
ry, en sy daarop aangedring het dat ek bly nie. Maar vir die feit dat sy na die
tyd vertel het hoe Ouma, die laaste nag wat my sterfbedbegeleiding gedoen het,
glo by herhaling ylend gevra het waar haar Toklok is.
En ek was
Toklok, en ek was nie daar toe sy na my gevra het nie.
My ma moes
dit vir haarself gehou het.
Maar voor
Ouma van Wyk in Appelliefietert (soos Opperman se ouma in kaneel) is, is Ouma
van Wyk in Springbokradio-stories.
Na skool om
die kombuistafel in haar woonstelletjie. Plastiek kleedjie, koffie en
Mariebeskuitjies. En die stories. Elders moes ons dit skelm doen, maar by Ouma
was dit vanselfsprekend en geen haan het daarna ooit gekraai nie.
En as dit
dan iets soos geurig en speseryerig soos kaneel moet wees, dan is dit nie
kaneel nie (al het Ouma pannekoek en pampoenkoekies en melkterte met
kaneelsuiker gebak). Nee, mý Ouma is in kruienaeltjies.
Maak ek
hoender, ongeag wat die resep vra en al is dit hóé onvanpas in baie
hoenderresepte, ék gooi, elke keer, ‘n kruienaeltjie (al is dit net een)
gedagtig aan Ouma van Wyk in.
Haai, en uit
al die fancy hoenderdisse wat ek
maak, is daar niks, niks, wat naby Ouma van Wyk se waterige gestoofde hoender
met die oorweldigende naeltjiegeur kom nie. My ma het altyd gekla en
gekritiseer, maar ek en Ouma was mal daaroor en daar het seker nie ‘n week
omgegaan dat Ouma nie gebel het om te sê ons moet ‘n hoendertjie kom optel nie.
Of
pannekoek, of vleisballetjies, of melktert, of appelliefietert.
Maar die
lekkerste van alles – die naeltjiehoender.
Stories ken
ek nie veel nie, maar ek het nie rede om te dink dat sy gelieg het toe sy
vertel het dat sy brandhout met ‘n baba op haar rug buite George (GE-ORG
uitgespreek) op moes tel nie en meelsakkies gebruik het om vir die einste baba
kombersies te maak nie.
Haar liedjie
het my vir jare ontgaan, maar met Klaarsie se koms het ek dit weer
opgespoor: “Ek en my vroutjie bly
stoksielalleen in ‘n vaal ou pondokkie wat lek as dit reën. En vra die mense
waarom dek ek hom nie, dan sê ek as die son skyn dan lek hy mos nie.”
Ouma het ook
‘n raaisel: “Jan Verslae sit op die wa, hy sien die een die ander dra: ses
bene, twee koppe en een stert”
Dan is dit
‘n roofvoël wat met ‘n skilpad wegvlieg.
My ouma het
nooit aan piepie gestink nie.
Sy het
borstrokke gedra.
Haar sykouse
was nie broekiekouse nie, maar is met “suspenders” vasgemaak.
Haar tande
het goud ingehad.
En syself
het ‘n poep-ogie gehad.
O, die
poep-ogie! Sy was seker 78, toe kry sy haar eerste kontaklense. Ek dink toe
kontaklense SA tref, toe is Ouma van die eerstes om getref te word.
Ag Liewe
Here (het Ouma altyd gesê) hierdie kontaklense was geen plesier nie. Beide oë
het lense nodig gehad (die poep-ogie was bloot die ogie met die katarakte) en
dan verloor sy een. Later soek die hele woonstelblok op hul knieë na die ding,
selfs die Dominee wat kom weduweebesoek doen het. En die ou mense het mos nie
tyd gehad vir ‘n effekleurige mat nie – dit wys te gou vuil – jy moes hierdie
kontaklens op ‘n very, ever so very,
floral mat soek.
En dan spoor
ons hom partykeers nooit op die mat op nie, maar agter Ouma se oogbal waar sy
hom in-geverkrag het.
Ander kere
dan is die ding stukkend getrap. (Ja, kontaklense het ‘n lang en ver pad gekom
van 1975 af, om te wees waar dit vandag is. Ouma se lense was loutere hel.)
Ouma het
vreeslik gesukkel met oorbelle. Iets het as jong dogter of vrou verkeerd gegaan
toe sy gaatjies in haar ore gekry het:
die een oor het ‘n gaatjie gekry, die ander lel, ‘n skeur – al die pad
van waar die gaatjie moes wees tot enduit ondertoe. Letterlik ‘n oorlel in twee
geskeur. En nou kon sy nie studs dra
nie (daar was nie ‘n gat nie) en gewone oorbelle moes out size knippies hê om die ravyn te akkommodeer.
Ouma se
kombuis op Ficksburg is nog met beesmis en perskepitte uitgevoer.
Ouma was
lief vir huil en het baie en lekker gehuil. Maar net een keer het ek, waarvan
ek weet, haar tot ‘n tranedal gedryf:
Of ek al op
skool was, weet ek nie. Ek het daar gespeel en onder in haar hangkas (daar was
nie ingeboude kaste nie) het ek op ‘n boksie afgekom wat toegelym was met bruin
papier. Ek het dit oopgemaak en op briewe afgekom. En ‘n haarlokkie.
Dit was ‘n
oorlede suster van Ouma s’n – die vrou is vroeg dood, maar wat gebeur het, weet
ek nie.
Na Ouma se
dood het ek daai boksie gevat en hom weer toegeplak met gegomde papier.
Daai boksie
is nou in my sitkamer in ‘n familie-erfstuk van ‘n lessenaar en buro. Ek het
dit nog nie weer oopgemaak nie. En ek sal ook nie sommer nie.
Toe oom Jack
Junie-maand dood is, en ons besoek die Alberton-kerkhof, het ek Ouma se graf
opgespoor. Eintlik Ouma en die oupa wat ek nooit geken het nie, se graf.
Ouma had
drie kinders, Anne, James en Judy. Die susters en hul gesinne het nie
graf-mense geword nie. Anders as Oom James se gesin wat grafte besoek en
versorg en blomme vat en op spesiale herdenkingsdae gaan geselskappies
aanknoop, het Judy en Anne se gesinne geensins daarmee grootgeword nie.
Dis dan ook
op Alberton, by die susters, en nie op Ficksburg, by James, dat die twee oues
begrawe is. Geen steen, geen niks.
Ek onthou egter
nog die bekommernis wat daar was toe ons Ouma moes inspit – hulle het Oupa glo
25 jaar van te vore aan die “verkeerde” (of minder tradisionele) kant van die
dubbelgraf begrawe en daar moes met groot omsigtigheid gat gemaak word om seker
te maak ons skend nie Oupa se rus nie.
As ek net
kon, het ek Ouma se rus vandag geskend – ek sou wou gil en raas en skree en
roep, tot ek haar aandag het, net om vir haar te sê en haar daaraan te herinner
dat ek haar lief het, en Judy ook, het sy net nog geweet wie haar ma is.