28.11.11

Anna Maria van Wyk (geb. Voicht)

14 November 2010

Vanmiddag na skool stop ek by die groentewinkel (vir die hoeveelste week op soek na die eerste lietsjies en veselperskes) en stap minute later uit met ‘n bakkie kersies uit die omgewing van die Maluti’s en ook ‘n bakkie appelliefies (hoewel ek dit by Ouma as appelliepie leer ken het).

Na Oupa se skoenfabriek op George afgebrand het, is hulle Ficksburg toe om daar ‘n nuwe fabriek te begin. Judy het daar laerskool en hoërskool voltooi en altyd die lekkerste stories vertel van kwajongens wat snags gaan kersies steel het.

Ouma het almelewe die lekkerste appelliefietert  gemaak.

Wat van die resep geword het, weet ek nie – ek het al haar kookboeke, maar nergens is daar ‘n appelliefietertresep nie. Dit was geblikte appelliefies, maar dis ook al wat ek weet. As ek moet raai het sy die appelliefiewater met vlapoeier verdik en nog ‘n paar goed gedoen om die tert in plek te kry.

Toeval? Ek weet nie, want toe ek by Judy kom (sy’t vanoggend so lekker geslaap, ek kon dit nie oor my kry om haar wakker te maak nie) onthou ek om na die hangkas te stap en haar ma se foto van die deur af te haal:  “Ouma van Wyk, Ma se ma, sou vandag verjaar het, dis sy hierdie.”

“Haai, hoekom het sy nie gekom nie?”

“Nee, Ma, sy is al jare oorlede”

1986 om presies te wees.

Had sy nog geleef, sou sy 110 gewees het. Of 109. Die een dokument het dit dat sy 1900 die lig gesien het; ‘n ander stel dit as 1901; beide is ewe amptelik met baie serieuse stempels en  seëls, so hoe oud Ouma ooit was, weet nugter.

Dis 24 jaar later en ek het my ma dit nog nooit vergewe nie. En al maak dit lankal nie meer saak nie, sal ek haar dit ook nooit vergewe nie.

Nie die feit dat sy nie wou hê ek moet al die pad van Potch deur ry huis toe, toe Ouma gehospitaliseer is nie; nie die feit dat ek daarop aangedring het om deur te ry, en sy daarop aangedring het dat ek bly nie. Maar vir die feit dat sy na die tyd vertel het hoe Ouma, die laaste nag wat my sterfbedbegeleiding gedoen het, glo by herhaling ylend gevra het waar haar Toklok is.

En ek was Toklok, en ek was nie daar toe sy na my gevra het nie.

My ma moes dit vir haarself gehou het.

Maar voor Ouma van Wyk in Appelliefietert (soos Opperman se ouma in kaneel) is, is Ouma van Wyk in Springbokradio-stories.

Na skool om die kombuistafel in haar woonstelletjie. Plastiek kleedjie, koffie en Mariebeskuitjies. En die stories. Elders moes ons dit skelm doen, maar by Ouma was dit vanselfsprekend en geen haan het daarna ooit gekraai nie.

En as dit dan iets soos geurig en speseryerig soos kaneel moet wees, dan is dit nie kaneel nie (al het Ouma pannekoek en pampoenkoekies en melkterte met kaneelsuiker gebak). Nee, mý Ouma is in kruienaeltjies.

Maak ek hoender, ongeag wat die resep vra en al is dit hóé onvanpas in baie hoenderresepte, ék gooi, elke keer, ‘n kruienaeltjie (al is dit net een) gedagtig aan Ouma van Wyk in.

Haai, en uit al die fancy hoenderdisse wat ek maak, is daar niks, niks, wat naby Ouma van Wyk se waterige gestoofde hoender met die oorweldigende naeltjiegeur kom nie. My ma het altyd gekla en gekritiseer, maar ek en Ouma was mal daaroor en daar het seker nie ‘n week omgegaan dat Ouma nie gebel het om te sê ons moet ‘n hoendertjie kom optel nie.

Of pannekoek, of vleisballetjies, of melktert, of appelliefietert.

Maar die lekkerste van alles – die naeltjiehoender.

Stories ken ek nie veel nie, maar ek het nie rede om te dink dat sy gelieg het toe sy vertel het dat sy brandhout met ‘n baba op haar rug buite George (GE-ORG uitgespreek) op moes tel nie en meelsakkies gebruik het om vir die einste baba kombersies te maak nie.

Haar liedjie het my vir jare ontgaan, maar met Klaarsie se koms het ek dit weer opgespoor:  “Ek en my vroutjie bly stoksielalleen in ‘n vaal ou pondokkie wat lek as dit reën. En vra die mense waarom dek ek hom nie, dan sê ek as die son skyn dan lek hy mos nie.”

Ouma het ook ‘n raaisel: “Jan Verslae sit op die wa, hy sien die een die ander dra: ses bene, twee koppe en een stert”

Dan is dit ‘n roofvoël wat met ‘n skilpad wegvlieg.

My ouma het nooit aan piepie gestink nie.

Sy het borstrokke gedra.

Haar sykouse was nie broekiekouse nie, maar is met “suspenders” vasgemaak.

Haar tande het goud ingehad.

En syself het ‘n poep-ogie gehad.

O, die poep-ogie! Sy was seker 78, toe kry sy haar eerste kontaklense. Ek dink toe kontaklense SA tref, toe is Ouma van die eerstes om getref te word.

Ag Liewe Here (het Ouma altyd gesê) hierdie kontaklense was geen plesier nie. Beide oë het lense nodig gehad (die poep-ogie was bloot die ogie met die katarakte) en dan verloor sy een. Later soek die hele woonstelblok op hul knieë na die ding, selfs die Dominee wat kom weduweebesoek doen het. En die ou mense het mos nie tyd gehad vir ‘n effekleurige mat nie – dit wys te gou vuil – jy moes hierdie kontaklens op ‘n very, ever so very, floral mat soek.

En dan spoor ons hom partykeers nooit op die mat op nie, maar agter Ouma se oogbal waar sy hom in-geverkrag het.

Ander kere dan is die ding stukkend getrap. (Ja, kontaklense het ‘n lang en ver pad gekom van 1975 af, om te wees waar dit vandag is. Ouma se lense was loutere hel.)

Ouma het vreeslik gesukkel met oorbelle. Iets het as jong dogter of vrou verkeerd gegaan toe sy gaatjies in haar ore gekry het:  die een oor het ‘n gaatjie gekry, die ander lel, ‘n skeur – al die pad van waar die gaatjie moes wees tot enduit ondertoe. Letterlik ‘n oorlel in twee geskeur. En nou kon sy nie studs dra nie (daar was nie ‘n gat nie) en gewone oorbelle moes out size knippies hê om die ravyn te akkommodeer.

Ouma se kombuis op Ficksburg is nog met beesmis en perskepitte uitgevoer.

Ouma was lief vir huil en het baie en lekker gehuil. Maar net een keer het ek, waarvan ek weet, haar tot ‘n tranedal gedryf:

Of ek al op skool was, weet ek nie. Ek het daar gespeel en onder in haar hangkas (daar was nie ingeboude kaste nie) het ek op ‘n boksie afgekom wat toegelym was met bruin papier. Ek het dit oopgemaak en op briewe afgekom. En ‘n haarlokkie.

Dit was ‘n oorlede suster van Ouma s’n – die vrou is vroeg dood, maar wat gebeur het, weet ek nie.

Na Ouma se dood het ek daai boksie gevat en hom weer toegeplak met gegomde papier.

Daai boksie is nou in my sitkamer in ‘n familie-erfstuk van ‘n lessenaar en buro. Ek het dit nog nie weer oopgemaak nie. En ek sal ook nie sommer nie.

Toe oom Jack Junie-maand dood is, en ons besoek die Alberton-kerkhof, het ek Ouma se graf opgespoor. Eintlik Ouma en die oupa wat ek nooit geken het nie, se graf.

Ouma had drie kinders, Anne, James en Judy. Die susters en hul gesinne het nie graf-mense geword nie. Anders as Oom James se gesin wat grafte besoek en versorg en blomme vat en op spesiale herdenkingsdae gaan geselskappies aanknoop, het Judy en Anne se gesinne geensins daarmee grootgeword nie.

Dis dan ook op Alberton, by die susters, en nie op Ficksburg, by James, dat die twee oues begrawe is. Geen steen, geen niks.

Ek onthou egter nog die bekommernis wat daar was toe ons Ouma moes inspit – hulle het Oupa glo 25 jaar van te vore aan die “verkeerde” (of minder tradisionele) kant van die dubbelgraf begrawe en daar moes met groot omsigtigheid gat gemaak word om seker te maak ons skend nie Oupa se rus nie.

As ek net kon, het ek Ouma se rus vandag geskend – ek sou wou gil en raas en skree en roep, tot ek haar aandag het, net om vir haar te sê en haar daaraan te herinner dat ek haar lief het, en Judy ook, het sy net nog geweet wie haar ma is.

27.11.11

Ek het 2 jaar gelede al oud begin word:


Loop ek gister ‘n matriekdogter in die superette raak. Kom ons noem haar Wilma van der Linde. Lieflike kind, maar nee, ek loop haar nie raak nie, ek loop haar verby, skuur letterlik agter haar rug verby en hoop sy sien my nie.

Ons sal heerlik geselsie maak, maar ek is laat vir ‘n afspraak by die jaarbladontwerper, én ek is vrekhonger. Ek sluip uit en gaan eet my hamburger buite by die kar voor ek moet jaag om betyds vir die jaarblad te wees..

Met dié kom sy uit en ek kan dadelik sien sy het my wel in die winkel gesien, en, soos ek, gemaak of sy my nie sien nie.

Ek weet ook sy lees presies dieselfde op my gesig.

Maar hier is ons nou as het ware in mekaar gesigte, verplig om ons geselsie aan te knoop. ('n Geselsie wat ons beide sal geniet, maar nie een van duidelik nou op hierdie oomblik tyd voor het nie – ek hou immers van die kind, en die kind hou van my.)

Op my vraag hoe dit gaan, laat val sy dat dit sleg gaan.

Die matrieks het gister én Vrydag wiskunde geskryf. Vrydag se vraestel was ‘n riller, so nou lei ek af die tweede vraestel was nie veel beter nie.

“Hoekom, was die wiskunde weer sleg?”

“Nee, my pa is verlede week oorlede.”

My hart reik dadelik uit tot hierdie kind vir wie ek ‘n baie sagte plekkie het.

“Haai, dis vreemd, hulle het niks eers by die skool genoem nie.”

“Nee, wat, hulle sal nie, ek is mos nie meer in die skool nie.”

En toe besef hierdie lieflike kind vir wie ek ‘n sagte plekkie het, is nie hierdie jaar se lieflike kind vir wie ek ‘n baie sagte plekkie het nie, maar een van twee jaar gelede vir wie ek ‘n baie sagte plekkie gehad het.

Gelukkig is ons al twee haastig en ek hoef nie te sukkel om ‘n hele voet en been uit my mond, waar ek dit sopas gedruk het, te loop haal nie.

Vanoggend sien ek Wilma op ‘n afstand en storm nader om haar my faux pais van gister te vertel. Maar toe ek voor die kind staan, seker gister se insident wat my brein benewel, lyk dit nie vir my soos Wilma nie.

“Wie’s dit die?” vra ek vir die juffrou met wie die kind gesels.

“Dis Rochelle.”

“O, ek het gedag dis Wilma, moenie worry nie meisiekind.”

“Maar dis Rochelle van der Linde, Wilma se jonger sussie. Daar oorkant staan Wilma.”

25.11.11

Een en Een is Drie


So is dit die derde dag van skool en my kollega, wie se klas uitkyk op die Olimpiese standaard- en grootte swembad, vertel hoe hy dag drie, soos gewoonlik baie vroeg by die skool is om sy klas en dataprojektorwerk (in die ou dae bordwerk) vir die dag gereed te kry.

Nou is dit mos maar hoe dit met ‘n skoolswembad is — van die more tot die aand is daar kinders in wat nie daar mag in wees nie, en kom hulle iets oor is dit nie hulle, wat oor sewe voet heinings en lemmetjiesdraad gespring het om daar in te kom nie, skuld nie, maar summier die skool se skuld. Hofsake, voorblad-koerantberigte, onderhoude op Carte Blanche insetsels op Special Assignment, paneelbesprekings en ondervragings in camera.

Uit die hoek van sy oog raak hy toe ook bewus van beweging daar by die swembad, en stap nader. Net om bewus te raak van vier of vyf stelle pragtig bruingebrande sitvlakke (pragtig bruingebrand, nie pragtige boude en wat ook al in ‘n man se afbuk daarmee saamhang nie) wat swemklere aantrek.

Hy kan nie anders as om soorts van te staar en te wonder hoe ‘n mens so oor jou hele lyf (en dan bedoel hy nou “hele lyf”, van Bangkok tot Marblehall by wyse van spreke) ‘n Desember-sonbruin kan opdoen nie. Opsigselwers ook nie iets waaroor ‘n mens vreeslik hoef te wonder nie, dit spreek vanself, heel logies. Maar hoe, en waarom, en wanneer, en saam met wie, en waar, is die vrae wat hom besig hou.

Dis egter vir hom duidelik dat dit mans, en nie skoolkinders is nie. Maar ek het nie gevra wat hom daardie idee gegee het nie.

Ook nou nie iets om oor huis toe te skryf nie. Die naweek kom en gaan. Dag vier breek aan.

Nou is dit mos maar hoe dit met enige skoolswembad is — van soggens tot saans is daar kinders (plaaslik en van omliggende hoër- en laerskole) in die water. Die talle duidelike  Toegang Verbode-, Oortreders sal vervolg word-, Geen Toegang-bordjies word totaal misgekyk as hulle bo-oor, onderdeur en soms dwars deur sewe voet heinings, betonmure en lemmetjiesdraad, moet klim, klouter, duik, gly en val om af te koel.

Net so is dit ook met ‘n beginner-juffrou vars uit die universiteit by ‘n groot skool: die eerste jaar rep hul geen woord, sluip van klas tot kar en weer tot klas, kyk as het ware die kat goed uit die boom en sprak geen sprook.

Maar hier in jou tweede jaar is dit ‘n perd van ‘n ander kleur, is jy mos al ‘n ou hand by die skool, jy tree op waar daar opgetree moet word, ferm, verantwoordelik en met ‘n dringendheid in jou stem, eie aan iemand wat sakke gesag op sy skouers met hom saamdra.

So kom hierdie ander kollega, haar tweede jaar in die onderwys is vyf dae oud, verby die swembad, en kan jy glo, so wrintie waar, daar is ‘n onwettige wederregtelike betreder in die oortreffende trap en hoogste graad in die swembad.

Die regte stem, woorde, dringendheid, didaktiese ongeduld, lyftaal en alles denkbaar, om korte mette te maak met hierdie ongepoetste mannetjie in die poel.

Maar dis of hy hom aan haar afvee.

Verbeel sy haar of ignoreer hy haar?

‘n Nog beter stem, woorde, dringendheid, didaktiese ongeduld, lyftaal en wat ook al denkbaar, om eerstens haar selfbeeld in ere te herstel, en hom, by wyse van spreke (die water is lekker warm) kleinkoppie te laat trek.

En daar styg die rysige gestalte uit die water, amper soos ‘n Glaukus, maar meer soos ‘n glimmende kaal bolyf uit hierdie Jenna Clifford-advertensies van onlangs, trouens sommer baie meer soos ‘n brons torso in die Jenna Clifford-advertensies wat ‘n mens nie kan help om raak te sien nie, en hy sê: “Goeie more, ek is Ryk.”

En dis nie dat sy nie weet nie, dis net dat die oomblik en alles wat daarmee saamgaan vir haar te veel is, en sy vra “Ryk wie?”

En hy sê vir haar presies Ryk Wie hy is en dat hy hier op afspraak oefen.

En sy sit haar dagtaak voort. Doelgerig en stip.

En nou wonder ek of ek een en een bymekaar moet sit.

Liewer nie.

Netnou is twee, dalk drie. Of wat ook al. Of andersom.


Fotobron op Wikimedia

23.11.11

Mus Musculus (studiendii computerensis)

Hierdie was my gedagtes ongeveer twee jaar gelede. Intussen het baie verander. En baie dieselfde gebly.

Ek is ten sterkste van mening dat ‘n mens se slegste punte of swakste kwaliteite, nege uit tien kere niks anders as daardie mens se beste punte en sterkste kwaliteite, bloot net in die oortreffende trap en ‘n oordrewe vorm is nie.

So funksioneer ek bv. onafhanklik en selfstandig op my beste.

Dis nou aan die een kant, maar aan die ander kant maak dit dat ek geen spanspeler is nie en geensins in ‘n groep kan funksioneer sonder om elke ander lid reeds van uit die staanspoor te vervreem nie.

Daar is vir my ongelukkig net een manier, en dit is my manier.

Ek hou Annieka vanaand terwyl ons eet weer dop. Eers eet sy die vleis, net die vleis; dan die boneslaai en net die boneslaai; laastens die wortelslaai.

En wat my betref is dit verkéérd, nie anders nie, nie elke diertjie sy plesiertjie nie. Verkeerd.

Sommer-net-kos word ‘n maaltyd as jy geure en teksture meng, rondspeel met verhoudings en proporsies (proe-porsies?) soos jy die happies afwissel.

Maar ek laat haar begaan.  Jare nou al.

Help ek haar reg, veroorsaak dit net konflik.

Konflik van hierdie aard (daardie sort waar ek altyd van beter weet) sentreer die laaste jaar of wat in ons huis hoofsaaklik eerder rondom die gebruik van ‘n muis, al dan nie, kom dit by skootrekenaars.

Ek kan nie sonder ‘n muis werk nie. Die rond vryf op ‘n paar vierkante sentimeter tassensitiewe plastiekkussing en alewige gesoek na die cursor op die skerm frustreer my mateloos. Ja, ek het groot hande, maar piesangtrosse is hulle waaragtig darem ook nie.

Die verwarring, opgevolg deur eksperimentering en dan, as jy gelukkig is, waar die left-click van die muis op die skootrekenaar se ingeboude rot sit, dryf my teen die mure uit. Om van die koördinasie ter sprake by ‘n scroll down nie eers te praat nie.

Dis ‘n meganies-tegnologiese gestremdheid waarin jy jou willens en wetens, oop oë en siende blind  begewe, die dag wat jy jou verbeel jy is fancy en with it om ter wille van die in crowd jou muis te wil verruil vir ‘n rondtas in die duister.

Dis nie makliker nie, dis nie vinniger nie, dis nie beter nie, dis nie effektiewer nie. Dis kontraproduktief. Basta met die res.

En dis nie net ek nie. Dis so vir elke persoon wat sonder ‘n muis aankarring en hom- of haarself wat verbeel. Ek hou vir hulle dop. Met ‘n geïrriteerdheid en ongeduld wat maak dat jy ‘n eier in my binneste kan kook.

Daar is seker iewers iemand wat vinniger sónder ‘n muis, as mét een, oor die weg kan kom, maar die beslis nie een van die baie mense met wie ek al te doen gekry het.

Skuif ek, met die beste van intensies, agter ‘n skootrekenaar in  om te help is ek onmiddellik omgeëllie as daar nie ‘n muis is nie. Hoe kan enige nugterdenkende mens dit aan hom of haarself doen!

En ja, jy dínk dalk jy weet beter, ek wéét ek weet beter.

En dis nie dat daar net een manier van doen is, en dis my manier nie. Daar is inderdaad twee maniere:  ‘n regte en ‘n verkeerde manier. Ek verkies die regte manier.

Mens en muis kom reeds so ’n lang pad saam, lees ek by mieliestronk.com dat ons verwante woorde vir hom het in feitlik alle Germaanse tale, asook Latyn, Grieks, Oud-Bulgaars, Armeens en Oud-lndies.

Dis gewis ’n woord wat voorgekom het in Oer-lndo-Europees, duisende jare gelede, vertel ’n taalman, voordat daar sprake was van aparte taalgroepe soos Indies, Grieks, Kelties en Germaans, laat staan nog aparte tale soos Russies, Frans, Engels of Duits, om van Afrikaans nie eens te praat nie.

En hoe het die muis nou eintlik aan sy naam gekom? Dit weet ons nie, sê die taalkenner. Sommige geleerdes beweer dat die ou woord mus saamgehang het met ’n woord wat "steel" beteken, en dat die muis só genoem is as gevolg van sy diefagtige gewoontes.

Een ding wat Mus Musculus (studiendii computerensis) egter nie doen nie, dan is dit om tyd en energie te steel.

Twee jaar later het ek opgehou om 'n muis saam met my skootrekenaar te pendel. Ek het geensins vrede gemaak met die froetelvlakkie hier voor onder my duime nie – ek het bloot daaraan gewoond geraak om stadiger, onproduktief, omslagtig en onproduktief met die rekenaareeu se apparatuur om te gaan.

As 'n skootrekenaar nie so gerieflik was nie, het ek trouens niks van die ding gehou nie. Ek weet byvoorbeeld nou nog nie hoe om, werk ek nie in Word nie, 'n deelteken of 'n kappie op 'n –e te kry nie. Die e-posse (en dikwels eposse) wat ek van die skoot af stuur het dikwels die lompste sinne, bloot net omdat ek ompaaie moet loop om die woordjie “sê” te ontglip.


21.11.11

Krismis-koors

Ek het verlede week tot die besef gekom dat my kind nooit ‘n Desembervakansie aan die Natalse kus sal hê nie.

Dit terwyl my eerste vakansieherinneringe Desembervakansies in die karavaan by Salt Rock karavaanpark is.

Ons is jaar na jaar, oor jare heen, soheentoe. Party jare is Ma en die kinders sommer ‘n week of wat voor Pa af. Ons slaan op, en wanneer Pa se praktyk eers sluit, sluit hy by ons aan.

Later van tyd het ons maats gehad wat ons net vakansies daar gesien het, saam vakansie mee gehou het, en dan weer na Nuwejaar tot aanstaande jaar gegroet het.

Reeds sedert die tagtigerjare en Mannetjies Roux se dae, sing Laurika Rauch gereeld in ons huis:

Ek het in my kinderjare vas geglo in Kersfeesvader
In werklikheid ry hy mos met ‘n slee
Maar hier stap hy deur die mielies
met ‘n streepsak en ‘n kierie
En my boetie vra, “Woon hy in Clocolan?”

Toe trou die stem in die liedjie en dan sluit dit af, jare later as hulle al kinders het met

Hier’s ons kinders om die boompie
Hulle wag nou vir die oompie
My dogtertjie is net ‘n bietjie bang
Maar hy stap sommer uit die branders,
Ja die tye het verander
My seuntjie vra, “Woon hy in Jeffreysbaai?”

En elke keer, sing sy dit, neem sy my terug Salt Rock toe. Daar het Kersvader elke jaar op ‘n bokwa gesleep deur ‘n trekker gekom. Van tent tot tent het hy gegaan en pakkies uitgedeel. Eers jare later dat ek die kloutjie by die oor gebring het en besef het dat daardie pakkies al die pad van die Rand aangery is, in die tent en weer uit gesmokkel is.

En presies soos in die slotstrofe van Laurika se liedjie het Kersfeesvader een jaar op ‘n skuit uit die branders gekom, ons kinders almal op die strand saamgebondel.

Daar moes daardie jaar iets verkeerd gegaan het, ek onthou dat my ma-hulle ongelukkig was oor hierdie wending. Maar wat dit was sal ek nie weet nie. Straks het iemand anders my present gevat en ek ‘n verkeerde iets gekry.

Ek onthou inderdaad een jaar by een of ander Kersboom-byeenkoms, toe my ouers al opgegee het om die illusie lewendig te hou, dat al die ouers ‘n geskenk tot die waarde van ‘n sekere bedrag moes neem. Maar dit was ‘n gelukkige trekking en die Moolman telg het ‘n baie ongelukkige en minderwaardige trekking gehad. Wat dit was kan ek nie onthou nie, maar ek onthou die daaropvolgende jaar se Kersboom beter. Onder aandrang seker van my ouers, was daar hierdie jaar geen uitruil van Kerspresente nie, jy het die pakkie gekry wat Ma en Pa voor die tyd in die kattebak aangery het . Ek het daardie jaar ‘n bakatel gekry, ‘n netjiese een van hout met die mooiste albasters in.

(Dit help ook nie om vir die youngsters te verduidelik dat ‘n bakatel soos ‘n baba-pin ball in die kleine is nie, want wat sal hulle wat groot geword het met nuwerwetse arcade speletjies soos Atari en Pac man  ook nou weet van die wonders van ‘n verbode vrug soos pin ball.)

Ewenwel, verlede naweek in die Kaap kom ek onder die indruk dat Klaradyn reg is vir ‘n Desembervakansie by die see, en dan nie ‘n Yzerfontein-see nie, maar ‘n Ramsgate-, Margate of Umhlanga- see.

En ook nie dit nie, ‘n Salt Rock-seevakansie. Hierdie Salt Rock is so in ons koppe ingeprent dat my broer en sy vrou selfs hulle wittebrood daar deurgebring het — hierdie keer darem in die hotel, en anders as my ma- en pa-hulle wat al hengelende gewittebrood het in ‘n karavaan op die oewers van die Vaalrivier.

Ek google Salt Rock, en ja, daar is dit. Die getypoel is nog daar (en ek onthou my eerste kennismaking met anemone). Die terras lyk dieselfde (en ek onthou my pa met sy rug na die see al lesende aan ‘n boek). Die strand soos altyd (my eerste vlieër, die mooiste wat daar ooit was, ‘n oranje emmertjie in die vorm van ‘n sandkasteel, visnetjies aan ‘n dowel-stokkie, grafies en net ma of pa se kop wat uitsteek onder ‘n hoop sand in die vorm van ‘n blue bird racing car.)

Ai, en toe baan ek my weg oop na veertig jaar later se tariewe.

En dis soos ek gesê het:  ek het verlede week tot die besef gekom dat my kind nooit ‘n Desembervakansie aan die Natalse kus sal hê nie.

Ek en Annieka is die afgelope tyd, rondom die keuse van ‘n laerskool, uit meer as een oord en by herhaling konfronteer met die woorde, “maar wil jou kind nie beter gee as wat jy gehad het nie?”

En ek besef, nadat ek by elke denkbare karavaanpark van noord tot suid gaan inloer het, ek kan my kind nie eers gee wat ek gehad het nie, wat nog te sê beter.

Maar nou weet die gereelde leser hier seker al hoe werk hierdie Moolman se kop. Dis Esopus wat ons bekend gestel het aan suur druiwe, en ek trek onmiddellik ‘n suur druiwe op myself en Desembervakansies by die Natalse kus:  Jy sit vir twee weke af en dan het jy drie dae sonskyn as jy gelukkig is, baie beter om Aprilmaande te gaan. Dis minder reën en jy kan nog net so lekker swem.

Of so verseker almal by die skool my. Ek was self nog nooit ‘n Aprilmaand by die see nie.

Nie dieselfde nie, ek weet, maar soos Laurika inderdaad sing, “ja, die tye het verander” en soos Pieter-Dirk Uys ons daarvan bewus gemaak het “adapt or die.”

***

‘n Ander Salt Rock-herinnering wat ek nie hierbo kon inpas nie, maar ek veertig jaar later, kuier ons gesin saam, steeds nie toegelaat word om te vergeet nie, is die van die klein seuntjie wat huilend vanaf die ablusieblokke aangehardloop kom, verby seker goed sewe of agt ander karavane:  Mamma! Pappa! My piepietol ith in my broekie vath-ge-zipp2

My ma heeltemal histeries, my pa aan het hengel en toe maar die meisie wat later my skoonsuster sou word wat my moes ontset.

Ook my broer sal hierdie vakansie nie vergeet nie:  My pa kom toe daardie jaar ‘n dag vroeër daar aan om ons te verras. En stap in op my broer wat my nou net ‘n pak slae gegee het. My broer is darem 16 jaar ouer as ek. En ek was ‘n bedowe laatlammetjie. (Die vlieër hier bo genoem, was inderdaad die grootste en mooiste op die strand, daai plastiek emmertjie in die vorm van ‘n kasteel, inderdaad die enigste een tussen al die maatjies, en ek het na hom tot vandag toe nog nooit weer so iets gesien nie.)

Ook my, destyds, aanstaande skoonsus onthou hierdie betrokke vakansie. Dit was haar eerste saam met ons en na my pa daar aangekom het, het sy gehoor hoe vertel my ma vir my pa “hoe onverantwoordelik die kinders is om so diep in die see te swem.” Dit het haar vreeslik ontstel.

En nou onthou ek selfs, een van die plate in my plaatversameling wat ek na al die jare steeds nie kon wegmaak nie, is ‘n opname van Vivaldi se Vier Seisoene, hoeka ‘n Kerspresent wat skoonsus hierdie, of een van die volgende jare daarna, vir my pa vir Kersfees gegee het.

En dís die tipe herinneringe wat ek Klaradyn wil gee. Ryk aan kwaliteit. Herinneringe wat jou veertig jaar later steeds voed en jou hart warm laat klop.

Maar dan, aan die ander kant, ek het nooit bietjie baie bogtery en ‘n liewe lawwe lollery in Pilanesberg geken nie. My eerste kennismaking met die Kruger Wildtuin was eers in standerd 8, ‘n boring daguitstappie met ‘n bus na ons die vorige nag te min geslaap het.

Die kind moet vat wat sy kry, my magtig.

Maar dit sal darem lekker wees, net so een vakansie, Desembermaand by die see. Of dit nou reën of nie.

Miskien moet ek sttele vir een van hierdie fly by night vakansiewoonstelle wat hulle so adverteer. Dan kom ons daar en dan bestaan die adres nie eers nie en het die vriendelike man met ons deposito en die res van die bedrag wat ons in goedertrou reeds betaal het.

Dit sal nou vir jou iets wees om te onthou!

(Dit was November 2009 - Ons is April 2010 Rocky Bay, net anderkant Scottbutgh, toe. April 2011 toe maak ons weer so. En ons is klaar bespreek vir April 2012. Was dit nie vir die dinkwerk wat ek destyds hier op datum en agtermekaar gekry het nie, wonder ek of ons al ooit by die see sou gewees het.)

Kollig op die naweek

Dit gebeur miskien vier keer ‘n jaar dat ek my debietkaart uithaal om ‘n boek te koop en vra die persoon agter die kasregister “cheque or savings” dan is my antwoord klokslag “overdraft”.

Annieka dink geensins dis snaaks nie; ek reken many a true word spoken in jest. Die tannies wat elders as by die boekwinkel  die till slaan, staar my gewoonlik natuurlik bloot sonder enige begrip aan, herhaal die vraag en reageer slegs op iets wat klink soos tjack of sywiengs.

Die juffie by die Spar het al op navraag laat val dat daar inderdaad mense is wat  “spaar” of “savings” meld as sy hulle vra watter knoppie sy moet druk om die transaksie te voltrek; iets wat ek my in vandag se tyd en dae nie kan voorstel nie.

Maar ander mense se boeke is vir my duister.

Ek werp dan maar self lig oor mý pas afgelope naweek:

Ek het hierdie naweek, Vrydag om presies te wees, vir die heel laaste keer in my lewe die spitsverkeer uit Pretoria middestad aangepak. Nooit weer nie.

Ek is vyfuur uit Skinner, regs in Paul Kruger (voor ek kon keer), toe links (om die plein te mis) en regs (om oor Kerk te kom)  en toe regs in Vermeulen.

Dit het my ‘n uur geneem, waarmee ek nie ‘n probleem het nie. Dis net dat ek in daardie uur my lewensperk met ses jaar verkort het, my bloeddruk die hoogte in gestuur het, kort duskant hartversaking, trombose en ‘n koronêr gaan draai het, én in die proses woorde voor my kind gebruik het wat ek van ganser harte hoop nooit weer, al word sy ook een honderd en twintig jaar oud, haar oordromme sal bereik nie.

In die sewentiger jare van die vorige eeu (toe ‘n mens nog op ‘n Vrydagmiddag De Bruynpark toe kon gaan vir ‘n heen-en-weertjie) was daar ‘n Love is…-gier wat die hele destydse Suid-Afrika beet had. Kaartjies en bekertjies en plakkate en boekies en goedjies.

Die meeste lesers behoort dit te onthou. Dit was altyd so seun en meisie op die illustrasie. Links bo was dit dan Love is… en regs onder was dan die verklaring van wat liefde is:  giving him coffee in bed, pretending you didn’t hear, telling her you care of wat ook al die geval mag wees.

Nou Vrydagmiddag sesuur op die kruising van Proes en Bloed (en ek weet hulle kruis nie, ek weet ek was blokke daarvan, maar vir my het dit gevoel of ek my kort voor die wegraping in Lagos bevind, waar Proes en Bloed maklik kan kruis) ‘n nuwe toevoeging tot die Love is…-­repertoire gevoeg:  Love is taking your daughter to the ballet at the Unisa Little Theatre and getting her there and back.

Dit het Vrydagmiddag sesuur nie presies so geklink nie, maar synde dit nou Sondagmiddag is dat ek tot verhaal kom, het ek ‘n paar beskrywende woorde wat nie by die wese van ‘n Sondagmiddag pas nie, verwyder.

In my geval is die “at the Unisa Little Theatre and getting her there and back” eintlik ook al oorbodig. Love is... taking her to the ballet is in my geval al boordensvol liefde waarvoor Klaradyn my in ruil vir die res van haar lewe elke oggend koffie in die bed kan aandra.

Vir mense wat begin sing as hulle voel hulle gaan dood en dan inderdaad vir die volgende vyftien minute al singende sukkel om dood te gaan, het ek nog nooit geval nie. Om van mense, wie ek my moet verbeel nie mense is nie maar swane, wat op hul tone begin dans, nie eers te praat nie.

Ek het tyd vir baie fynere en hogere dinge in die lewe, maar opera en ballet is nie twee daarvan nie, was nog nooit gewees nie en sal ook nooit wees nie.

Maar so kry Annieka drie kaartjies vir ‘n balletkonsert in die Klein Teater. Drie kaartjies, nie vir Mamma, Pappa en Klaars nie, nee, drie kaartjies vir Pappa, Klaradyn en ‘n maatjie — Mamma werk laat.

Ek raak in flieks deurmekaar as die held en die skurk beide donker hare het omdat ek sin van ‘n riller maak deur myself in te prent “goeie ou het donker hare”, “slegte ou het ligte hare”. Met die bietjie sin wat ek gemaak het van die sinopsis in die program voor die ligte uitgedoof het, was die sigeunerin tot die diep in die tweede helfte die prinses, ek het die ridder op die wit perd verwar met die booswig vir ‘n broer wat die hele komplot smee, en wie ek gedog het die fairy god mother was, was toe al die tyd die bose fee.

Dat selfs Klaradyn my in die oor moet fluister dat die storie wat ek haar heeltyd in die oor fluister nie sin maak nie.

Maar in soverre ek dit saam met my kind kon geniet, was dit heerlik. Die musiek was mooi, die kostuums pragtig en selfs die uitgerekte grand pas aan die einde nie te sieldodend nie. In sy geheel eintlik sielsverrykend.

Wat toe nou alles, en nog meer, in die uur na afloop van die konsert op die pad terug, versondig, geknak en hel toe gestuur is sonder enige sprake van retoer.

Saterdag is opgeslurp in die skool se jaarblad wat Woensdag deo volente drukkers toe gaan.

Klaradyn sien al van Woensdag uit na Saterdagaand wanneer sy by Ouma-hulle gaan slaap, want Pappa-hulle gaan uit vir ete. Hierdie ete van ons is toe nou Vrydag kanselleer vanweë die weer.

Ook ‘n vreemde kansellasie gewees want volgens my sou ons nie braai nie, maar skaapboud geniet. Maar dit nou daargelaat, skielik het ek en Annieka ‘n Saterdagaand alleen op ons — jy kan nie vir die kind sê sy slaap nie meer uit nie. Nie vir solank Ouma en Oupa nog die smartste peanut in die pakkie is nie. Die fase gaan glo verby, so ons gebruik maar die dividende solank dit nog hou.

Ek Martha & Martha hier van vyfuur af, wat Annieka toe Julia & Juliet (of so iets) maar op die ou einde val die lot op Last chance Harvey. Vir my om het ewe, wat Meryl Streep aan my doen, doen Emma Thompson haar dit presies na, en anders om.

Egter nie ballet, of die fliek, die heerlike aand saam met Annieka of selfs die fillet, wat my uit die bed op het om te kom klets nie, maar die boek wat ek raakgeloop het, en sonder om een oomblik te aarsel, aangekoop het. Nie my vierde vir die jaar nie, nou maar eers my derde.

Die naam van die boek het my dadelik getrek. Die voorblad in ‘n mindere mate. Toe ek sien Hennie Aucamp is iewers betrokke was dit as het ware ‘n uitgemaakte saak. Ek het die rugkant ge-scan, Aucamp se voorwoord gevluglees en toonbank toe gestap sonder om selfs na die prys te kyk.

Roekeloos ek weet. Maar dis net eenvoudig ‘n boek wat ek moet hê.

En ek was nog nie een oomblik spyt nie. Die enigste spyt wat ek het is die feit dat ek nou hier sit en blog terwyl ek wil gaan lees.

Ek haas my. Dis Versamelde Boesmanstories 1, saamgestel deur G.R. von Wielligh, vir die eerste keer uitgegee in 1919 en 1920. (Twee van sy vier boeke met Boesmanstories, word hier as een aangebied.)

O, wat ‘n heerlikheid.

Ek salueer Protea vir die waagmoed wat hulle keer op keer aan die dag lê, vir dit wat hulle vir Afrikaans beteken. Hoe hulle dit regkry wil ek nie weet nie, sal ek nie weet nie.

Die taal is aangepas en ek lei af van pejoratiewe gesuiwer. Dit lees gemaklik en is toeganklik.

Dis, soos in my geval, bloot ‘n boek wat jy net eenvoudig moet hê. Of nooit sal koop nie.

Bly weg as jy hom nie moet hê nie. Maar klim nou in jou kar en gaan koop of bestel hom, as jy weet jy moet hom hê.

18.11.11

VTB


In die army het VTB gestaan vir ‘n uur elke week se vryetydsbesteding, maar synde jy enige iets kon doen solank dit nie is wat jy wil doen nie, maar wat hulle jou verplig om te doen, het ons gepraat van Verpligte-tydsbesteding.

Hoe ruk my binneste so soorts egter nie van vanaand nie. Ons lees en gesels deur ‘n boekie wat help met tyd leer. 7-uur staan ons op, 8-uur ontbyt ons, 9-uur is dit skottelgoed en so gaan dit aan tot 4-uur.

In drie van die prentjies (of dan nou tydgleuwe in die dag) word onderskeidelik gelees, getekent (waar Klaradyn aan daardie –t kom, sal ek nie weet nie, maar van die eerste dag dat sy die woord gebruik, is die –t met haar) en televisie gekyk.

Ek vra watter een van die drie sy die meeste geniet...

Ek moes dit seker verwag het.

Sy het tot verlede jaar nog gedink televisie kyk beteken om ‘n DVD in die masjien te sit. Toe sy met ‘n televisie en kanale konfronteer word, toe vra sy waar is die boksie van die DVD, sy wil die buitekant sien.

In 2005 reeds het die gemiddelde Amerikaanse kind 900 uur per jaar op skool spandeer. En voor die televisie? 1 023 uur per jaar.

In daardie stadium was die televisie in die deursnithuishouding vir ‘n gemiddeld van 6.7 uur aangeskakel.

Teen die ouderdom 18 bring dit die kind te staan op 22 000 uur se passiewe vermaak. Al wat hy of sy tot nou toe meer van in sy of haar lewe gedoen het, was slaap.

Op 16 kon daar reeds 33 000 moorde voor hom of haar afgespeel het. Hulle praat van 200 000 tonele van geweld waaraan die kinders tot nou toe blootgestel is.

Nie ek wat so sê nie, maar Michael Gurian in sy boek The Minds of Boys. Die man se studieveld is nie televisie nie, maar seuns, en ander boeke rondom dieselfde onderwerp wat ek vir enige ouer of onderwyser gemoeid met seuns kan aanbeveel, is Boys and Girls Learn Differently en The Wonder of Boys.

Google gerus die naam. Ek het op hom afgekom in leeswerk wat ek twee jaar gelede gedoen het rondom die tendens wat, en ek glo nie ek veralgemeen nie, elke skool deesdae kenmerk, en dit is die feit dat die skole se toppresteerders by verre deur meisies oorheers word.

Om die injustices of the past aan te spreek, is dit te verstane dat die saak ter plaatse nie veel aandag van die huidige regeringskant geniet nie. Hier word juis gefokus op die ontluiking van die she child (soos die regering dit stel) en is enige navorsing wat die opkoms van dogters bevestig, ‘n pluimpie in die hoed van die regering wat die vrou wil ophef.

Gesien in die lig van die onderdrukking van die vrou wat Afrika in vele opsigte kenmerk, is dit verblydend.

Is jy jou lewe lank in die onderwys, is dit egter nie die voorloop en verbyvat deur die meisies wat kommer wek nie, maar die opmerklike uitsak en agteruitgaan van die seuns.

Maar ek dwaal af. Ek was by televisie.

Vriende van my het sestien en sewentien jaar gelede gespog oor hoe suksesvol die televisie as dagmoeder en susmiddel vir hul, in daardie stadium nog babas en peuters, ingespan word.

Ek weet waar is daardie twee kinders nou, en hoewel dit tien teen een niks daarmee te doen het nie, kan ek nie help om prentjie van die kleintjies voor die televisie, destyds, in my geestesoog op te roep nie.

Doktor Barbara Brock, ‘n professor in rekreasiebestuur aan die Eastern Washington University het 50 gesinne gekry om alle skerms vir 30 dae prys te gee. Die kinders se kontaktyd met skerms, in daardie stadium was gematig, tussen 2 en 4 ure per dag.

Wat het verbeter? Akademiese prestasie, slaappatrone, buie, verhoogde leestyd, fisiese aktiwiteite en binding binne die gesin.

Die drie belangrikste vervangingsaktiwiteite was speel in die buitelug, kuier met die gesin, en lees, teken en speletjies.

‘n Ander studie het na slegs ses weke waarin televisie-kyk tot ses ure per week beperk is, ‘n 25% afname in verbale en fisiese geweld onder 900 skoolkinders bevind.

Ek is allermins ‘n voorstaander (en kry ‘n mens nog sulke mense?) daarvan dat televisie-, rekenaar- en speletjieskerms verban moet word. Inteendeel.

Tog noop hierdie klas van bevinding my om gefokus aandag te gee aan hoe ek daarmee omgaan.

Op 'n vlug tussen Kaapstad en Johannesburg is daar verlede week ‘n gesin van vier langs ons in die ry. Die twee seuntjies, beide jonger as Klaradyn, se vaardigheid met die effe groter as palm-grootte skermspeletjies is opvallend. Ek besef Klaradyn sal nie eers weet waar om die ding aan te sit of wat om te doen as sy dit eers aan het nie.

Hulle is vir die volle duur van die vlug egter net daarop gefokus, niks anders nie. Nie mekaar nie, nie die venster nie, nie die ouers nie, nie die koeldranktrollie nie – niks.

Ai, maar hoe jammer, want luister ek na hul verbale kommunikasie en die gebrekkige gesprekke wat hul met mekaar en hul ouers probeer uitvoer, kom ek agter, wat hulle wen in vaardigheid aan die een kant, het hulle tienvoudig verloor en agter geraak aan die ander kant.

Ek sal ‘n ander aand weer die boekie met Klaradyn lees en gesels. Maar dan sal ek nie doen pas nadat sy Disney Hollywood Chihuahua gekyk het nie, ek sal wag vir ‘n lekker middag agter die kwaste en kryte.

Miskien, net miskien, antwoord sy dan anders.

16.11.11

Oom Giel


Oom Giel, van oorkant die straat, het 31 Desember, in die bedding voor die huis, getotter. Op sy knieë, op die hitte van die dag. Ek het gedink om nie nader te staan nie.

Nie dat ons ‘n vreeslike hegte verhouding het, en ek sy gedagtes kan lees nie. Bloot goeie buurmanskap en good fences making good neighbours,  is al tussen ons. Ses, sewe jaar nou al.

Het ek egter te veel vir die tertpan, dan slaan ek maar ‘n kleintjie nader en stuur dit oor. Van daardie kant weer, die een jaar, ‘n trossie of twee Catawba’s (met ‘n blaar of twee aan vir afronding en versiering). Is dit ‘n goeie jaar en die lemoenboompies wat hulle met grenslose versorging in twee terra cotta potte in die agterwerf troetel en koester, dra actually, selfs ‘n lemoen vir die Moolmans.

Soms hak ons vas, aan die gesels oor nuwe bure, ‘n inbraak af in die straat, maar meesal is dit oor die honde, lief en dierbare goedjies, óf die blomme in die beding voor die huis, ‘n lower lushof met knal spikkels bont, bykans hééljaar deur.

Met die dat Oom Giel en Tannie Connie sonder kind of kraai meer as veertig jaar nou al in die huis oorkant die straat woon, is hulle honde soos kinders, ís hulle honde kinders, en die kleinkinders wat hulle nooit gehad het nie.

Na elke afsterwe moet ons hoor nie weer nie. Hulle twee het self nie meer soveel jare oor om nuwe honde end-uit te begelei en versorg nie. Maar klop ons twee, drie weke later (eintlik twee, drie maande later) is daar ‘n nuwe gevreetjies. En toe nóg ‘n nuwe gevreetjie, om die vorige gevreetjies geselskap te hou na die afsterwe van die oudste.

Ook nie lank nie of daar kef vyf gevrete soggens as ons na ses uitry skool toe, en Oom Giel in sy pajamas uitkom om die koerant op te tel. Dit moet lekker wees om oud te word, dink ek soms, hét ek al gedink:  as die ander werkwaarts keer, skoffel jy jou pantoffels onder die bed uit, gryp die kamerjas, vryf die brakke se snoete en stap heel beleë uit om die dag se moord en roof onder oë te kry.

En die liefde wat oom Giel in die honde pomp, pomp Tannie Connie in haar tuin in. Immergroen en meerjarig vir die grootste gedeelte, met die uitsondering van die lappie fyntuin in die bedding voor in die erf. Hier kom seisoenale jaarlinge in. Nie jaarliks nie, byna kwartaalliks, meen ek. Daar is kleur in, bykans elke seisoen.

Met verloop van jare het Tannie Connie die grond en Pretoria se son, wind en weer so goed leer ken, bykans soos ‘n ma die kyk in haar kind se oë leer ken, dat sy met tydige terug-,  en ook uitknip van blommetjies, daarin kon slaag om elkeen wat daar verbykom iets te gee om na te kyk.

Onder haar kenmerkende tuinhandskoentjies, waarmee sy met soveel liefde sorg in-, en oor-, en uitplant, is haar slanke oumensvingers beslis die spreekwoordelike groen.

Sy was ‘n mooi vrou op haar dag, het net so mooi oud geword ook. Stap jy in die gang af, hang daar swart-en-wit-portrette uit vervloë dae, en jy kan nie anders as om dieselfde skoonheid van die roekeloos verliefde destyds, steeds in haar gesig en op haar vel te eien nie.

Haar hare het sy ook nooit gesny nie, in ‘n lieflike gryse bolla begelei dit haar in haar ouderdom in. En die meeste mans het mos nou maar een maal ‘n ding met lang hare. Sou Oom Giel sy vrou saans dophou, as sy grys en verrimpeld, maar steeds met grasie, daai bolla skiet gee en die silwer vag oor haar skouers skud om dit ritmies en tydsaam uit te borsel, soos sy elke aan van haar lewe, vir hoeveel jare nie nou al nie, doen.

Soms, net soms, dan rafel daardie bolla uit, en hang daar sliertjies oor haar gesig waaruit sweetdruppels teen haar wang afpêrel. ‘n Klein tuinvurkie tussen haar vingers, sal sy dan met die rugkant van haar hand, en steeds op haar knieë, dit eenkant toe skuif, miskien die vurkie verwissel vir ‘n grafie of tweetand-harkie, voor sy afbuk en doen wat oumense maar doen as hulle grootse genot daaruit put om ‘n lappie fyntuin na hul eie hand groot te maak.

Wat Oom Giel se nering is, onthou ek nie, maar oor Tannie Connie op haar dag onderwyser was, steek dit vas. Ook as die vroeë sewentigs se Volla Donderdae-middae by die hek uitdreun. Dan weet ek sy is oppad na een of ander sentrum nader aan die stad waar sy haar besig hou met volwasse onderwys van een of ander aard.

‘n Tweede kar, en dit lyk of net Oom Giel hom mag bestuur, het hulle ook. Vir high days, holidays, Sondag se kerk en die maand se inkopies.

Kyk ons die twee so, want ons kuier meer oor en weer met die oog, as met die voet of die mond, moet dit ‘n lieflike oudword saam wees. Lieflik, maar ook opwindend, want soms is dit vir weke, partykeer maande, stil. Dan hoor ons die een, soms beide, was oorsee. Rusland toe op hul oudag, en ander vreemde ver plekke wat daarvan getuig dat hulle die toeristeroetes in hul jonger dae platgetrap het, en nou ag slaan op die roepstem van die minder alledaagse.

Soos ek, vind ons later uit, maak Oom Giel die kos in die huis. Tannie Connie sorg vir die res, soos Annieka. Ook dit gee ons twee mans geleentheid tot ‘n vreemde bonding, terwyl Annieka en Tannie Connie weer aan die gesels en liefderyk aan die skinder gaan oor hoe min die mans doen.

En toe, vir die eerste keer in seker ses maande, 31 Desember, totter Oom Giel in die bedding voor die huis, Op sy knieë, op die hitte van die dag. En vir ‘n oomblik is dit asof ek Tannie Connie sien. Wag ek vir haar om op te kyk, die sweetsliertjies uit haar bolla met die rugkant van haar hand weg te vee, voor sy die harkie of grafie ruil vir die vurkie.

Ek het gedink om nie nader te staan nie. Nie dat ons ‘n vreeslike hegte verhouding het, en ek sy gedagtes kan lees nie. Dis net dat Tannie Connie hom ses maande vroeër, skielik en onaangekondig, voorgegaan het.

Hulle was besig om die hele huis te verf. Van die kerk se susters het kom help om die gordyne wat algar af was, weer op te hang. Die nuwe dubbelbed, klaar betaal en geskeduleer vir aflewering die middag van haar begrafnis, kon Oom Giel ongedaan maak.

Kort daarna was daar boomsloping op die werf, nuwe sementpaadjies om die huis, en gelukkig is die palisade wat in die eerste maand na haar dood aangebring is, Tannie Connie gespaar. Hulle huis is die enigste een in die straat, ek dink amper die hele uitbreiding, wat ‘n oop erf (gehad) het. Connie het geweier om ingehok te wees. Struike waaragter booswigte kon wegkruip (daar was ‘n eenmalige insident) is verwyder, teen heinings en tralies en mure en hokke het sy vas bly skop.

Ten spyte van die palisade sien ek ook ‘n nuwe alarmstelsel, en die treffend-eenvoudige groepering van suurlemoene, “Nog soos Connie dit ingesit het,” roep haar nie meer op die koffietafel in die formele sitkamer, so skel en onmiddellik in herinnering nie.

Maar haar bedding het hy gelos. En gelos. En vir nog ‘n maand, later ses maande, gelos. Daar was later net swart stoppels, maar die bedding het braak bly lê.

En toe 31 Desember, totter Oom Giel in die bedding voor die huis, op sy knieë, op die hitte van die dag. En vir ‘n oomblik is dit asof ek Tannie Connie sien, ‘n déjà-vu toe hy opkyk en met die rugkant van sy hand oor sy gesig vee. Maar dit was nie om die sweet nie, ook nie oor sy voorkop nie, maar om sy oë, asof ‘n nukkerige wind stof en sand in sy oë gewaai het. 

Lank het daar gesit, onbeholpe en lomp gevroetel in die grond. Later sommer net gesit omdat sit, sit is.

En of dit met homself was, wat hy die heeltyd gepraat het, weet ek nie. Ek het gedink om nie nader te staan nie.

En hoe lekker sou dit nie vir my wees nie (ek het heel Nuwejaar uitgekyk) om hom ‘n dag of wat later weer om sy knieë te ontmoet, besig met saailinge van een of ander aard. Ek sou oorstap en ons sou gesels, lank, en lekker, en nie oor die honde nie. Miskien sou hy selfs ‘n traantjie pink. Maar waar trek ons nou al? Week twee, drie van die nuwe jaar. En steeds lê die bedding braak.