14.11.11

Die ouers en hul kinders darem


Die meeste matrieks maak eersdaags klaar gemaak en dan is dit af see toe, hetsy nou die Natalse Suid-, Kaapse, of meer eksotiese Mediterreense kus.

Ek, en Annieka, op ons beurt gooi nou al wal as ons dink aan Klaradyn se matriekvakansie.

Vanmiddag ry ons twee ysskaatsbaan toe om seker te maak die skoolbus kry Klaradyn veilig daar, om seker te maak die Juffrouens kyk mooi na ons kind en om daar te wees sou ons van hulp kan wees.

Maar ek voel nie sleg nie – vriendin Solet het een keer laat val hoe sy en haar man hul kinders saam met ander laat gaan kamp het. Eers toe die kinders weg is, besef hulle dat hulle die mense nie goed ken nie. En daar ry hulle die volgende dag agterna kampeerterrein toe om op te check.

Dis toe dat ek weer aan hierdie skrander dogter van destyds, vandag ook seker al getroud en gevestig, dink.

Kom haar matriekvakansie nader, besluit sy en ‘n spul vriendinne om een van die ouers se vakansiehuis aan die Suidkus te betrek. Daar is, vanuit meer as een rigting wal gegooi en teë geskop maar “ons is nou mooi groot” en  op die ou einde is sy en vier of vyf van haar maats hier af. In soorts van ‘n konfooi nogal, want pa het met ‘n kennis van ‘n kennis se kennis gereël om al die pad saam met hulle te ry, tot voor hul huis, alvorens hy na sy eindbestemming vertrek.

Dit is ‘n spul ordentlike ­goody two shoes-meisies gewees, geen wet t-shirt-kompetisies of onwelvoeglike balpret laataand op die strand vir hulle nie. Hul matriekafskeid after-party  sou ‘n pajama-party vir die groepie girls wees:  elkeen bring pienk slapies, pantoffels en ‘n gunsteling soft toy. ‘n Heerlike drie weke van onskuldige vermaak deurdrenk met sonskyn en sonbrandroom lê daarom voor.

Reeds vroeg in die vakansie merk hulle ‘n potsierlike eenmanstentjie laer af in die straat, so te sê op die sypaadjie, so te sê op die strand, op. Hierdie potsierlike tentjie kry later ‘n omie by, en daar word lekker gespot oor hierdie eensame oompie in sy tentjie. Later sien hulle sy hoedjie bykans elke dag op die rotse visvang.

Toe die reën kom, en die meisies bel huis toe vir Ma se pannekoekresep, giggel en spot hulle om vir die omie, wat seker nou kletsnat en verkluim in sy tentjie sit, ook maar ‘n pannekoekie of twee te vat.

Maar, soos ek gesê het, selfs hiervoor was die spul dogters te ordentlik, te goed geleer om nie met vreemde mans geselsies aan te knoop nie. Hulle luister kassette, speel kaart, lees boek en wag vir die weer om op te klaar.

En daar, as ek my dit nie mis het nie, betrap hulle hom in die onweer in hul tuin. En nou is hierdie meisies goed bang. Dit moet die man van oorkant in die tentjie gewees het, want dis dieselfde verspotte hoed wat die figuur opgehad het. Skielik is die omie nie meer ‘n omie nie, maar ‘n stalker  en ‘n perv. Deure word gesluit en vensters op knip gesit. Een glip uit en (dit was die jare voor selfone) bel huis toe om die susters se vrees te deel.

Ma, in Pretoria, kan op haar beurt nie by Pa uitkom nie, want hy bel net al om die ander dag van die naaste tiekie-boks af om haar en die res van die ma’s op hoogte te hou van hoe dit met die dogters, hoër op van hom in die straat, en hul matriekvakansie gaan.

Teen die tyd wat die weer opgeklaar het, het hy darem al alles met hulle kon gaan uitklaar.

En nie een was kwaad nie. Hulle het geweet Pa het nie kom kyk wat ons verkeerd doen en hoe ons droogmaak nie. Hy kon trouens gou help om hier ‘n haardroër se prop te vervang en daar te las vir ‘n tenk petrol.

En toe dit weer reën en hulle bak pannekoek, het hulle vir hom gevat, stap hulle verby waar hy visvang op die rotse, het hulle vriendelik gewaai.

Is die voorreg my beskore, sal dit eendag ek wees daardie. Ook tien-teen-een ek, die vroumensbestuurder van wie 'n ander vriendin, Esté, jare gelede, lank voor sy self ma geword het, vertel het:  Daar kruie hierdie die vrou teen ‘n slakkepas, en dit  in ‘n 60 km/uur-sone, vorentoe. My vriendin is laat vir die een of ander iets, sy is haastig maar  die aankomende stroom karre maak dit vir haar onmoontlik om verby te gaan. Dis eers toe sy na ‘n flitsende lig en ‘n ligte toet by die vroumens verby gaan, dat sy haar vir haarself en haar eie ongeduld begin skaam. Die, en nou is sy nie meer ‘n vroumens nie, maar ‘n mamma, is toe al die tyd ‘n Mamma agter haar eie dogtertjie, kaalvoet gerugsak op ‘n fiets twee keer haar grootte, aan op pad skool toe. En Doggie mag tog net nie agterkom Mamma is agter haar nie.

Myne sal net die een wees wat elke veertig tree stop en, aanvanklik verleë, later vererg, omkyk en vra dat Pappa asseblief nou moet huis toe.

No comments: