8.11.11

Hans Jurgens Scrooge


In my diepste siel en wese, en die mense agter my rug is seker reg, is ek een van die meer onaptytlike, ongure en onaangename mense in wie se geselskap, die andersins mensliewende mense agter my rug, hulle kan bevind. En saam met onguur, onaptytlik en onaangenaam die hele kanon ander on-woorde waarmee uiters onaptytlike, ongure en onaangename mense soos ek meermale beskryf word.

Dit was hier in die baie laat tagtigerjare dat die storie geloop het van hierdie een kollega se seun wat saans by die braairestourant rondhang en karre oppas vir sakgeld. Daar is agteraf kritiek uitgespreek (hoe kan sy haar seun so laat nog op straat laat lê?) maar ek het gereken dis ‘n vindingryke manier om van energie ontslae te raak en op die koop toe nog ‘n losgeldjie te verdien.

Maar dít, was in die baie laat tagtigerjare. En dit was kinders vir wie ek skoolgehou het.

Kort daarna het dit mode geword, kon jy ‘n werklose man agter elke wieldop uitskop, het hulle uniforms en chevron en vakbonde en solidariteit gekry.

Vandag kan jy nie eers meer jou vrou en kind in die kar los nie, of daar is iemand wat bereid is om jou kar en jou vrou vir jou op te pas.

Jou motor, ge-tracker, ge-crook lock, ge-arm, ge-brake lock, ge-steering wheel lock, ge-immobilise, ‘n anakonda wat jy ten duurste invoerregte op betaal het, knus op die passasiersitlek, word vir ‘n vars bol warm beesmis op ‘n stowwerige plaaspad aangesien, soos die brommers daarop toesak, gereed om tog net ‘n ogie oor Meneer se kar te hou. En meneer is net op pad na die rooi posbus ‘n katspoegie van die kar af — as sy hand-oog-koördinasie net beter ontwikkel was, het hy die brief sommer soos ‘n wafferse papiervliegtuig vanuit die passasiersitplek in die gleufie ingeboul.

As dit dan nou duidelik blyk dat jy nie reeds ‘n muntjie in die gereedsheidhouding in die palm van jou hand het nie, dan word daar nader gestaan om die trollie by jou te neem, dring party selfs jou persoonlike ruimte in en bied aan om die twee plastieksakkies vir jou in die kattebak te plaas.

Kom ek deesdae by ‘n openbare parkeerterrein kyk, ek nie uit vir parkeerplek nie, ek kyk uit vir vinke wat rondhang en wag om toe te slaan.

Sou ek uitkom en die epidemie het pandemies oorgespoel na daar waar ek my kar gelos het, kruip ek weg agter ‘n paal, wag ek tot ‘n goedige tannie met pers hare verby kom en haar pakkies gedra en trollie gestoot word. As sy dan met bewende hande in die beursie vroetel leopard crawl ek en maak my uit die voete (wiele?) uit.

Dat hulle my kar vir slap beesmis aansien, kan ek nog vrede mee maak, maar as hulle eers agter my inspring en maak asof ek my bestuurslisensie by ‘n Nigeriese immigrant op die hoek van die straat gekoop het, verloor ek dit. Ek kan my kar op ‘n tiekie draai, ek het ‘n tennisbaan agter my, en daar staan hy soos die wuiwende palms van Egipte vlak agter my in die tru-spieëltjie en fluit-fluit.

Dis dan wat ek wens my voet gly net so effentjies, net so per ongeluk.

Selfs dít maak my ongelukkig nog so kwaad soos wat ek vir myself raak nie. Sien, my vrou hanteer dit beter as ek, sy “nee-dankie-nie-vandag-nie” (asof die man koeksiters aan haal wil afsmeer) klim dan bloot in die kar en ry huis toe.

Nie Hans Moolman nie, hy gaan gebuk onder Tolstoi se “Ou Vader Panov” wat sy ouers hom kleintyd gelees en vertel het. Almal van ons ken die storie in een of ander vorm, die Russiese ou oom ontvang deur die loop van ‘n dag drie keer besoek van Jesus Christus, maar telkens in die vorm en gedaante van een of ander sukkelaar/behoeftige/bedelaar.

Ons ken dit want Tolstoi het sy storielyn in die Bybel gaan haal, onder andere en Hebreërs 13 onder die opskrif “Die Christelike Lewenswandel”:  “Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense, sonder dat hulle dit geweet het, Engele as gaste gehuisves.”

Gevolglik het ek eintlik vrede met die karopasser, karwasser, loervink —ek raak die duiwel in vir myself wat so deur my gewete aangekla word dat ek in my beursie grawe en ‘n geldjie uitkry. (En R5-00 is ook al niks. Tót jy, soos ek, voor die tolhek staan en onthou dat jy nou net jou beursie in daai man se growwe hande leeggemaak het.)

Vererg met myself, en geen iemand anders nie, ry ek dan swetend en swetsend, skellend op die brommers wat so op my toesak, daar weg,

Dis op die ou einde seker beter om niks te gee nie, as om te gee met die gesindheid wat ek gee. En dan, my gedagtes vol prentjies van verdoemenis uit die Kinderbybel, vies ook vir myself dat ek weer eens ‘n opportunis en lamsak, vroueslaner en suiplap vir ‘n apostel aangesien het, sal my vrou saggies laat val:  “O, maar jy is darem ‘n onaangename mens om mee saam te wees”. En dít, nie eers agter my rug nie, maar reguit in my gesig.

Maar ek gee maar. ‘n Vriendin van my se pa se lewe en inkomste is die afgelope paar jaar gereduseer tot die van karoppasser by Pick & Pay.

En soos die vensterwasser by die robot ‘n ruk terug op Annieka gegil het toe sy onder hom uitry:  “Tomorrow it could be you.”

En hy is nie so belaglik nie, tomorrow, it cóúld very easily be me.

No comments: