“Dis die lekkerste sop wat jy nog ooit gemaak het.”
Behalwe vir die feit dat die hierdie woorde teen 13:00 die eerste woorde is wat Annieka dié dag tot my rig, moet haar laaste woorde rondom die sop, gisteraand laat, ook in die herinnering geroep word: “Ek is bang vir dit wat jy daar in daardie pot aanvang.”
Nie dat dít die oorsprong was vir die heersende woorstilstand tussen ons, wat nou so mooi met die woorde oor die sop dan opgehef word nie. En dis ook nie hier ter sprake nie.
Tog is dit die agtergrond waarteen ek my sop begin het, en na tien jaar van getroude lewe, die seker wete dat my sop haar nie sommer sal welgeval nie.
Dit het agtermiddag begin met die pakkies “soup mix”-groente waarmee die outjies van jou Spar jou wil wys maak dat dit eintlik maklik is om ‘n lekker sop te kook.
Maar in daardie slaggat het ek darem al by herhaling hierdie jaar, en die laaste hele klompie jare getrap, so ek hou verby.
Toe val my oog op sulke R5-00 pakkies met ‘n stuk of vyf skywe opgesaagde murgbene in. En my belangstelling in sop word opnuut geprikkel. Ek kyk na die prys van die sopvleis daarnaas, weeg dit op en bevind dit lig/goedkoop genoeg. Ek pak sommer vier pakkies murgbene in, ook die swaarste pakkie sopvleis en sit af terug na die pakkies groente wat my van effe net ‘n kort vlietende oomblik van stryk had.
Ek het nou al vanjaar, en ook verlede jaar vertel van my algehele onvermoë om ‘n lekker pot sop te kook. Wat natuurlik nie 100% waar is nie; gee my beesstert, frankfurters, spinasie, uie, en noem maar op, ek maak ‘n heerlike sop. Mense verjaar en vra my om vir dertig mense en meer ‘n verskeidenheid soppe voor te sit, en ek doen dit met groot sukses en liefde.
Maar prop my nou een van daai pakkies sopgroente in die hand, daai pakkies wat altyd hopeloos te veel seldery in het en een of ander twee groentes waarvan die gemiddelde mens nie 100% seker is van nóg die Engelse, nóg die Afrikaanse naam nie, dan staan ek verleë en pik verward rond.
My vou, Hans-meesterkosmaker van formaat se vrou, Annieka, moes voor die skool sluit ‘n pot sop werk toe neem EN SY HET HAAR MA EN PA GEVRA OM VIR HAAR DIE SOP TE KOOK! O, die verleentheid, die vernedering! (Om my naam in ere te herstel het ek vier dae later my eie pot sop vir my eie tafel geneem. En ek moes die resep, op aanvraag, met twee mense deel!)
So as Annieka, wat duidelik nie van my sop hou nie, dan nog ‘n stilstuipe van enkele ure verbreek met iets beuselagtigs soos sop, dan moes my sop spesiaal wees.
En dit was! My eerste pot sop van die aard, wat ek in die winter van 1991 gemaak het, het so geproe, het laas so geproe. Ek het Annieka eers in 1994 ontmoet, so vanuit haar perspektief is beslis die lekkerste sop wat sy nog ooit uit my hand geproe het.
Dis dalk oor my ’91 pot so suksesvol was, niks anders nie as beginner’s luck, dat ek daarna vir negentien jaar so gesukkel het – ek wou nie my eerste poging ewenaar nie, ek wou daarop verbeter.
En ek het my ore aan valse profete uitgeleen.
Maar Vrydag het ek huis toe gekom en myself voorgeneem om die sop te bou soos ek dit wil bou, soos ek dit uit my kinderdae onthou. Ek het myself los gesny van alle goed bedoelde raad en wenke wat ek oor 19 jaar opgebou het, myself met liefde afgesonder en die voorbereidings begin.
Ek lieg, ek het eers my skoonsus gebel om te hoor hoe maak ‘n mens “Engelse groentesop”. Maar sy was nie beriekbaar nie, en teen die tyd wat sy my teruggeskakel het, was my pot al twee of drie ure lank in die baie goeie geselskap van baie lae hitte onder sy alie.
Die geneuk met hierdie sop is die feit dat my ma dit nooit gemaak het nie, sy het neerhalend daarna verwys as “Engelse groentesop”. Waarskynlik “Engelse groentesop” genoem omdat die enigste, hoogstens twee of drie keer, dat ek dit as kind geëet het, aan huise van my Engelse skoonsuster se ma was.
By ons aan huis is dik romerige soppe geëet. En as ‘n pakkie kitssop dit nie verdik het nie – o, en ek haat ‘n pakkie kitssop – dan het my ma haar groente onder die lem verpulp.
(Ons het die ou vrou vanmiddag vir ete gaan haal en ek het die Sondagmaal afgeskop met ‘n klein skeppie van my sop. Op 82, met die geheue van ‘n goudvis, kon die vrou steeds nie my sop in haar liggaam kry nie. Ek het in ‘n stadium aan Annieka genoem ek kry self die idee sy trek letterlik haar lip op vir die sop, so asof sy walg. En Annieka het beaam en gesê my andersins baie diplomatiese ma maak hoegenaamd geen geheim van haar weersin nie.)
Nou wat is hierdie “Engelse groentesop” van my wat my nou aan die klets het, en Annieka darem ook weer op haar beurt aan die praat gekry het? (My skoonpa, die eintlike sopmaker in Annieka se gesin, het spesiaal gebel om komplimente uit te deel oor die porsie wat ons Saterdagaand daar gaan aflewer het.)
Ek sou sê dis groentesop soos almal dit maak (met groente en sopvleis en dalk ‘n sopbeen of twee) sonder enige iets wat die sop dik kan maak: allermins nie ‘n pakkie kitssop nie, nie lensies of koring of hawer of gort of bone of hawermout of meel of mazeina nie.
Dis waterige sop, soos engeltjie-piepie so waterig, maar dik aan murgsagte baie klein blokkies groente, saf gekookte repies vleis en lepeltjies murg. Dis al. So eenvoudig soos dit.
En al hierdie jare was dit binne my bereik, maar ek het gefoeter met droë four-in-one soup mix, hawermout, pasta en noem maar op. Alles.
Alles behalwe mazeina of pakkies kitssop.
Die kollega aan my tafel wat die lekkerste sop denkbaar opkook, glo dat elke sop ‘n pakkie of twee kitssop moet inkry, en sy is reg, haar sop is heerlik, die lekkerste van sy soort wat ek ken. Maar self kan ek nie so ver kom om ‘n pakkie by te foeter nie. Dit voel vir my as ek deur die moeite gaan om ‘n outentieke pot sop te kook, dit grens aan heiligskennis om dan die een of ander instant by te wil meng.
Ek het bloot twee pakkies sopgroente baie klein verwerk, my yskas en groenterak leeggemaak aan ander groentes in die huis, die vleis, sout en peper, en sowat drie liter water bygevoeg. Alles is prutpot toe en ek het daarvan vergeet.
Omdat ek daarvan oortuig is ons het op grond van die een of ander verkeerde vertaling uit Grieks of Latyn begin het om seldery in ons eietydse Westerse kookkuns te gebruik, moet ek bieg ek het slegs sowat ‘n kwart van die seldery in die twee pakkies gebruik.
Ek is nou so begeesterd, ek neem my selfs voor om my hand hierdie winter nog weer aan ‘n bot bonesop te slaan, nog ‘n sop wat my kinderhuis nie geken het nie, nie uit my pa se hand nie, ook nie uit my ma se hand nie. (Ek wonder baie keer of ‘n reaksie teen ‘n oormatige blootstelling daaraan in hul arm en landelike kinderdae, nie straks daarvoor verantwoordelik was nie. Net so veel soos ek hunker na party disse uit my kleintyd, is daar immers weer ander waaraan ek vir geen geld ter wêreld weer my lippe wil sit nie.)
My vorige poging tot bonesop, ook al twee of drie jaar gelede, het in die asblik beland nog voor dit op die stoof gekom het – ek het die goed laat gis.
My ander probleem met bonesop is die feit dat al die sopbone wat Leipoldt so in sy boeke besin lankal nie meer in vandag se dae geredelik beskikbaar is nie.
Maar gee tyd, ek sal nog van die bonesop verslag kom lewer.