13.6.12

Engelse groentesop (iewers in 2010)

“Dis die lekkerste sop wat jy nog ooit gemaak het.”

Behalwe vir die feit dat die hierdie woorde teen 13:00 die eerste woorde is wat Annieka dié dag tot my rig, moet haar laaste woorde rondom die sop, gisteraand laat, ook in die herinnering geroep word: “Ek is bang vir dit wat jy daar in daardie pot aanvang.”

Nie dat dít die oorsprong was vir die heersende woorstilstand tussen ons, wat nou so mooi met die woorde oor die sop dan opgehef word nie. En dis ook nie hier ter sprake nie.

Tog is dit die agtergrond waarteen ek my sop begin het, en na tien jaar van getroude lewe, die seker wete dat my sop haar nie sommer sal welgeval nie.

Dit het agtermiddag begin met die pakkies “soup mix”-groente waarmee die outjies van jou Spar jou wil wys maak dat dit eintlik maklik is om ‘n lekker sop te kook.

Maar in daardie slaggat het ek darem al by herhaling hierdie jaar, en die laaste hele klompie jare getrap, so ek hou verby.

Toe val my oog op sulke R5-00 pakkies met ‘n stuk of vyf skywe opgesaagde murgbene in. En my belangstelling in sop word opnuut geprikkel. Ek kyk na die prys van die sopvleis daarnaas, weeg dit op en bevind dit lig/goedkoop genoeg. Ek pak sommer vier pakkies murgbene in, ook die swaarste pakkie sopvleis en sit af terug na die pakkies groente wat my van effe net ‘n kort vlietende oomblik van stryk had.

Ek het nou al vanjaar, en ook verlede jaar vertel van my algehele onvermoë om ‘n lekker pot sop te kook. Wat natuurlik nie 100% waar is nie; gee my beesstert, frankfurters, spinasie, uie, en noem maar op, ek maak ‘n heerlike sop. Mense verjaar en vra my om vir dertig mense en meer ‘n verskeidenheid soppe voor te sit, en ek doen dit met groot sukses en liefde.

Maar prop my nou een van daai pakkies sopgroente in die hand, daai pakkies wat altyd hopeloos te veel seldery in het en een of ander twee groentes waarvan die gemiddelde mens nie 100% seker is van nóg die Engelse, nóg die Afrikaanse naam nie, dan staan ek verleë en pik verward rond.

My vou, Hans-meesterkosmaker van formaat se vrou, Annieka, moes voor die skool sluit ‘n pot sop werk toe neem EN SY HET HAAR MA EN PA GEVRA OM VIR HAAR DIE SOP TE KOOK! O, die verleentheid, die vernedering! (Om my naam in ere te herstel het ek vier dae later my eie pot sop vir my eie tafel geneem. En ek moes die resep, op aanvraag, met twee mense deel!)

So as Annieka, wat duidelik nie van my sop hou nie, dan nog ‘n stilstuipe van enkele ure verbreek met iets beuselagtigs soos sop, dan moes my sop spesiaal wees.

En dit was! My eerste pot sop van die aard, wat ek in die winter van 1991 gemaak het, het so geproe, het laas so geproe. Ek het Annieka eers in 1994 ontmoet, so vanuit haar perspektief is beslis die lekkerste sop wat sy nog ooit uit my hand geproe het.

Dis dalk oor my ’91 pot so suksesvol was, niks anders nie as beginner’s luck, dat ek daarna vir negentien jaar so gesukkel het – ek wou nie my eerste poging ewenaar nie, ek wou daarop verbeter.

En ek het my ore aan valse profete uitgeleen.

Maar Vrydag het ek huis toe gekom en myself voorgeneem om die sop te bou soos ek dit wil bou, soos ek dit uit my kinderdae onthou. Ek het myself los gesny van alle goed bedoelde raad en wenke wat ek oor 19 jaar opgebou het, myself met liefde afgesonder en die voorbereidings begin.

Ek lieg, ek het eers my skoonsus gebel om te hoor hoe maak ‘n mens “Engelse groentesop”. Maar sy was nie beriekbaar nie, en teen die tyd wat sy my teruggeskakel het, was my pot al twee of drie ure lank in die baie goeie geselskap van baie lae hitte onder sy alie.

Die geneuk met hierdie sop is die feit dat my ma dit nooit gemaak het nie, sy het neerhalend daarna verwys as “Engelse groentesop”. Waarskynlik “Engelse groentesop” genoem omdat die enigste, hoogstens twee of drie keer, dat ek dit as kind geëet het, aan huise van my Engelse skoonsuster se ma was.

By ons aan huis is dik romerige soppe geëet. En as ‘n pakkie kitssop dit nie verdik het nie – o, en ek haat ‘n pakkie kitssop – dan het my ma haar groente onder die lem verpulp.

(Ons het die ou vrou vanmiddag vir ete gaan haal en ek het die Sondagmaal afgeskop met ‘n klein skeppie van my sop. Op 82, met die geheue van ‘n goudvis, kon die vrou steeds nie my sop in haar liggaam kry nie. Ek het in ‘n stadium aan Annieka genoem ek kry self die idee sy trek letterlik haar lip op vir die sop, so asof sy walg. En Annieka het beaam en gesê my andersins baie diplomatiese ma maak hoegenaamd geen geheim van haar weersin nie.)

Nou wat is hierdie “Engelse groentesop” van my wat my nou aan die klets het, en Annieka darem ook weer op haar beurt aan die praat gekry het? (My skoonpa, die eintlike sopmaker in Annieka se gesin, het spesiaal gebel om komplimente uit te deel oor die porsie wat ons Saterdagaand daar gaan aflewer het.)

Ek sou sê dis groentesop soos almal dit maak (met groente en sopvleis en dalk ‘n sopbeen of twee) sonder enige iets wat die sop dik kan maak: allermins nie ‘n pakkie kitssop nie, nie lensies of koring of hawer of gort of bone of hawermout of meel of mazeina nie.

Dis waterige sop, soos engeltjie-piepie so waterig, maar dik aan murgsagte baie klein blokkies groente, saf gekookte repies vleis en lepeltjies murg. Dis al. So eenvoudig soos dit.

En al hierdie jare was dit binne my bereik, maar ek het gefoeter met droë four-in-one soup mix, hawermout, pasta en noem maar op. Alles.

Alles behalwe mazeina of pakkies kitssop.

Die kollega aan my tafel wat die lekkerste sop denkbaar opkook, glo dat elke sop ‘n pakkie of twee kitssop moet inkry, en sy is reg, haar sop is heerlik, die lekkerste van sy soort wat ek ken. Maar self kan ek nie so ver kom om ‘n pakkie by te foeter nie. Dit voel vir my as ek deur die moeite gaan om ‘n outentieke pot sop te kook, dit grens aan heiligskennis om dan die een of ander instant by te wil meng.

Ek het  bloot twee pakkies sopgroente baie klein verwerk, my yskas en groenterak leeggemaak aan ander groentes in die huis, die vleis, sout en peper, en sowat drie liter water bygevoeg. Alles is prutpot toe en ek het daarvan vergeet.

Omdat ek daarvan oortuig is ons het op grond van die een of ander verkeerde vertaling uit Grieks of Latyn begin het om seldery in ons eietydse Westerse kookkuns te gebruik, moet ek bieg ek het slegs sowat ‘n kwart van die seldery in die twee pakkies gebruik.

Ek is nou so begeesterd, ek neem my selfs voor om my hand hierdie winter nog weer aan ‘n bot bonesop te slaan, nog ‘n sop wat my kinderhuis nie geken het nie, nie uit my pa se hand nie, ook nie uit my ma se hand nie. (Ek wonder baie keer of ‘n reaksie teen ‘n oormatige blootstelling daaraan in hul arm en landelike kinderdae, nie straks daarvoor verantwoordelik was nie. Net so veel soos ek hunker na party disse uit my kleintyd, is daar immers weer ander waaraan ek vir geen geld ter wêreld weer my lippe wil sit nie.)

My vorige poging tot bonesop, ook al twee of drie jaar gelede, het in die asblik beland nog voor dit op die stoof gekom het – ek het die goed laat gis.

My ander probleem met bonesop is die feit dat al die sopbone wat Leipoldt so in sy boeke besin lankal nie meer in vandag se dae geredelik beskikbaar is nie.

Maar gee tyd, ek sal nog van die bonesop verslag kom lewer.







12.6.12

Soos voorlaas, weer iets oor die sirkus

Die tyd stap aan

Saterdag sien ek ‘n man met ‘n opvallende poniestert saam met sy seuntjie in Hatfield se inkopiesentrum stap.

Die man lyk bekend, ek moet weet wie dit is, en ek stap agter hulle aan om die pa te kan eien.

Toe, enkele treë verder en oomblikke later, toe weet ek, tref dit my soos ‘n glas koue water in die gesig.

En dit verbaas nou al vier of vyf jaar dat die man my so aantrek, ek sou reken my onderbewussyn  sou die hele insident lankal begrawe het.

‘n Kollega van ons en haar seun was daardie middag in die gehoor.

Snaaks, sy het nooit daaroor gepraat nie (en dis nie asof sy my so goed ken om te weet ek het elke oomblik daarvan gehaat nie, dat wat ek daar moes doen, teen alle verwagting, lynreg teen my karakter en persoonlikheid ingaan nie.

Audience participation is ‘n ding wat ek haat. Om as kunstenaar die vierde muur tussen jou en die gehoor te breek, staan my geensins aan nie, maar erger nog as dit, is wanneer ek hierdie kant van die muur inloer en die kunstenaar breek deur na my toe.

As ek ‘n tannie in my middeljare en versot op Bles Bridges was, het ek destyds nie ‘n enkele van sy konserte bygewoon nie – net nou roep hy vorentoe om my ‘n laproos in die hand te prop.

Nee dankie.

Maar Klaradyn was klein en dit was haar eerste of tweede besoek aan die sirkus.

Ons was nog beginner-ouers en het ring side seats teen die dubbel die prys van die onbespreekte sitplekke aangeskaf.

Ons was nog beginner-ouers en het die kaartjies meer as ‘n week voor die tyd reserveer.

So daar sit ons drie toe  heel voor in die middel tydens ‘n middagvertoning wat nie 50% vol bespreek was nie.

Heerlik.

Tot hierdie mal haas in die ring tree.

Ek eien hom dadelik as ‘n mal haas, die man is geheel en al onverskrokke in alles wat hy doen. (Die laaste twee jaar is hy die imbesiel  wat uit die kanon torpedo – ‘n lieflike sirkustoertjie gevul met nostalgie en lewendig gehou deur die talle uitbeeldings daarvan in strokiesprente en grappies.)

Die middag het hy ons egter op die trampolien vermaak en ek maak myself die heeltyd wys hy het meer waagmoed as verstand, dis asof hy sy lewe waag sonder selfs ‘n druppeltjie adrenalien – hy storm net in en doen.

En die volgende oomblik toe storm hy tot voor my en dis duidelik – hy wil my ring toe sleep vir die een of ander audience participation act.

Op daardie punt besef ek daar is een van twee maniere waarop ek nou my naam gaan vergat:  ek kan ten aanskoue van almal ‘n scene opsit en weier om te gaan, of ek kan gaan.

Toe kies ek laasgenoemde – in die ring kan wegkruip agter ‘n masker, in die stoel kan ek net myself wees.

Die musiek het ek herken uit daardie fliek waarin die middelklas werklose Britse mans besluit om die dames die full monty te gee, en te oordeel aan die bewegings waarmee die gimnas die gehoor vermaak het, was dit duidelik wat van my verwag word.

Meer onthou ek nie, behalwe dat ek soos ‘n mol ‘n tonnel tot terug by my vrou en kind wou knaag.

En dis die poniestert by my verby in Hatfield.

En ek besef die sirkus is al amper weer weg, ons sou verlede naweek gaan, maar het op hierdie naweek besluit. En toe vergeet ons weer.

Ek voel vreeslik skuldig oor die een jaar wat ons, om den brode, die sirkus verby laat gaan het sonder om Klaradyn te neem, en ek besluit opnuut:  hierdie jaar gaan ons definitief.

Saterdagaand was buite die kwessie, wat ons met een vertoning, Sondagmiddag, laat.

Ons koop steeds die kaartjies voor die tyd, maar dis suiwer sodat Klaradyn en ek rustig na al die diere kan kyk.

Op die wysie van Die vierperdewa sing sy al die pad: 

Daar kom hy aan, die sirkus karavaan!
Hy kom na ons toe, die sirkus is weer hier.
Die perdjies draai, die apies swaai:
Die sirkus is weer hier!

Ons koop lankal nie meer ring side seats nie, ek het my les geleer. (‘n Ouerpaar gaan sit ook net een keer heel voor in die middel tydens ‘n dolfynvertoning, of dit nou in PE of Durban is.)

Ons sit agter, bo, en liefs nie na aan die paadjie nie – soms stap hulle op met die trappe en ruk jou uit waar jy nie uitgeruk wil word nie.

Soos altyd is dit een vet lekkerte. Soos altyd is die Boswell-vrouens aan stuur van sake by die diere. Ek onthou die ouer dame met haar perde toe sy nog gelyk het soos haar dogter, nou, met die tiere, lyk. En ek verbeel my selfs die Ou Mrs Boswell het detyds gelyk soos haar dogter vandag lyk. En het sy as jonger vrou ook gelyk soos haar kleindogter vandag lyk?

Maar dis met ‘n ander heimwee dat ek daar uitstap:

Ons het vir die eerste keer nie tydens pouse op die ponies gaan ry nie.

In die begin was dit vyf rand; verlede jaar tien.

Maar die ringmeester het dit duidelik gestel:  “Pony rides are only for little ones under the age of five.”

Klaradyn se eerste besoek aan die sirkus was op 4 maande. Die Moskou Staatsirkus was in die land en sy moes saam met ons. Dit het my opgeval hoe rustig ‘n baba tussen die geraas en geklap en musiek deur kan slaap. Ek het haar in ‘n Kangaroe-drasak aan my lyf gedra.

Klaradyn het vandag ook nie gevra vir die tradisionele sirkus-twak ingevoer uit Sjina wat die venters verkoop nie. (Dis nou al drie jaar sulke lawwe liggies wat nie meer werk teen die tyd dat jy by die huis aankom nie – dit het helemaal ophou werk, of dit kan nie afsit nie, pla die kind as sy gaan slaap en jy moet wag tot die batery ‘n dag of wat later afgeloop is.

In die beginjare kon Ouma Nooi nog saam met ons kom. Dis sommer nou die ander dag.

Sy het ook nie vir spookasem gevra nie.

Ook nie eers vir ‘n rooi harlekynneus van spons nie.

Die laaste een, ook al ‘n jaar gelede, het die honde bygekom na ons skaars tuis gekom het.

Ek sou vir haar ‘n liggie gekoop het. En ‘n rooi neus met spookasem daarby.

As sy net gevra het.

Maar sy het nie.

Ek wou in ‘n stadium vra of sy nie spookasem of ‘n liggie of ‘n neus wil hê nie. Wat van ‘n pannekoek? Hoe lyk dit met ‘n sirkus-t-hempie?

En of dit wyslik of dom was, weet ek nie, maar ek het daarteen besluit.

Die kind word nou groot.

Sy het darem die derde of vierde jaar in ‘n ry die Coke onder my stoel omgeskop.

En by gebrek aan die ponies het ons pouse op die swaaie vlak voor die hoofingang kon gaan ry.

En genadiglik het daar ‘n reus van ‘n man in die stoel voor haar plaasgeneem en kon ek haar weer vir die volle duur van die vertoning op my skoot vashou.

My kind word groot en een van die dae laat sy haarself tien teen een saamsleep sirkus toe terwille van haar ma en haar pa.

Want dis ‘n feit soos ‘n koei: die mal haas met die ponie sal al oud en afgeleef wees, miskien al die ou oom wat soggens die kaartjies uit die karavaan en deur die venster verkoop, sy seun sal al self sy buiging ‘n keer of wat in die ring gemaak het, dan sal die Moolmans steeds aanmeld vir drie kaartjies, iewers agter en liefs nie na aan die paadjie nie.

11.6.12

Kortpad-melkkos met dieselfde langpad-lekkerte

Dit was gisteraand weer sulketyd - ek kon nie langer uitstel nie, nie na al die soppe waaraan ek die gesin die afgelope maand uitgelewer het nie. Annieka en Klaradyn is van mening dat hierdie melkkos selfs lekkerder is as die van die tannie by die Boeremark.

Mense wat gereeld hier lees, sal weet ek hou nie van lui-huisvrou-kortpaaie as dit by kosmaak kom nie, veral nie as dit die maag en die hart gelukkig moet maak nie.

Nou melkkos is in ons huis ‘n iets wat ek meer vir die hart as vir die maag maak.

Melkkos van frummels gemaak is heerlik, maar ek het nie daarmee groot geword nie.

Ons melkkos is van snysels gemaak.

Nou met die snysels het ek al baie lang en heerlike ompad van ‘n kortpad vervolmaak:  Ek stuur die slap deeg met effense gesukkel deur die pastamaker wat en ’94 in my hand uit Italië hier aangedra het. Heerlik. Dit smaak soos Ouma dit gemaak het.

Siestog, vriende van my se ouma het haar melkkos met Fati’s en Moni’s gemaak, en dis oor ek as jong seun ‘n twee of drie keer by hulle hulle ouma se melkkos gekry het, dat ek vir goed 15 jaar van my lewe nie my hand of mond aan melkkos gesit het nie.

Maar toe kruis Annieka my lewenspad, en die res is geskiedenis. Sodra die eerste kouefront so 200km suid van Gough-eiland verby trek, dan vertel Annieka my dis koud, dan vra sy vir melkkos. Soms so vroeg as middel April.

Iewers verlede kwartaal klappertand ek en ‘n paar ouers voor Klaradyn-hulle se kunsklassie. Soos gesprekke maar gaan, beweeg ons s’n van die weer na kos, en ek laat val dat ek nou al weet Annieka gaan vanaand vir melkkos vra.

Toe noem ‘n mamma vir wie ek jare gelede skool gehou het die heerlike melkkos wat sy met sago maag, en my ore kom soos radarskottels wat golwe uit die buitenste ruimte opvang, in plek, want sago is ‘n outydse kos wat my hartsnare altyd roer. Ouma van Wyk het sago-poeding gemaak wat ons gereeld agtermiddag se kant by haar moes gaan optel om die aand te geniet.

Tuis gekom rol ek snysels uit, maar my gedagtes wil nie weg van die sago nie en ek spoor die mamma se nommer via die kleuterskool se kunsklassie-juffrou op, en bel. Nee, dis reg, sy sal soek en vir my stuur.

Wat sy toe ook doen, per SMS.

Ai, mense, is dit nou lekker! Ek sal die resep se mates moet aanpas na een en ‘n half, want elke keer wat ons dit maak, dan is die kos op voor ons harte en mage daaraan uitgeët is.

Wat ek gekry het, en te oordeel aan die formaat moet dit uit ‘n plaaslike kookboek kom, is net die volgende:

1.125 liter melk
125 ml sago
30 ml margarien
50 ml mazeina
30 ml vlapoeier
3 ml sout
2 eiers geskei

‘n Metode het ek nie gekry nie.

Maar ek kook die melk en sago tot die sago deursigtig is. Ek het al die sago eers geweek, maar as die lus ons aan die smaakkliere beet kry, is daar nie altyd die luukse van week nie. Dit werk in elk geval wat my betref net so goed sonder week.

Iewers rondom die begin gooi ek die botter en die sout in.

Dan die mazeina en vlapoeier. (Miskien wil hulle oorspronklik gehad het dat jy die sago net in die liter melk kook en die kwart koppie wat jy hou gebruik om die mazeina en vla daarby in te werk. Ek het dit nog nie so gedoen nie, maar ek dink dit is raadsaam – dan hoef jy nie bang te wees vir klonte as jy dit inklop nie.)

Die “twee eiers geskei” sê vir my jy moet die geel ook aan die einde se kant inwerk en dan die witte wat jy styf geklop het tot die een of ander stywe punt stadium daarby in vou met ‘n mes of ding.

Maar gelukkig het ons seuns nooit moes leer hoe om iets “in te vou” nie en het ek lankal opgehou om weg te hardloop as ek lees “vou ligweg in met ‘n slaplemmes”. Ek weet dis iets wat sommige vrouens histeries het, maar ek roer dit dan maar net in.

Teen hierdie tyd staan Annieka en Klardyn soos twee kinders uit Oliver Twist bakhand gereed met hulle bakkies.

Miskien moet die botter eers aan die einde in, ek weet nie.

Geniet dit net met kaneelsuiker.

5.6.12

Sirkusnabetragting


Nooit heeltemal soos in Enid Blyton se boeke (ek dink aan The Circus of adventure) of soos in Slampampersirkus (waar in Dana Niehaus altyd as hulle vertrek Wish me luck as you wave me good bye gesing het) nie, ook niks wat vaagweg herinner aan Chris Barnard se Paljas, jare later, nie; maar opwinding was elke jaar gelykstaande aan ‘n Curie Beker-oorwinning op Loftus as Boswell’s Circus Alberton toe gekom het.

Die opwinding van ‘n lewendige vertoning sou eers ‘n week of wat later kom; ek verwys na die middag na middag se besoek aan die sirkusterrein om na die leeus en die tiers te kyk. Staan hulle hier is dit sommer kaalvoet, staan hulle daar, is dit met die fiets, maar kyk sal ons gaan kyk.

So is my beste maatjie rondom standerd vier ‘n rou Flaming uit België. Hy maak my nog bang met die vleis op sy brood wat kwansuis perdevleis is, ons giggel nog vir sy jonger boetie se boekie met die gedig “De poes van tante Lies” in, toe is die sirkus daardie jaar op ons, en ons op ons fietse af na die tent toe.

Dis hoeveel jaar later, en ek onthou dit steeds, die verleentheid toe einste jonger boetie tussen al die mense lostrek met “Kyk, die olifant pisse! De olifant pisse.” En dit moet seker pissen wees, maar ek onthou pisse. En hoe skaam ek gekry het vir my maatjies wat so vreeslik vloek.

Daardie jare het sirkusse nog lewendige orkeste gehad, altyd op so ‘n stellasie, wat lewendig musiek gemaak het — sulke regtige sirkusmusiek, soos van ouds.

Haai en hier is ek al vyf en veertig en steeds was dit vanmiddag ‘n oomblik van opwinding toe ek besef die vrou wat aan my die kaartjie verkoop, is dieselfde vrou wat tien teen een netnou, soos die afgelope klompie jare die geval is, die toertjies met die honde en die perde gaan doen. ‘n Waardige sirkusmoeder, soos ek ook haar ma uit my kinderjare onthou. (En verbeel ek my of begin haar dogter, op die se beurt, weer klaar lyk soos haar ma ‘n klompie jare gelyk het?)

Seker maar die boeke en die flieks, maar vir my is daar ‘n ongeëwenaarde romantiek aan ‘n sirkus. Vandag steeds, nog meer as destyds, kom hulle vir my soos een groot gesin oor. Dis by die mal haas op die rolskaatse en die trampolien wat ek Klaradyn se spookasem koop, die vrou waarby ons die program gekoop het, is dieselfde een ‘n rukkie later in ‘n sequence-kostuum besig om sewe hoepels, gelyktydig om haar heupe-middel-maermerrie-arms-en-nek te tol. Die man aan stuur van die tou in wie se hande die sweefstokarties haar lewe toevertrou, is dieselfde man wat twee items gelede saam met sy broer (maar dit lyk nie soos sy broer nie) toertjies met die Sjinese vase gedoen het.

Ja, dis wat so lekker is van ‘n Klaradyn: Pa het ‘n rede om weer te kan sirkus toe gaan!

Dan moet ons onthou Hans het tot in matriek elke jaar sirkus toe gegaan. In die vier jaar op universiteit was ek elke jaar gelukkig om die sirkus tydens een of ander reses in my tuisdorp te kry. En as ek alleen moes gaan, het ek alleen gegaan. As student, destyds, was my aandag en belangstelling, as ‘n jong man met toneelkunde as vak, natuurlik 50/50 verdeel tussen kunstenaars en die gehoor.

Vandag is my aandag steeds verdeel, hierdie keer tussen die kunstenaars en wat op my skoot, of op die sitplek langs my, op Klaradyn se gesig aangaan.

Op die wysie van Daar kom die wa, die vier perde-wa sing ons in aanloop tot die groot dag gereeld in die kar: Daar kom hy aan, die sirkuskaravaan; hy kom na ons toe, die sirkus is weer hier.

Klaradyn het die sirkus letterlik met moedersmelk nog ingekry. Die Saterdag voor haar doop, toe moet sy maar saam met ons na die Moskou Staatssirkus wat in 2004 in SA getoer het.

‘n Ding wat my, toneelkunde of te not, soos ‘n puisie op ‘n vark se rug laat uitstaan, so ongemaklik maak dit my, is ‘n ding soos audience participation, ‘n ding waarvoor die harlekyne (waar is die dae van Tiekie en Francesco?) deesdae baie lief is. Vandat ek daai een stampvol matinee-vertoning my bekken ten aanskoue van almal op die maat van The Full Monty se musiek moes swaai, sit ons gevolglik nooit meer heel voor, in die middel van die binneste ring nie, en lyk dit of iemand net daaraan dink om in ons rigting te beweeg, dan duik ek onder dien stoel in, kwansuis op soek na Klaradyn se bottel, iets wat sy al vir vier jaar nie meer gebruik nie. (daar was daardie middag toevallig twee van my kollegas en hul kinders saam met ons in die gehoor, in die goedkoper seats, en wat ek so van hulle al twee waardeer, is die feit dat nie een van hulle nog ooit daarna ‘n enkele woord oor die insident gerep het nie.)

Hoe meer ek nou in my gedagtes delf, hoe meer kom ek onder die besef dat ek regtig ‘n ding met ‘n sirkus moes gehad het. Die eerste en vir lank die enigste muurversiering wat ek in my kamer op universiteit gehad het, was ‘n gelamineerde plakkaat van nar, met die vreeslik sentimentele woorde Share with me your sadness, and I will share with you my joy  (of anders om) daarop. Ek het die plakkaat nog steeds. Maar iewers in die garage, darem al vir jare.)

Ook twee skilderye van harlekyne met die jare aangekoop. Maar anders as so dikwels die geval is, en hulle is nogal moeilik om te kry, is my harlekyne nie die tradisionele unhappy of sad clowns nie, nee, my harlekyne lag van oor tot oor en daar is nie ‘n sweempie hartseer in een van hulle nie. (Amper soos Van Gogh se sonneblomme wat in sy skilderye nooit hulle koppe laat sak het, nadat dit gepluk is nie.)

Is dit in Sorrento waar al wat Afrikaner wat daar kom, vir hom ‘n ietsie inlegwerk uit hout aanskaf. Daar het ek my Arlecchino, die harlekyn van die Italiaanse commedia dell’ arte, gekoop en vir twee maande in my rugsak saamgepiekel het.

Dit maak ook nie saak waar in Europa ek my bevind nie, ek doen navraag na ‘n sirkus, groot of klein, eersteklas, medioker of sommer agtertangs, dit maak nie saak nie. Die sirkus, sedert die dae dat die Romeine met die woord vorendag gekom het, vir my altyd een of ander barometer van ‘n volk of gemeenskap se een of ander iets. Presies wat daai iets is, kan ek nie verwoord nie (want dis natuurlik sommer bog, ek weet). Tog is ek eers een met kultuur as ek eers saam met daardie kultuur in die sirkus was, asem opgehou het, en gelag het.

In Suid-Afrika suig ons natuurlik aan die agterste speen wat sirkus betref. En ek kry die oorsese kunstenaars, wie se enigste of beste aanbod, in Suid-Afrikaanse rand is, altyd jammer.

Maar ek haal my hoed vir die Brian’s en die Boswell’s af (en met ‘n warmte dat ek die Willkie’s in die herinnering roep. Nie noodwendig ‘n lekker geskiedenis nie, maar ‘n lang geskiedenis en ‘n verlede om op trots te wees. Hulle en aangehou, uitgehou en vasgebyt. Eintlik onmoontlik om te dink dat hulle staande gebly het.

Hoe lekker was dit nie om vanmiddag, vir die eerste keer in jare, nie ‘n enkele geskeurde leotard of kostuum te sien nie. Nie ‘n enkele kunstenaar, al het hulle dalk so gevoel, het soos ‘n sterwende eend aan het vlie deur ‘n sneeustorm gelyk nie.

Ek sien klaar uit na volgende jaar en hoop Klaradyn sal tot in matriek nog bereid wees om saam met haar Pa by die sirkus gesien te word.

Natuurlik net jammer dat ek nooit weer deur die oë van kind na die olifante, leeus, tiers, perde en selfs die honde sal kan kyk nie.

Daar is min mense so geheel en al weerloos uitgelewer aan die genade, soos ‘n sirkusarties in die middel van ‘n ring nie. Die meeste van almal egter die dieretemmer. ‘n Kind lees nie ‘n sirkus tussen die lyne nie, hy donder halsoorkop en onbevange daarin.

‘n Mens verloor daardie vermoë soos wat jy ouer word, en dieselfde spanning en afwagting waarmee my oë as kind op die sweefstok gerig was, kenmerk deesdae my belewenis van die dieretoertjies, enige dieretoertjie.

Ek wonder hoe ek sal reageer op ‘n mooi meisie, in ‘n balletrok, op haar tone, op ‘n perd se rug. Maar dan is mooi meisies op hul tone in balletrokke op ‘n wit perd se rug iets wat jy, lyk my, nog net in boeke aantref.

Hoe lekker, op daardie noot, was dit egter nie om vanmiddag vir die eerste keer in my lewe, lewendig (hulle sê dis vir die eerste keer in 45 jaar) iets te beleef wat ons net in strokiesprente en boeke leer ken het nie — ‘n man, daai symste mal haas wat my destyds wou laat strip op die maat van the Full Monty, wat ‘n menslike koeël uit die loop van ‘n reusekanon, regs voor in die tent, die ring in geskiet is. (‘n Human cannonball klink soveel beter, ek weet. Maar somehow voel ek dat ‘n Engelse uitdrukking in hierdie geval geensins, selfs net vaagweg grensend aan geslaag, sal wees nie.)

Ek dink, maar die uiterlike bedrieg maklik, hoeveel te meer nie in ‘n sirkus nie, dit gaan goed met ons sirkus. Toe ek die Boswell-tannie vanmiddag agter die loket se glasskerm herken, toe stotter ek soos ‘n verliefde hoërskoolseun, iets soos “We’re looking forward to an exiting fun filled afternoon.”

En presies dit wat ons gekry het. So by so* dat ek nou agter die toetsbord moes in, om soos ‘n perd na afloop van ‘n resies, net eers bietjie koud gelei te word.

Daarom ook dat ek as titel van vandag se inskrywing, eerder Sirkus Post Mortem wou hê. Bedoelende daarmee die figuurlike nabetragting wat aan ‘n post mortem gekoppel word.

Maar netnou dink die mense ek sê die sirkus is gevrek. Wat natuurlik glad nie geval is nie — vra maar enige van die kinders wat vanmiddag se vertoning bygewoon het. Of hulle nou vyf, of vyf en veertig is.



*Ja, ek weet die gebruik van "so by so" is tien teen een verkeerd. Kom ons sê dan maar ek het 'n hoogsidiolektiese gebruikswaarde van hierdie lieflike uitdrukking.