31.10.11

Boeretroos in die bed

Daar is ‘n woord daarvoor en ek het gister gedink dat ek my daaraan skuldig maak. Maar omdat ek nie seker was wat die woord daarvoor was nie, was ek nie seker of ek daaraan skuldig was nie.

En dan is dit mos nou maar een maal hoe dit met woorde is: 

Jy hoor ‘n woord wat jy nie ‘n idee het wat dit is nie, jy het die woord straks nog nooit gehoor nie, en dan kruis daai dessitse woord in die volgende drie weke jou pad ‘n verdere sewe keer.

Vir my was dit so met nepotisme. Ek het ‘n ou man geword voor ons kort na die eerste demokratiese verkiesing in 1994 konstant, en tot vandag toe steeds op gereelde basis, daarmee bombardeer is. Ja, ek wil suggereer dat ons eers onder die ANC se voortou neem daaraan blootgestel is, maar dis ‘n lieg. Dit was toe al die tyd net ‘n nuwe woord vir ‘n baie ou en bekende ding wat ons in die vorige regime sommer Boereverneukery en baantjies vir boeties genoem het.

Of jy wonder oor ‘n woord en waar jy die woord gaan opspoor, soos ek gister, en dan duik hy kort daarna, of weke later uit die bloute op.

In gister se geval, sommer dieselfde dag. Ons sit in ‘n personeelvergadering, die lugversorging stukkend, die kraaie gaap en ek vang vis op so ‘n wyse dat my nek vanoggend skoon in ‘n spasma is. Die gasspreker, ‘n advokaat aan die woord oor onderwysreg en mens- en kinderregte, haal vir Desiderius Erasmus aan wat regsgeleerdes beskryf as “bewapen met drie sillogismes.

En ek ruk wakker. Pikwakker. Want daar is miskien die woord vir dit waaraan ek gister skuldig gevoel het: sillogisme.

Na afloop van die vergadering soek die woordeboek op:  “Redenering bestaande uit twee premisse waaruit ‘n besluit, konklusie afgelei word as die premisse waar is. Bv. Mense is sterflik, ‘n koning is ‘n mens; daarom is ‘n koning sterflik.”

Hierdie relaas rondom sillogisme egter suiwer die gevolg van die ander sillogisme waarop ek myself vanoggend gerieflikheidshalwe betrap het en is dit eintlik hier waar ek my klets wou begin het:

‘n Mens kry darem maar sulke pragtige mans, en dan bedoel ek nou mans wat pragtige mans vir hul vrouens is (‘n goeie en deugsame man vir sy vrou is.)

Die “pragtige man” in ons familie was my ma se peetkind se man, Brian. Eintlik my niggie se man, maar dan klink dit of ons speelmaats was en dis geensins die geval nie; ek is goed twintig jaar jonger as hulle.

So twee keer ‘n jaar is ons familie toe, hetsy vir ‘n naweek, Paasnaweek of kort vakansie. Ek hoor nou nog my ma stekies uitdeel aan my pa, of opvoed aan my, as ons dan nou na die opruk Oos-Vrystaat toe huiswaarts keer: “Wat ‘n pragtige man is Brian tog nie vir Ruth nie,” of “Hoe ‘n pragtige man het die Brian nie toe tog uitgedraai nie.”

En hy was. Hy het.

Wat die sterkste indruk op my as kind gemaak het, ek vermoed onder breinspoeling van my ma (gedagtig aan die stekies na pa en my opvoeding) was die feit dat hy elke oggend, nie net as ons daar was nie, elke oggend van sy lewe, heel eerste, voor al die ander, opgestaan en vir elkeen in die huis koffie in die bed gebring het.

En so het hy een oggend douvoordag , jare later met sy kinders al uit die huis en op universiteit, vir sy vrou haar koffie in die bed gevat, omgedraai en sy kop in die gastetoilet gaan wegblaas.

Nou ek is nie ‘n koffie- en teedrinker.

My vrou ook nie.

Of so het ek gedink.

Want toe begin sy, hier teen Julie vanjaar, na jare van getroude lewe, soggens koffie maak. (Het sy, “living a life of quiet desperation” haar koffielus al hierdie jare onderduk?)

En na ‘n week begin sy voor my opstaan om koffie te maak.

En daai week is nog nie eers ‘n vol week nie, toe maak ek my stem dik, die ertappelboer sal trots op my wees, en ek sê: “Nou maar, jy maak nou vir jouself koffie, hoekom maak jy nie maar vir my ook nie?”

Nou is daar seker mense wat lelik dink van my vrou: sy maak vir haarself koffie, en vat nie eers vir haar man en hoof van die huis nie. Ja, jy mag maar lelik van haar dink, ek gee nie om nie. Maar nie oor die koffie in die bed nie. Onthou, en ek hét gesê, ek IS nie ‘n koffiedrinker nie.

Maar verander dit maar na “ek WAS” nie ‘n koffiedrinker nie.

Want so begin Annieka mos toe nou ‘n lekker ding:  koffie in die bed vir Hans. Elke weeksoggend. En dit raak vir my ‘n heerlike bederf. Later kry ek my koffie in die bad.

Ék is nou die een wat die R366-00/kg-koffie in die trollie gooi en haar vertel om dit agter die olywe in die ander kas weg te steek dat die bediende nie ons koffie drink nie.

Nou kyk, daar is by my geen vrees dat my vrou iets onverantwoordeliks gaan aanvang nie. Maar toe is daar vanoggend nie die, wat nou al gebruiklik geword het, tradisionele koppie koffie langs my bed nie.

Ek lê selfs bietjie later, vir ingeval dit nog kom, maar sy soek al juwele uit en daar is van koffie geen sprake nie.

En ek betrap my minute later in die kombuis met die ketel wat my aankla.

En ek wonder, sal ek nie maar vir ons koffie maak nie.

Maar toe onthou ek skielik vir Brian, en onthou ek gelukkig ook wat met mans gebeur wat vir hul vrouens in die oggend koffie maak.

En of dit nou sillogisme is of nie, dit skeel my min. Ek is en bly weliswaar nie bereid om die risiko te loop nie.

Van sêwietjies, samies en ander pousebroodjies


Vroutjie, wat ek net op foto’s ken (omdat sy my ouma, gebore 1901, se ma was) het volgens oorlede Ouma van ‘n “sêwietjie” gepraat.

Ons het op skool van “samies” gepraat, maar of die woord nog in gebruik is, weet ek nie.

By die huis, en vir my ouers, was dit doodgewoon “pousebroodjie”.

Ek moet vanaand vir die derde keer in my lewe vir Klaradyn ‘n pousebroodjie maak. (Hulle neem net Vrydae, vir die lekker, ‘n kospakkie kleuterskool toe en dit het eers twee weke gelede gebruik geword.)

‘n Mens wens regtig seker nie jou kinders groot nie, maar ek kan nie wag dat sy graad 0 toe gaan nie. Doodeenvoudig sodat ek vir haar kan pousebroodjies maak.

Dit maak seker nie sin nie, en ek sal die woorde seker nog een vir een sluk, maar as jy ‘n ma soos ek gehad het, wat die allerlekkerste pousebroodjies vir haar kinders gemaak het, dan is dit vir jou ‘n uitdaging om die familiegebruik en –naam hoog te hou.

Ek onthou goed, sou iemand my op hoërskool vra wat op my brood is, dat my standaardantwoord “knoffelvis” was.

Standaardantwoord het dit geword nadat ek een keer regtig die lekkerste knoffelvis op my broodjie gehad het, en dit die een wat by my wou ops* so afgesit het, dat ek dit daarna elke keer gebruik het as ek nie my kos wou deel nie.

Ek onthou die knoffelvis, hoender mayonaise, spek en eier, wonderwerke met left overs, en selfs ‘n klassieke gunsteling, peanut butter & jam, was net strate lekkerder uit my ma se hand. Gee my geblinddoek happies van drie ma’s se peanut butter & jam-broodjies, en ek sal jou sê watter een het my ma gemaak.  Dit gaan oor die verhouding  grondboontjiebotter teenoor konfyt wat vir die regte kombinasie sorg. Enige een kan peanut butter en jam op ‘n brood plak en in waspapier toedraai; slegs ‘n uitgelese paar wat uit dieselfde potjies en botteltjies ‘n meesterstuk skep.

Ek kon tamatie op my broodjies ook hê, sonder om pouse met ‘n ongedefinieerde smudgy spul te sit. Ma Judy het gesorg dat geen skyfie tamatie dit sou waag om water af te gee aan ‘n maagdelike snytjie witbrood nie. Óf die brood is liefderyk verseël met ‘n lagie onderdringbare botter (margarien is ghries en geen broodsmeer nie), óf ‘n plakkie kaas moes dien as buffer na onder en ‘n blaartjie slaai as buffer na bo.

En dan was sy ‘n vrou met trots:  geen sandwich spread (wat hier iewers in my skooljare vir die eerste keer op Suid-Afrikaanse rakke verskyn het) op haar seun se brood nie. Dis vir lui huisvrouens. (Sy was ‘n werkende enkelma, ses dae ‘n week .)

O, en ek was so lief vir sandwich spread. (Kinders kan darem walglik wees — ons het dit kameelperdkots genoem.) 

Miskien was ek nie so lief daarvoor nie. Seker maar net omdat ek nie kon kry nie, dat ek dit so graag wou hê.  Sal vandag self nie eers oorwéég om eendag vir mý kind sandwich spread op haar brood te gee nie.

Utopia was dit darem ook nou nie van die more tot die aand nie. Dit het my lank gevat voordat ek hier teen standerd sewe geleer het om nooit, NOOIT OOIT, op ‘n Maandagaand te noem dat vandag se broodjies darem heerlik was nie. O, Boetie, dan kry jy daai selfde met jou brood Dinsdag, Woensdag, Donderdag, en as jy nie pasop nie, Vrydag ook.

En daar het ek nou nie uitgekom waar ek wou begin nie:  die graad 8-seuntjie op die trap vroeër die week tydens my terreindiens.

Daar sit hierdie mannetjie, netjies ge-collar  en ge-tie, pouse op die trap, met Sjinese eetsokkies in die hand, heel behendig en eet hom knuppeldik aan sy sushi, afgerond met wasabi en sojasous.

Dit herinner my aan die ander graad 8’ie wat hier in die eerste kwartaal tydens pouse op die departementshoof:  Engels afstap (dit het my, as mededepartementshoof ‘n goeie drie jaar gevat voordat ek dit gewaag het om met haar in gesprek te tree)met iets soos:

“Julle personeel het mos seker ‘n mikrogolfoond in daardie kombuis by die personeelkamer? Kan Juffrou hierdie asseblief vir my gaan opwarm. Dankie.”

Sy het dit gedoen.

*Ops  en nix-ops  hoor ek ook nie meer nie. Ons het ge-ops as jy ‘n happie van iemand se pousebroodjie wou hê, en ge-nix-ops as jy met ‘n heerlike broodjie in die hand by die pelle aangesluit het en nie wou hê hulle moet jou kos afbedel nie. Dit was in die sewentigerjare, maar uit Fanus Rautenbach se Tiesjj is dit duidelik dat dié vorm van  kindertaal beslis reeds in die derigerjare in gebruik was.

23.10.11

By die kluitklap op die kis

Ons het daglank ge-begrafnis-begrafnis. Letterlik. Eers in Pretoria vir die diens en toe in Alberton by die teraardebestelling.

My oë voel of ek heeldag uie gestaan en skil het om die ganske Franse Legioen van Eer van heilsame Franse uiesop te voorsien.

My ma is geheel en al ontredderd. Nie oor die afsterwe van haar eggenoot van die laaste 22 jaar nie, maar vanweë die dementia (wat maar net my eufemisme vir Alzheimer se siekte is). Gelukkig troos ek my daaraan dat sy die omvang van haar bejammerenswaardige toestand geensins besef nie.

Toegegee, haar persoonlikheid, haar kenmerkende charisma en grasie, haar gemaklike en spontane omgang met mense, is presies dieselfde as al die jare wat ek haar nou al ken.

As synde iemand wat nog nooit maklik met vreemdelinge geselsies kon aanknoop nie, het ek my ma se vermoë om dit te doen, die kere wat dit my uit die aard van my persoonlikheid nie ongemaklik en selfs verleë gehad het nie, nog altyd bewonder.

Sy besit steeds oor dieselfde gawe, met die verskil dat die vreemdelinge met wie sy nou geselsies voer, nie vreemdelinge is nie, maar soos vandag by herhaling die geval was, jare lange vriende of selfs bure.

Dit maak my wil huil om te sien hoe moedig en dapper sy probeer om haar gesellige en joviale self te bly, en dit terwyl sy nie weet of dit wasdag of Maandag is nie, of sy Arthur of Martha is nie. (Laat staan nog wié die Arthur of Martha in wie se geselskap sy haar bevind, is!)

Staan die gemeente, dan wil sy staan. Sing die gemeente, dan wil sy sing, nogal van die blaadjie af en dit met oë wat in geen jare meer, so sonder haar bril en met katarakte so groot soos patats, kan lees nie.

Hoe graag sal ek my ma nie nog net een maal langs my in ‘n kerk wou hoor sing nie. Seuns is mos maar anderste goed en as kind het selfs dít my verleë gehad: om die een of ander rede aan my totaal onbekend, het my ma elke “Jesus” uitgespreek en gesing as “Djiesuhs” (‘n duidelike affrikaat aan die begin, opgevolg deur die lang Engelse –ee.

Dit was vir my riem onder die hart om te hoor hoe elkeen, baie daarvan vreemdelinge of mense wat ek in donkiesjare nie gesien het nie, wat met my ‘n geselsie kom aanknoop het, selfs die wat dit die minste nodig had, net die positiefste en mooiste van my ma getuig het.

Ek het nie toegelaat dat dit my dwars in die krop steek wanneer telkens ‘n groot gewag gemaak word van die koestering wat haar man die laaste vier jaar vir haar oorgehad het nie, terwyl dit wat sy die vorige agtien jaar vir hom beteken het en gedoen het en opgeoffer het en prysgegee het en afgesloof het, soos mis voor die son verdwyn en gans en al oor die hoof gesien en genegeer is nie.

Dit was immers nie haar begrafnis nie.

My pa se diens was ‘n verassingsdiens vanuit ‘n kapel by die Johannesburg krematorium. Van draers en kluite was daar gevolglik nie sprake nie. So dit was vir my lekker (maar lekker is die verkeerde woord, ek weet) om darem vir een keer in my lewe die geleentheid te hê om aan ‘n soort van ‘n vaderfiguur se graf te help toespit. (Ek het myself nie ongeneë gevoel? Dit het my welgeval? Dit het my geraak, my beweeg... ?)

Ons het my ma (al sou ek met die grootste liefde en piëteit wou en kon sê ons het die ou vrou) nie al die pad graf toe geneem nie.

Na die koesisters en tee, maar ek sien daar is deesdae selfs enkele susters wat sommer platters bestel, is ons met haar kamer toe.

Sy het nie geweet dis haar kamer of haar bed nie, het nie eens die familieportretjies teen die hangkasdeur as haar eie geëien nie.

Vroeër het sy verbaas gevra of al die mense hier dan nou vir Jack se begrafnis hier is.

Net voor dit weer, het sy nie geweet wat sy hier soek nie.

Of wie Jack is nie...

Terug van Alberton loer ons gou in en toe is sy bekommerd oor Jack wat nou al hóé lank nie meer op die bed langs haar in die kamer is nie.

Dan het die begrafnis ook, soos seker bykans alle begrafnisse, sy gesonde kwota absurditeite gehad. Die dominees wat my sewe keer op drie verskillende name verkeerd aangespreek het en ‘n huwelik van 22 jaar by the power of God invested in him tot 12 jaar verkort het . Mense kom gesels met my asof ek my broer is en ek jare voor my geboorte saam met hulle toktokkie in Alberton se strate gespeel het – terwyl my broer sestien jaar ouer as ek is. Ook ek wat op my beurt wonder watter oud-Albertonner dit daardie is, en dan, by verdere navraag tot my verleentheid moet uitvind dit is my ma se buurvrou wat al vier jaar saam met haar aan die etenstafel sit.

Ook ‘n oom en tannie wat die heeltyd daar rondgehang het maar duidelik by geen mens ‘n klokkie gelui het of êrens ‘n geselsie aangeknoop het nie. Op pad badkamer toe met die ou vrou wat deur ‘n piepie oorval is, sien ek hulle toe stap, in gans ‘n ander rigting en vleuel van die ouestehuis as waar ons twee oues hul laaste dae slyt/geslyt het, elk ewe flink en omverskonend by ons verby met ‘n gesonde, nee trouens ‘n ongeskikte, bordjie eetgoed in die hand.

O, en dan wens ek, ek het ‘n kamera by die teraardebestelling gehad. Ek het ‘n beeld gesien wat ewig in my sal bly, maar ek sou dit tog op film wou verewig, en ‘n Picasso op doek. Soos vir Gertrude Stein. Want dit was ‘n baie ou Gertrude Stein waaraan die vrou my herinner het. Hoe oud sy is, weet ek nie. Kom ons maak haar maar ‘n formidabele vyf en tagtig. Die oudste oud-Albertonner langs die graf vanmiddag. Op ‘n AVBOB stoel (wat deesdae ook stemmige groen chair covers kry, soos op troues en matriekafskeide). ‘n Langbroek en ‘n jas. Haar kierie tussen haar bene. En die sterkste mooiste profiel wat ek in jare in ‘n ou vrou gesien het. Die forsste lyftaal, die statigste houding. Langs hoeveel grafte sy so die laaste vyf jaar gesit het, dink ek is meer as wat jy op twee hande kan tel. Langs hoeveel grafte sy nog op soortgelyke wyse gaan sit, sal net die tyd leer. Maar daar sit sy, regop en fier, egte begrafnisweer en ‘n wind wat deur murg en been sny, beweeg hoogstens haar golwende hare. Aan Georgia O’Keeffe, iets van Georgia O’Keeffe, Gertrude Stein en sommer ook Freda Khalo het sy my herinner. Die allerlaaste van ‘n geslag geharde Afrikanervrouens op Afrika-, Afrikaner- en Afrikaanse bodem.

Ook in die kerkdiens het ek opnuut bewondering vir die ouderdom en die vorige generasie gehad. Oom Sybrand van Niekerk het op sy rype ouderdom die behoefte van die hart gehad om hulde te bring aan ‘n vriend en vriendskap wat oor meer as sestig jaar strek. En toe doen hy dit spontaan, bykans impromptu en sonder ‘n aantekening van ‘n dag oud.

My skoonsus het in ‘n stadium die kommentaar gehad dat dit die einde van ‘n era is. In baie opsigte en met meer toespelings as wat ons ooit kan vermoed, is dit ongelukkig presies wat dit is, die einde van ‘n era.

Ek ag myself gelukkig dat ek daarmee kontak kon maak en in Judy steeds die geleentheid het om daarmee in kontak te kan bly.

Na afloop van dit alles, en die aand al lankal by die huis, het ek behoefte om die seun in beheer van al die reëlings te bel en hom te bedank vir ‘n baie lekker dag en begrafnis. Maar so kan ‘n mens dit tog nou nie stel nie, ek is te moeg om woorde te soek en op te weeg. so ek los dit daar. Hy is duidelik nie te lui om wel woorde te vind nie, en Vrydagoggend toe kom sy SMS:  “Baie dankie vir jul groot bydrae om gister vir ons almal ‘n mooi dag te maak.” En vergeet nou maar die groot bydrae, want ons het niks gedoen nie, maar “’n mooi dag” is die woorde waarop ek my tong nie kon lê nie, en presies wat dit was – ‘n mooi dag.


17.10.11

Ons kan nie praat

Nee, o, magtig. Daar doen ons toe nou drie liefdesgedigte na mekaar in ‘n ry. Met vier klasse en kollektief al meer as 20 periodes gevul van Kupido se kaskenades, was ek redelik keelvol vir die liefde.

Dit is natuurlik ook Apartheid se skuld. Die van ons wat in die ou regime op skool was, sal onthou elke kind het laterhand gewonder of daar dan nie ook gedigte oor mooi en lekker goed in Afrikaans geskryf word nie. Die poësiesillabus wat ek daardie dae op hoërskool moes volg, het gelyk soos die voor-, middel- en agterblaaie van deesdae se dagblaaie.

Daarom dat ons nou se dae doelbewus ook by die mooi en meer aangename wil uitkom. Daarom dat ek toe drie geleenthede na mekaar vashaak by die liefde.

So gatvol is ons almal toe nou, dat bloot ‘n ander onderwerp of tema nie genoeg sal wees nie — ek (en ek voel aan, die kinders ook) soek ‘n antoniem, ‘n kontras, die teendeel van liefde.

En daar onthou ek ‘n gedig wat ons in standerd agt gedoen het en hoe “groot” ek gevoel het, met die dat die Juffrou kans gesien het om sulke volwasse “grootmens”-gedigte met ons te doen.

Ek het die gedig nog nooit met leerders behandel nie, maar goeie gedigte dateer mos nie, in 2009 geniet die graad 10’s NPVWL se ons kan nie praat net soveel soos ons destyds in 1982. Dit kom, so sonder titel, uit sy laaste digbundel, Tristia.

Miskien bring dit herinneringe terug. Of miskien krap dit herinneringe oop.

Ons kan nie praat: nie jy met my nie:
want in my rens liefde spartel
jou woorde soos vlieë wat verdrink;
ek nie met jou nie:  waar ek praat,
weet ek dat elke woord van my
agter die deure van jou oor
ingewag, nek-om-gedraai
word deur jou stil haat. Nie óns nie,
nie psigoloë, psigiaters nie,
kan die soutkors van die woestyn breek.
Alleen ‘n Godheid sou kon hulp bring:
die woestyn weer laat groen maak
wat sy verneukpan-agtige
skilferkors om ons kom lê het;
water laat uitbreek in die dro pan
en breekysters onder my logiese
intellektualiteit indryf.

Vir die volle waarheid kan ek dit nie vertel nie maar ek kom iewers daaraan dat VWL se weduwee vir jare na sy dood nooit toestemming wou gee dat gedigte uit Tristia opgeneem word in ander versamelbundels nie. Selfs Opperman het gesukkel met sy Groot Verseboek.

Die rede blykbaar omdat talle van die Tristia-gedigte heenwys en aansluit by die tye saam met Shiela Cussons, wat ook maar relatief onlangs, kort voor (of na?) haar dood deel van die openbare domein geword het.

Dan wonder ek met wie praat die stem in hierdie gedig. Is dit die digter se vrou? Nie dat dit saak maak nie.

Vir die kiddies het die liggies in hul oë eers aangegaan, toe ons uitkom by die gesels rondom wie, behalwe ‘n man en ‘n vrou, in die gedig ter sprake kan wees.

“Vir wie sal jy, as graad 10-kind wil sê: ‘Dit help nie ons praat nie, ek voel oor jou woorde soos oor vlieë wat in vrot melk versuip. Ek weet ook dit help nie ek praat met jou nie, jy luister nie eers na my nie, en as jy luister is dit net om my te kan go oor wat ek gesê het. Ag, en moet tog nie kom met stories van shrinks wat dit vir ons moet uitsort nie, dit gaan nie werk nie?  My commen sence sê dit vir my. ‘n God sal eers met crow bars moet kom en my commen sence opneuk, voor dinge miskien uitgesort is. ’”

VWL draai in sy graf om, en die marmerengel wat dit versier, gaan aan het kraak, maar dit maak nie saak nie, die kinders skop in en dadelik is hulle by die kompleksiteite so kenmerkend van die ouer-kind-verhouding in die kind se storm-en-drang-jare.

My raad aan hulle is om nie deure toe te klap dat die handles afval nie, maar om Ma en Pa te baffle, hulle in die oë te kyk,  en weg te val met:  “Ons kan nie praat: nie jy met my nie: want in my rens liefde spartel jou woorde soos vlieë wat verdrink; ek nie met jou nie:  waar ek praat, weet ek dat elke woord van my agter die deure van jou oor ingewag, nek-om-gedraai word deur jou stil haat...

11.10.11

Damdink / rivierwalgedagtes


Potchefstroom moet seker ‘n stroom of ‘n ding hê om ‘n stroom te kan wees. Die Mooirivier, en niks anders nie, val dit my nou by.



Nou of dit die rivier, die stroom, of ‘n sytak van enige een van die twee was, kan ek nie onthou nie, maar daar, in 1984, was die laaste keer dat ek ‘n vis gevang het.



Ons was ‘n spul eerstejaars, ‘n hele koshuis se eerstejaars, en daar is ek toe die eerste en enigste om ‘n vis(sie) uit te trek.



Ek is gepredestineer om nie van visvang te hou nie – my pa was ‘n ernstige hengelaar; sy wittebrood saam met my ma, trouens in ‘n karavaan langs die Vaalrivier.



Toe ek ‘n jong knaap op my woeligste was, toe vang ons al om die ander week vis op my oom-hulle se plaas net buite Brits. Nie sommer net buite Brits nie, die eerste plaas buite Brits op die wal van die Krokodilrivier.



Maar, nee, by die rivier kom jy nie naby met ‘n stok of katrol nie – Oom Piet het ‘n spul plaasdamme op sy tabakplaas waar hy die visse vet voer, en dis daar – by een van hierdie damme, dat ons ons naweke deurbring.



En my pa was ‘n ernstige hengelaar, hy was een van daai wat geglo het jy beweeg nie te veel op die wal nie, die visse te jou vibrasies op en byt dan nie. So ek moes stilsit langs my pa. In die son. Sonbesies. Naaldekokers. Son. Pa wat raas en ek wat moet stilsit. Rimpels op die water. ‘n Polisieman wat in stilte op die maat van die wind dans, of dit nou ‘n grypie pap, ‘n dobbertjie of wat ook al is.



Nee, o, hel, dit was nie lekker nie.



En nie of ek by my ma kan troos soek nie. Sy was net so ‘n ywerige hengelaar en op haar manier langs die viswater meer ongeduldig as my pa.



Ja, reg geraai – dis mannenaweek en ons is lang die viswaters – almal op ‘n ry, elkeen met sy tackle en ek met my skootrekenaar.



Ai, en ek wens my pa was hier:  ek sou sy gesig wou sien, ek sou hom wou trakteer op dit wat die laaste dertig jaar van visvang geword het, en met visvang gebeur het.



Sal hy sê dis sommer strooi, die botteltjies met pitte en konsentrate en kleure en feromone en smere en rome en doopsouse en ek weet nie wat de duiwel nog alles nie.



Die stokke en katrolle sal hom in vervoering hê – van die gewig, die materiaal, die ingenieurswese tot die gewiggies en goedjies wat lyk soos fluoressent malvalekkers.



Maar die ander goeters en die trimmings?



Was ek ‘n prater en geselser het ek uitgevra en baie gehad om te vertel, maar ek kyk maar uit en hou dop.



Nie dat ek niks weet nie, ek het vir twee jaar ‘n Springbok-hengelaar  (junior Springbok-hengelaar / Protea-hengelaar, Goue Galjoen-hengelaar?) in my klas gehad.



‘n Komplekse kind gewees, party sou woorde soos hondsleg en domonnosel en aartslui en godsonmoontlik kon gebruik, maar ek het maar geprobeer, en myself laters glads geverbeel, ek verstaan iets, en het ‘n liking in die kind gevang.



Maar huiswerk het hy nie gedoen nie, opgedaag vir mondelinge het hy nie, opstelle en portefeuljeopdragte het, staan die jaar einde se kant toe, heeltemal ontbreek.



En dan het ek en die kind dit one on one/one to one gedoen, smiddaes na skool.



En vir twee jaar was daar net een onderwerp, of dit nou ‘n verhalende, beskrywende, bespiegelende, mymerende, argumenterende of betogende opstel was; of dit nou ‘n geleentheidstoespraak, oorredingstoespraak, verwelkoming, lesing of heildronk was – hengel, visvang, vis, aas, stokke en katrolle.



Nou die idee om kinders ‘n mondeling met hulpmiddels van die een of ander aard te laat doen, is nie sommerso vir lawwigheid nie – die oomblik wat die kind praat met sy hande en aandag by ‘n model of kaart of troeteldier, dan fokus hy of sy nie op die ander kinders en die gespreksituasie nie, maar op sy hulpmiddel – en dan gesels elkeen aansienlik lekkerder, spontaner en selfs makliker.



Nou voor ‘n klas, sou geen mens die seun aan die gesels kry nie, maar na skool het hy opgedaag (ook net heel aan die einde van die jaar, as sy promosie daarvan afhanklik is) en dis dán dat hy my in die wonderwêreld van hengel in die een en twintigste eeu ingelei het – sy hulpmiddels was viskaste en viskaste vol goed waarvan Hans Moolman senior in sy lewe nooit van gehoor of gedroom het nie.



Of ons vandag minder sukkel as destyds, of Hans meer gesukkel het, betwyfel ek ten sterkste.



Ja, ek dink ‘n blou marlyn word vandag met meer gerief en gemakliker ingetrek, maar dis eers ás en nadat jy hom aan die lyn het – tot op daardie punt, glo ek nie veel het verander nie.



En wat nou ter sprake is, is langs ‘n dam of op ‘n rivierwal.



Ek beleef dit baie dieselfde, net met baie meer foefies en tierlantyntjies.



En die tierlantyntjies en foefies (foefies doelbewus dubbelsinnig gekies) hoef sekerlik nie regtig te werk of sukses te waarborg nie – dit moet die hele aksie net meer opwindend maak, iets om oor te gesels, iets om in op te gaan.



Wat wel vir my vreemd is, is die idee dat geen mens, lyk dit my, enigsins nog oorweeg om die vis te eet nie.



Ja, jare gelede het ons ook terug gegooi, die kleintjies, die oneetbares, die wat ons nie wil hê nie.



Maar waaragtig nie almal nie. En vanaand dan eet ons, nie tjops of boerewors en steak nie, maar varswatervis wat Ma oor die kole berei het, in tinfoelie toegedraai, met tamatie en uie en ‘n paar ander geheime geurmiddels in die buikholte. More kom hy uit die pan, later gemaal in ‘n koekie, en terug by die huis herinner ‘n ingelegde vissie ons later aan die tydjie saam met die stokke.



En moenie vir my staan en vertel dat mens ‘n varswatervis nie oor ordentlik opgevoede lippe kan kry nie, swartbaars, kurper en makriel vra nie veel aandag nie; geelvis, moddervis en baber is weer soos die meeste wildsvleis – jy moet weet hoe om dit voor te berei, maar as jy eers weet kan jy dit vir konings voorsit.



Maar nou lyk dit my geen mens vang meer vir die smaak van sy vangste nie; net ter wille van die digitale kamera dat die lyn natgemaak word.



Maar dis ook loutere strooi wat ek praat, die lekker van eet is ‘n baie klein deeltjie van visvang se lekkerte; die groot lekker lê elders – in die stoel, die totter, die geselskap, die stilte, die glas... kies maar self.

10.10.11

Gedagtig aan Tannie Marthie


“’n Mens kan nie kies op wie jy verlief raak nie; jy kan wel kies of jy daardie persoon gaan lief raak of nie.”

Nie ek wat so sê nie, maar Tannie Marthie. En ek huiwer om die aanhalingstekens te gebruik — ek gaan haal die woorde een middag na skool om die etenstafel lag-lag 27 of 28 jaar gelede — en dis maar hoogstens so soorts van soos ek dit onthou.

Moeilik om in te dink dat ons, in daardie jare, en ons drie kinders saam met haar om die tafel nie een ouer as in standerd agt nie, oor verhoudings en huwelike oor die kleurgrens heen sou gesit en gesels het.

Tog het sy daardie middag (sonder dat ek dink sy enigsins doelbewus wou) die waarde en sede en norm, waarmee ek tot vandag toe nog enige liefdesverhouding wat soms deur sommiges bevraagteken kan word, in my brein gekarteer, my as het ware geprogrammeer.

Hoe baie moes ons almal seker nie hoor dat verliefderigheid toeslaan soos ‘n dief in die nag nie, of aan jou deur kom klop soos ‘n groot noot waaroor jy bykans geen beheer het nie, wanneer daar geen toilet naby is nie.

En elke keer as ek dit hoor, selfs as ‘n verliefderigheid (en al die ander –geite wat dit inhou) in my kop (en waar ook al elders nog) kom nesmaak, het ek Tannie Marthie se eenvoudige woorde van destyds onthou:  Jy kan nie kies op wie jy verlief loop staan en raak nie, maar jy kan kies of jy daardie persoon gaan lief raak of nie.

Eenvoudige woorde noem ek dit; of dit sulke maklike woorde is, wet ek egter nie want deur die genade het ek nog nie juis nodig gehad om die uitvoerbaarheid van haar woorde op die proef te stel nie.

Toe die geselskap hierdie naweek ‘n draai maak by liefdesverhoudings tussen onderwyser en leerders, toe hoor ek Tannie Marthie weer, daardie middag na skool om die etenstafel.

Toe onthou ek hulle ook weer. Hy het vir my Bedryfsekonomie gegee. ‘n Moeilike man. Ons het die walglike gewoonte gehad om ‘n weefdraadjie uit ons das te trek, elke keer as ons moes sak vir ‘n pak slae. En my das het na drie jaar in sy Bedryfs-klas sommer sulke gate ingeval.

‘n Goeie atletiekafrigter was hy ook gewees. Sy drie orrelpypies, onthou ek, het altyd as al die items by die betrokke punt verby was, in die verspring-sandput gespeel.

In my matriekjaar het hy as graadvoog van die standerd 9’s pa gestaan vir daardie jaar se matriekafskeid, iets wat in daardie jare suiwer in die hande van die standerd 9’s en hul registervoogde was. Hulle het dekor ontwerp en en gebou en geverf en vervoer, vir die kaartjies gesorg, ‘n dansitem wat pas by die tema ingeoefen, en selfs die tafels die middag voor die tyd gedek.

Nou is dit mos maar soos dit met skole is, die wat alles doen, doen alles omdat hulle alles doen. En aan die hoof van die standerd 9-leerders se reëlingskomitee vir die matriekafskeid, ook daardie jaar, soos jaar na jaar, die hoofseun en –dogter wat hoogstens so ‘n maand of wat voor die matriekafskeid aangekondig is.

En so tussen die verf en die bou deur, tussen die kinders gaan aflaai, of alleen saam agterbly tot aan die einde as almal weg is, gebeur dit toe ook dat Meneer moet pa staan vir die baba van die dogter wat die volgende jaar se aangewese en demokraties verkose hoofdogter is (was).

‘n Matriekjaar in die amp as hoofdogter, ‘n belowende atletiekloopbaan, moer toe. ‘n Huwelik en drie klein kleuters moer toe.

Ek vermoed dat hulle, na die verliefedrigeite afgekoel het, wel gekies het om vir mekaar lief te word. Dit was selfs die dae nog voor jy vinnig London toe kon gaan vir ‘n aborsie, wat nog te sê vandag se dae met eenstop-instap-aborsiedienste om elke hoek en draai.

Daar was ‘n egskeiding. Gevolg deur ‘n huwelik. ‘n Tweede baba.

En op ons twintigjaar-reünie, ‘n hele paar jaar gelede, was daar gesigte wat te vertelle had dat hulle steeds saam en dolgelukkig is.

Of dit ‘n sêd stôrie met ‘n hêppie ending is, weet ek nie.

Baie sad wel die een van die dominee wat opmerk sy broeder hoofouderling en die se vrou kom nie meer saam kerk toe. Hy vra toe maar uit na ‘n vergadering en broeder hoofouderling gedra vir hom Rooms en bieg van die krapperighede in die huwelik en toe die trane begin biggel ook van die ander gemeentesuster met wie hy een die gebooie oortree.

Daar word gebid en gehuil en ge-berader en ge-alles. Manlief sal gaan regmaak waar hy verbrou het. Dis die regte ding om te doen.

Ook nie ‘n maand of wat na die laaste sessie nie, of broeder hoofouderling en sy vrou sit weer saam in die kerk. Dominee merk dit op vanaf die preekstoel en nadat die suster, wat gevaar geloop het om haar man te verloor, klaar die Sondag-teebeurt na die erediens se koppies weggepak het, stap hy nader om haar te komplimenteer op die volwasse en dapper keuse wat sy uitgeoefen het na haar man hom aan ontrouheid skuldig gemaak het. Ook die wyse waarop sy en die derde party van effe saam tee geskink het val hom op en getuig van ware Christelike vergewingsgesindheid.

Net jammer dat broeder hoofouderling toe nooit by sy vrou uitgekom het nie, en dit uit monde van haar predikant is dat sy toe te hore kom van haar man se verhouding met die vrou wat nou net help tee skink het.

Dan onthou ek ook my kollega, hulle het nog die Sondagaand geloop en handjies vashou op pad kerk toe, wie se man haar die volgende nag, nadat sy vir hom toebroodjies gepak het praktyk toe, uit Londen bel om te sê dat hy haar verlaat het. Sy sou later uitvind die mediese praktyk en selfs die huis waarin sy vir hom opgewag het, is onder haar uitverkoop, die geld veilig in die buiteland.

So onthou ons almal soortgelyke rillers.

Dan onthou ek weer eens Tannie Marthie se woorde “’n Mens kan nie kies op wie jy verlief raak nie; jy kan wel kies of jy daardie persoon gaan lief raak of nie.”  

En dan gee ek nie om, om dit vir die waarheid te verkondig, en daarvan te vertel nie. Hoe maklik of moeilik dit ook al mog wees om laasgenoemde keuse te maak.