6.11.11

5 November 2008


Kinders verstaan nie as ek hulle aansê om op hulle aposteriori  te sit en hul bekke te hou nie.

Ek self is ook maar net vaagweg bewus van ek moontlik sê, maar na daai insident in ’89 tel ek my woorde in klas.

Die hoof roep my in. Ek vars uit die weermag in my eerste pos. Hy het ‘n klagte van ‘n moeder oor my taalgebruik gehad en beloof om my dienooreenkomstig aan te spreek. Ek word so rooi soos die tapyt waarop hy my het, maar net soos ek, weet hy nie wat ek kwansuis kwytgeraak het nie, die ma het nie die vrymoedigheid gehad om die woord hardop in gemengde geselskap uit te spreek nie.

Ek flits elke sinoniem vir enige denkbare genitalieë (menslik én dierlik, geslagtelik en ongeslagtelik) deur my gedagtes, maar hoor geen klokkie lui nie. Verwysings na die verskillende bevolkingsgroepe van die wêreld is volgende aan die beurt, maar die klokkie is stil en ons is in die duister.

Danksy die moeder wat genadiglik nie verkies het om anoniem te bly nie kan ons die insident gelukkig koppel aan ‘n sekere standerd 6-klasgroep in wie se geselskap ek my aan onwelvoeglike geselskap skuldig gemaak het.

Dit blyk toe, by verdere navraag wat ek baie subtiel en met ‘n ompad aanpak, dat ons prosavragies gemerk het. Die kinders moes skryf wat hulle onder die idiomatiese sinnetjie Hy het sy tjips gehad verstaan.

Meneer Moolman het gesê, en sensitiewe lesers moet liefs nie verder lees nie,  dit beteken dat hy sy gat  gesien het.

Ek wys die hele klas toe daarop dat hierdie uitdrukking sy onstaan gehad het tydens die Anglo-Boereoorlog toe Boeregevangenes hul eie grafte moes grawe en geblinddoek aan die voetenent moes staan alvorens hulle gefusilleer is.

Gat is daarom ‘n woord waarvoor ek maar lugtig geword het. Dis ook die rede waarom ek kinders vriendelik versoek om op hulle aposteriori plaas te neem as ek hulle so ver wil kry om op hulle gatte te sit.

Aan dié woord het ek gekom in ‘n klein onderwysmuseumpie wat jare in Sunnyside was. Wat na ’94 van die museumpie geword het weet ek nie. Die gehuggie staan nog, maar die spoor van sy eertydse versameling  onderwysparafernalia het ek byster geraak.

In hierdie museumpie, wat nie veel meer as ‘n bibliotekie was nie, was ‘n ryke versameling skooljoernale wat dateer uit die dae toe plaasskooltjies nog volop was.

In daardie dae is die daaglikse byhou van die skoolhoof se skooljoernaal met groot erns bejeën en elke dag se inskrywing het breedvoerig verslag gegee van die wel en weë van die skool.

Hoofde kla oor 8 uit die 13 kinders in die skool wat nou al vir ’n week lank nie skool kan bywoon nie — die rivier is in vloed en die kinders aan die anderkant gestrand. Hier het ‘n staatsdiensmuil wat ‘n plaas se leerders skool toe karwy gesterf, en daar het ‘n pa besluit om nie een van sy vyf seuns skool toe te stuur nie — hulle moet ploeg, of skeer of oes.

Dis dan ook hierin waarin die hoofde elke vorm van lyfstraf moes notuleer. Synde boude  hopeloos te onwaardig vir sommige meesters was, was dit in ‘n sekere provinsie destyds die gebruik om die wit waks wat jy sopas uit klein Frederik gebliksem het, soos volg aan te teken:  Klein Frederik Viviers, van Holfontein, vyf slae met die rottang op sy aposteriori toegeken nadat Ds. Poggenpoel hom langs die spruit gekry het, besig om vis te vang.

Wat van die moeder en dogter geword het wat my, soos Ds. Poggenpoel destyds met klein Frederik, in die hoof se kantoor gekry het, wonder ek bykans elke keer as ek kinders aansê om op hulle aposteriori plaas te neem.

Die dogtertjie is die einde van die jaar uit die skool uit. Volgens ingeligte bronne wat met die saak gewerk het (en in daardie jare is sulke sake ongelukkig eerder toegesmeer as oopgevlek, en kan  ek nie instaan dat dit die waarheid is nie) kon die pa van haar ongebore kind een van ‘n handvol seuns die aand op die betrokke partytjie gewees het.

Vir die waarheid wil ek dit egter nie verkondig nie. Dis ook so lank gelede. maar dit laat my nou, terwyl ek so sit en tik, dink aan die distriksgeneesheer van De Aar, en hierdie kan maar vir die waarheid oorvertel word, wat vir die swanger vroutjie vra wie die pa is, en sy droogweg, dog verontwaardig antwoord:  “My Here Dok, as jy met jou gat in ‘n turksvybos val, hoe gaan jy weet watter doring het jou gesteek.”

No comments: