10.11.11

Kinderskry, toe en nou

“As trou nie perdekoop is nie,” wonder ek baie, “wat is kinderskry dan (nie)?”

Beslis nie 'n perd wat jy nie hoef te koop nie, maar present kry nie. (En as dit was, moes jy hom dan in die bek kyk, of nie? )

Daar is natuurlik nie in Afrikaans ‘n spreekwoord wat kinderskry takseer nie. Beslis nie op soortgelyke wyse as wat daar is om die huwelik en sy kompleksiteite te verwoord nie.

En dit maak vir my honderd persent sin. Spreekwoorde is stukkies opgegaarde wysheid wat in die volksmond oor baie jare heen van voorgeslag tot nageslag oorgelewer word.

En soos die huwelik vandag iets is wat jy geensins kan vergelyk met die koop van ‘n nuwe 4X4 vir Mamma om die honde doggy parlour toe te karwei nie, was vrou- of manvat ook jare gelede al baie ingewikkelder as wat dit destyds was om ‘n geskikte hings of merrie uit te soek.

Kinderskry en –grootmaak, aan die anderkant, was ‘n alledaagse roetine takie soos channel hopping op ‘n Vrydagaand as jy die fliek al klaar gesien het— niks om oor huis toe skryf, of ‘n spreekwoord vir die volgende generasies oor uit te dink nie.

Gezina Hebziba Clasina Moolman (néé Beyers), om nie te praat van Hans Jurgen Hartogh Moolman nie, draai proesend en kopskuddend in hul graftes om as hulle weet die agter-agter-kleinkinders en hul portuurs stap Exculsive Books en CNA toe om in boeke te moet lees hoe bring jy ‘n baba tot sy eerste lewenslig as hy nou eers geverwek is, hoe oorleef jy, en die baba, die eerste jaar, die tweede jaar, én die kleuterjare.

Dat ons Kalahari toe gaan (en dis ‘n ander Kalahari as die een waar Oupa gaan jag het) om boeke te koop wat tien verskillende persoonlikheidtipe-ouers touwys maak om tien verskillende (versoenbare of onversoenbare) persoonlikheidstipe-kinders op die regte pad te kry, is buite hul verwysingsraamwerk en stoutste/grootste gesigsveld.

Maar dan is dit oor jy, destyds, as oudste van die agt of twaalf Moolmantjies (Grootjie kon ‘n plaas van oom Paul kry, as hulle twaalf in die lewe kon bring) help grootmaak het aan die laaste ses of sewe. En teen die tyd as jongste Sussietjie al die hanslam sy bottel kan gee (Ma se rug is af) word oudste Sus  se jongste twee in haar hand geprop.

Realiseer dit nie (Ma se rug begin vroeg al neuk) is daar in elk geval, soos die jakkals draf, nie tien bossies  van die opstal af nie, ‘n nes vol nefies en niggies, aanplaksels en –naaisels, bywoners en inwoners wie se doeke jy omruil of wie se winde jy uitvryf.

Daarom, teen die tyd dat jou eerste telg eendag in jou arms lê ken jy jare lank al die verskil tussen ‘n koors om bekommerd oor te wees, en ‘n koors wat oornag net so stil-stil sy koers sal vat, as wat hy daar opgedaag het, is daar onder hierdie son nie ‘n kinderkroep of –siekte wat jy nie self al ‘n keer of twee gehelp besweer het nie.

Nie Hans en Annieka se generasie nie. Is jy nie ‘n enigste kind nie, het Ma en Pa in elk geval ‘n kindermeidjie (soos Ouma haar genoem het) gehad wat die boeties en sussies moes grootmaak terwyl pa weer na een van daai vergaderings saam met die ooms is, en Ma leer blomme rangskik/troukoeke versier saam met Pappa se ooms se tannies.

Kinderskry en –grootmaak is daarom regtig nie maklik vir ons nie. Perdekoop is ‘n vulletjie.

Vir die geringste koors, sou jy die koorspen kon opspoor, weet jy regtig nie of jy die bobbejaan agter die berg gaan haal (terwyl daai berg eintlik maar net ‘n molshoop is nie) en of jy sit met ’n kind wat die dood op haar hakke, sy asem in haar nek, het nie.

Jy weet nie of dit ‘n –geit is nie (iets wat grootjie hulle op ‘n afstand met die stofpad langs kon sien aankom en uitruik) en of dit daai virus is waarvan hulle in die koerante skryf nie. (Daar was iets daarvan oor die nuus ook, maar jy het deur jou ritse boeke geblaai op soek na die beste manier om ‘n koors te meet / af te bring.)

Maar vir hierdie klas van ding, van skarlakenkoors tot gordelroos, en anderkant ensefalitis verby, is daar darem altyd raad iewers in een van die baie boeke en tydskrifte, is daar ‘n Doktor Smit of Suster Saaiman.

Hoe nou gemaak, en aan die ander kant, as die bobbejaan wat jy uit die molshoop wil wurg, niks met ‘n kroep, kuggie, of koors te doen het nie?

Hoe gemaak as dit wat jy opmerk gaan ‘n moontlike, vaagweg vermoedelike, geit van een of ander emosionele aard? En jy in jou onervarendheid reeds in jou geestesoor ‘n besorgde vrou by wie julle ‘n afspraak kon kry woorde hoor sê soos: gedragsafwyking, gedragswanaanpassing, aanpassingsprobleem, gedepriveerd, onstabiel, uitval, terugval en onryp?

Is dit ‘n fase? Of is dit nie ‘n fase nie? En as dit ‘n fase is, moes hierdie fase nie lankal deur twee nuwe en erger fases vervang gewees het nie?

Hoe gemaak as jy nie weet of dit wat jou opval, -1 op ‘n skaal van 1 tot 10 is; en of dit dalk 11 op daai selfde skaal van 1 tot 10 is nie?

Ek weet nie. Ek weet wragtig nie. Maar ek vermoed ten sterkste Oorle’ Clasina sou die kind net so een kyk, en dit nogal oor ‘n afstand, gegee het, en tien teen een gesê het:  “Maar heiden Hartjie, daai kind kort mos son. Kry haar kaalvoet en uit die huis uit, sommer nou en gee dan tog vir ouma die tee aan.”

No comments: