28.11.11

Anna Maria van Wyk (geb. Voicht)

14 November 2010

Vanmiddag na skool stop ek by die groentewinkel (vir die hoeveelste week op soek na die eerste lietsjies en veselperskes) en stap minute later uit met ‘n bakkie kersies uit die omgewing van die Maluti’s en ook ‘n bakkie appelliefies (hoewel ek dit by Ouma as appelliepie leer ken het).

Na Oupa se skoenfabriek op George afgebrand het, is hulle Ficksburg toe om daar ‘n nuwe fabriek te begin. Judy het daar laerskool en hoërskool voltooi en altyd die lekkerste stories vertel van kwajongens wat snags gaan kersies steel het.

Ouma het almelewe die lekkerste appelliefietert  gemaak.

Wat van die resep geword het, weet ek nie – ek het al haar kookboeke, maar nergens is daar ‘n appelliefietertresep nie. Dit was geblikte appelliefies, maar dis ook al wat ek weet. As ek moet raai het sy die appelliefiewater met vlapoeier verdik en nog ‘n paar goed gedoen om die tert in plek te kry.

Toeval? Ek weet nie, want toe ek by Judy kom (sy’t vanoggend so lekker geslaap, ek kon dit nie oor my kry om haar wakker te maak nie) onthou ek om na die hangkas te stap en haar ma se foto van die deur af te haal:  “Ouma van Wyk, Ma se ma, sou vandag verjaar het, dis sy hierdie.”

“Haai, hoekom het sy nie gekom nie?”

“Nee, Ma, sy is al jare oorlede”

1986 om presies te wees.

Had sy nog geleef, sou sy 110 gewees het. Of 109. Die een dokument het dit dat sy 1900 die lig gesien het; ‘n ander stel dit as 1901; beide is ewe amptelik met baie serieuse stempels en  seëls, so hoe oud Ouma ooit was, weet nugter.

Dis 24 jaar later en ek het my ma dit nog nooit vergewe nie. En al maak dit lankal nie meer saak nie, sal ek haar dit ook nooit vergewe nie.

Nie die feit dat sy nie wou hê ek moet al die pad van Potch deur ry huis toe, toe Ouma gehospitaliseer is nie; nie die feit dat ek daarop aangedring het om deur te ry, en sy daarop aangedring het dat ek bly nie. Maar vir die feit dat sy na die tyd vertel het hoe Ouma, die laaste nag wat my sterfbedbegeleiding gedoen het, glo by herhaling ylend gevra het waar haar Toklok is.

En ek was Toklok, en ek was nie daar toe sy na my gevra het nie.

My ma moes dit vir haarself gehou het.

Maar voor Ouma van Wyk in Appelliefietert (soos Opperman se ouma in kaneel) is, is Ouma van Wyk in Springbokradio-stories.

Na skool om die kombuistafel in haar woonstelletjie. Plastiek kleedjie, koffie en Mariebeskuitjies. En die stories. Elders moes ons dit skelm doen, maar by Ouma was dit vanselfsprekend en geen haan het daarna ooit gekraai nie.

En as dit dan iets soos geurig en speseryerig soos kaneel moet wees, dan is dit nie kaneel nie (al het Ouma pannekoek en pampoenkoekies en melkterte met kaneelsuiker gebak). Nee, mý Ouma is in kruienaeltjies.

Maak ek hoender, ongeag wat die resep vra en al is dit hóé onvanpas in baie hoenderresepte, ék gooi, elke keer, ‘n kruienaeltjie (al is dit net een) gedagtig aan Ouma van Wyk in.

Haai, en uit al die fancy hoenderdisse wat ek maak, is daar niks, niks, wat naby Ouma van Wyk se waterige gestoofde hoender met die oorweldigende naeltjiegeur kom nie. My ma het altyd gekla en gekritiseer, maar ek en Ouma was mal daaroor en daar het seker nie ‘n week omgegaan dat Ouma nie gebel het om te sê ons moet ‘n hoendertjie kom optel nie.

Of pannekoek, of vleisballetjies, of melktert, of appelliefietert.

Maar die lekkerste van alles – die naeltjiehoender.

Stories ken ek nie veel nie, maar ek het nie rede om te dink dat sy gelieg het toe sy vertel het dat sy brandhout met ‘n baba op haar rug buite George (GE-ORG uitgespreek) op moes tel nie en meelsakkies gebruik het om vir die einste baba kombersies te maak nie.

Haar liedjie het my vir jare ontgaan, maar met Klaarsie se koms het ek dit weer opgespoor:  “Ek en my vroutjie bly stoksielalleen in ‘n vaal ou pondokkie wat lek as dit reën. En vra die mense waarom dek ek hom nie, dan sê ek as die son skyn dan lek hy mos nie.”

Ouma het ook ‘n raaisel: “Jan Verslae sit op die wa, hy sien die een die ander dra: ses bene, twee koppe en een stert”

Dan is dit ‘n roofvoël wat met ‘n skilpad wegvlieg.

My ouma het nooit aan piepie gestink nie.

Sy het borstrokke gedra.

Haar sykouse was nie broekiekouse nie, maar is met “suspenders” vasgemaak.

Haar tande het goud ingehad.

En syself het ‘n poep-ogie gehad.

O, die poep-ogie! Sy was seker 78, toe kry sy haar eerste kontaklense. Ek dink toe kontaklense SA tref, toe is Ouma van die eerstes om getref te word.

Ag Liewe Here (het Ouma altyd gesê) hierdie kontaklense was geen plesier nie. Beide oë het lense nodig gehad (die poep-ogie was bloot die ogie met die katarakte) en dan verloor sy een. Later soek die hele woonstelblok op hul knieë na die ding, selfs die Dominee wat kom weduweebesoek doen het. En die ou mense het mos nie tyd gehad vir ‘n effekleurige mat nie – dit wys te gou vuil – jy moes hierdie kontaklens op ‘n very, ever so very, floral mat soek.

En dan spoor ons hom partykeers nooit op die mat op nie, maar agter Ouma se oogbal waar sy hom in-geverkrag het.

Ander kere dan is die ding stukkend getrap. (Ja, kontaklense het ‘n lang en ver pad gekom van 1975 af, om te wees waar dit vandag is. Ouma se lense was loutere hel.)

Ouma het vreeslik gesukkel met oorbelle. Iets het as jong dogter of vrou verkeerd gegaan toe sy gaatjies in haar ore gekry het:  die een oor het ‘n gaatjie gekry, die ander lel, ‘n skeur – al die pad van waar die gaatjie moes wees tot enduit ondertoe. Letterlik ‘n oorlel in twee geskeur. En nou kon sy nie studs dra nie (daar was nie ‘n gat nie) en gewone oorbelle moes out size knippies hê om die ravyn te akkommodeer.

Ouma se kombuis op Ficksburg is nog met beesmis en perskepitte uitgevoer.

Ouma was lief vir huil en het baie en lekker gehuil. Maar net een keer het ek, waarvan ek weet, haar tot ‘n tranedal gedryf:

Of ek al op skool was, weet ek nie. Ek het daar gespeel en onder in haar hangkas (daar was nie ingeboude kaste nie) het ek op ‘n boksie afgekom wat toegelym was met bruin papier. Ek het dit oopgemaak en op briewe afgekom. En ‘n haarlokkie.

Dit was ‘n oorlede suster van Ouma s’n – die vrou is vroeg dood, maar wat gebeur het, weet ek nie.

Na Ouma se dood het ek daai boksie gevat en hom weer toegeplak met gegomde papier.

Daai boksie is nou in my sitkamer in ‘n familie-erfstuk van ‘n lessenaar en buro. Ek het dit nog nie weer oopgemaak nie. En ek sal ook nie sommer nie.

Toe oom Jack Junie-maand dood is, en ons besoek die Alberton-kerkhof, het ek Ouma se graf opgespoor. Eintlik Ouma en die oupa wat ek nooit geken het nie, se graf.

Ouma had drie kinders, Anne, James en Judy. Die susters en hul gesinne het nie graf-mense geword nie. Anders as Oom James se gesin wat grafte besoek en versorg en blomme vat en op spesiale herdenkingsdae gaan geselskappies aanknoop, het Judy en Anne se gesinne geensins daarmee grootgeword nie.

Dis dan ook op Alberton, by die susters, en nie op Ficksburg, by James, dat die twee oues begrawe is. Geen steen, geen niks.

Ek onthou egter nog die bekommernis wat daar was toe ons Ouma moes inspit – hulle het Oupa glo 25 jaar van te vore aan die “verkeerde” (of minder tradisionele) kant van die dubbelgraf begrawe en daar moes met groot omsigtigheid gat gemaak word om seker te maak ons skend nie Oupa se rus nie.

As ek net kon, het ek Ouma se rus vandag geskend – ek sou wou gil en raas en skree en roep, tot ek haar aandag het, net om vir haar te sê en haar daaraan te herinner dat ek haar lief het, en Judy ook, het sy net nog geweet wie haar ma is.

No comments: