Hierdie
was my gedagtes ongeveer twee jaar gelede. Intussen het baie verander. En baie
dieselfde gebly.
Ek is ten sterkste van mening dat ‘n mens se
slegste punte of swakste kwaliteite, nege uit tien kere niks anders as daardie
mens se beste punte en sterkste kwaliteite, bloot net in die oortreffende trap
en ‘n oordrewe vorm is nie.
So funksioneer ek bv. onafhanklik en selfstandig
op my beste.
Dis nou aan die een kant, maar aan die ander kant
maak dit dat ek geen spanspeler is nie en geensins in ‘n groep kan funksioneer
sonder om elke ander lid reeds van uit die staanspoor te vervreem nie.
Daar is vir my ongelukkig net een manier, en dit
is my manier.
Ek hou Annieka vanaand terwyl ons eet weer dop.
Eers eet sy die vleis, net die vleis; dan die boneslaai en net die boneslaai;
laastens die wortelslaai.
En wat my betref is dit verkéérd, nie anders nie, nie elke diertjie
sy plesiertjie nie. Verkeerd.
Sommer-net-kos
word ‘n maaltyd as jy geure en
teksture meng, rondspeel met verhoudings en proporsies (proe-porsies?) soos jy
die happies afwissel.
Maar ek laat haar begaan. Jare nou al.
Help ek haar reg, veroorsaak dit net konflik.
Konflik van hierdie aard (daardie sort waar ek
altyd van beter weet) sentreer die laaste jaar of wat in ons huis hoofsaaklik eerder
rondom die gebruik van ‘n muis, al dan nie, kom dit by skootrekenaars.
Ek kan nie sonder ‘n muis werk nie. Die rond vryf
op ‘n paar vierkante sentimeter tassensitiewe plastiekkussing en alewige gesoek
na die cursor op die skerm frustreer
my mateloos. Ja, ek het groot hande, maar piesangtrosse is hulle waaragtig
darem ook nie.
Die verwarring, opgevolg deur eksperimentering en
dan, as jy gelukkig is, waar die left-click
van die muis op die skootrekenaar se ingeboude rot sit, dryf my teen die mure
uit. Om van die koördinasie ter sprake by ‘n scroll down nie eers te praat nie.
Dis ‘n meganies-tegnologiese gestremdheid waarin
jy jou willens en wetens, oop oë en siende blind begewe, die dag wat jy jou verbeel jy is fancy en with it om ter wille van die in
crowd jou muis te wil verruil vir ‘n rondtas in die duister.
Dis nie makliker nie, dis nie vinniger nie, dis
nie beter nie, dis nie effektiewer nie. Dis kontraproduktief. Basta met die
res.
En dis nie net ek nie. Dis so vir elke persoon wat
sonder ‘n muis aankarring en hom- of haarself wat verbeel. Ek hou vir hulle
dop. Met ‘n geïrriteerdheid en ongeduld wat maak dat jy ‘n eier in my binneste
kan kook.
Daar is seker iewers iemand wat vinniger sónder ‘n muis, as mét een, oor die weg kan kom, maar
die beslis nie een van die baie mense met wie ek al te doen gekry het.
Skuif ek, met die beste van intensies, agter ‘n
skootrekenaar in om te help is ek
onmiddellik omgeëllie as daar nie ‘n muis is nie. Hoe kan enige nugterdenkende
mens dit aan hom of haarself doen!
En ja, jy dínk dalk jy weet beter, ek wéét ek weet
beter.
En dis nie dat daar net een manier van doen is, en
dis my manier nie. Daar is inderdaad twee maniere: ‘n regte en ‘n verkeerde manier. Ek verkies
die regte manier.
Mens en muis kom reeds so ’n lang pad saam, lees ek by mieliestronk.com dat ons verwante woorde vir hom het in feitlik
alle Germaanse tale, asook Latyn, Grieks, Oud-Bulgaars, Armeens en Oud-lndies.
Dis gewis ’n woord wat voorgekom het in Oer-lndo-Europees, duisende jare
gelede, vertel ’n taalman, voordat daar sprake was van aparte taalgroepe soos
Indies, Grieks, Kelties en Germaans, laat staan nog aparte tale soos Russies,
Frans, Engels of Duits, om van Afrikaans nie eens te praat nie.
En hoe het die muis nou eintlik aan sy naam gekom? Dit weet ons nie, sê die
taalkenner. Sommige geleerdes beweer dat die ou woord mus saamgehang het met ’n woord wat "steel" beteken, en
dat die muis só genoem is as gevolg van sy diefagtige gewoontes.
Een ding wat Mus Musculus (studiendii computerensis) egter nie doen nie, dan is dit om tyd en energie
te steel.
Twee jaar
later het ek opgehou om 'n muis saam met my skootrekenaar te pendel. Ek het
geensins vrede gemaak met die froetelvlakkie hier voor onder my duime nie – ek het
bloot daaraan gewoond geraak om stadiger, onproduktief, omslagtig en
onproduktief met die rekenaareeu se apparatuur om te gaan.
As 'n skootrekenaar
nie so gerieflik was nie, het ek trouens niks van die ding gehou nie. Ek weet
byvoorbeeld nou nog nie hoe om, werk ek nie in Word nie, 'n deelteken of 'n kappie
op 'n –e te kry nie. Die e-posse (en dikwels eposse) wat ek van die skoot af
stuur het dikwels die lompste sinne, bloot net omdat ek ompaaie moet loop om
die woordjie “sê” te ontglip.
1 comment:
Schalk is ook die enigste mens wat ek ken wat NIE met 'n muis wil werk NIE. Sonder die muis is hy baie vinniger as wat ek kan droom om met 'n muis te werk, want hy ken al die 'shortcut keys'...
Vicki
Post a Comment