Oom Giel,
van oorkant die straat, het 31 Desember, in die bedding voor die huis,
getotter. Op sy knieë, op die hitte van die dag. Ek het gedink om nie nader te
staan nie.
Nie dat ons
‘n vreeslike hegte verhouding het, en ek sy gedagtes kan lees nie. Bloot goeie
buurmanskap en good fences making good
neighbours, is al tussen ons. Ses,
sewe jaar nou al.
Het ek egter
te veel vir die tertpan, dan slaan ek maar ‘n kleintjie nader en stuur dit oor.
Van daardie kant weer, die een jaar, ‘n trossie of twee Catawba’s (met ‘n blaar
of twee aan vir afronding en versiering). Is dit ‘n goeie jaar en die
lemoenboompies wat hulle met grenslose versorging in twee terra cotta potte in
die agterwerf troetel en koester, dra actually,
selfs ‘n lemoen vir die Moolmans.
Soms hak
ons vas, aan die gesels oor nuwe bure, ‘n inbraak af in die straat, maar meesal
is dit oor die honde, lief en dierbare goedjies, óf die blomme in die beding
voor die huis, ‘n lower lushof met knal spikkels bont, bykans hééljaar deur.
Met die dat
Oom Giel en Tannie Connie sonder kind of kraai meer as veertig jaar nou al in
die huis oorkant die straat woon, is hulle honde soos kinders, ís hulle honde
kinders, en die kleinkinders wat hulle nooit gehad het nie.
Na elke
afsterwe moet ons hoor nie weer nie.
Hulle twee het self nie meer soveel jare oor om nuwe honde end-uit te begelei
en versorg nie. Maar klop ons twee, drie weke later (eintlik twee, drie maande
later) is daar ‘n nuwe gevreetjies. En toe nóg ‘n nuwe gevreetjie, om die
vorige gevreetjies geselskap te hou na die afsterwe van die oudste.
Ook nie
lank nie of daar kef vyf gevrete soggens as ons na ses uitry skool toe, en Oom Giel
in sy pajamas uitkom om die koerant op te tel. Dit moet lekker wees om oud te
word, dink ek soms, hét ek al gedink: as
die ander werkwaarts keer, skoffel jy jou pantoffels onder die bed uit, gryp
die kamerjas, vryf die brakke se snoete en stap heel beleë uit om die dag se
moord en roof onder oë te kry.
En die
liefde wat oom Giel in die honde pomp, pomp Tannie Connie in haar tuin in.
Immergroen en meerjarig vir die grootste gedeelte, met die uitsondering van die
lappie fyntuin in die bedding voor in die erf. Hier kom seisoenale jaarlinge
in. Nie jaarliks nie, byna kwartaalliks, meen ek. Daar is kleur in, bykans elke
seisoen.
Met verloop
van jare het Tannie Connie die grond en Pretoria se son, wind en weer so goed
leer ken, bykans soos ‘n ma die kyk in haar kind se oë leer ken, dat sy met
tydige terug-, en ook uitknip van
blommetjies, daarin kon slaag om elkeen wat daar verbykom iets te gee om na te
kyk.
Onder haar
kenmerkende tuinhandskoentjies, waarmee sy met soveel liefde sorg in-, en oor-,
en uitplant, is haar slanke oumensvingers beslis die spreekwoordelike groen.
Sy was ‘n
mooi vrou op haar dag, het net so mooi oud geword ook. Stap jy in die gang af,
hang daar swart-en-wit-portrette uit vervloë dae, en jy kan nie anders as om
dieselfde skoonheid van die roekeloos verliefde destyds, steeds in haar gesig
en op haar vel te eien nie.
Haar hare
het sy ook nooit gesny nie, in ‘n lieflike gryse bolla begelei dit haar in haar
ouderdom in. En die meeste mans het mos nou maar een maal ‘n ding met lang
hare. Sou Oom Giel sy vrou saans dophou, as sy grys en verrimpeld, maar steeds
met grasie, daai bolla skiet gee en die silwer vag oor haar skouers skud om dit
ritmies en tydsaam uit te borsel, soos sy elke aan van haar lewe, vir hoeveel
jare nie nou al nie, doen.
Soms, net
soms, dan rafel daardie bolla uit, en hang daar sliertjies oor haar gesig
waaruit sweetdruppels teen haar wang afpêrel. ‘n Klein tuinvurkie tussen haar
vingers, sal sy dan met die rugkant van haar hand, en steeds op haar knieë, dit
eenkant toe skuif, miskien die vurkie verwissel vir ‘n grafie of
tweetand-harkie, voor sy afbuk en doen wat oumense maar doen as hulle grootse
genot daaruit put om ‘n lappie fyntuin na hul eie hand groot te maak.
Wat Oom Giel
se nering is, onthou ek nie, maar oor Tannie Connie op haar dag onderwyser was,
steek dit vas. Ook as die vroeë sewentigs se Volla Donderdae-middae by die hek
uitdreun. Dan weet ek sy is oppad na een of ander sentrum nader aan die stad
waar sy haar besig hou met volwasse onderwys van een of ander aard.
‘n Tweede
kar, en dit lyk of net Oom Giel hom mag bestuur, het hulle ook. Vir high days, holidays, Sondag se kerk en
die maand se inkopies.
Kyk ons die
twee so, want ons kuier meer oor en weer met die oog, as met die voet of die
mond, moet dit ‘n lieflike oudword saam wees. Lieflik, maar ook opwindend, want
soms is dit vir weke, partykeer maande, stil. Dan hoor ons die een, soms beide,
was oorsee. Rusland toe op hul oudag, en ander vreemde ver plekke wat daarvan
getuig dat hulle die toeristeroetes in hul jonger dae platgetrap het, en nou ag
slaan op die roepstem van die minder alledaagse.
Soos ek,
vind ons later uit, maak Oom Giel die kos in die huis. Tannie Connie sorg vir
die res, soos Annieka. Ook dit gee ons twee mans geleentheid tot ‘n vreemde bonding, terwyl Annieka en Tannie Connie
weer aan die gesels en liefderyk aan die skinder gaan oor hoe min die mans
doen.
En toe, vir
die eerste keer in seker ses maande, 31 Desember, totter Oom Giel in die
bedding voor die huis, Op sy knieë, op die hitte van die dag. En vir ‘n oomblik
is dit asof ek Tannie Connie sien. Wag ek vir haar om op te kyk, die
sweetsliertjies uit haar bolla met die rugkant van haar hand weg te vee, voor
sy die harkie of grafie ruil vir die vurkie.
Ek het
gedink om nie nader te staan nie. Nie dat ons ‘n vreeslike hegte verhouding
het, en ek sy gedagtes kan lees nie. Dis net dat Tannie Connie hom ses maande
vroeër, skielik en onaangekondig, voorgegaan het.
Hulle was
besig om die hele huis te verf. Van die kerk se susters het kom help om die
gordyne wat algar af was, weer op te hang. Die nuwe dubbelbed, klaar betaal en
geskeduleer vir aflewering die middag van haar begrafnis, kon Oom Giel ongedaan
maak.
Kort daarna
was daar boomsloping op die werf, nuwe sementpaadjies om die huis, en gelukkig
is die palisade wat in die eerste maand na haar dood aangebring is, Tannie Connie
gespaar. Hulle huis is die enigste een in die straat, ek dink amper die hele
uitbreiding, wat ‘n oop erf (gehad) het. Connie het geweier om ingehok te wees.
Struike waaragter booswigte kon wegkruip (daar was ‘n eenmalige insident) is
verwyder, teen heinings en tralies en mure en hokke het sy vas bly skop.
Ten spyte
van die palisade sien ek ook ‘n nuwe alarmstelsel, en die treffend-eenvoudige
groepering van suurlemoene, “Nog soos Connie dit ingesit het,” roep haar nie
meer op die koffietafel in die formele sitkamer, so skel en onmiddellik in
herinnering nie.
Maar haar
bedding het hy gelos. En gelos. En vir nog ‘n maand, later ses maande, gelos.
Daar was later net swart stoppels, maar die bedding het braak bly lê.
En toe 31
Desember, totter Oom Giel in die bedding voor die huis, op sy knieë, op die
hitte van die dag. En vir ‘n oomblik is dit asof ek Tannie Connie sien, ‘n
déjà-vu toe hy opkyk en met die rugkant van sy hand oor sy gesig vee. Maar dit
was nie om die sweet nie, ook nie oor sy voorkop nie, maar om sy oë, asof ‘n
nukkerige wind stof en sand in sy oë gewaai het.
Lank het
daar gesit, onbeholpe en lomp gevroetel in die grond. Later sommer net gesit
omdat sit, sit is.
En of dit
met homself was, wat hy die heeltyd gepraat het, weet ek nie. Ek het gedink om
nie nader te staan nie.
En hoe
lekker sou dit nie vir my wees nie (ek het heel Nuwejaar uitgekyk) om hom ‘n
dag of wat later weer om sy knieë te ontmoet, besig met saailinge van een of
ander aard. Ek sou oorstap en ons sou gesels, lank, en lekker, en nie oor die
honde nie. Miskien sou hy selfs ‘n traantjie pink. Maar waar trek ons nou al?
Week twee, drie van die nuwe jaar. En steeds lê die bedding braak.
No comments:
Post a Comment