Of is dit
Essa op Alma se lekker jellie van Hans?
Dit maak
seker nie saak nie, want óf jy hou van jellie, óf jy hou nie van jellie nie.
Daar’s meer
grootmense wat nie van jellie hou nie, as wat daar is wat wel van jellie hou.
Ek sal my mangels jaarliks van vooraf laat uithaal, as ek tog net elke keer
weer ‘n bakkie hospitaaljellie kan kry.
Met die dat
retro so in is onder die kinders en hulle deesdae te vertelle loop dat hulle
alles van ABBA weet nadat hulle ouers hulle saamgesleep het na die teater toe
en hulle ‘n jaar later weer die fliek gaan kyk het, nadat hulle nie meer kan
wag om, nie ‘n foam party nie, maar
‘n kaskarwedren by die skool aangebied te kry nie, wil ek tog kyk of ons hulle
nie die lekkerte van ‘n retro-kermis
kan bied nie.
Die
tegniese skool, net op van ons in die straat, het destyds hul kermis jaarliks
op 31 Mei gehou. Maar die is ook nou nie meer ‘n vakansiedag nie en ons sal
moet settle vir Vroue- of Sowetodag.
En dan
praat ek nie van ‘n Entrepreneurs- of markdag nie, ek praat van ‘n KERMIS
waarvoor die hele skool al teen Donderdag tot stilstand kom. Elke klas het sy
eie stalletjie en Mammas en Pappas verkoop spesiaal gedrukte groen en pienk
geldkaartjies deur een van die klaskamervensters.
Elke kind
sal vir weke lank elke dag pienk olifantjies van die huis af bring — vir
Tombola en vissievang. En skyfskiet en veerpyltjies. Ons sal ook wag tot net
voor toemaaktyd voor ons die blink rooi fiets se gelukkige nommer in die
tombola-balie gooi. Dalk maak ons dit dertig jaar later net ‘n ‘n i-pod of kry
ons iewers ‘n te wen
Dit maak
nie saak nie, ook nie die sosaties, lucky
draws, reuse pannekoekbak-kontrepsies en vetkoek en mince nie; wat saakmaak is die bazaar-poeding. Ek glo, en hoop, jy
kry dit nog iewers in ons land. Ongelukkig het selfs kerkbasaars in Pretoria en
omgewing dit al vir jare nie meer nie, wat nog te sê die verskonings vir
kermisse wat die skole hier rond deesdae aanbied.
In elke
plêstiekbakkie dan drie kleure jellie, ‘n skeppie of twee instant pudding en home made
custard om mee af te rond. Iewers sal iemand darem seker onthou om ‘n boudoir biscuit en ‘n skeppie fruit cocktail in te werk, as ons
gelukkig is dalk ook een van daai konkoksies wat crushed pineapple, ideal melk en jellie ingekry het. Van die mammas
wat hul kinders in 4X4’s aflaai, of laat aflaai, sal seker boksies vla en ander
vooraf bereide goedjies van Woolworths stuur, maar dit maak nie saak nie, jy
kan mos jou eie bakkie kies en sal my oë oophou vir heulweltjies drillerige
groen en geel en rooi jellie.
Die eerste
jellie wat ek self gemaak het was ‘n flop. Dit getuig dat ek van kleinsaf
waagmoed in die kombuis openbaar het en nie bang is om te eksperimenteer nie,
maar nogtans was dit een van my minder suksesvolle kombinasies.
Muesli het
daardie jare net in Suid-Afrika aangekom, en dit was vir my, o, so lekker.
Daarom dat ek dit goed gedink het om hierdie lekker met die ander lekker van
jellie te meng.
Wat ek vyf
en dertig jaar later die duidelikste onthou is ek nie seker nie; of die
walglike smaak en botsende teksture, of my ma se ergernis oor ek so met die
muesli gemors het.
Jare later
sou jellie van vonkelwyn, jellies van kersiesap en allerhande ander stuitighede
kom.
Maar die
lekkerste jellie, ooit, het ek by Tannie Essa, op Alma in die omgewing van die
Waterberge, leer eet. ‘n Eenvoudige, gestroopte jellie, sonder fieterjasies en
tierlantyntjies. Nie net leer eet nie, maar ook fluks leer maak, nadat sy die
resep met my gedeel het. Essa is nie die tipe bobaas-kok wat reseppies in ‘n
boek opgesluit hou en ás sy een deel, dan ‘n ingrediënt uitlaat of hier en daar
‘n 0 agter ‘n maat byvoeg of weglaat nie. So lekker soos dit vir haar was om
vir jou kos te maak, so lekker was dit vir haar om ‘n resep te kan deel.
So onthou
ek haar. Of sy nog leef, weet ek nie. Ons het kontak verloor, maar ek het onder
vriende wat van jellie hou vir myself naam gemaak met haar reseppie. Kom kuier
party ‘n jaar of wat later, dan is daar ‘n spesiale versoek vir daardie jellie.
Net jammer
daar is so min mense wat van jellie hou. Ek het dit hoogstens een keer ‘n jaar
gemaak. En daar verloor ek die resep. (Nie dat ‘n mens ‘n ding soos ‘n resep
verloor nie — ek het dit seker maar onwetend weggegooi.)
Nie dat dit
my gekeer het om haar jellie te maak nie. Ek het selfs in my resepteboek (die
een in haar pa se eie handskrif wat Klaradyn eendag gaan erf) ‘n resep onder
die opskrif Alma-jellie. Maar ‘n resep is dit ook nie, letterlik net die
bestanddele soos ek dit onthou:
lemoensap, naeltjies, sjerrie, kaneelstokkies, water, gelatien, en in
hakies, room. G’n ding soos custard,
nie eers home made, saam met hierdie
jellie nie — room, ongeklop, ongesuiker en asseblief tog onge-vanilla.
Ja, ek loer
in boeke, deurkruis die internet, verslind die vrouetydskrifte in die dokter se
spreekkamer, maar ek kry niks wat vaagweg herinner aan Tannie Essa se
Alma-jellie nie.
So krap ek
‘n jaar of twee, drie gelede deur laaie en kaste en kom op ‘n ou telefoonboek
uit die 1980’s af. Daar’s ‘n nommer Alma toe en ek bel. Wonders bo wonders bly
Tannie Essa-hulle steeds daar, op pad na ‘n aftree-woonstel en het ek twee
maande later gebel sou ek hulle nie in die hande kry nie.
Ja, sy
onthou my. Nee, sy onthou niks van die jellie nie, maar ek moet oor ‘n week
weer bel, dalk spoor sy dit op.
Ek bel,
omtrent op die minuut, presies ‘n week later weer. Nee, niks opgespoor nie,
maar dis mos maklik om jellie te maak. Sy vat sap waarvoor sy lus is, iets met
alkohol in, en of dit nou sjerrie, port, of brandewyn is, maak nie saak nie.
Dan kom daar kruie by, suiker en gelatien.
Soos die
bestanddele daardie kant genoem word, tik ek dit hierdie kant in my kookboek
af.
En ja, ek
kan kosmaak sonder mates en hoeveelhede en gewigte, ek weet selfs ‘n mens kan
nie muesli en jellie meng nie, maar dis nou vyftien jaar laas dat ek Tannie
Essa se jellie gemaak het dat dit proe soos Tannie Essa dit gemaak het: die lekkerste jellie ooit.
En ek maak
vrede daarmee dat Essa se jellie saam met haar in haar graf sal in en dat alle
jellie wat ek tot my sterfbed gaan eet, nie naby haar jellie gaan kom nie.
Dis nou tot
my ma-hulle self oornag uit die woonstel na ‘n versorgingseenheid moet gaan.
Kookboeke kom na Hans toe, en daar, op soek na Tannie Connie se
grondbootjiebotterkoekies-resep, in my ma se handskrif staan dit, eenvoudig,
gestroop, sonder tierlantyntjies en allerhande fieterjasies: Hansie
se lekker jellie. (Het ek selfs by my eie ma gaan ploeg met ‘n ander vrou
se kalwers?)
750 ml
lemoensap
250 ml brandewyn — of sjerrie
12 naeltjies
lemoenskil gerasper
2 kaneelstokkies
60 ml gelatien
1¼ l koue water
250 — 750 ml suiker
(bedien met room)
250 ml brandewyn — of sjerrie
12 naeltjies
lemoenskil gerasper
2 kaneelstokkies
60 ml gelatien
1¼ l koue water
250 — 750 ml suiker
(bedien met room)
Toe onthou
ek hoe ‘n glinster in haar oog Tant Essa kon kry as sy kosmaak. Toe bel ek
dadelik. Maar ek was te laat, die nommer het daai láááng besettoon gegee, wat
aandui die nommer bestaan nie meer nie.
Maar as sy
in haar graf is, weet ons nou ten minste dis nie saam met haar jellie-resep
nie. Ek en my skoonpa eet Kersfees jellie met room. Wat die res van die familie
eet, skeel my min.
Intussen uitgevind Essa leef nog. Intussen gereeld weer die jellie gemaak. Ek verkies die minder suiker.
No comments:
Post a Comment