Dit gebeur miskien vier keer ‘n jaar
dat ek my debietkaart uithaal om ‘n boek te koop en vra die persoon agter die
kasregister “cheque or savings” dan
is my antwoord klokslag “overdraft”.
Annieka dink geensins dis snaaks nie; ek reken many a true word spoken in jest. Die tannies wat elders as by die boekwinkel die till slaan, staar my gewoonlik natuurlik bloot sonder enige begrip aan, herhaal die vraag en reageer slegs op iets wat klink soos tjack of sywiengs.
Annieka dink geensins dis snaaks nie; ek reken many a true word spoken in jest. Die tannies wat elders as by die boekwinkel die till slaan, staar my gewoonlik natuurlik bloot sonder enige begrip aan, herhaal die vraag en reageer slegs op iets wat klink soos tjack of sywiengs.
Die juffie by die Spar het al op navraag laat val dat daar inderdaad
mense is wat “spaar” of “savings” meld as sy hulle vra watter
knoppie sy moet druk om die transaksie te voltrek; iets wat ek my in vandag se
tyd en dae nie kan voorstel nie.
Maar ander mense se boeke is vir my duister.
Ek werp dan maar self lig oor mý pas afgelope naweek:
Ek het hierdie naweek, Vrydag om
presies te wees, vir die heel laaste keer in my lewe die spitsverkeer uit
Pretoria middestad aangepak. Nooit weer nie.
Ek is vyfuur uit Skinner, regs in
Paul Kruger (voor ek kon keer), toe links (om die plein te mis) en regs (om oor
Kerk te kom) en toe regs in Vermeulen.
Dit het my ‘n uur geneem, waarmee ek
nie ‘n probleem het nie. Dis net dat ek in daardie uur my lewensperk met ses
jaar verkort het, my bloeddruk die hoogte in gestuur het, kort duskant
hartversaking, trombose en ‘n koronêr gaan draai het, én in die proses woorde
voor my kind gebruik het wat ek van ganser harte hoop nooit weer, al word sy
ook een honderd en twintig jaar oud, haar oordromme sal bereik nie.
In die sewentiger jare van die
vorige eeu (toe ‘n mens nog op ‘n Vrydagmiddag De Bruynpark toe kon gaan vir ‘n
heen-en-weertjie) was daar ‘n Love is…-gier wat die hele destydse Suid-Afrika beet
had. Kaartjies en bekertjies en plakkate en boekies en goedjies.
Die meeste lesers behoort dit te
onthou. Dit was altyd so seun en meisie op die illustrasie. Links bo was dit
dan Love is… en regs onder was dan
die verklaring van wat liefde is: giving him coffee in bed, pretending you didn’t hear, telling her you
care of wat ook al die geval mag wees.
Nou Vrydagmiddag sesuur op die
kruising van Proes en Bloed (en ek weet hulle kruis nie, ek weet ek was blokke
daarvan, maar vir my het dit gevoel of ek my kort voor die wegraping in Lagos
bevind, waar Proes en Bloed maklik kan kruis) ‘n nuwe toevoeging tot die Love is…-repertoire gevoeg: Love is taking your daughter to the ballet
at the Unisa Little Theatre and getting her there and back.
Dit het Vrydagmiddag sesuur nie
presies so geklink nie, maar synde dit nou Sondagmiddag is dat ek tot verhaal
kom, het ek ‘n paar beskrywende woorde wat nie by die wese van ‘n Sondagmiddag
pas nie, verwyder.
In my geval is die “at the Unisa Little Theatre and getting her
there and back” eintlik ook al oorbodig. Love is... taking her to the
ballet is in my geval al boordensvol liefde waarvoor Klaradyn my in ruil
vir die res van haar lewe elke oggend koffie in die bed kan aandra.
Vir mense wat begin sing as hulle
voel hulle gaan dood en dan inderdaad vir die volgende vyftien minute al
singende sukkel om dood te gaan, het ek nog nooit geval nie. Om van mense, wie
ek my moet verbeel nie mense is nie maar swane, wat op hul tone begin dans, nie
eers te praat nie.
Ek het tyd vir baie fynere en hogere
dinge in die lewe, maar opera en ballet is nie twee daarvan nie, was nog nooit
gewees nie en sal ook nooit wees nie.
Maar so kry Annieka drie kaartjies
vir ‘n balletkonsert in die Klein Teater. Drie kaartjies, nie vir Mamma, Pappa
en Klaars nie, nee, drie kaartjies vir Pappa, Klaradyn en ‘n maatjie — Mamma
werk laat.
Ek raak in flieks deurmekaar as die
held en die skurk beide donker hare het omdat ek sin van ‘n riller maak deur
myself in te prent “goeie ou het donker hare”, “slegte ou het ligte hare”. Met
die bietjie sin wat ek gemaak het van die sinopsis in die program voor die
ligte uitgedoof het, was die sigeunerin tot die diep in die tweede helfte die
prinses, ek het die ridder op die wit perd verwar met die booswig vir ‘n broer
wat die hele komplot smee, en wie ek gedog het die fairy god mother was, was toe al die tyd die bose fee.
Dat selfs Klaradyn my in die oor
moet fluister dat die storie wat ek haar heeltyd in die oor fluister nie sin
maak nie.
Maar in soverre ek dit saam met my
kind kon geniet, was dit heerlik. Die musiek was mooi, die kostuums pragtig en
selfs die uitgerekte grand pas aan
die einde nie te sieldodend nie. In sy geheel eintlik sielsverrykend.
Wat toe nou alles, en nog meer, in die
uur na afloop van die konsert op die pad terug, versondig, geknak en hel toe
gestuur is sonder enige sprake van retoer.
Saterdag is opgeslurp in die skool
se jaarblad wat Woensdag deo volente drukkers
toe gaan.
Klaradyn sien al van Woensdag uit na
Saterdagaand wanneer sy by Ouma-hulle gaan slaap, want Pappa-hulle gaan uit vir
ete. Hierdie ete van ons is toe nou Vrydag kanselleer vanweë die weer.
Ook ‘n vreemde kansellasie gewees
want volgens my sou ons nie braai nie, maar skaapboud geniet. Maar dit nou
daargelaat, skielik het ek en Annieka ‘n Saterdagaand alleen op ons — jy kan
nie vir die kind sê sy slaap nie meer
uit nie. Nie vir solank Ouma en Oupa nog die smartste peanut in die pakkie is nie. Die fase gaan glo verby, so
ons gebruik maar die dividende solank dit nog hou.
Ek Martha
& Martha hier van vyfuur af, wat Annieka toe Julia & Juliet (of so iets) maar op die ou einde val die lot op
Last chance Harvey. Vir my om het ewe,
wat Meryl Streep aan my doen, doen Emma Thompson haar dit presies na, en anders
om.
Egter nie ballet, of die fliek, die
heerlike aand saam met Annieka of selfs die fillet, wat my uit die bed op het
om te kom klets nie, maar die boek wat ek raakgeloop het, en sonder om een
oomblik te aarsel, aangekoop het. Nie my vierde vir die jaar nie, nou maar eers
my derde.
Die naam van die boek het my dadelik
getrek. Die voorblad in ‘n mindere mate. Toe ek sien Hennie Aucamp is iewers
betrokke was dit as het ware ‘n uitgemaakte saak. Ek het die rugkant ge-scan, Aucamp se voorwoord gevluglees en
toonbank toe gestap sonder om selfs na die prys te kyk.
Roekeloos ek weet. Maar dis net eenvoudig
‘n boek wat ek moet hê.
En ek was nog nie een oomblik spyt nie.
Die enigste spyt wat ek het is die feit dat ek nou hier sit en blog terwyl ek
wil gaan lees.
Ek haas my. Dis Versamelde Boesmanstories 1, saamgestel deur G.R. von Wielligh, vir
die eerste keer uitgegee in 1919 en 1920. (Twee van sy vier boeke met
Boesmanstories, word hier as een aangebied.)
O, wat ‘n heerlikheid.
Ek salueer Protea vir die waagmoed wat hulle keer op keer aan die dag lê, vir
dit wat hulle vir Afrikaans beteken. Hoe hulle dit regkry wil ek nie weet nie,
sal ek nie weet nie.
Die taal is aangepas en ek lei af
van pejoratiewe gesuiwer. Dit lees gemaklik en is toeganklik.
Dis, soos in my geval, bloot ‘n boek
wat jy net eenvoudig moet hê. Of nooit sal koop nie.
Bly weg as jy hom nie moet hê nie.
Maar klim nou in jou kar en gaan koop of bestel hom, as jy weet jy moet hom hê.
No comments:
Post a Comment