21.11.11

Kollig op die naweek

Dit gebeur miskien vier keer ‘n jaar dat ek my debietkaart uithaal om ‘n boek te koop en vra die persoon agter die kasregister “cheque or savings” dan is my antwoord klokslag “overdraft”.

Annieka dink geensins dis snaaks nie; ek reken many a true word spoken in jest. Die tannies wat elders as by die boekwinkel  die till slaan, staar my gewoonlik natuurlik bloot sonder enige begrip aan, herhaal die vraag en reageer slegs op iets wat klink soos tjack of sywiengs.

Die juffie by die Spar het al op navraag laat val dat daar inderdaad mense is wat  “spaar” of “savings” meld as sy hulle vra watter knoppie sy moet druk om die transaksie te voltrek; iets wat ek my in vandag se tyd en dae nie kan voorstel nie.

Maar ander mense se boeke is vir my duister.

Ek werp dan maar self lig oor mý pas afgelope naweek:

Ek het hierdie naweek, Vrydag om presies te wees, vir die heel laaste keer in my lewe die spitsverkeer uit Pretoria middestad aangepak. Nooit weer nie.

Ek is vyfuur uit Skinner, regs in Paul Kruger (voor ek kon keer), toe links (om die plein te mis) en regs (om oor Kerk te kom)  en toe regs in Vermeulen.

Dit het my ‘n uur geneem, waarmee ek nie ‘n probleem het nie. Dis net dat ek in daardie uur my lewensperk met ses jaar verkort het, my bloeddruk die hoogte in gestuur het, kort duskant hartversaking, trombose en ‘n koronêr gaan draai het, én in die proses woorde voor my kind gebruik het wat ek van ganser harte hoop nooit weer, al word sy ook een honderd en twintig jaar oud, haar oordromme sal bereik nie.

In die sewentiger jare van die vorige eeu (toe ‘n mens nog op ‘n Vrydagmiddag De Bruynpark toe kon gaan vir ‘n heen-en-weertjie) was daar ‘n Love is…-gier wat die hele destydse Suid-Afrika beet had. Kaartjies en bekertjies en plakkate en boekies en goedjies.

Die meeste lesers behoort dit te onthou. Dit was altyd so seun en meisie op die illustrasie. Links bo was dit dan Love is… en regs onder was dan die verklaring van wat liefde is:  giving him coffee in bed, pretending you didn’t hear, telling her you care of wat ook al die geval mag wees.

Nou Vrydagmiddag sesuur op die kruising van Proes en Bloed (en ek weet hulle kruis nie, ek weet ek was blokke daarvan, maar vir my het dit gevoel of ek my kort voor die wegraping in Lagos bevind, waar Proes en Bloed maklik kan kruis) ‘n nuwe toevoeging tot die Love is…-­repertoire gevoeg:  Love is taking your daughter to the ballet at the Unisa Little Theatre and getting her there and back.

Dit het Vrydagmiddag sesuur nie presies so geklink nie, maar synde dit nou Sondagmiddag is dat ek tot verhaal kom, het ek ‘n paar beskrywende woorde wat nie by die wese van ‘n Sondagmiddag pas nie, verwyder.

In my geval is die “at the Unisa Little Theatre and getting her there and back” eintlik ook al oorbodig. Love is... taking her to the ballet is in my geval al boordensvol liefde waarvoor Klaradyn my in ruil vir die res van haar lewe elke oggend koffie in die bed kan aandra.

Vir mense wat begin sing as hulle voel hulle gaan dood en dan inderdaad vir die volgende vyftien minute al singende sukkel om dood te gaan, het ek nog nooit geval nie. Om van mense, wie ek my moet verbeel nie mense is nie maar swane, wat op hul tone begin dans, nie eers te praat nie.

Ek het tyd vir baie fynere en hogere dinge in die lewe, maar opera en ballet is nie twee daarvan nie, was nog nooit gewees nie en sal ook nooit wees nie.

Maar so kry Annieka drie kaartjies vir ‘n balletkonsert in die Klein Teater. Drie kaartjies, nie vir Mamma, Pappa en Klaars nie, nee, drie kaartjies vir Pappa, Klaradyn en ‘n maatjie — Mamma werk laat.

Ek raak in flieks deurmekaar as die held en die skurk beide donker hare het omdat ek sin van ‘n riller maak deur myself in te prent “goeie ou het donker hare”, “slegte ou het ligte hare”. Met die bietjie sin wat ek gemaak het van die sinopsis in die program voor die ligte uitgedoof het, was die sigeunerin tot die diep in die tweede helfte die prinses, ek het die ridder op die wit perd verwar met die booswig vir ‘n broer wat die hele komplot smee, en wie ek gedog het die fairy god mother was, was toe al die tyd die bose fee.

Dat selfs Klaradyn my in die oor moet fluister dat die storie wat ek haar heeltyd in die oor fluister nie sin maak nie.

Maar in soverre ek dit saam met my kind kon geniet, was dit heerlik. Die musiek was mooi, die kostuums pragtig en selfs die uitgerekte grand pas aan die einde nie te sieldodend nie. In sy geheel eintlik sielsverrykend.

Wat toe nou alles, en nog meer, in die uur na afloop van die konsert op die pad terug, versondig, geknak en hel toe gestuur is sonder enige sprake van retoer.

Saterdag is opgeslurp in die skool se jaarblad wat Woensdag deo volente drukkers toe gaan.

Klaradyn sien al van Woensdag uit na Saterdagaand wanneer sy by Ouma-hulle gaan slaap, want Pappa-hulle gaan uit vir ete. Hierdie ete van ons is toe nou Vrydag kanselleer vanweë die weer.

Ook ‘n vreemde kansellasie gewees want volgens my sou ons nie braai nie, maar skaapboud geniet. Maar dit nou daargelaat, skielik het ek en Annieka ‘n Saterdagaand alleen op ons — jy kan nie vir die kind sê sy slaap nie meer uit nie. Nie vir solank Ouma en Oupa nog die smartste peanut in die pakkie is nie. Die fase gaan glo verby, so ons gebruik maar die dividende solank dit nog hou.

Ek Martha & Martha hier van vyfuur af, wat Annieka toe Julia & Juliet (of so iets) maar op die ou einde val die lot op Last chance Harvey. Vir my om het ewe, wat Meryl Streep aan my doen, doen Emma Thompson haar dit presies na, en anders om.

Egter nie ballet, of die fliek, die heerlike aand saam met Annieka of selfs die fillet, wat my uit die bed op het om te kom klets nie, maar die boek wat ek raakgeloop het, en sonder om een oomblik te aarsel, aangekoop het. Nie my vierde vir die jaar nie, nou maar eers my derde.

Die naam van die boek het my dadelik getrek. Die voorblad in ‘n mindere mate. Toe ek sien Hennie Aucamp is iewers betrokke was dit as het ware ‘n uitgemaakte saak. Ek het die rugkant ge-scan, Aucamp se voorwoord gevluglees en toonbank toe gestap sonder om selfs na die prys te kyk.

Roekeloos ek weet. Maar dis net eenvoudig ‘n boek wat ek moet hê.

En ek was nog nie een oomblik spyt nie. Die enigste spyt wat ek het is die feit dat ek nou hier sit en blog terwyl ek wil gaan lees.

Ek haas my. Dis Versamelde Boesmanstories 1, saamgestel deur G.R. von Wielligh, vir die eerste keer uitgegee in 1919 en 1920. (Twee van sy vier boeke met Boesmanstories, word hier as een aangebied.)

O, wat ‘n heerlikheid.

Ek salueer Protea vir die waagmoed wat hulle keer op keer aan die dag lê, vir dit wat hulle vir Afrikaans beteken. Hoe hulle dit regkry wil ek nie weet nie, sal ek nie weet nie.

Die taal is aangepas en ek lei af van pejoratiewe gesuiwer. Dit lees gemaklik en is toeganklik.

Dis, soos in my geval, bloot ‘n boek wat jy net eenvoudig moet hê. Of nooit sal koop nie.

Bly weg as jy hom nie moet hê nie. Maar klim nou in jou kar en gaan koop of bestel hom, as jy weet jy moet hom hê.

No comments: