Dis weer daardie tyd van die jaar. Nie dat dit vir
hedendaagse leerders naastenby so lekker kan wees soos wat dit destyds vir ons
wat uit die oertyd dateer, was nie.
Ons het skelm briefies geskryf; hulle SMS en Mxit. Die
opwinding en adrenalien, nie net om jou briefie te skryf nie, maar ook sy
vordering met groot afwagting te volg tot by die geadresseerde (en by party
onnies kon dit tot solank as vyf minute, wat soos derig minute gevoel het,
duur) is net soveel meer, as om die risiko te loop dat jou selfoon konfiskeer
word.
By “lekker onnies” kon jy “battle ship” speel. Ek glo egter
hierdie speletjie se naam het van skool tot skool verskil — ek verwys na die
pen wat jy so geskiet het oor die vel papier om een of ander doel te bereik.
Dan het ons ook blokkiespapier gebruik en beurtelings strepies getrek in ‘n
poging om soveel as moontlik geslote blokkies agter jou naam te kan skryf. Ons het ge-name-vanne-diere-dorpe
en ge-tic-tac-toe (maar vir ons was
dit sommer knôts en crôsses, wat later naughts and crosses geword het).
Niks daarvan vandag
nie. Nie eers moderne eweknieë soos om die tyd te verwyl met i-pods of game boy nie.
Hoërskoolkinders
vandag het mos nou van graad 8 af bloktyd,
‘n woord wat toentertyd net tot die woordeskat van die matrieks beperk was.
Verby is die dae en ure lange sessies waarin die leerders in ‘n klas gejaag is
en nie kon wag om te sien wie die volgende onnie gaan wees wat hulle kom oppas
nie. Elke onnie het sy eie grens gehad en elke kind het hierdie ongeskrewe
grens nougeset eerbiedig.
Dit kan nie meer
lekker wees nie.
So tussen die speel
het jy as bonus nog geleer gekom. Vandag moet die kinders opleiding kort
duskant arbeidsterapie ondergaan om te leer om te leer. Verbasend hoe vinnig
ons geleer het om te leer, toe dit net jy en jou boek en ‘n meneer wat nie gaaf
genoeg was om ‘n bynaam te hê nie, vir dertig minute in mekaar se geselskap
was.
Nie net die
vaardigheid om te leer is met die badwater uitgegooi nie. Ook die fyn kuns om
‘n sparkle (en as jy ‘n grootmeester
was, selfs ‘n pakkie tjips) muisstil
van onder die bank oop te maak, het saam met die koms van bloktyd verlore
geraak. Net so die vermoë om ‘n appelkosie (of wat ook al dit is waarmee jy
voor skool by die Griek-op-die-hoek opge-stock
het) met ‘n perfekte poker face te
suig tot daar van hom net ‘n asempie oor is.
Ook jammer dat
leerders en onderwysers mekaar nie meer op hierdie vlak ontmoet nie. Ek onthou
die heerlikste gesprekke en ligsinnighede tussen ons en die onnies destyds. My
kunsjuffrou, onthou ek, het my tydens so
‘n toesigsessie tot selfkennis gedwing. Sy wou hier teen die einde van ‘n lang
en warm sessie weet wie van ons eet om te leef, en wie van ons leef om te eet.
Haar ernstige opvatting was dat ‘n mens moet eet om te leef. En ek het destyds
tot die skokgevolgtrekking gekom dat ek leef om te eet. Tot vandag toe.
Dan was daar die
ander Meneer wat altyd die tydskrif, wat hy agter ‘n lêer weggesteek het, so dwars gedraai het, as hier by die middel
kom, om die indruk te skep dat hy deur ‘n Scope
blaai en besig is om die centre fold na waarde te skat.
Nie dat jy die
onnies kan blameer dat hulle hulself en ons begin vermaak het nie. Die gebrek
aan bloktyd was sekerlik vir hulle ‘n groter straf as vir ons.
Wat doen jy as jy
nou klaar die teëls/ligte/vensters/panele getel het, die leerders wat links
skryf opgespoor het, gesien het wie se ore vuil is, gekyk het wie se naels
swart is, die treë afgetel het, tot by 6 784 getel het, die dogters uitgekyk
het, besluit het wie se hande is die grootste/mooiste/slankste/harigste,
presies weet wie het skoolskoene volgens die skoolreëls aan en wie nie,
opgespoor het wie se voete so stink én die ellendige klok wil stééds nie lui
nie?
Een of ander
matriek hier by ons het vanjaar vir ‘n heerlike afwisseling gesorg.
Bykans elke skool
het sy rye en rye foto’s, en dikwels in die saal. Waar die matrieks eksamen
skryf. By ons is dit nie die ministers en presidente nie. Nie so gewees onder
die ou regime nie, ook nie onder die nuwe een nie. By ons is dit vyf en veertig
jaar se Springbokke, Junior Springbokke en wat hulle ook al vandag in die
onderskeie sportsoorte genoem word.
Hierdie mak mielie,
en wie hy is, weet ons nie, steel toe een van die foto’s en vervang dit met ‘n
foto van die skool se hekwag wat al as ‘n geliefde rekwisiet onder die leerders
geag word. Adam het al met groot seremonie en afskeid uit diens getree, maar
die beheerliggaam het hom so ‘n paar maande later heraangestel. Onder hierdie ou
Adam, se gesig is ook die naambordjie
aangebring: Arthur Mills. En Arthur
Mills het nasionale kleure in skaak verwerf.
En daar hang Arthur
Mills, sommer so in sy blou oorpak afgeneem, en tuur oor die swoegende en
swetende matrieks.
Die wat weet, hou
die ander dop om te sien of hulle iets agterkom. Almal wat met ‘n giggel
regsitreer, stem ooreen om dit nie aan die groot klok te hang nie, want vind
die skool se beskermheer van hierdie foto’s dit uit, spoil hy beslis die kind, en die onnies se sports.
Was dit nou vir jou 'n
aanpassing vir die voormalige model C-skole! Dis nou die skole, soos ons, wat hulle by die letter van die wet hou; daar is die skole wat bloot net maak wat hulle wil.
Soos ek dit het, stuur
die oorgrootte getal ouers egter bloot nie hul kinders skool toe op die dae wat hulle
nie skryf nie.
Wat in die townships, én in die skole én op straat, aangaan, weet ek egter nie.
Iewers het iemand te vertelle gehad dat die Ontvangs- of Receiving-jaar (vandaar graad R of O, in plaas van "nul") wat verpligtend ingestel is, maar allermins nie orals realiseer nie, ook 'n edel poging is om die kleintjies wat bedags ouerloos gelaat is omdat die ouers werk, van die straat af in 'n struktuur te kry.
Maar of dit die waarheid is, en of dit sommer 'n storie met sy wortels in die een of ander vorm van rassisme is, sal ek nie weet nie.
Dis 'n baie edel gedagte, maar daar word nie geld ingepomp nie. Klaradyn se skool was verplig om graad O-klasse te implementeer, maar het vir jare nie 'n sent gekry om die onderwysers in daardie klasse te betaal nie.
No comments:
Post a Comment