12.11.11

Ontheemde(?)


Nie sommer op ‘n Saterdag nie, selde indien ooit op ‘n weeksdag, maar Sondae, veral Sondae, voel ek soos ‘n banneling uit Europa.

Iemand het gesing van being “An alien in New York” en ek kan die verkeerde woorde en titel in my kop hê — dis heel moontlik — maar baie Sondae voel ek soos ‘n alien in Africa, weet ek, ek is niks anders ‘n settler nie. ‘n Settler wat jare reeds ín hom die bullet ronddra, sonder dat een of ander commerade dit op hom hoef te rig, of deur hom toe moet stuur.

Sondae wil ek met die eerste beste bus of tram na die naaste metro met my vrou en kind en park toe gaan met ‘n piekniekmandjie, museum toe gaan, plaza toe gaan, tuine toe gaan met die fietse wat ons saamry, opelugkonsert toe gaan, mark toe gaan, enige plek toe gaan.

Ek wil nie op ‘n Sondag wakker word en moet onthou selfs die prostitute waag dit nie meer in Burgerspark nie, Lorinda-hulle is al vier, vyf jaar gelede in Magnoliadal met messe aangeval en gewond tydens hulle piekniek reg langs die restaurant nie. Fonteine is ‘n plakkerskamp, Sunnyside het oorgespoel Roostuin toe, die Streekspark huisves hawelose Nigeriërs, en by die Uniegebou-tuine is die Slegs Blankes/Whites Only-bordjies verhang met ongeskrewe, onsigbare kennisgewings van anonieme antonieme aard.

En in elk geval, sou ek wel kon gaan, wil ek met die bus, tram of metro, maar dit het met SA net te goed gegaan destyds toe hierdie infrastrukture in plek moes kom, en vandag is dit te laat, het dit te duur geword.

Die bus is ‘n moontlikheid, maar nie op ‘n Sondag met sy afwesige busvervoer nie, en dan ook net tot in die middestad vir ‘n koffie by Café Rio, die oudste koffiehuis in Pretoria, reg langs die historiese Kerkplein.

Maar ons het dit al gedoen, ons doen dit jaarliks, en vir die 800 m oor die plein, af in die stegie, na waar die bus 200 m vêrder af vertrek, sien ek nie twee keer in ‘n jaar kans nie.

Dan maar die kar vat. Dieretuin toe kan ons nie, ook nie Hartbeespoortdam toe nie — dis vir vakansies, amper vakansie, en buitendien ook al te laat in die oggend vir ‘n trek in daardie rigting. (Klaarsie lê haar en uitslaap in die kar op pad terug, en as Mamma en Pappa lomerig tuis stop, is mêrrempie so wakker soos ‘n akker.)

Dan maar kunsmuseum toe. Ek is lus vir ‘n gasuitstalling:  Picasso, the early years. Of the last, the middle; the post war, of wat ook al die hele Europa die hele jaar lank van vol is. Die naaste wat ons daaraan gaan kom is Johannesburg toe, Joubertpark van alle plekke, vir die enkele Picasso iewers in die ‘70’s aangekoop.

Pretoria Kunsmuseum sal dit dan wees. Daar aangekom, en ‘n uur later daar weg, was ons die enigste mense. Ook die enigste kar. Die sekuriteitsparkering wat broodnodig geword het en vyf jaar gelede met groot fanfare aangekondig is, lank reeds in onbruik.

Nee, hier word nie meer koek en tee in die oos-vleuel van die oos-saal bedien nie. Die deur na die kinder-kunsmuseum het intussen toegemaak. Die biblioteek nou net op afspraak te besigtig.

Ons gee ‘n geldjie vir die opportunis wat op die trap sit en noem dat hy ons kar opgepas het, en vandaar Transvaal-museum toe.

Wat ‘n sorry sight. Austin Robberts se voëls val uitmekaar uit. Die restourasie wat tien jaar gelede al nodig was, is steeds nie in plek nie en elkeen van die voëls se selofaanstrokie wat jare gelede op die geverfde buitelyne van Suider-Afrika die voël se verspreiding moes aandui, lê steeds gebrokkel en gekrummel op die bodem. Die Angola-pitta wat verlede jaar van sy stokkie afgeval gelê het (en die vorige jaar van sy stokkie afgeval gelê het) lê steeds van sy stokkie afgeval.

Die museumwinkel het November 2007 gesluit en nog nie weer oopgemaak nie. Die restourant was toe al toe.

Hier is darem ‘n ander ma en pa met ‘n kind en ʼn verliefde paartjie wat foto’s van mekaar neem voor die glasvesel renosters en seekoeie.

As ek ‘n venster kry wat wes uitkyk lyk dit darem of die man wat hom as karwag uitgegee het steeds in die omgewing van die kar is, maar darem nog nie besig is om die wiele af te skroef nie.

Van die Melrose-huis sal Klaradyn nie hou nie, daar’s geen parkering nie, en ons ry depressed huis toe.

Die omvang, reikwydte, diepte en graad van my depressie kan altyd gemeet word aan wat ek terugbring elke keer as ek op ‘n Sondag soos hierdie sê “Hoe kom ek nou by daai Woolies naby Hillcrest-swembad, ons gaan piekniek maar by die huis.”

Berliner landbrot, Camembert (weliswaar nie in daai houtboksies soos ek sou wou hê nie), brie, gorgonzola, Duitse salami, pannini, koue Riesling en genoeg ander luxuries with an European flavour om enige bui in daai hazy, lazy, crazy days of summer te lig.

Ons ry huis toe.

Hoe heerlik om hierdie tyd van die jaar in jou eie tuin te kan piekniek hou. Hoe bevoorreg om ‘n grasdak-lapa, groter as die gemiddelde voorstedelike tuin iewers waar dit nou winter is, ‘n  lowergroen agterplaas met plek vir drie honde én ‘n eie swembad, te hê.

Ek onthou die tuintjies wat op ‘n posseël was, waar ons plek-plek by vriende in Europa gaan kuier het. Soweto String Quartet in die agtergrond, meng met die skugter vleiloerie, die rooikophoutkapper, en ‘n hele flottielje ander inheemse voëls en somerbesoekers. Waarvoor museum toe moet neuk om die goed te sien.

Hoe heerlik nie om na die piekniek, loom van wyn én son, te gaan platval op die bed en ‘n uur later gewek te word deur een van daardie klassieke hoëveldse donderstorms nie. Gaan ek net Kaap of Natal toe, mis ek dit, wat nog te sê stamland toe.

Geen wonder Pieter Lafras Moolman het hom in 1737 losgemaak van Biervliet in Zeeus-Vlaandere en by die HOIK aangesluit nie. Geseënde man was hy.

Tog het ek het steeds iets van hom in my bloed, want die museum waarna ek vanoggend so terugverlang het, en my in my aanvanklike gevoelte van bannelingskap gehad het, betrap my toe op ‘n stukkie ironie. Dit was ou koning Leopold se nalatenskap in die Etnografiese museum in Brussels, en die dinge wat hy uit Afrika geroof het, wat ek wou herbesoek.

Hoewel geen Soutie nie, is ek dan seker maar ‘n gepekelde Pickle met die een been stewig in Afrika, die ander in Europa.

‘n Setlaar, dolgelukkig, met ‘n bullet-proof vest en gin &tonic vir die muskiete, sou die son verder begin sak.

No comments: