31.12.11

Propperse skaaprib oor die kole

Op sekere dele van die platteland is dit dalk nie so ‘n probleem soos hier by ons nie.

En in die stad help dit ook nie jy gaan na ‘n nuwerige, kleinerige slaghuis nie; die kanse dat die nat-agter-die-ore mannetjie wat homself verbeel hy is ‘n blokman, jou sal kan help, is skraal.

Ek ry al die pad Silverton toe, Uitkyk-slaghuis toe met ‘n miernes slagters (baie van hulle al baie lank in die land) agter die glas-yskastoonbank van hulle. Kan die eerste man jou nie help nie, is daar wel iewers ‘n ou oom met die asem van aftrede kort op sy hakke wat nadergetrek word en beslis kan help.

En dan is hulle ook ‘n vriendelike spul. As hulle nou eers die karkas daar van agter gebring het, gee hulle nie om as jy agtertoe stap saam met hulle en presies verduidelik wat jy wil hê nie.

En wat ek wil hê is eenvoudig, ‘n skaap- of lamsribbetjie soos die ou boeremense dit gemaak het.

Die meeste jong slagters vat jou dan na hul ribbetjies toe en dit word gou duidelik dat hulle gehoor het, maar nie geluister het nie. Al wat hulle raak gehoor het is ribbetjie. Maar dis nie wat ek gevra het nie, ‘n ribbetjie soos die ou boeremense hom voorberei het, bring daar vir my ‘n karkas van agter en dan wys ek jou.

Wat die man natuurlik nie doen nie. Hy soek ‘n ouerige oom op en stuur hom om te kom hoor wat ek wil hê. Die ou oom se gesig helder dan op, hy kry ‘n deernisvolle glimlag en sy oë kry so ‘n ver-af kyk. Nie lank nie, en hy kom aangestap met die beste karkas waarop hy sy hande kon lê — met liefde en respek uitgesoek.

In die ou dae toe elke week ‘n skaap geslag is en jy nog met ‘n hele lam by jou werf aangekom het uit dankbaarheid van jou buurman wat jy gou gaan help om die se trekker weer aan die gang te kry, is daar anders omgegaan met vleis as vandag. Dit was voor die koms van ys- en vrieskaste, en wat nie voorberei en ingelê is in bottels nie, is redelik gou geëet.

My skoonpa se oorlede ouma het selfs na die koms van ‘n vrieskas steeds haar beste vleis gaar gemaak en ingelê — sy het mos kon sien hoeveel minder jou vleis word nadat jy dit eers gevries het. En so mors ‘n mens nie met goeie kos nie.

In daardie dae, woon jy op die dorp en is jy inderdaad so een of twee keer ‘n jaar verplig om vleis te moet koop (die ou mense was mededeelsaam en dis hulle wat die res van die land van ubuntu geleer het) het ‘n hele skaap jou ook heelwat minder gekos as wat ons vandag vir twee versukkelde tjoppies moet opdok.

Gevolglik was ‘n ribbetjie toe nog ‘n ribbetjie. Jy het jou karkas so met die rugstring langs halveer, van die boud en die blad ontslae geraak en dit wat in die middel oorgebly het skoongewerk, en dit was jou ribbetjie. (Ter wille van Klaradyn en die moderne stadskind: wat jou nou het is die skaap se rugstringtjoppies nog vas aan die ribbetjie.) Die ribbebene is nou mooi in die helfte deurgesaag, maar net die bene, en nie die vleis nie.

Praat ek dan ook nou se dae van saag, dan dink ons almal in terme van die eietydse elektriese vleissae wat in elke slaghuis en plaaswerf se vleiskamer staan. Voorste jare was daar natuurlik nie so ‘n saag nie. Jy het die karkas gehang en ribbetjies van die rugstring losgeknak, en werk jy met ‘n volgroeide skaap, desnoods ‘n handbyltjie nader gesleep. Alles is nou van die rugstring losgesny en die rugstring is dan met die vleis wat daaraan oorgebly het in ‘n groot swart pot gekook.

Maar dis ‘n ander kuns op sy eie. Ons is by die ribbetjie wat nou die lengte en wydte van ‘n skaaptjop langer en wyer aan die een kant is.

Nou, en ek praat hier van by Uitkyk, moet jy sien hoe staan die ander ouer slagters nader en bewonder jou ribbetjie met nostalgie. Ook die jonges, want hulle wil sien en leer.

Dit is ‘n manier van doen en eet wat nog nie heeltemal uitgesterf is nie. Met verlede week se aankoop het die eerste slagter wat ons bedien het, nie op ‘n ou oom afgestap nie, maar ‘n youngster wat darem al blou om die baard is, nadergeroep. Die jong man het presies geweet wat ons soek en laat val hy darem vier ander kliënte het wat ook van tyd tot tyd inkom om dieselfde snit.

‘n Ligte geneuk kom nou by die betaalslag. Om jou aandete te weeg is nie ‘n probleem nie, maar watter kode tik hulle in? Die vir tjops? Of die vir ribbetjie? Die lot het vanjaar op die prys van ‘n baie swaar “braaipak” geval. (Maar jy moet sien hoe bont staan die stedelike slaghuise as ek elke dan en wan ‘n doodgewone ding soos worsderms wil aankoop. Ja hulle kan die derms vir jou uitryg, meters van die goed, maar geen stelsel maak ooit voorsiening vir ‘n kode waarteenoor dit afgeweeg en geprys kan word nie.)

En dan maak jy daardie amperse halwe skaap van jou gaar. Oor die kole. In die Weber, Jetmaster of sommer die Defy.

Dis dan ook nou hier waar ons van die ou mense afskeid neem. Daar is onder die son niks verkeerd om jou vleis te geur presies soos hulle gedoen het nie — sout en hoogstens ‘n bietjie peper.

As jy aanstellerig wil wees kan jy Herbs de Provence, ‘n knippie gemengde kruie, allerhande braaisout en barbecue spice, selfs knoffel en kruisement na smaak gebruik. Ek verkies die teendeel, sout en peper.

Maar dis hier waar my en oorle’ ouma- en oupagrootjie se weë skei. Hulle het van die vleis nou ‘n brandoffer gemaak. Ek hou my vleisie heeltyd met die beenkant onder dat die been hom as het ware pienk kry. Met die konveksiestrome en dinge waarvan ek niks weet nie, is my vleiskant se vetjies, danksy die Jetmaster- of Weberdeksel heerlik uitgebak en het die vleis nog ‘n sappige pienk as dit voorgesny word.

Berei ons dit vir Ouma en Oupa voor, eintlik maar van Oupa wat ek dit so leer doen het, maak ons dit natuurlik well done en daar is werklik onder die son niks mee verkeerd nie. Die vetjies is ewe goed uitgebak en die vleis bloot net anders heerlik gaar.

Lekker bly lekker, ongeag of jy hom ‘n driekwart-uur in die goeie geselskap van die regte hitte het, ‘n uur, nog ‘n kwart daarby, of ‘n uur en ‘n half.

30.12.11

Oujaar 2008/Nuwejaar 2009


Is dit dan nou grootword! Of oudword?

My een helfte het my vandag by: “Was die afgelope Oujaarsaand, én Nuwejaarsaand in Pretoria nie net die wonderlikste in jare nie?”

En daar donder die ander helfte in met: “Is dit nou grootword om so daarna te kyk, of sommer net doodgewoon stokhoringoudword?”

Want ja, ons het nege-uur gaan slaap. Een en elk van ons. En nóg ek, nóg Annieka het Oujaarsaand enigsins gewedywer om Klaradyn in die bed te sit, en so verskoning te vind om aan die slaap te raak. Die hele kaboedel van ons is, van Ouma-hulle af, reguit bed toe.

Soos verlede jaar. En die vorige jaar.

Ek het geweet ek sal hier teen 11-uur, half-12, se kant wakker word en dan die volgende dag se voorgereg begin.

Soos die vorige jaar. En die vorige.

Net nie weer ‘n herhaling van 2005 nie. Daardie jaar, Oujaar, het ek gesien hoe die vuurwerke van die hele Pretoria 12-uur om my afgaan, vir kilometers, of wat soos kilometers en ure gevoel het, op die snelweg oppad na ‘n deurnag-noodveearts wat ons genadiglik ses middernagtelike noodoproepe vêrder raakgebel het.

Ons wag nou nog vir die vriendelike Omie-veearts, in die blok net agter ons,  se respons op sy middernagtelike selfoonboodskap, nadat sy spreekkamer-antwoordmasjien sy nommer met groot vertroue in sy stem aan ons beskikbaar gestel het.

Aan die ander kant, dit was etlike minute voor 12, op Oujaarsnag, en die selfoonnetwerk seker so besig en gekruis van seënbede, -wense en ander dronkensverse, dat die kanse ook maar skraal is dat hy ons boodskap ooit gekry het.

En Boeta was die vorige week, knap voor Kersfees ook by hom. Dieselfde ding. Net, hierdie keer was dit skoonpa wat Boeta tot knap voor die poorte van die dood, en gelukkig weer terug, moes begelei. Ons was nog met vakansie. (Klaradyn se eerste seevakansie, op 18 maande.)

Boeta, ons oudste, en reun van die drie, lei aan ‘n vreemde kondisie. Of is dit konstitusie?

In elk geval, genadiglik, ook nie meer nie. Teen Nuwejaarsoggend 4-uur, en ‘n onderwyser met 18 jaar ervaring se hele, volle, algehele salaris (en so paar honderd meer), later, het ‘n wonderlike Doktor, met ‘n Britse aksent, hom lewenslank genees. Nie van die kondisie/konstitusie nie, maar die geldrowende gevolge, sóú dit weer toeslaan.

Boeta blaas op. Amper, ek vermoed, soos ‘n bees wat te veel lusern gevreet het. Hy blaas dan op, soos ‘n ballon, en sál bars, as jy nie, soos met ‘n bees wat te veel lusern gevreet het, ‘n lem, of ‘n mes, ‘n spyker of skroewedraaier (liefs ‘n gesteriliseerde skalpel) hier van die kant deursteek, en hy afblaas nie. Gelukkig nie soos ‘n ballon nie. Boeta bly met sy voete stewig op Moederaarde, en flipper-flapper nie dak toe soos ‘n ballon wat afblaas nie.

Boeta-hulle is drie Patryshonde. En hierdie opblasery van hom is iets wat geensins by kleiner honderrasse soos Spanjoele voorkom nie. Volgens die man met die Britse aksent is dit selfs seldsaam onder die groter rasse. Aldus hom hanteer ‘n gewone 9 to 5 GP-veearts hoogstens drie of vier sulke gevalle in hul hele loopbane. ‘n deurnag-ER-veearts, aan die ander kant, draf in besige klinieke (soos die Nooddiens in Skotland waar hy sy ondervinding opgedoen het) weekliks deur so ‘n geval.

Dis iets wat hoofsaaklik snags gebeur. Normaalweg net by groter rasse, en dis moontlik dat dit geneties binne sekere bloedlyne is. (Dit verbaas my nie, ons het nog altyd vermoed dat Boeta een of ander fyngeteelde koninklike bloed in hom het, amper soos die Europese koningshuise van ouds met hul ingeteeld geneigdheid daartoe om bloeiers te wees.)

Dit gebeur as honde aan die speel gaan na hul aandete. Iets gaan fout met die vertering en hulle raak gastries. Soos die maag opblaas, druk dit teen sommige van die ander ingewande, draai daarteen, en kort voor lank is die dermkanaal, iewers by die begin, en die einde, geknoop soos hierdie lang maer ballonne waarmee clowns in die sirkusse altyd se oulike poedels vir die kinders gebou het.

Daarom dat jy gat deur die buik moet maak, sodat die dier kan afblaas en die derms en dinge hul normale lê kan kry.

Dit alles, en nog baie meer, vertel die Britse aksent my terwyl hy my daarop wys hoe blou Boeta se tong word en dat hy definitief teen 2-uur dood sal wees, as ons nie nou iets doen nie.

Wat ons genadiglik toe ook begin doen.

Nou Boeta-hulle het later as gewoonlik geëet. En bloody lekkerder en ryker ook. Ons is saam met hulle na Oupa-hulle toe vir die Oujaarsbraai. Die mense-mense kuier dan lekker, en die twee gesinne se honde-mense het ‘n fees van ‘n tyd met handjies en hande wat stilweg (en ook nie altyd vreeslik onopsigtelik nie) snoepgoedjies onder die tafeldoek aangee.

As dit dan klaar is, en die honde trommeldik, het Oupa die gewoonte om, wat ook al in die bak oorgebly het, vir die diere op te sny. (Hy is trouens een van daai mense wat doelbewus over cater sodat daar vir die res van die gesin ook meer as net beentjies is.)

Eintlik gaan die honde ook saam dat hul nie sonder ons met die klappers konfronteer word nie. Ons het kleintyd vir hulle opnames van donderweer en klappers gespeel, maar dit lyk nie of dit gewerk het nie. Toe die eerste klappers begin afgaan, begin die honde hardloop. Vir Boeta se konstitusie voel dit soos “speel op ‘n volmag” en knap na 11 daardie nag raak hy stil, opgeblase, en ons weet uit ondervinding, nee, ek lieg, ons weet uit dure ondervinding, dat hy kort voor lank gaan begin brul van die pyn.

Ek begin bel, van die DBV tot Onderstepoort, en eindig toe nou, na ‘n majestueuse vuurwerkvertoning, by die Britse aksent.

Toe die man eers hoor dis die derde keer dat dit gebeur, die laaste keer was ‘n week gelede, oortuig hy my (en ek het al gehuil met die sterwende hond langs my in die kar terwyl dit niks met Old Lang Syne te doen het nie) dat ons sal moet opereer. Die maagwand word op twee plekke aan die buikwand geheg, en as die hond weer opblaas, bly die maag in plek, niks kan knoop nie. Boeta blaas as’t ware dadelik af, soos wat hy opblaas.

‘n Week later gaan haal ons hom en besef dat die duur van die vorige dure ondervindings sommer kinderspeletjies was in vergelyking met die huidige. Ons kry die res van die kwartaal net rooivleis in as ons naweke by Oupa-hulle gaan braai. Nie Boeta nie, vir hom is dit gemaalde hoendernekkies, witrys gemeng met ‘n volle bakkie maaskaas en varkvet. (Ek het nie eers geweet ‘n mens kry nog Holsum te koop nie.)

So moes dit ook wees vir die res van sy lewe. Maar ek het na drie maande ingegryp en sy pellets sag begin maak. Vandag eet hy droë pellets, blaas van tyd tot nog op, maar gelukkig (en ongelukkig vir ons ore en neuse) dadelik en gelyktydig weer af ook.

Daarom dat ons Oujaarsaande die laaste drie jaar maar redelik rustig verloop. Die honde is al drie en ons vat hulle nie meer saam nie. Ons is al by die huis nog voor die eerste klappers begin. En of dit nou van oudword is, of grootword is, dit maak nie saak nie.

Teen elfuur hol en blaf die honde die van ons wat nie reeds deur die klappers tot die werklikheid geruk is nie, wakker. Ek staan dan op en maak die voorgereg, verwens elke donderse klapper en dink aan al die plekke, waar die son nooit skyn nie, waar ek elkeen persoonlik sou wou opdruk, kry die voorgereg in die yskas en gaan bed toe.

Daarom dan ook dat die afgelope Oujaarsnag in Pretoria vir my so ‘n heerlikheid was. Ek was al aan die afmeet en –weeg van die bestanddele, toe ‘n moerse donderslag, én vrou, én kind (en hond en hond en hond) pikwakker, regop en bevrees in die gang af het, Pappa toe.

En daar plaas God, en ‘n meesterlik georkestreerde donderstorm, ‘n demper op elke ellendige klapper en vuurwerk binne ‘n 20 kilometer radius van ons huis en sy gesin.

‘n Rukkie later staan ek en Annieka by die venster en bewonder ‘n vuurwerk- en klankvertoning soos min uit die hand van die skepping.

Die honde? Hulle hol soos besetenes in die tuin rond en hap na die water wat uit die geute peul.

Ook die nag van die eerste, toe ek gedog elke lont wat nie die vorige aand nat geword het nie, vuur gaan kry, kondig ‘n malse Hoëveldse donderstorm homself hier teen twintig voor twaalf aan.

Voorspoedige Nuwejaar, Annieka en Klaradyn. Boeta, Sussa en Snuffels.

Ons is waarlik geseën.

26.12.11

Garages, paarties en garage-paarties

Ook net twee keer ‘n jaar, iewers in die winter- en dan weer in die somervakansie (soos vroeër vandeesmaand weer) dat ek die geleentheid het om een van my meer persoonlike en andersoortige lekkerste van lekkers te beleef: ek trek my en Annieka se karre in die motorhuis.

Ja, vanoggend was dit sommer net nog ‘n garage, maar nou is dit nege, tien ure later, ék stink aan sweet, maar die tires (want aan die karre kon ek niks doen nie) maak so ‘n skril wrywende skuurgeluid, kenmerkend aan motors wat in kliniese wit operasieteaters, met groen geverfde, of selfs geteëlde vloere, parkeer word.

En vir ‘n week, maksimum twee, kán ‘n mens maar van die vloer af eet, die boor op sy plek, die hark aan sy haak en die vier verlengkoorde netjies opgerol, kry. ‘n Maand later, moet dit wat jy ook al wil boor, hark of elektrifiseer, maar oorstaan tot ná die volgende somer- of wintervakansie, afhangende van watter een eerste kom.

Dis ses jaar later, en die los geut is nog nie geheg nie, die stortdeur nie vervang nie, en die onderdeur wat swel van die reën, ook nog nie afgeskuur nie.

Aan die ander kant, die eerste wat ek gedoen het, destyds toe ons ingetrek het, was om kort duskant die 100 vierkante meter se rakoppervlakte in die motorhuis aan te bring. En nóú sal dit beter wees as ons spesiale risikoversekering op die voertuie uitneem:  daar, in die dak, waar in ‘n vroeëre bedeling talle rugstringbiltonge gehang het, hang nou beddens, spieëls, matrasse, pramme (maak dit maar liewer prams) en etlike ander motorbedreigende items wat lankal nie meer stáánplek kan vind op die etlike vierkante meters dennehoutrakke nie, maar aan draad en tou en tie-backs, tevrede moet wees met hángplek.

Ek gaar, Annieka gaar, Klaradyn gaar. Ék gaar in my kar. Annieka gaar in háár kar, Klaradyn in haar pram. En elke maand word, wát ook al úit die karre moet kom, om plek te maak vir wat ook al in die volgende maand ín die karre moet kom, tussen die vorige maande se motor-gaar, saam met die huishoudelike en ander gaar, gegaar.

Sesmaandeliks dan, word die sleepwa, tuinier, kruiwa en ma, rommelwa en pa (asook deesdae Klaars en haar plastiek-kruidenierstrollie) ingespan, om net weer vir die karre in die garage oornag-parkeerplek te maak.

Dis ‘n dag, ‘n volle dag (op góéie dae, ás ons gelukkig is) se werk.

Klaradyn ontdek soveel speelgoed, sy vermaak haarself met die herontdekte skatte in die trollie.

Annieka lees elke papiertjie, traktaatjie en pamflet van die vorige ses maande sorgvuldig deur; my hopies gaan onaangeraak vullishoop toe. (Wat ek in ses maande nie gemis het nie, gaan ek nie meer nodig kry nie, óf was ek lankal klaar in die moeilikheid oor — dit help nie ek spoor dit nou op nie). Ek en Petrus/James/Paul/Mathew, na gelang van watter Nuwe-Testamentiese figuur die ouers gekies het om in die herinnering te roep, pendel asgate toe en terug.

Lunch-tyd eet ons almal pies onder die lapa en skat elkeen stilweg hoeveel ure lê nog voor.

Laat-agtermiddag, vroegaand trek ek dan die karre in, en, soos met gister se heimwee na jogurt, neem ‘n ontsettende behoefte of verlange van my gees besit.

In vyf en twintig jaar het ek dit ook nog net een keer weer gedoen, en dít is ook al meer as vyftien jaar terug.

Waar is die dae wat ons Donderdagmiddae in ons blink jogger-pants ingespring en die garage opgeruim het, hom Vrydagmiddae versier het en daardie aand ge-garage-paartie het tot knap voor huis toe gaan tyd as die laaste gloeilampe uitgedraai is en ons close-dans op Heart (you’re driving me crazy… save your love for somebody new..)? Of enige een of ander slow moving ietsie wat in die vroeë tagtigs al kon deurgaan as ‘n golden oldy.

Trek ek dan nou, jare later, my kar in, brand ek elke keer om:

  • lakens en komberse met duimdrukkers voor die rakke vas te steek
  • die grassnyer, stukkende naaimasjiene en stoele uit te dra
  • crinkle paper om die fluoressent lig te draai
  • staanplek te maak vir die CD-speler (laat dit dan maar ‘n CD-speler wees, met elke denkbare compilation van die laat sewentiger-, vroeë-tagtigerjare)
  • tafels vir eet- en drinkgoed in die gereedheid te kry

In die kring waarin ek beweeg het, was die drinkgoed altyd (met slegs een uitsondering na) botteltjies Coke, Fanta en een of ander Sparletta. Daarom sal ek die hout koeldrank-kratjies wat ons onlangs aangeskaf het, opvul met kouedrank (weliswaar in plastiekbottels, en nie die glasbotteltjies van ouds, wat met soveel sorg opgepas is, sodat ons dit na die tyd kan gaan inruil vir ons deposit nie.

Eetgoed: 

  • Renown Weense worsies op peuselstokkies (Onthou iemand anders nog die advertensie oor Springbok-radio met hierdie frase in?)
  • ‘n “Krimpvarkie”, met rooi, geel en groen cocktail uitjies, kasies, blokkies ham en gherkins, ingeryg op tandestokkies en “keurig” staangemaak in een of ander lemoen of omgedopte halwe spanspek of ding.
  • Baie tjips.
  • Geen gekoopte doopsous in ‘n pakkie of bakkie nie, nee, tamatiesous, chutney en mayonnaise gemeng met wat ook al daar in die huis is (en ‘n knippie Fondor)
  • Bakkies grondboontjies gemeng met rosyntjies.
 
 

Ek onthou wragtig niks soets nie.

In die tuin is daar draadstoele (wat in die grond wegsak as sy op jou skoot kom sit; maar in 2009 sak ek, alleen, al in die grond weg nog voor Annieka nog net in my rigting kyk, of daaraan dink om op my skoot te kom sit).
In die bome is ‘n string blou en rooi en geel en groen ligte, ingeryg aan ‘n swart kragkabel. (In hierdie tyd en dae sal ons darem nie meer ‘n bekommerde pa hê wat hierdie ligte vinniger vervang en indraai, as wat ons hulle uitdraai nie.)
 
 

Die getroude couples wat ek nooi sal almal unisex kom.
Is dit winter, sal daar ‘n hele paar polo-nek-truie wees.
 
 

Ek het so goed gevoel in my swart hoë(-erige)hakskoene, swart kouse, swart broek en swart polo-nek. (Wat het geword van die silwerige The Saint-kettinkie wat Yvette, ‘n Desembervakansie-romanse, my een jaar gegee het? Hy het só mooi afgewys teen die swart.) Vandag klink dit “tapid”.

Die vrouens sal hul sakke en dinge almal in Klaradyn se kamer gaan bêre. Nogal jammer dat jy nêrens êrens meer ‘n geblokte Sarah Moon- geblokte poster sal kan opspoor nie.

Ons mans sal dit dertig jaar later (ek weet daar was seuns wat dit gedoen het, my nefie was een van hulle) seker nie meer nodig ag om ‘n sakdoek of twee, styf opgerol, gereed te hê om in jou dye te posisioneer vir wanneer die close plate begin speel nie. (Of sal ons nóú éérs?)

Om myself, vandag, hier, uit te laat oor die keuse van musiek, sal moeilikheid soek wees by elkeen uit daardie jare wat wél hier lees. ‘n Redelike mate van eenstemmigheid behoort daar egter te wees (maar dit hang ook af van die kring waarin jy beweeg het) rondom ABBA, hetsy nou vroeë-, middel- of laat-Abba.

Goeie, onskuldige dae was dit gewees, wat goeie, onskuldige herinneringe terugbring as jy jare later jou kar in die motorhuis trek.

Nie dat daar nie gesuip en ook fyn gedraai is nie, daar ís. Maar dit was by ander, wilde partytjies waarheen ons nie genooi is nie, waarheen ons nie gegaan het nie.

Die één beskonke seun op ‘n partytjie, wat ek onthou, ironies genoeg, was ‘n klasmaat, met die allesseggende bynaam van Voël, wat vallend dronk by ‘n matriek-klaspartytjie aan huis van ons registerjuffrou opgedaag het.

Ook net ‘n enkele matriek-partytjie (van die baie) waar ‘n groepie van die naïewe girls, naïef genoeg was om by die gasvrou se toe kamerdeur in te stap (om hul sakke en dinge te kry) en verleë, baie verleë, moes uitstap. (Die betrokke girl, haar ongebore kind en, miskien was hy die pa van haar ongehude kind, het al drie, voor sy vier maande klaar met matriek was, in ‘n motorongeluk, op pad heen iewers ver, omgekom.)

En as ek iemand was wat spesifieke goed vir my kind van ‘n Here afgebid het, sou dit wees, dat sy ook eendag, oor veertig jaar van nou, genot sal put uit eenvoudige dinge, soos om as gesin ‘n garage reg te pak; dat herinneringe aan gesonde, onskuldige pret, vyf en twintig jaar na matriek, ook haar hart met heimwee sal vul.

Hier waar ek haar vanaand, tussen die paragrawe deur, gaan in-tuck het, my verbeel het ek hoor haar roep, haar kamervenster aangedraai het, kan ek net hoop en vertrou, in liefde, dat die opvoeding wat ek Annieka haar bied, dit wel moontlik sal maak.

Die lewe, ‘n lewe; so propvol kosbaar, mooi en pret, kan só maklik breek.

22.12.11

Wat 'n fees


Is enige iemand bewus of daar al tuindienste is wat nie deur die loop van die jaar alle blare wat in die ou dae opgehark of weggevee is, in jou bedding en onder die struike inblaas nie.

Maar belangriker, is daar al hondemodelle wat nie stoelgange passeer nie?

My drie patryshonde dateer uit die dae voor genetiese manipulasie en kom uit ‘n bloedlyn wat geslagtelank pryswenners op hondeskoue sou opgelewer het, het ons toekennings gemaak vir die omvangrykste ontlasting in die kategorie vir mediumgrootte honde.

Maar die waatlemoen wat ons, Oupa-hulle en Pat-hulle Sondagmiddag onder die lapa geslag het, het elke afbuk met die twee Spar-sakke (waarvan die een soos ‘n handskoen gedra word) agter landmyne aan, uit en uit die moeite werd gemaak.

Is dit net ek van my generasie wat ‘n ding met ‘n waatlemoen het, of is daar meer van ons?

‘n Waatlemoen, buite in die tuin, op ‘n Sondagmiddag, hou nie net vir my die kosbaarste kindertydherinneringe in nie, dit kommunikeer aan my soos geen politikus (hetsy van die huidige of vorige regime):  alles is goed en wel (ongeag van wat op die televisie en in die koerante aangaan.)

Youngsters weet ook nie dat die ritueel van waatlemoen-slag op ‘n Sondagmiddag ‘n vorige geslag Afrikaner se hele siel en wese reflekteer het nie.

Die goed het mos te duur, en die gesinne te klein geword om ‘n hele waatlemoen te wil opkoop; deesdae koop ons helftes en kwarte, toegedraai in filmplastiek wat óf aan niks behalwe dit self, of aan alles behalwe dit self (hang af van jou behoefte) vasklou.

Maar nie ek nie, dan gaan ek eerder sonder hom; ek koop ‘n hele, want waatlemoenslag is ‘n feesgeleentheid, ‘n rite, iets so belangrik soos ‘n Nagmaal of ‘n doop (net baie vroliker en lekkerder as selfs ‘n doop).

Die duurste wat ek nog ooit vir ‘n waatlemoen betaal het, was R25-00.

Vandag is dit niks, jy koop deesdae skaars ‘n ordentlike halwe een teen daardie prys.

Maar my R25-00-waatlemoen gaan terug na 1988 toe jy bykans enige snit bees- of skaapvleis onder R10-00 ‘n kilogram kon aankoop.

Toe ek ’89 begin skoolhou, toe maak ek ‘n punt daarvan om slegs dit wat onder R10-00/kg is, te koop. En ek kon ver kom, baie ver.

My waatlemoen het ek egter ‘n jaar tevore van stafsersant Fernandes, ‘n Angolese vlugteling wat by Jan Breytenbach se 32Bn aangesluit het, gekoop.

Staf Fernandes moes meer as net ‘n Portugese naam en die Portugese taal in hom gehad het, daar moes Portugese bloed, reguit uit Europa, deur sy are gevloei het.

Soos die Wandelende Jood, moet daar iets soos ‘n Vrugte-en-Groente-verkopende Portugees wees, en dis presies dit wat in hierdie man gepomp het.

Hy het dit as staandemaglid reggekry om ‘n lewendige vars(erige)produktestalletjie onder die bome, bo in Suid-Wes, op die walle van die Okovango, te bedryf.

Net smiddaes, na werk, so vir ‘n uur, was sy stalletjie oop. Ja, veselperskes en ander vrugte wat jy nie in die Caprivi verwag nie, soos stroopsoet papajas was volop – sommer hier anderkant by Bagani groei dit – maar nie waatlemoene nie; dit is van die naaste toeganklike varsproduktemark, meer as ‘n 1 000 km suid aangery.

O, en was hy nie trots op die besending waatlemoene wat die een slag daar aangekom het nie, plek-plek met ‘n SAMIL, plek plek met ‘n tipiese Portugese groentetrok het hy dit tot bo by hom genavigeer gekry. Dit was die dae voor selfone en selfs telefoon was ‘n luukse, so enige iets buiten die gewone wat wel by sy stalletjie beland het, was ‘n wonderwerk.

Ek het die R25-00 met ‘n plesier betaal, en ek wil my verstout om te sê dat daardie waatlemoen daardie agtermiddag meer plesier verskaf het as die aand se tradisionele braaivleis en bier.

Maar ek dwaal af, ek is Sondagmiddae in Pretoria, Rustenburg, of iewers op ‘n plaas.

Oor jy nie ‘n halwe stukkie ding gekoop het nie, maar ‘n hele “speenvarkie” op ‘n keer geslag het, was daar nie sprake van halfmane wat in jou bord beland het nie. Nee, halfmane en kwart sirkeltjies is ‘n nuwerwetse ding, genoop deur die vrugte wat deesdae halveer te koop aangebied word.

Die man wat tydens die Sondag-middagmaal die voorsnywerk aan die boud gedoen het (straks het hy aan tafel ten aanskoue van almal die voorsnymes net eers geslyp) het die voorreg gehad om die waatlemoen te sny.

Was die waatlemoen ‘n bed, is die kop- en voetenente, eers afgesny.

Dan is die waatlemoen se skil, al in die rondte, van die rooi moot tot rooi moot wat nou blootgelê is, gesny, nie te diep nie, en eintlik net-net dieper as die skil.

Dan het hy hierdie skywe van die waatlemoen losgetrek.

Dit was nie sukkel nie, want die pitte en die middelstuk van die waatlemoen nog in plek, het gemaak dat ‘n skyf redelik maklik losgewikkel kon word.

Daai skywe, die smakelose stukke na aan die skil, was nou die kinders’sn.

“Leun vorentoe as jy eet, netnou mors jy sop op jou Sondagklere (selfs al is dit jou Sondag-speelklere.)

Dit wat in die middel oorbly (en ek het al geweet hoe soen ‘n meisie as sy soen, voor ek my mond daaraan kon slaan) die soet – die stroopsoet, sag en smaaklik, is die “kroon”. Vir die grootmense natuurlik.

Nee, dit lyk nie soos ‘n kroon nie, maak nie saak hoe jy daarna kyk nie, ek vermoed dis bloot kroon genoem oor dit geskik vir konings is.

Hierdie kroon, wat nog vas is aan die laaste drie of vier skyfies wat vir die kinders opsy is, is nou in soos ‘n pynappel in sirkels gesny.

Die kop- en voetenent, die minder soet stukkies is, is van links en regs, vir die vrouens aangebied. Dis dan ook nou dat jy die eerste kommentaar oor die kwaliteit en smaak van die waatlemoen te hore kry.

Die heel middelste suk, amper soos die allerheiligste in die Joodse tempel, was, net soos die allerheiigste van die tempel, vir vroue (en kinders, but that goes without saying) verbode vrug. Dis vir die Ooms.

Wat oorbly van die kinderskywe, as daar Maandag nog oor was (want op Sondag het die meide nie kom werk nie) kon die meide kry.

En was daar varke, dan’s die skille vir die varke. Of die komposhoop in die agterplaas.

Maar dis iets van die verlede.

Wat gebly het is die selletjies barstens toe geprop met koue soet stroop. Wat gebly het is die deel van dit wat homself overdadig en in die oortreffende trap aanbied. Samesyn. Fees. Heildronk. Alles wat mooi en goed en wel is.

Moet bieg, die oomblik was Sondag vir my so groot met Skoonpa in my midde, dat ek hom gevra het of hy die slagwerk wil doen, ‘n skoonseun kan mos nie voorsnywerk wil doen .

Maar Skoonpa is ‘n pa van die nuwe millennium, hy het my dit laat sny.

Kom ons raak daarom van die vrot van gister ontslae, maar soos Oom Paul tereg versoek het, moet ons ook die mooi en die goed uit die verlede neem, en die toekoms daarmee bou.

My eerste bousteen is daarom ‘n waatlemoen, op ‘n Sondagmiddag, in die tuin. Onder die bome, onder die lapa, en as jy nog ‘n stoep het, op die stoep.

Staf Fernandes sien ek nie meer nie, Sabino, sy seun wel. Hy het ‘n lieflike man uitgedraai wat goed na sy vrou en kinders omsien.

En nou na ‘n paar minute se tob, is daar soveel wat ek wil oornooi dat ons ‘n waatlemoen soos die weduwee se kruik nodig het.

Maar waarom nie.

En as jy hier kom, en daar is nie meer parkering oor in die straat nie, beloof my jy ry tot by die naaste Portugees en kry jou eie waatlemoen – daar is immers min dinge so lekker soos jou eie waatlemoenfees.

21.12.11

7/12/2010

Met Klaradyn se geboorte destyds het ek opgehou om matriekeindeksamenvraestelle te gaan nasien. Sy was nog nie vier maande oud nie en ek het nie kans gesien om haar óf Annieka vir ‘n volle week van voor sonop tot na sonsak alleen te los nie.

Net gister raak ek tranerig toe ek en Klaars, na ons almal baie ver (vir ‘n tingerige sesjarige) fiets gery het om ‘n roomysie te gaan eet, laat agtermiddag in die swembad baljaar. Dit was die tyd van die dag, ses jaar gelede, wat ek in die swembad was en Annieka op die bank besig om te borsvoed, dan gesels ons twee ons geselsies – sy vanaf die bank, ek vanuit die water.

Ook op drie maande wat ons met Klaars begin swem het. Ek wonder baie keer of haar natuurlike liefde vir die water so natuurlik en ingebore is soos ons dink, en of dit nie maar bloot Desember 2004 op drie maande in haar in gevorm is nie.

Ag, en toe raak ek bederf, die tyd saam met die gesin belangriker en lekkerder as die aansienlike klompie geld wat jy met die merk verdien. En bederf is op sy beste mos maar eintlik bloot eufemisme vir vrot; dit wat ek nou ses jaar later is – te vrotsig om te gaan merk.

Die stories wat ons ore bereik van daar waar ons land se matrieks se vraestelle gemerk word, raak elke jaar net meer ysingwekkend. Maar gelukkig is dit net stories, ouvroustories aangespoor en -gepor deur wit rassiste, fossiele uit die Apartheidsjare.

Soos die hoofnasiener (ons praat deesdae van ‘n chief makka) besluit in die betrokke vak dat sy makka’s elkeen die betrokke vraag wat hulle gaan merk, eers self moet doen. En daar score party van die outjies toe so min as 44%.

Ook nie die enigste vak waarin dit gebeur het nie. Met die dat onderwysers glad nie mag uitpraat oor die eksamen en die nasiensessies nie (amper soos ons op die grens destyds nie mog vertel het van die oorlog en die dood nie) mag die nasieners niks met hulle huis toe neem wat lyk soos papier nie. En so moet die outjies in ‘n ander vak aan die einde, die vraestelle wat hulleself aan die begin voltooi het, weer ingee. En daar is toe skielik twee wat 100% gekry het – hulle het ronde 1 te sleg gedoen en deur die loop van die week hul gemors uitgesmokkel, om te vervang met iets wat beter lyk – toe skryf hulle die memorandum woord vir woord oor.

Nie dat ‘n mens alles moet glo wat jy hoor nie, nie dat ‘n mens alles kan glo wat jy hoor nie.

Ek laat my nie vertel dat daar ‘n hoofnasiener was, kon gewees het, wat tien van sy (tien teen een haar) nasieners huis toe gestuur het bloot omdat hulle te onbevoeg was nie. Daar is dan hoeka, soos in sport, ‘n sekere kwota novice outjies voorgeskryf – om die ding te kan doen, is dit verpligtend dat jy dit nie kan doen nie, sodat ons jou kan leer hoe om dit te doen.

Die laaste keer wat ek gemerk het, was dit bloody ver wat ons moes ry en ‘n stuk of sewe van ons is saam hier weg in die viertrek-wa waarmee, as hulle nie Botswana is nie, die huis se algemene domestiese assistent gewoonlik saans die Centucky vir die honde gaan koop.

Nou gewoonlik werk dit so – jy werk uit hoeveel kos een keer se heen en weer, saam met die tolgeld. Dan betaal Abel, argumentsonthalwe R60-00 vir Maandag, Bettie dieselfde vir Dinsdag, Carolina vir Dinsdag, en so aan tot by Gert vir Sondag.

Maar toe kom die man aan wie die wa behoort met Joodse boekhouding vorendag: Dit sal elkeen van julle R60-00 ‘n dag, R420-00 vir die week, gekos het om daar en terug te kom, so elkeen van julle skuld my R420-00 se petrol- en tolgeld vir die week. Daar pocket die viertrek-eienaar toe, weereens in aansluiting by die aanvanklike argument, R2 520 vir die week se ry.

Ek kan nie die presiese bedrae onthou nie, dis immers sewe jaar gelede, maar ek onthou ons het uitgereken die bestuurder en vandag steeds nog kollega van ons almal het meer verdien aan taxi-geld heen en weer, as wat hy verdien het van die onderwysdepartement vir die merkwerk.

Op soortgelyke wyse, vermoed ek partykeer, dat ons nasionale gemiddeldes bereken word, dis nou nadat alle agtergeblewe berekeninge en versoeke van vakbonde in ag geneem is.

Lekker werk. En lekker merk, as dit is wat jy moet doen.

20.12.11

Drie engele, so min of meer

In ‘78 en in standerd 6, maar dit gaan nie oor haar nie, had ek en die res van ons wat gelukkig genoeg was om by haar klas te kry, die wonderlikste Engelse onderwyseres that ever tread upon this earth. En ek noem haar by die naam: Gerda Jordaan, maar destyds was sy ongetroud — Gerda Mills dan. Miss Mills soos ons haar genoem het.

Laat dit dan maar vir eers bietjie oor haar gaan.

Daardie jare was sy ‘n beginneronderwysers met een, hoogstens twee, jaar ervaring by een of ander spesiale skool in Johannesburg waarvan sy ons altyd met groot deernis vertel het.

Miss Mills het ‘n Engelse biblioteek in haar klas opgebou en dit was vir ons belangriker en meer spesiaal om boeke by haar klasbiblioteek uit te neem as in die vergeelde stof van die krakerige fossiel in die skool-hoofgebou se biblioteek. Ook nie net Engelse boeke was dit gewees nie, goeie Afrikaanse boeke het ook van hand gewissel, en dis hiér waar ek kennis gemaak het met AP Brink, onder andere.

Woordeskat, en vreemde woorde soos vendetta, het sy aan die hand van ryklike vertellings en illustrasies deel van die res van ons lewens gemaak. Vendetta se spesifieke storie het my lankal ontgaan, maar ek sien nog hierdie groot woord,  vir ‘n standerd sessie destyds, in haar wit handskrif op die groen bord, die betekenis daarvan in my brein verewig.

Readers Digest het daardie jare, en miskien het hulle steeds, ‘n rubriek gehad wat lesers se vocabulary uitgebrei het. ‘n Groot woord, en dan drie of vier moontlike verduidelikings waaruit jy moes kies. Ek kan vandag steeds nie ‘n stokou Readers Digest tydens een of ander eksamentoesig uit ‘n Engelse klas se rak gryp, daardie rubriek deurlees en nié weer in Juffrou Mills se klas sit, tintelend van afwagting en opwinding, terwyl sy nuwe maand se Vocabulary in die Digest met ons deurgaan nie.

Dan onthou ek die wonderlike woordspeletjies wat sy ons laat speel het. Ek onthou dit goed, want dertig jaar later word haar speletjies steeds in my Afrikaansklasse lewendig gehou.

Sy was nie die tipe onderwysers op wie skoolseuns verlief geraak het nie, ek dink, jy het bloot net dadelik lief geword vir hierdie engel in die Engelsklas.

Wat sy gedink het toe ek, nou in standerd 7 en boonop gelukkig genoeg om in haar registerklas te wees, skielik ‘n probleem ontwikkel het om haar te you, weet ek nie. Vir hierdie Boerseuntjie is, en was, you nog altyd jy. En Miss Mills is nie iemand wat ‘n mens jy en jou nie. Sy, ander grootse mense en engele word ge-Ú. “Miss, how do we address you when we don’t want to address you as you, because you is disrespectful in Afrikaans and should be ‘ú’?”.

Sy het net geglimlag, daardie selfde warm misterieuse glimlag wat my gegroet het toe ek haar tien jaar gelede in Potchefstroom opgespoor het, en hierdie seuntjie wat spesiaal aan die einde van die periode getalm en gesloer het om agter te kan bly en te vra, oortuig dat dit ok is om iemand in Engels te you. Soos ek hier sit en tik gaan daar ‘n warmte deur my binneste as ek onthou dat sy tien teen een haar vlerk sagkens op my skouer sou kon gesit het voor sy my, van haar tydelike klas (sy was destyds ‘n junior onderwysers) se stoep weggesien het.

Ek dank die Here, in retrospeksie vandag, dat ek reeds uit matriek en op universiteit was, toe nuus ons ore bereik het dat Juffrou Mills en Mnr. Jordaan getrou het. Mnr. Jordaan, sien, was ‘n getroude meneer en basiliske met skindertonge wou dit hê dat Miss Mills ‘n huwelik opgebreek het.

So iets is vir my selfs vandag ondenkbaar. Miskien is dit herinnering en onthou wat feite plet en plooi, maar vandag verbeel ek my Mnr. Jordaan se sieklike vrou is oorlede en Juf. Mills het toe met hom getrou. Ek weet nie meer so mooi nie.

Maak ook nie saak nie, want dis eintlik by my Ouma Moolman en my eie ma wat ek wil uitkom vandag.

In standerd 7, Hansie is klaskaptein, verjaar Miss Mills. Ek samel geld in vir ‘n geskenk en oor sy ‘n geliefde by almal is, stroom daar hope geld in, genoeg om vir haar ‘n pottery koffiestel te koop. My ma moes opsluit al die pad Johannesburg toe ry, Jacoby’s toe, om vir Miss Mills ‘n bruin blink geglasuurde seventies koffiestel te gaan koop.

Hansie werk die toespraak vir tydens die oorhandiging uit: ons is na haar huis genooi. Haar huis, ‘n klein woonstel gerieflik naby die hoërskool. Ek ken die toespraak selfs ‘n week voor die tyd uit my kop.

En daar sterf Ouma-Engel op Brits. ‘n Songedroogde en weggekrimpte ou vroutjie by wie ons, selfs na die egskeiding, en my pa se dood ‘n jaar tevore, steeds eenmaal ‘n maand deurgery het Brits toe om te gaan kuier. Ouma-Engel, so genoem, oor die reuse Laat-Victoriaanse Gerub, sy vlerke tot aan die hemel, altyd agter haar bed in ‘n gekrulde raam in die ouestehuis op Brits.

Dis vir my ‘n uitgemaakte saak: Juffrou Mills verjaar, ek moet buitendien toespraak maak en die geskenk oorhandig:  “Jammer, Mamma, ek kan nie saamgaan nie, ek sal saam met Susan se ma by Juffrou Mills en terug kom.”

En toe die troefkaart uit my ma se mond:  “Jy kan regtig nie, Oubaas, jy is een van die draers van Ouma se kis.”

Oor die jarelange selfverwyt dat ek nie bereid wou wees om ‘n draer van my eie ouma se kis te wees nie —en dit omdat ek na een of ander verjaarsdagpartytjie wou gaan — is egter ook nie waaroor dit vandag gaan nie.

Trouens nie eers my ouma se begrafnis nie, maar my pa se begrafnis ‘n jaar vroeër.

Ons stop die dag daar by die krematorium. Ek gekisklere en baie vernaam. Ék kon immers sê wat ons moet sing tydens die roudiens:  Nearer my God to thee en Uit dieptes gans verlore (op die Voortrekkewysie en beryming soos my Pa so baie daarvan gehou het.)

Maar ook die pers begrafnisbriefie en nat swymel in my oë terwyl die handjievol mense Nearer my God to thee moet  oorstaan tot ‘n ander keer.

Dis die stop daar by die krematorium die dag waaraan ek Oukersdag 2008 gedink het. Oom Frans en Tannie Johanna van die Kaap, my pa se broer en skoonsuster, het aan die oorkant van die pad gestop. Hulle was al uit en het kom handskud. Weggekrimp dat haar swart bollatjie net-net uitsteek het my pa se ma, diep in die negentig toe al, in die kar bly sit. Ek het oorgestap en gaan groet. Sy het my stom sonder herkenning aangestaar en oom Frans moes kom verduidelik, iets soos, “Dis Hansie, oorlede Hans, ma se seun, se seun.”

Sy het my aangekyk, en háár woorde sal ek nooit vergeet nie, verbatim daarom: “O, so jy is die seun van die man wat hulle vandag begrawe, aangename kennis. Wie word vandag begrawe?”

Of dit bloot die ouderdom was, weet ek nie. Dalk die ontwrigting van ‘n roetine en al die pad van Brits af Johannesburg toe. Moontlik selfs ‘n kalmeerpil wat die gewoonte was, en is, om mense in te jaag. Feit bly staan, Ouma Moolman het ‘n jaar voor haar dood nie geweet wie ek is nie, wie haar eie seun was wat hulle daardie dag begrawe het nie.

En oumas is snaakse goed. Word hulle oor geslagte heen en met verloop van tyd dan almal dieselfde.

Ek gaan tel my ma Oukersdag by die ouetehuis op. Klaradyn slaap en ons skil groente in die kombuis. Later het ek haar in Klaradyn se kamer wat sy, asof vir die eerste keer, op haar kritiese manier met ‘n estetiese oog betrag. “Ma moet bietjie rus.”

Klaradyn word op ons bed wakker en ek stuur haar na haar Ouma-Nooi toe. Ouma-Nooi omdat sy Klaradyn, net soos sy my ge-Oubaas het, van geboorte af Ounooi, en Klaradyn self na haar begin verwys het as Ouma-Nooi.

Niks.

Ek draf oor.

“Wie is hierdie dogtertjie in die kamer by my?” vra sy oomblikke later onbegrypend.

En ewe onbegrypend ‘n ongemaklike bietjie later: “So jy sê dis jy en jou vrou se kind hierdie!?”

‘n Slaap-of kalmeerpil is dit beslis nie. Haar roetine kan ook nie so ontwrig wees nie, sy was verlede week ook by ons. En die vorige week. ‘n Uitmergelende rit, soos van Brits na Johannesburg vir ‘n ou vrou, is dit ook nie. Met die motor is sy nie vyf minute van ons af nie, soos die kraai vlieg net ‘n katspoegie.

En tog, so vinnig, so vreeslik ver.

En om te vra vir die vleuels van ‘n engel om haar te begelei? Iets waarop ek myself deesdae meer dikwels betrap.

Het sy, net haar voete nog onvas vas op Moederaarde, nie lankreeds by hulle aangesluit nie?

19.12.11

Christmas Past (3)


“Ou Niek,” het ek op Boere Afrikaans mee groot geword, is ‘n eufemistiese en meer idiomatiese benaming vir die duiwel, Satan of Lucifer.

Met ‘n Duitse juffrou vir ‘n mamma, word Klaradyn egter groot met ‘n ander vorm en verbuiging van die Afrikaanse Nicolaas/Niklaas/Nico en sing sy al van drie af op die wysie van Jingle Bells die Duitse “Nicolaus, Nicolaus, pak die Taschen aus.”

My kennis van Duits is beperk tot donnerwetter, ich liebe dich, en schweinehund, maar soos ek dit het en aflei, sing ma en dogter dan van sakkies en pakkies wat op St Nicolaus-nag uitgesit word vir Nicolaus om met geskenkies te vul.

So moet Klaradyn dan nou ook getrou op die aand van 5 Desember ‘n skoen voor die deur sit wat Oom Nicolaus dan vul met ‘n ietsie klein.

Ek moet tog onthou dat ek verlede jaar op Boekevat gelees het die Hollanders bring nog ‘n versie of gediggie of iets soortgelyks in wat Nicolaus (en ek vermoed vir hulle eerder Sinterklaas) in die skoen los. Dit sal Annieka se verbeelding nuwe uitbreidingsmoontlikhede gee — niks demp haar entoesiasme om haar te beperk tot ‘n tradisie uit die koue Germanië nie, en soos dit met tradisie en oorlewering is, pas elkeen hom mos maar na eie behoeftes en geleenthede aan. In ons huis word elke Nussknacker en Räucher Mannetjie, van die kombuisdeur, oor die tafel en af in die gang tot by Klaradyn se kamer gepak, sodat hulle, ounag wanneer ons almal slaap, vir Oom Nicolaus die pad kan aandui na haar kamer en rooi reënsteweltjies toe.

(Die stomme Nicola, wat ‘n tuinwoonstel by ons huur, het onvermydelik vir Klaradyn “Tannie Nicolau” geword, en dis verniet of ons dit uit haar kan uitkry. Tannie Nicolau is ongetwyfeld familie van Oom Nicolaus, ás sy nie sy vrou is nie, en Klaradyn het vir haar die hoogste agting, ontsag en bewondering.)

Nou sê ek weer, ek meng nie in met Mamma se programmering van Klaradyn se kinderbrein nie, maar dit klink vir my Sint Nicolaus is ‘n oom wat om die wêreld stap, en slegs as die kinders deur die loop van die jaar baie soet was, plaas hy vyf Desember pakkies in hul skoene.

Te gevaarlik en volksvreemd kan dit nie wees nie. Die gebore en getoë geswore ateïste wat hul kind (en ek sal my daarvan weerhou om na hierdie kind as hul geskenkie van God te verwys) saam met Klaars in die skool het, ag hul Niklaas onskuldig genoeg om die res van ons selfs op 6 Desember na hul Nicolaas/Niklaas/Sinterklaas-partytjie te nooi, wanneer hul seun dan kry, presies dit wat Klaradyn en die ander maatjies rondom Kersfees kry.

Dat die (meer duiwelse) Niek en Niklaas, Nicolaus, Nicolaas, Sinterklaas en Santa Claus(e?) iewers in die folklore van die fverlede ‘n gemeenskaplike stamvader het, klink vir my op die oor af heel waarskynlik. Of jy nou 5 Desember ‘n skoen voor jou deur, of 24 Desember ‘n kous aan jou bedstyl in die gereedheidshouding kry, is ses van die een en ‘n half dosyn van die ander.

Dat dit egter eerder Ou Niek, en beslis nie die nimlike Oom Nicolaus nie, was wat die nag van 5 Desember by ons ingeloer het, is ‘n feit soos ‘n koei.

Dis die laaste dag van die skooljaar (en elke laaste dag van enige skoolkwartaal breek altyd net een week, dikwels twee weke, te laat aan. Benewens dit wag ons nou al vir meer as twee maande vir hierdie dag om aan te breek. Nie omdat die skool sluit nie, onnies moet in elk geval nog vir twee dae langer by die skool gaan sit, omdat Madagascar 2 hierdie dag landwyd in die rolprentteaters begin draai. En toe die koerant se fliekgids kwart voor ses aankondig, is Pappa kwart voor vyf voor in die ry vir die gesin se kaartjies.

Pappa onthou maar al te goed hoe hy as verliefde ou/jong-man (seker maar oujongkêrel, maar dit klink so rof op die oor) jare gelede by presies dieselfde teaters so op 14 Februarie in die ry gestaan het vir die lang verwagte vrystelling van Romeo and Juliet. (Die een met Kate Winslet en Leonardo de Caprio.)

Elke verliefde paartjie, hormoon en feromoon in die omtrek van ‘n 100 km-radius was daardie aand saam met ons in die tou. Ons het stampvol, verlief, in die tweede ry van voor langs ‘n Engels-magtige tannie en haar dowe Engels-onmagtige vriendin uit een of ander Oosblok-land, sitplek vir ons ghaaate gekry. (Die kleuterskool-juffrou wil nie dat haar kinders van gat en gatte praat nie, nou praat die hele geslote kleuterskoolgemeenskappie en hul gesinne al van ghaat en ghaaate.)

Hoe ek dit weet en onthou, is, die buurtannie moes die volle drie ure van die fliek in sterk Oos-bloks aan haar hardhorende Shakespeare-Engels-onmagtige gesellin vertaal aanbied. En die dowe een van die twee (waarom praat dowe mense altyd harder as die res van ons) het ook nie gehuiwer om elke drie minute in Oos-bloks te vra presies wat nou gebeur nie.

Ewenwel, daar staan Pappa toe van kwart voor vyf tot knap na half ses vingeralleen voor ‘n geslote kaartjiekiosk (Mamma-hulle is boekwinkel toe) en ons is op die ou einde nie 23 mense in die teater nie.

Na die fliek wil Pappa ook eers boekwinkel toe, dis die begin van die somervakansie, my magtig man. 5 sprokies en 4 pakke kinderkaarte (Klaradyn moet hierdie vakansie leer van Old Maid, Go Fish, Donkey en die ander kindergunstelinge) later is ons huis toe.

Tuis, skoene uitgeskop en op die bed, is ek deeglik bewus hoe die Nussknackers en rauceher manhen, geposisioneer word om vir Nicolaus die pad aan te dui. ‘n Rukkie later hoor ek daar word vervaard vir skoene gesoek, maar ek hou my ore doof en lyf doodmoeg toe Vroulief se gesprek met Klaradyn duidelik daarop dui dat Pappa sal moet opstaan om Klaradyn se reënsteweltjies  in die waskamer te gaan haal.

Krag om twee van die vyf sprokies te lees, het ek altyd, maar dan is dit Annieka se beurt om by my oor te neem. Ek gaan wag voor die TV vir haar om by my aan te sluit as Klaradyn slaap. Waar ek self toe nou ook aan die slaap val, en ure later, in die verby strompel kamer toe, opmerk Annieka het op haar beurt in Klaradyn se arms aan Morpheus oorgegee. (Dis die laaste dag van ‘n skooljaar gewees, onthou.)

Wanneer sy, en duidelik ook Klaradyn, deur die loop van die nag by my op die dubbelbed aangesluit het, weet ek nie, maar toe ek half ses my oë oopmaak is die twee slapende skones langs my, en ‘n prins sal sy soen moet ken om hulle wakker gesoen te kry.

Of so het ek gedink, maar dan is dit mos hoe dit met vrouens is (ek hoop wragtig nie dis net Annieka nie) hulle het mos hierdie wonderlike vermoë om te lyk asof hulle slaap as en wanneer dit vir hulle gerieflik en geleë is om te lyk asof hulle slaap. Toe my voet egter grond raak, fluister sy iets hier vanuit haar newels in my newels.

Ek is nog nie mooi by nie en ek dink sy is by Nico, die skool se atletiekafrigter wat gister met sy atlete op ‘n oefenkamp vertrek het (in die heilige Kersvakansie, kan jy dit oorvertel!)

Midde die vroegoggend misverstand is ons 100% sagte gefluister kort voor lank ook nie meer ‘n te sagte gefluister nie, en net toe ek uiteindelik begin snap dat Nico al die tyd Nicolaus is, en dat Annieka aan die slaap geraak het sonder om sy pakkie in die paar pienk Crocs voor die prinses se kamerdeur te sit, spring Klaradyn, wat soos haar ma gewoonlik soggens tien na vyftien minute vat om na behore wakker te word, kiertsregop en voor jy kan sê mes is sy op en uit en af in die gang.

“Julle het vir my gejok,” is die woorde wat ons ‘n breukdeel van ‘n sekonde later begroet.

O, en soos Fiela Komotie ons in Fiela se kind geleer het: ‘n onreg wat jy teenoor ‘n kind pleeg, is ‘n onreg wat die Here jou nooit sal vergewe nie. (Of so iets.)

Ek en Annieka se tegelyk dat dit nog te vroeg is, kyk dis nog nie eers mooi daglig nie, ons moet vêrder slaap, Oom Nicolaus sal nog kom.

Dit is vir Klaradyn heel aanneemlik en sy is dadelik terug in die bed by ons. En maak ek my oog oop, dan kom dit dringend, asof dit Annieka is wat praat, van Klaradyn:  “Slaap!”. En as Annieka waag om net haar een been uit die bed te lig, dan klink Klaradyn weer kompleet soos ek wat sis:  “Slaap!”

So hou dit vir goed ‘n kwartier aan en Klaradyn besef sy gaan ons nie aan die slaap kry nie, ons besef Klaradyn gaan nie weer slaap nie en die son skyn sy strome van verblindende seën reguit in ons kamer in.

Die volgende vyftien minute verloop surrealisties. In Engels kan ons nie meer oorslaan nie, Klaradyn verstaan verdomp alles, selfs ‘n kommen Boerse Engels tel sy op. So het ons grepe in Afrikaans, afgewissel met Annieka se Duits, Hans se poging tot Oud-Nederlands en Klaradyn se bevelende “Slaap!” elke kort-kort tussen in. Woorde en sinsnedes wat in Duits én my geïmproviseerde Hoog-Hollands te veel op Afrikaans trek, éss-péé-él (spel) ek Annieka vir mekaar.

En nou is ek Annieka soos twee honde wat trek aan dieselfde been — elkeen wil sy eie rigting in.

Ek wil dat ons die datum verkeerd had, dis eers môre! (EM-OOO-ERR-EE!)

En sy wil die man bang hê vir die drie Spanjoele wat in die kombuis slaap.

Ai, en ek haal my hoed vir my vrou af, en ek salueer haar.

Op die ou einde spring sy maar by die diepkant in en af is sy in die gang, Klaradyn, soos die dood op haar hakke.

Die eerste wat sy sien toe sy die kombuis tref, is haar selfoon op die blad, en jou wraggies, kan jy dit glo, daar is ‘n SMS van Oom Nicolaus. “Ja, hy was hier, maar hy was bang vir die honde in die kombuis en wou nie vêrder nie!”

Ook dit is vir Klaradyn se gemoed heel aanneemlik. Maar nou moet die pakkie nog gekry word. En dis ‘n ietsie klein. Toegesluit in die kar se kattebak. In die garage.

Ai, en dis hier waar die ongemaklikheid inskop. Sy onthou toe die KersfeespakkieS (met ‘n hoofletter –s aan die einde om meervoud en baie rande aan te dui — vir 24 Desember, die kersie op die koek, die klimaks, drie weke láter) wat ons al meer as ‘n maand agter die kombuiskas se groenterak wegsteek.

En sy gaan ruk die haas, of sal ek sê hase, uit die hoed.

Hoe die stomme donder al daardie dure pakkies in ‘n paar nommer 6 kinder-Crocs sou wou kry, weet ek nie.

Maar gelukkig vra Klaradyn nie.

En dis snaaks hoe kinders is?

Dit pla haar geensins dat hy per SMS te bang vir die honde was om in die kombuis te kom, en tog vlak voor hul neuse moes verby tip-toe om drie moerse Toys-R-Us-, Reggies- en Woolworths-pakkies agter die patats in te prop nie.