Op sekere
dele van die platteland is dit dalk nie so ‘n probleem soos hier by ons nie.
En in die stad help dit ook nie jy gaan na ‘n nuwerige, kleinerige slaghuis nie; die kanse dat die nat-agter-die-ore mannetjie wat homself verbeel hy is ‘n blokman, jou sal kan help, is skraal.
En in die stad help dit ook nie jy gaan na ‘n nuwerige, kleinerige slaghuis nie; die kanse dat die nat-agter-die-ore mannetjie wat homself verbeel hy is ‘n blokman, jou sal kan help, is skraal.
Ek ry al
die pad Silverton toe, Uitkyk-slaghuis toe
met ‘n miernes slagters (baie van hulle al baie lank in die land) agter die
glas-yskastoonbank van hulle. Kan die eerste man jou nie help nie, is daar wel
iewers ‘n ou oom met die asem van aftrede kort op sy hakke wat nadergetrek word
en beslis kan help.
En dan is
hulle ook ‘n vriendelike spul. As hulle nou eers die karkas daar van agter
gebring het, gee hulle nie om as jy agtertoe stap saam met hulle en presies
verduidelik wat jy wil hê nie.
En wat ek
wil hê is eenvoudig, ‘n skaap- of lamsribbetjie soos die ou boeremense dit
gemaak het.
Die meeste
jong slagters vat jou dan na hul ribbetjies toe en dit word gou duidelik dat
hulle gehoor het, maar nie geluister het nie. Al wat hulle raak gehoor het is ribbetjie. Maar dis nie wat ek gevra het
nie, ‘n ribbetjie soos die ou boeremense hom voorberei het, bring daar vir my
‘n karkas van agter en dan wys ek jou.
Wat die man
natuurlik nie doen nie. Hy soek ‘n ouerige oom op en stuur hom om te kom hoor
wat ek wil hê. Die ou oom se gesig helder dan op, hy kry ‘n deernisvolle
glimlag en sy oë kry so ‘n ver-af kyk. Nie lank nie, en hy kom aangestap met
die beste karkas waarop hy sy hande kon lê — met liefde en respek uitgesoek.
In die ou
dae toe elke week ‘n skaap geslag is en jy nog met ‘n hele lam by jou werf
aangekom het uit dankbaarheid van jou buurman wat jy gou gaan help om die se
trekker weer aan die gang te kry, is daar anders omgegaan met vleis as vandag.
Dit was voor die koms van ys- en vrieskaste, en wat nie voorberei en ingelê is
in bottels nie, is redelik gou geëet.
My skoonpa
se oorlede ouma het selfs na die koms van ‘n vrieskas steeds haar beste vleis
gaar gemaak en ingelê — sy het mos kon sien hoeveel minder jou vleis word nadat
jy dit eers gevries het. En so mors ‘n mens nie met goeie kos nie.
In daardie
dae, woon jy op die dorp en is jy inderdaad so een of twee keer ‘n jaar verplig
om vleis te moet koop (die ou mense was mededeelsaam en dis hulle wat die res
van die land van ubuntu geleer het)
het ‘n hele skaap jou ook heelwat minder gekos as wat ons vandag vir twee
versukkelde tjoppies moet opdok.
Gevolglik
was ‘n ribbetjie toe nog ‘n ribbetjie. Jy het jou karkas so met die rugstring
langs halveer, van die boud en die blad ontslae geraak en dit wat in die middel
oorgebly het skoongewerk, en dit was jou ribbetjie. (Ter wille van Klaradyn en
die moderne stadskind: wat jou nou het is die skaap se rugstringtjoppies nog
vas aan die ribbetjie.) Die ribbebene is nou mooi in die helfte deurgesaag,
maar net die bene, en nie die vleis nie.
Praat ek
dan ook nou se dae van saag, dan dink ons almal in terme van die eietydse
elektriese vleissae wat in elke slaghuis en plaaswerf se vleiskamer staan.
Voorste jare was daar natuurlik nie so ‘n saag nie. Jy het die karkas gehang en
ribbetjies van die rugstring losgeknak, en werk jy met ‘n volgroeide skaap,
desnoods ‘n handbyltjie nader gesleep. Alles is nou van die rugstring losgesny
en die rugstring is dan met die vleis wat daaraan oorgebly het in ‘n groot
swart pot gekook.
Maar dis ‘n
ander kuns op sy eie. Ons is by die ribbetjie wat nou die lengte en wydte van
‘n skaaptjop langer en wyer aan die een kant is.
Nou, en ek
praat hier van by Uitkyk, moet jy
sien hoe staan die ander ouer slagters nader en bewonder jou ribbetjie met
nostalgie. Ook die jonges, want hulle wil sien en leer.
Dit is ‘n
manier van doen en eet wat nog nie heeltemal uitgesterf is nie. Met verlede
week se aankoop het die eerste slagter wat ons bedien het, nie op ‘n ou oom
afgestap nie, maar ‘n youngster wat
darem al blou om die baard is, nadergeroep. Die jong man het presies geweet wat
ons soek en laat val hy darem vier ander kliënte het wat ook van tyd tot tyd
inkom om dieselfde snit.
‘n Ligte
geneuk kom nou by die betaalslag. Om jou aandete te weeg is nie ‘n probleem
nie, maar watter kode tik hulle in? Die vir tjops? Of die vir ribbetjie? Die
lot het vanjaar op die prys van ‘n baie swaar “braaipak” geval. (Maar jy moet
sien hoe bont staan die stedelike slaghuise as ek elke dan en wan ‘n doodgewone
ding soos worsderms wil aankoop. Ja hulle kan die derms vir jou uitryg, meters
van die goed, maar geen stelsel maak ooit voorsiening vir ‘n kode waarteenoor
dit afgeweeg en geprys kan word nie.)
En dan maak
jy daardie amperse halwe skaap van jou gaar. Oor die kole. In die Weber,
Jetmaster of sommer die Defy.
Dis dan ook
nou hier waar ons van die ou mense afskeid neem. Daar is onder die son niks
verkeerd om jou vleis te geur presies soos hulle gedoen het nie — sout en
hoogstens ‘n bietjie peper.
As jy
aanstellerig wil wees kan jy Herbs de
Provence, ‘n knippie gemengde kruie, allerhande braaisout en barbecue spice, selfs knoffel en kruisement na smaak gebruik.
Ek verkies die teendeel, sout en peper.
Maar dis
hier waar my en oorle’ ouma- en oupagrootjie se weë skei. Hulle het van die
vleis nou ‘n brandoffer gemaak. Ek hou my vleisie heeltyd met die beenkant
onder dat die been hom as het ware pienk kry. Met die konveksiestrome en dinge
waarvan ek niks weet nie, is my vleiskant se vetjies, danksy die Jetmaster- of
Weberdeksel heerlik uitgebak en het die vleis nog ‘n sappige pienk as dit
voorgesny word.
Berei ons
dit vir Ouma en Oupa voor, eintlik maar van Oupa wat ek dit so leer doen het,
maak ons dit natuurlik well done en
daar is werklik onder die son niks mee verkeerd nie. Die vetjies is ewe goed
uitgebak en die vleis bloot net anders heerlik gaar.
Lekker bly
lekker, ongeag of jy hom ‘n driekwart-uur in die goeie geselskap van die regte hitte
het, ‘n uur, nog ‘n kwart daarby, of ‘n uur en ‘n half.
