3.11.11

Kleine Reynard

11:59nm, Dinsdag, 21 Okt, 2008

"Hans Moolman is ‘n voltydse ligafskakeler"


Maar dan moet jy dit nie net sommer so lees nie.

Lees dit hardop.

Weer. (Onthou ek is ‘n onnie: “Jy sal dit oor en oor doen tot jy dit reg doen!”)

Hopelik help die groter lettertipe en vetdruk dat jy dit reg doen.

Sê dit in ‘n stadige diep stem, met so ‘n spokerigheid en rek die vokale."HHaans MMoollmahn ihs ‘nh vholtydse lhigafskaahkeler" (As jy dit reg doen, sal dit herinner aan ‘n langspeelplaat wat teen ‘n stadiger spoed as waarteen dit opgeneem is, teruggespeel word.)


Doen jy dit reg en jy’s in jou forties onthou jy Dis my geheim Donderdae aande op die Afrikaanse diens van SAUK, jare voor RSG in die tyd van LM-radio.


Die Engelse noem dit Twenty Questions en in die dae toe ons nog na ‘n vlaggie gekyk het terwyl die polisie-orkes Die Stem teen sluitingstyd op die beeldradio speel, het die program ook vanuit Ateljee 4 in ons voorkamers gekuier.


Ek eggo gereeld die vermomde stem van die eertydse aanbieder in my gedagtes as ek van kamer tot kamer deur die huis loop en huweliksdruiwe vir die klein jakkalsies wat die wingerd so verniel, voer.


"Ek is ‘n ligafskakeler." 

"Hans Moolman is ‘n professionele, gegradueerde voltydse ligafskakelaar." (En ek lag vir myself oor die “-skakelaar”, in plaas van "-skakeler"  wat ek weer eens van myself gemaak het.)


Vanoggend weer. “Dis nou die derde keer in vyf minute dat ek hierdie lig afsit” (terwyl stomme Annieka op haar tande kners oor sy opgeskeep sit met ‘n obsessief-kompulsiewe ligafskakeler.)


Die ander jakkalsie hoort nie tuis by ‘n regterbrein soos ek nie, en dis die Colgate. Saam met my ouetehuis toe eendag pak ek heel eerste iets wat Annieka in die huwelik ingebring het: so eenvoudige gadget wat die tandepastabuis hier van sy gatkant af opkatrol en jou oggend na oggend laat met ‘n tandepastabuisie plomp en uitgeswel soos vroeë-oggend adamsvy.


Dis nou as Annieka nie eerste in die badkamer was en jou laat met ‘n nekomgedraaide tulp wat die tekstuur van ‘n verskrompelde rosyntjie het nie!


En dit help ook nie ons het ‘n his en hers nie. Spearmint vir Pa en Fresh mint vir Ma nie. Want nou raak dit soos met my skeermesse. (En ek gee nie regtig om nie. Solank jy hom net nie uit die stort badkamer toe neem nie, en ek druipnat met ‘n Kersvaderbaard van skuim moet staan en gang-af skree nie.)


Dan neem ek ook trots in ‘n tandepastabuisie wat ek leeg verklaar: hy is oor dae heen met die steelkant van die tandeborsel teen die spieël geplet, sy ingewande peul skoon hier by sy kake uit. (Nie naastenby soos die buisies wat ek gereeld uit die badkamer se vullisblik vis met nog goed ‘n week se tandeborsel in hom opgesluit nie.)


My gedagtes spring onwillekeurig yskas toe, waar ander halfvol/halfleeg jakkalsies kop uitsteek.. Waarom enige mens ‘n tweede bottel Coke wil oopmaak, terwyl daar nog ‘n agt-en-veertigste van ‘n oop bottel coke is, gaan my verstand te bowe. (Maar ek het stof tot dankbaarheid: het een keer drie oop bottels coke in skoonma-hulle se yskas getel en net my kop geskud.)


In die kombuis skuil daar natuurlik ‘n trop jakkalse. Waar Annieka met ‘n kompulsiewe ligafskakeler sit, sit ek met ‘n kompulsiewe opruimer en wegpakker.


(Vanaand weer, toe ek by die rekenaar kom, lê daar twee pakke vraestelle en ‘n vaklêer, wat nou al vir twee weke geen mens op die rak in die kombuis pla nie, oor die sleutelbord van my rekenaar en grom.)


“Ek het nou net ‘n avokadopeer daar op die punt van die tafel gesit om te skil. Waar is hy?”


“Die rooi groentemes/sout/tamatiesous/suikerpot was hier. Nou net. En nou’s dit weg…”


Dan maak sy ook kasdeure toe teen ‘n vinniger tempo as wat enige man wat in ‘n kombuis werk, dit kan oopmaak. Ek verstaan dit nie.


In ons huis maak ek kos. (En dis wonderlik: nou ruim sý op, gee die honde kos, versorg die tuinier, verf die kinderkamer en honderde ander takies wat ek sou moes doen as ek haar nie so elke nou en dan kon afdreig met ‘n “Wil jy vanaand vir ete sorg” nie. My raad aan alle ongetroude mans, daarom eenvoudig: sorg dat jy die hef van die kombuismes letterlik in jou hand het, en jy hét die hef in die hand.)


So, in ons huis maak ek die kos, en Annieka dek tafel. Tafeldek. ‘n Eenvoudige daaglikse sleurtakie wat enige mens hoogstens een minuut en sewentien sekondes behoort te neem. Nie vir Annieka nie. Tafeldek word ‘n lang uitgerekte proses wat, tussen die uitkry van drie plekmatjies, drie messe en drie vurke (die warmmatjies, opskeplepels, sout en peper sorg ek geïrriteerd aan die einde altyd voor) insluit, enige vyf of meer van die volgende:


Die voëls inbring/kosgee/watergee
Die honde uitjaag/kosgee/watergee
Die tafel/kombuiskas/vloer/stoof/yskasdeur afvryf/opvryf/blinkvryf
Genoemde afvryflap uitwas/uitdroog/uitskud/vervang
Dertien kombuisdeure toemaak
Rooi groentemessie/blikoopmaker/kerriepoeier/rasper bêre
Potplante water gee



Die grootste vos wat weekliks, eerder soos ‘n strandjutwolf, deur die huis snork, is die een van die dasse en die lyfbande. Sy gooi die goed saam met die hemde en nog in die broeke ingeryg, in die wasbalie en dan moet ek soggens waskamer toe in die hoop dat die regte gordel daar iewers lê.


Miskien moet ek herfraseer: sy tel sowaar my netjiese hopies klere van die vloer (badkamer-, slaapkamer, TV-kamer-, studeerkamer- en kombuis-) op,  en gooi dit net so, das en belt, sleutels en beursie, en al in die wasbalie.


Sy kan bly wees sy is nie met my ma getroud nie. Sy kan bly wees ek loop nie met sakdoeke in my sakke rond nie. Ek onthou nog goed hoe omgekrap my ma kon word as ‘n broek met ‘n sakdoek in, deur die was, op die draad en oor die strykplank beland het. (Om nie te praat van daai tissues-vir-mans wat soms deurgeglip en die hele was gespikkeld soos 'n tarentaal gelaat het nie!)

Sien, ek is ‘n perfeksionis. En as ek ‘n ding nie goed kan doen nie, dan doen ek dit eerder glad nie, as half.



So is dit ook met klere optel en wegpak. En handdoeke, skoene, vraestelle, tamatiesousbottels, rooi groentemessies, voëtjiesaad (die enkele kere as ek onthou om hulle te versorg) optel en wegpak.


En seker ‘n hele paar ander goed ook.


En seker ‘n hele paar meer ander goed ook as die hele paar ander goed waaraan ek nou kan dink.


Gelukkig, lyk dit my, my liewe vrou, het geen boer in die ganse geskiedenis van Landbou Suid-Afrika al ooit ‘n jakkals teëgekom wat druiwe vreet nie, en kan hulle daarom nie regtig die wingerd verniel nie.


Gelukkig, want anders was Hans Moolman lankal nie meer in die wonderlik bevoorregte posisie om ‘n "voltydse ligafskakeler" te wees nie.


Wyk, Reynard, wyk.

Lief jou. Annieka.

No comments: