26.9.11

Hartskos

Nie dat iemand belang sal stel nie, maar hier dan ‘n vyfde resep wat nie die regte een is nie:

Een groot bottel Cross & Blackwell mayonnaise

Een blik kondensmelk daarby ingeroer

Mosterdpoeier (meer as wat jy die eerste keer ingooi — ek het drie keer  ingegooi)

Asyn so veel as wat jy nodig het om van die oorheersende kondensmelksmaak ontslae te raak

En nou help dit nie ek word oorval met moedige pogings nie; dit is mos nou maar een maal soos dit met sommige kokke gaan — sommer uit die kop uit kook, en meng, en voeg hulle so na gedagte (en wat daar op die rak oor is) by.

En so was dit met Judy. Ek het al uit elke denkbare kookboek  wat sy ooit op haar rak had, elke resep wat net vaagweg, moontlik, miskien, dalk, kan, herinner aan haar aartappelslaai, probeer maar dis duidelik die ding was in haar kop, oor jare heen met liefde voorberei en vervolmaak soos haar gesin dit die meeste waardeer het.

Daarom dat ek nou self bymekaar gooi en (ver-)brou. Dit help ook nou nie om haar te vra nie — toe ons laas gekyk het, en dis ook al meer as ‘n jaar gelede, was daar van haar brein nie eers 60% oor nie.

Die “baie vriendelike dame en man” (soos sy hulle noem) by wie sy tans in die Kaap kuier, is eintlik haar oudste seun en skoondogter. Maar ek dwaal af.

O, en dan onthou ek,  al (af-)dwalende,  die lekkerste Kersfeeste en beplannings- en verkennende gesprekke, hierdie tyd van die jaar al, rondom die wie, wat en waar van die Kersete. Nie dat daar vreeslik beplanning ooit was nie, dit was eintlik maar net bevestiging van elke jaar se roetine en standaardspyskaart.

Die varkboud, en ek brand om boekdele te vertel, was  Judy se speciality.

So vra ek haar (toe ook al in die sewentig) so ses jaar gelede, Kersfees is daardie jaar by ons, of sy weer, soos van ouds, vir die varkboud sal sorg.

“Natuurlik,” willig sy in, want sy is ‘n bobaaskok en bedien haar man nog elke dag (en vir ‘n jaar of twee, drie daarna steeds) van drie maaltye ‘n dag.

Maar sy roep my met ‘n beklemming, wat net dié naaste aan haar sal herken, later by die spaarkamer in. “Oubaas, maar Mamma weet nie hoe om ‘n varkboud gaar te maak nie; ek het dit nog nooit gedoen nie. Sê nou dis nie lekker nie?”

Ek het koud geword. Soos daai een oggend ‘n jaar of wat tevore toe ons by hulle oorslaap en my oog vang haar op die bed sit. En ek sien, nie my ma nie, maar my ouma, soos ek haar jare gelede as kind op ‘n bed sien sit het.

Hierna het dit vinnig gegaan. En dit was toe in elk geval al klaar te laat.

Koud het ek weer geword, ‘n ruk daarna toe ons daar opdaag vir ete, en die tafeldoek, servette, plekmatjies en borde pas nie bymekaar soos vir ‘n koningsmaal nie, by gebrek aan vars blomme, nie eers ‘n potplant op die tafel nie. Dít, nie soos Judy al die jare was nie.

My en Annieka se bestelling, elke een Sondag in die maand, as ons deurry na die oues toe, was “Ma se sosatietjops”. Maar nou laat weet ons al teen Dinsdag sodat dit op die laatste Woensdag al hul lê in die erdebak kan kry. (Siestog, hier teen die einde, voor hul ouestehuis toe is, het ons glad nie laat weet nie — anders kook sy ‘n week lank aanmekaar, is sy Sondagoggend vieruur al op die been en heeltemal buite weste teen die tyd dat ons daar stop.)

Die laaste sosatietjops wat ek onthou, en onthou ons het hiermee grootgeword, was, om dit vleiend te stel, grensend aan oneetbaar en ek, Annieka miskien ook, het dit met stil en ingehoue trane weggesluk.

In hierdie stadium het elkeen uit die familie wat kom kuier die selfopgelegde taak gehad om die yskas te detox van bakkies, en muffies en ander ongedefinieerde goed wat gevaar geloop het om saam met ‘n wors en ‘n eier in haar wederhelf se ontbytbord te beland.

Gevolglik mymer ek en my broer gereeld elke jaar langafstand oor die telefoon oor Ma se kos en elke keer kom die sosatietjops onder heimwee, herinnering en bespreking. (Ons is ‘n gesin wat leef om te eet, in plaas van andersom.) Saam is ons twee seker al meer as ‘n eeu oud en in al hierdie gedeelde jare het ons nog nooit ‘n ander mens raakgeloop wat sosatietjops maak of ken nie en ons maak stilweg vrede daarmee dat hierdie tjoppies van Ma voortaan net in die geheue geproe gaan word.

Tót nou die anderdag op besoek aan ‘n mark, wat in die volksmond seker eerder bekend staan as ‘n vlooimark, maar dit beslis nie is nie; eerder afsetgebied vir onwettige immigrante se onwettige gesteelde ware. Die enigste stalletjie wat vaagweg vlooimarkkwaliteit had, toe die een met die tweedehandse boeke. Ook dan nou presies hier waar ek krap en hooikoors opdoen van snuffel in die stof en stories wat elke boek van vertel..

Betsie Rood se Maleier-kookkuns, vang my oog. Ek kon nie glo dat die betrokke uitgewer in die sewentigerjare hulle sou bemoei het met so anti-Apartheid onderwerp en iets anders as Boerekos en vertaalde kookboeke uit die buiteland nie.

Met Cass Abrahams se Kook Kaaps-Maleis by die huis is dit ook maar redelik onbelangstellend dat ek deurblaai en wag vir vrou- en kindlief om die geld wat ons nie het nie, uit te gee op dit wat ons nie nodig het nie.

En daar spring die letters na my toe, so eie aan die Afrikaanse tong van die sewentigerjare:  Kotelet-sosaties. Nogal ‘n Kotelet-sosaties A én ‘n Kotelet-sosaties B.

Met die prys van skaapvleis wat dit is, en ‘n karmenaadjie die status van ‘n argaïsme of taalfossiel gekry het, is eksperimenteer met tjops seker nie iets wat enige mens nou se dae doen nie. Maar as die skip ingekom het, probeer gerus een van die volgende twee. Dis nie dieselfde as Judy s’n nie, maar as jy die twee resepte een maak en meng en pas na gelang van wat die kombuisrak bied, kom jy baie naby daaraan.

Mev A Hendricks se kotelet-sosaties

2 kg skaapboudkotelette
3 groot uie
1 groot knoffelhuisie
125 ml wit asyn
10 ml sout
12.5 ml suiker
10 ml borrie
2 groen rissies
Paar lourierblare
Olie

Was vleis, plaas in emalje- of erdehouer.
Sny uie in ringe.
Stamp kniffel en meng dit met al die ander bestanddele behalwe die olie.
Voeg dit by die vleis en roer dit om goed te meng.
Laat ‘n paar uur lank marineer.
Haal die vleis uit, skud die sous af en sit eenkant in ‘n bakskottel
Haal uie uit marinade.
Verhit olie in pan, voeg uie by en braai tot goudkleurig.
Voeg dan die marinade by en laat deurkook.
Giet sous oor die vleis.
Bak die vleis met sous ‘n half uur lank in die oond.
Bedien met fynaartappels of geelrys met beetslaai.

Kotelet-sosaties

450 g uie in dun ringe gesny
Vet of olie
‘n stukkie groengemmer
3 knoffelhuisies
Sout na smaak
Tamarynwater of asyn
1.5 kg skaapkotelette
Lourier-of lemoenblare
12,5 ml kerrie
5 ml borrie

Braai ui in vet of olie
Voeg gemmer, sout en knoffel saam gestamp daarby.
Voeg tamarynwater of asyn by en laat die vleis oornag daarin lê.
Laat die kotelette stadig in die sous prut, met die byvoeging van lemoen- of lourierblare, kerrie en borrie (gemeng) tot sag en gaar.

Ek, vir wat dit werd is, voeg die twee resepte se bestanddele saam, volg my eie kop met die hoeveelhede, mog het troffe met die asyn en laat dit prut op die stoof soos by tweede een, eerder as bak in oond soos by eerste.

En nee, ek kyk nie ‘n gegeefde perd in die bek nie. Hoe het die mense daai lekker ryk ongesonde mayonnaise gemaak wat hulle oor die aartappelslaai gegooi het?  


(Maleier-kookkuns, geskryf en saamgestel deur Betsie Rood, opgedra aan dr. I.D. du Plessis en die Maleiergemeenskap, is in 1977 uitgegee deur Tafelberg.)

19.9.11

Judy & Anne


My ma se suster, Tannie Anne, is seker so nege jaar gelede oorlede. Alzheimer.

Die derde laaste keer wat ek haar besoek het, was my en Annieka se eerste besoek saam aan haar vandat sy in die ouetehuis ingetrek het.

Sy was nie in haar kamer nie, maar in die eetkamer. Ons het in die deur gestaan en sy het lank en vraend na ons gekyk. Anders as my ma het sy duidelik te kenne gegee dat sy wonder wie ons is. Ons het ons self voorgestel en toe lekker gekuier, maar of sy ons enigsins geëien het, het ek nie destds geweet nie. En weet ek tot vandag nie. Die manier waarop sy na ons gekk het, die nuuskierige vraagteken oor haar gesig is wat my bybly, en altyd sal bybly.

Die tweede laaste keer was enkele maande later. Teen hierdie tyd was sy uit die ouetehuis en aan huis van haar seun, seker so twee uur se ry van my ma af.

Ek en Annieka het my ma deurgery sodat sy haar suster kan sien.

Net op my ma en haar seun wat sy reageer het, asof ek en Annieka geensins in die vertrek was nie. Haar “reageer” was ook maar beperk, want sy was, selfsugtig soos ‘n kind, net ingegskakel op haar eie klein wêreldjie, ‘n klein wêreldjie waarin sy die een oomblik koud gekry het an ander klere wou aangtrek, en die ander oomblik weer warm gekry het, en opnuut wou verklee. Toe wou sy in haar pajamas. Dan wil sy in die een stoel, dan in die ander.

Ek en Annieka, ons is beide sissies, het getjank; nie my ma nie – met liefde en geduld en begrip het sy die kuier deurgesit. Haar kalm, beheersde,en nugter self. In belang van haar suster.

Sy het haarself ook nie toegelaat om op pad terug Alberton toe te huil nie.

My laaste besoek was nie twee weke later nie. Annieka is nie saam nie. Weer het ek my ma deurgevat. Hierdie keer ‘n ander omliggende dorp; Tannie Anne is nou bedlêend in die een of ander hospitaal.

Die eerste wat my opgeval het is die feit dat was asof sy geneties verander het – asof God in haar ingespring het en haar gelaatstrekke op haar oudag herprogrammeer het.

Haar hare was nie rooi nie, maar wortel; meer nog dit was asof sy dit ge-frizz het, soos ‘n afro wat effe uitgekam is.

Die struktuur van haar gesig, haar hele profiel, het ook in skaars twee weke verander. Dis nie dat sy uiterlyk gelyk het of sy agteruit gegaan het nie, of oornag oud geord het nie, gensins; dis net dat sy ‘n total make-over gehad het.

Haar stem was dieselfde.

Die vreemde nukkerige korrelkop van ons vorige besoek was dood. Sy was nou net hulpeloos, dis al, niks meer nie; niks minder nie.

Die tweede ding waarvan ek binne enkele minute bewus geword het, was die feit dat die volle omvang van haar hede en verlede beperk was tot hoogstens 40 sekondes, waarna sy keer op keer in ‘n ligte slaaptoestand weggedommel het.

Net om ‘n minuut of wat later weer wakker te word, vir 40 sekondes in kontak met die hede (haar hede en hele verlede) te wees, en dan weer weg te sink in slaap.

Met slaapintervalle van hoogstens 2 minute was sy elke keer, opnuut, tegelyk baie bly en verbaas om my ma te sien. Sy wou elke keer by haar sus weet waar sy is, en sodra my ma haar vertel het waar sy is, wou sy weet hoekom sy daar is.

Dis 9 jaar later, maar ek onthou dit soos gister:  “Waar is ek, Judy?” en “Nou wat maak ek hier?”

En elke keer, oor en oor, het my haar, met dieselfde liefde en geduld van altyd, vertel.



“Jy’s baie siek en in die hospitaal, Anne. Jy kan nie meer goed onthou nie, maar met my en met Ivan gaan dit goed.” (Ivan is haar seun.)

En het sy nie weggedommel voor my ma klaar vertel het nie, was ‘n verlede van enkele sekondes gelede klaar uitgewis en het sy haar vrae maar net van vooraf begin. Selfde verbasing, selfde infleksie. Selfde hulpelose ontredderdheid (as daar so iets is).

Ek is na 20 minute uit. Eers gang toe, toe nog verder, tuin toe, kar toe, vars lug toe, oopte toe.

Ek het nie weer oor Tannie Anne gehuil nie. My liewe donder – ek is immers ‘n groot uitgevrete en getroude man.

Dis my ma wat my hierdie keer in trane had, ek al die pad so ‘n entjie agter haar, van die kamerdeur, met die gange langs, tot by die kar.

Ek verbeel my my ma was haastig om by die kar te kom, maar miskien wou ek my (ons?) die verleentheid spaar.

Om jou drie en sewentigjarige ma, dapper en moedig op sterfbedbesoek aan haar tagtigjarige suster, te aanskou, vat trouens selfs aan pissies veel sterker as ek.

Hierdie keer het my ma op pad terug in die motor na ‘n tissue gesoek. Verskeie kere. Ons het beide geweet. Dit was duidelik.

Ek het van die begin af ook goed geweet wat ons hier kom soek het:  Op my ouma se sterfbed die nag, het Ouma my ma laat belowe om na Anne om te sien. My ma het die ou argument, dat Anne die oudste van die twee susters en die een is wat na my ma moet omsien, gebruik. Maar, soos van te vore, het Ouma die argument gewen met iets soos:  “Judy, jy ken Anne net so goed soos ek, jy weet jy is die een wat na haar sal moet omsien, jongste of te not.”

En my ma het geweet haar sterwende ma is reg, en tien jaar later steeds haar woord gestant probeer doen. Al het dit ook beteken dat sy my van Pretoria af op Alberton by haar moes kry, en daarna weer al die pad tot iewers in die Vrystaat. En terug. Weg van my vrou, die hele dag.

Maar niks hiervan het die stilte al die pad terug huis toe verbreek nie.

En nie drie dae later nie is Tannie Anne dood en het ons in ‘n kerk, genadiglik op Alberton hierdie keer, van haar afskeid geneem.

Ek het een van die kerse wat ek self vir my en Annieka se troue gemaak het, in die kerk brand gemaak en vir Ivan gegee, na die tyd.

Anne se as was vir seker vier jaar in die kassie langs my ma se bed.

Met die laaste besoek aan my ma in haar ou kamer, voor sy getrek het na die Alzheimer-vloer, het die houte kissie ewe makaber langs die blikkie koekies, neffens die boksie sjokolade in die snoep-kas, sy opwagting gemaak.

Maar Ivan het intussen die as gestrooi waar hy dit goed gedink het, en die houtkissie na afloop daarvan aan my ma terugbesorg.

My ma het my so drie weke gelede uit die bloute gevra:  “Wat hoor jy van Anne?”

Ek wou my ma op daardie oomblik nie ontstel nie, en het gesê dit gaan goed. En die gesprek dadelik in ‘n ander rigting gestuur.

Maar dis nie waarby ek wil uitkom nie. Miskien nie eers by Tannie Anne nie.

Tog staan my gedagtes nou al ‘n klompie maande stil by Tanne Anne, wat drie dae voor haar dood, toe haar werklikheid beperk was tot slegs veertig sekondes elke minuut of so, nooit vergeet het wie my ma was nie.

Haar hele verlede was uitgewis. Haar seun het trouens selfs laat weet sy het hom ook nou afgesterf, en as my ma wil afskeid neem moet sy dit gou doen. (Daarom dalk ook hoekom my ma telkens met haar laaste besoek so ongevraagd na hom bly verwys het, so asof sy ‘n vlammetjie wat reeds gedoof was, nuwe suurstof wou gee, om te kyk of dit nie weer vlam vat nie.)

En tog het Anne, weliswaar met intervalle van minute, elke keer met my ma gepraat en presies geweet met wie sy praat, haar telkens op haar naam aangespreek. Haar selfs ge-Joekie en ge-Juds, familietroetelnaampies uit die dae toe hulle nog saam op skool, op vakansie en nog later vir jare saam aan die stuur van ‘n rokkewinkel was.

Medici wat daagliks met Alzheimer-pasiënte werk, sal seker sê dit gebeur wel.

Maar vir my is dit ongelooflik dat ‘n brein wat drie dae later nie meer genoeg van homself oor had om vir die hart te sê om te klop nie, om sy boodskap by die longe en ander organe tuis te bring nie, ‘n brein wat elke twee minute van nuuts af aan ‘n hede en ‘n werklikheid moet skep, steeds sy ligaam se suster, wat sy slegs drie keer in seker ses maande gesien het, kan oproep.

Die wegvrot van die brein neem ‘n duisend vorme aan, ek weet. Maar tog hoop ek dat ek net so, so soos Judy by Anne was, tot op die einde deel van my ma se hede en werklikheid sal bly.

Maar ek weet ek het geen waarborg nie.

En nog ‘n ding:  As ek overly concerned oor die ou vrou oorkom, dis oor ek in haar so ‘n donders goeie voorbeeld gehad het – sy verdien dit om nou te ontvang presies dit wat sy destyds met soveel sorg en liefde en geduld en begrip uitgedeel het. Enige iets minder sal haar stroop van die rolmodel wat sy was, en steeds is.

18.9.11

Droom- en ander beelde

Salvador Dali en ander van die surrealiste, so het my kunsjuffrou my donkiesjare gelede vertel (en ek laat my nou nie vertel dat sy toegelaat het dat die waarheid tussen haar en ‘n interessante kusgeskiedenis-les kom staan nie) het glo ‘n boekie langs hul bed gehad, om die droombeelde waaruit hulle wakker geword het aan te teken, op te teken, en seker selfs – te teken.

Was dit William Coleridge wat Kubla Kahn geskryf het?

Ja, inderdaad.

Die wonders van die internet, google en iets soos wikipedia darem!

Daar is mos nie ‘n kans dat ek nou sou opstaan en rak toe stap op soek na my tweedejaar anthology of English poetry nie – ek sou Coleridge bloot nie genoem het nie, nie juis verder gepla gewees het oor die moontlikheid dat ek Kubla Kahn verkeerd gespel het nie, en aangegaan het met my gesels; nou, danksy tegnologie, weet ek dis Coleridge, weet ek dis reg gespel (selfs dat Coleridge homself dit in ‘n stadium ge-Cublai Cain het), weet ek my tweedejaar-dosent op Varsity het nie gelieg oor die opium nie én het ek danksy die prentesoektog ‘n hele paar uitbeeldings van Coleridge, Kubla Kahn, Xanadu en die stately dome (koninklike koepel – ter wille van die alliterasie?)

Nou Coleridge, in aansluiting by Dali en die Surrealiste, het sy gedig Kubla Kahn na aanleiding van ‘n opium-droom geskryf – die gedig is glo trouens onvoltooid gelaat oordat ‘n onbekende iemand van die Engelse dorpie, Porlock,  aan die deur kom klop het en hy daarna nie verder kon onthou nie. (en sedertdien het Porlock, of Iemand van Porlock, ‘n literêre verwysing geword na enige iets of iemand wat tussen ‘n skrywer en sy skryfwerk staan.)

Ek het vanoggend weer wakker geword, die derde keer die afgelope ruk, met die wens dat ek ‘n klein swart notisieboekie langs my bed het, nie hieroor of daaroor nie, maar oor die allerheerlikste drome waaruit ek wakker word.

Hulle sê (en ek glo hulle) dat ‘n mens net bewus word van die drome, bewus is van die drome, waaruit jy wakker word – word jy nie wakker uit die droom nie, het dit glo lankal teruggekeer na jou onderbewussyn teen die tyd dat jy wakker word.

Dit maak vir my sin:  Annieka droom nooit; ek droom van die more tot die aand (die aand tot die more?), Annieka slaap soos ‘n klip, nee ‘n rots; ek soos ‘n veertjie in die wind.

My gevolgtrekking is dat sy nie van haar drome weet nie oor sy so diep en vas slaap, ek aan die ander kant is weer bewus van elke rimpeling in die ruigtes van my onderbewussyn – juis oor ek so lig slaap en maklik gewek word.

Deesdae sukkel ek met my hande wat slaap (naalde en spelde kry) terwyl ek slaap, hier teen die oggend se kant – en dan maak my hande my uit die lieflikste drome wakker. (Ek het hierdie pins and needles van my hande ook al gaan google en vreeslik uiteenlopende inligting gekry, so by so dat ek maar liewer my huisdokter se mening sal gaan inwin.)

Die swart notisietjie wil ek hê oor ek op die oomblik nog net twee van my drie lieflike drome van die afgelope ruk onthou – die tweede een het my nou ontgaan en al wat ek onthou is dat dit een groot heerlikte was.

Met die eerste een (en ek dink was ek ‘n surrealis sou ek lieflike skildery daarvan kon maak) was ek en Oom Kobus en Tannie Erika en Henriette en Cora en Andries, saam in die bad – die geel badkamer op Oom Kobus-hulle se plaas, se bad.

Net ons koppe het so bo die bad uitgesteek – daar was nie sprake van seksuele ondertone en sulke dinge om Freudiaans van letsels uit my kinderdae te getuig nie – net ons koppe het bo die oppervlak gedobber, en ons het heerlik gesit en gesels, soos een happy family.

Familie vir my, ja – dis my peetouers en hul kinders, en ons het in jare nie so lekker gesels soos daar in die bad nie; Oom Kobus en Tannie Erika is seker al meer as 20 jaar lank geskei, Cora en haar man is in die buiteland, Andries het ek in geen jare gesien nie, en Henriette is na haar man se dood weer getroud en haar kinders al op universiteit en werkend.

Ek was in meer as dertig jaar nie op die plaas waar my droom afgespeel het nie, die badkamer onthou ek soos gister – ook dat my ma eenkeer daar binne toegesluit was en ons gesukkel het om die deur oop te kry. Waterverwarming het met gas gewerk en daar was los gedagtes rondom gas ook, veral na ‘n seun in my klas so van die gas in die bad aan die slaap geraak het en lank nie by die skool was nie.

Maar dis tog ‘n negatiewe assosiasie met die geel badkamer – my droom was sielsalig gelukkig.

Vanoggend weer, was ek saam met Andre le Toit (Koos Kombuis) diep in baie ernstige gesprek in ‘n trok of wa of camper-ding en ons het verby die huis waarin ek groot geword het gery – toevallig toe ek by die venster uitkyk, toe is ons langs die ou huis.

Die volgende oomblik is ons iewers in ‘n besige dorpie in Europa en daar kom ‘n baie ou Judy (my ma) aangestap. Ek kan nie glo sy loop nie, spring selfs van opwinding op en af dat die veertjies in haar potsierlike hoedjie so fladder en rittel. Toe val sy en ek sien die been is gebreek, maar dit pla nie, want ek weet sy kan loop. En ek en Andre/Koos gaan tel haar met liefde, warm harte en ‘n breë glimlag op.

Dit maak vir my perfek sin in die sin dat ek weet waar ek aan bykans alles kom:

‘n Boek van Koos Kombuis het ek verlangend uitgekyk in die boekwinkel gister waar Klaradyn vir ‘n oomblik gedink het sy het ons verloor (en Annieka vir ‘n oomblik paniekerig gedink het dat ons ons kind verloor het).

Die vis wat ons gisteraand geëet het, het my hartseer gehad toe Klaradyn noem ons het altyd vis saam met Ouma Nooi geëet en ek opnuut daaraan dink dat my ma nie sommer weer haar voet in ons huis sal sit nie – wat sommer bog is en niks anders as slegtigheid nie.

En die middelste lekkerte het ek nou vergeet, Annieka en Klaradyn was betrokke, maar slaan my dood, ek het dit klaar in die onderbewussyn gaan bêre.

Op skool het ek al gewens ek kon my drome “op versoek” en “due to popular demand” herhaal.

In die begin was die tegnologie nog te gebrekkig om ‘n metafoor te kry, maar later van tyd, met video’s en video-winkels, het ek een gekry:  my drome moet soos video’s op ‘n rak verpak wees waar ek hulle kan gaan uitneem, en na hartelus kan rewind en replay of repeat.

Die rekenaar sal ook werk – hy het allerhande hidden files and folders waartoe ek met ‘n bietjie vaardigheid en kennis toegang kan kry. Ek wens my drome was soos lêers in die blikbrein se geheue wat ek met die slaan van die sleutelbord se toetse op kon roep.

Ek sal selfs van my kinderdae se nagmerries op wou roep om dit in stadige aksie te ondersoek en forensies te analiseer.

Tot dan sal ek egter maar tevrede moet wees met ‘n notaboekie langs die bed.

Naskrif:  Dis nou agt maande sedert ek hierdie twak kwyt geraak het. Van die droom rondom my peetouers op die plaas onthou ek niks, die een rondom my ma op die plein in die vreemde, so goed asof ek dit gisternag beleef het.

Die mens se onderbewussyn is en bly een groot ongelooflikheid.

17.9.11

Hoenderlewerpaté


En so het my twintigste interhoër (die meeste daarvan op Pilditch-stadion in Pretoria) gekom en gegaan. Ek onthou, benewens somer, son, boggerol saffier en strome sweet, uit voorste jare ook reën en modder en gly op walle en swart asbliksakke vir reënjasse. Ek onthou die twee girls wat die seuns een aand met geld in hul sakke laat toustaan het by ‘n geboutjie wat afgebreek is toe hulle die plek ‘n nuwe stadion gegee het.

Maar die meeste van alles onthou ek Betty (of was dit nou Bettie, sy is ook al meer as tien jaar oorlede) wat selfaangestelde hoof van die skool se Interhoër-verversingskomitee was.

Spyseniering vir eregaste en beamptes is mos altyd van so ‘n aard dat volgende jaar se gasheerskool wil verbeter op hierdie jaar se gasheerskool (wat op hul beurt weer die vorige jaar se gasheer die loef wou afsteek).

Maar dan is daar die plebs, die outjies op busdiens, pawiljoendiens en terreindiens, die outjies sonder ‘n gestempelde kaartjie met ‘n lintjie aan ‘n koperspeldjie, wat toegang bied tot die Skilpad-saal of eregaste-losie met ‘n verskeidenheid kouevleise en slaaie.

Deesdae stop hulle jou ‘n R50-00 in die sak en is jy oorgelewer aan wat ook al die gasheer se mammas en pappas te koop aanbied, watter ventertjies en kraampies ook al toegelaat word om handel te dryf op die terrein.

Maar nie in Bettie (sy was ‘n Engelse juffrou, so miskien is dit Betty) se dae nie.

En ja, daar was tóé ook hamburgers van twyfelagtige oorsprong met blaarslaai wat soggy raak in die mikrogolf, te klein Vienna’s in te groot broodrolle sonder botter en boerworsrolle van pet’s mince.

Maar vir Betty was dit ‘n kwessie van eer dat die plebs nét so lekker, indien nie lekkerder nie, as die outjies met die kaartjies op hul borste eet. Terwyl die kunsjuffrou rekwisiete verf, beplan Betty haar spyskaart en deel sy takies uit. As die houtwerkmeneer die dirigente se podiums aanry, ry ander mans tafels en braaiers en sambrele vir Betty se piekniek aan.

Ons doen dit in styl, aan die oostekant van die paviljoen.

En maak nie saak wat vir middagete was nie, jaar na jaar moes ek my hoendelewerpatee teen tien-uur gereed hê. Bedien, natuurlik, saam met watter gesondheidbroodresep ook al daardie jaar die gewildste in die mees onlangse Huisgenoot se Wenresepte was. (Gelukkig was dit nie ook my baba nie.)

En my hoenderlewerpatee is dit ook nie, dis my skoonsuster se resep. Ek het die resep gehad en met groot sukses gemaak. Ek het die resep weggegooi en weer gekry, hierdie keer vir jare agter op ‘n troukaartjie, maar die laaste paar jaar met die hand oorgeskryf in dit wat hopelik eendag Klaradyn se familie-resepteboek gaan wees.

(Maar verbeel ek my nou al hoe meer dat ek hierdie resep wel al gedeel het. Ek het dit einde verlede jaar gemaak vir ‘n do waar ons ‘n voorgereg moes vat. En dan is dit ‘n resep wat ek nie sal maak sonder om dit nie te deel nie, maar waar ek nou is, het ek nie internet-toegang nie. As ek het, vergeef my, maar wat die maag van vol is, loop die mond van oor. As jy dit dan al op die proef gestel het, wag tot more:  toe ons die afgelope naweek Kaap toe is vir Ouma Kapie se negentigste verjaarsdag, het ek ‘n ander heerlike hoenderlewerpatee, net so lekker maar gans anders, gemaak wat ek onderneem om more te deel.)

Jy benodig vir Skoonsus se patee:

·         twee bakkies hoenderlewertjies

·         een pakkie sampioene

·         een groot ui

·         een teelepel suiker

·         twee hard gekookte eiers

·         een pakkie spekvleis

·         een kannetjie room

·         een of twee eetlepels tamatiepuree

·         sout en peper

·         halwe koppie brandewyn

·         ses eetlepels botter (om gesmelt bo-oor te gooi en die dis te verseël)



·         Dan braai jy nou die uie en die spekvleis tot jy dink dis reg.

·         Dan braai jy die hoenderlewers daarby tot jy dink dis nog nie heeltemal reg nie.

·         Gooi dan die res by en as dit kook sal die hoenderlewers gaar en steeds ferm wees (sonder dat dit bitter raak)

Of die lewer regtig bitter kan raak as jy dit te lank op die hitte het, weet ek nie, maar Skoonsus het my daarmee bang gepraat en ek gaan wragtig nie eksperimenteer om te kyk of sy die waarheid gepraat het nie.

·         Sodra die lewertjies na jou mening nie meer pienk is nie, maar bruin genoeg na jou sin en waaragtig nog nie bitter nie, verpulp jy dit. Boers en rustic en grof, is lekker, fyn en verhewe tot ‘n room is net so lekker. Verseël met die botter en geniet. Onthou dit hou nie vir dae en weke in ‘n yskas nie, maar vries baie goed.

En nou help dit nie jy e-pos of bel of “kommentaar” my om uit te vind hoe swaar daardie “twee bakkies hoenderlewers” moet wees nie, 2 x 250 g of 2 x 500 g nie. Ek weet nie; my skoonsuster ook nie meer nie. 2 x 250 g lewer ‘n lekker patee, 2 x 500 g lewer ‘n lekker hoenderlewerpatee.

Die sampioene is met sekerheid 250 g en die room 250 ml.

Moenie op die brood of melba-toast smeer nie, plak en pleister eerder soos met ‘n troffel.

En dan kan jy nou maar gril en fiemies en neerkyk en ril en verontwaardig ‘gmf, ek gee nie om nie. Ek het dit al baie gehad en is dit gewoond, maar nog nooit het iemand na die tyd verskil of nie met my saamgestem het nie:  Kry maar ‘n lekker botteltjie rooierige konfyt van een of ander bessie-oorsprong byderhand en rond jou broodjie daarmee af. Dis nie net die Moolmans wat dit so eet nie, maar verskeie streke en kontreie op die Europese vasteland ook.

Geniet.


15.9.11

Gadget Queen de luxe

Watter of wie se plaas dit was, weet ek ongelukkig nie meer nie. Dit was beslis nie een van die plase wat ons gereeld besoek het nie, want dan sou ek onthou het.

Ek sien die vertrek voor my, nie veel groter as my huidige studeerkamer nie, ‘n hoë trap wat lei na die houtdeur. Deel van ‘n buitegebou.

Binne was ‘n groot houttafel soos die boere gehad het, en baie houtrakke teen die kante. Ek onthou die rakke leeg. Dit was ‘n werksplek, nie ‘n stoor plek nie, en ek stel my vandag voor dat die vertrek met die loop van die seisoene en die normale sikliese gang op ‘n plaas, na gelang van die betrokke aktiwiteit, deur die loop van die jaar vol verskeie dinge gestaan het. Plek vir vier of meer pare hande om die tafel, was daar beslis.

Met my besoek aan die vertrek was daar ‘n ding, vasgeskroef soos ‘n koffie- of vleismeuletjie. Maar vleis- of koffiemeuletjie was dit beslis nie, eerder iets wat my as jong seun herinner het aan ‘n eierklitser. Net, selfs al draai jy die hingsel, kan daar beslis niks daarmee geklits word nie. Die “klitser” self kyk 180 grade dwars, en daar is nie ‘n manier of hefboom wat die ding 90 grade in ‘n mengbak staan kan maak nie.

Ek het al een keer in my lewe daarna weer so ‘n kontrepsietjie gesien. In ‘n museum iewers. Die Jan Smuts-huis? Melrose-huis? Maar dit kon net sowel op Stellenbosch, Darling of Clarens gewees het. Dit sou kon deurgaan as ‘n laat-Victoriaanse-utensil, hoewel daar heel moontlik ook van hulle kan wees wat heelwat jonger is.

Dit was naamlik, wat ek sou noem, ‘n gadget wat geelperskes skil. Jy het die perske hier van sy ners af penetreer met ‘n iets, hom stewig sit gemaak en slinger gedraai. Die goed wat my aan ‘n eierklitser se draadwerk herinner het, het dan hier van buite af korte mette met die perske se skil gemaak. Groot perskes, kleinerige perskes, heel klein perskes en outsize perskes, dit maak nie saak nie. Daar moes ‘n veertjie of ding gewees het wat die se middellyf takseer het en sy lemme het net gesny tot daar waar die skil ophou en die vleis begin.

Te lieflik. Daar was perskes in die boord, so ek kon heerlik speel.

En dit is, vermoed ek ten sterkste, waar dit alles begin het — my fassinasie met ‘n kontrepsie, utensil, of gadget. Hoofsaaklik toegespits op die kombuis, met tog ‘n natuurlike aantrekkingskrag vir enige iets wat elders ook gebruik kan word, van die skrynwerker se werksbank tot die swembad se aorta, hartkamer, lewer en niere.

So moet ek nou die dag knoffel aan stukkies kry aan huise van vriende. Ek is hier weg met vier variasies op die tema van knoffel fyn kry, maar dit net omdat ek die vyfde een, die een wat ek eintlik wou gebruik, nergens kon opspoor nie. Ek het ook saamgeneem ‘n spanerige ding met hefboom, knypers en sitvlak wat adverteer is as die wêreld se enigste knoffelskiller. ‘n Lieflike ding om te hê, hy werk, maar nie so ‘n lieflike ding om te gebruik nie — dis net soveel vinniger met ‘n skerp messie wat ‘n breë lem het — reg vir oordwars kneus en velletjies afvryf met ‘n vinger. (Terloops, het jy eers jou knoffel kaal, is daar niks so goed soos sout, om die knoffel fyn aan stukkies mee te sny nie — ‘n stewige hand, ‘n teelepel en ‘n iets of wat sout, werk daai knoflok aan flarde.)

Ek kan hulle opnoem, daar is talle. ‘n Patent wat in vier of vyf omwentelings van die swingel jou pynappel skil en die harde stronk in een reguit lang worsie asblik toe stuur. Twee shredders wat korte mette maak met kruie. En is dit te fyn na ‘n mens se sin, het ek nog die dubbelband-kaplem-sig-sag-nipper-en-snyer wat soos ‘n bom werk. Hier’s twee goeters wat gekookte eiers kan afwerk tot Bybelblaadjies, so dun. (Nie dat ek dit al ooit gebruik het nie.) Hier is ‘n ding wat enige iets julienne, van wortels en ertappels tot seldery en pastats (sou jy daaraan behoefte toon). Hy het ‘n boetie ook, en was die ding nie van twintigste-eeuse plastiek nie, sou enige mens kon dink dit hoort eerder tuis in ‘n museum vir Middeleeuse marteltuie, of selfs iets uit die Markies de Sade se persoonlike versameling van ‘n klompie jare later. Dit staan bekend as ‘n 1-Chopper, 2-Dicer, 3-Slicer, 4-Shredder, 5-Mincer, 6-Julienne Cutter, 7-Masta Maker and 8-Meat Tenderizer en ek verbeel my ek het een keer in ‘n seksmuseum iewers in Amsterdam iets gesien wat daaraan herinner.

Na ‘n skou of ding vat ek net genoeg kontant vir ‘n koeldrankie en ‘n ietsie te ete. Niks meer nie, en my debietkaart, om van ‘n krediet kaart nie eers te praat nie, bly by die huis. Dis natuurlik penny wise, pound foolish, want toe kos dit my nou die dag, al die pad met ‘n visitekaartjie in die hand, deurry Doornfontein of Fordsburg in Johannesburg toe. Al die pad agter ‘n versapper aan wat ek by die skou gesien het. Die ding maak glo selfs sop van rou groente en kookwater, maar daarvoor het ek heeltemal te Boers groot geword.

Vir my sop maak ek ‘n ses- of sewetal ander kontrepsies en dingetjies vuil wat na die tyd opgewas en –ruim moet word.

Maar net so was dit middel verlede jaar dat ek na sewentien of agtien, negentien jaar se goeie dienslewering met ‘n letterlike brandpyn in my hart ontslae moes raak van ‘n slicer wat ek in die omgewing van 1980 by die Randse Paasskou gekoop het. Dit was nog voor die skougronde geskuif het en jy moes inslaan planetarium se rigting toe om daar te kom.

Hierdie slicer was die eerste van sy soort waarop ek ooit my oë gelê het. Later jare het daar meer gekom en vandag skop jy hulle agter elke bossie en afslagtoonbank uit. Maar daardie was ‘n eerste vir Suid-Afrika. En ek was op skool, in standerd agt, en ek het een gekoop.

Niks wat daarna gekom het kon by hom kers vashou nie. Die ding was seker die laaste tien jaar nie meer wat hy was by geboorte nie, en ek het ‘n tweede, soortgelyke iets gekoop. Die tweede het ongebruik in die kas gebly, terwyl ek die oorspronklike nog verder uitgeslyt het. Ek het later ‘n tweede, en ‘n derde plaasvervanger gekoop, maar selfs met vier van die goed in die kombuis, het ek vasgebyt tot die allerlaaste.
 
En elke keer, gebruik ek plaasvervanger nommer drie met weerwil, hunker ek na die ou staatmaker, die real makoya uit die vroeë jare tagtig.

‘n Ander utensil wat uit die jare sewentig, indien nie sestig nie, dateer, is Ouma van Wyk se rasper. Dit het by my al soort van die status van ‘n family heirloom. Jy maak die ding staan bo ‘n bakkie of op ‘n plank, dan deponeer jy jou wortels, of wat ook al aan het rasper moet kom, in so ‘n kompartementjie bo een of ander ronde lem van geskikte breedte en diepte. Dan druk jy die wortels teen die lem vas met die een hand, en draai die lem met die ander hand. Primitief, maar o, so effektief.

Verlede jaar toe Klaars se grootjie in die Kaap 90 geword het en ek pa moes staan vir vier geslagte se spyseniering was dit die een en enigste utensil wat ek afgevlieg het onder toe.

En is die ding sterk! Ek het al ‘n staaltafel se pote onder hierdie viervoetige klein raspertjie geknak, dat ek en slaaigroente en –bakke met onse gesigte op die grond beland — so hard en aanhoudend moet ‘n mens druk om ‘n wortel uit sy geboortepakkie en aan stukkies te kry. Die ding werk eintlik beste as een met beide hande en ken die wortelhefboom druk, en ‘n ander met beide hande die slinger draai. Spanlede kan mekaar om die beurt aflos — dan werk dit beste. Ek vermoed die ding is ontwerp in die dae toe motors nog met ‘n slinger aan die gang gedraai is, met ons een-en-twintigste-eeuse arms gaan dit maar sukkel-sukkel.

Nou wat van ‘n Kenwood, een van hierdie mixer-mincer-shredder-liquidisers, wat, as jy gelukkig is, op die koop toe ook hare droogblaas en skoene politoer?

Vergeet dit. Ek besit nie so iets nie. Ek ontsien myself die moeite om dit uit te pak en op te stel. En ek spaar Annieka die moeite om dit op te was en weg te pak, daarby. Kry ek een, sal dit suiwer wees ter wille van die vleismeule en worsstopper. En beide het ek, van yster, wat staangemaak moet word op ‘n tafelblad. En is ek die jaar lui om dit te gebruik, skiet ek deur na Ouma toe. Die een of twee keer ‘n jaar wat haar wit olifant in elk geval gebruik word, is wanneer ek hom leen.

Dan het ek in elk geval al op laerskool, in die grade nog, ‘n gly in die goed gekry. Ons praat nou van die baie vroeë sewentigs. Sien, my pa was self ‘n gadget queen par excellence. En toe die eerste van hierdie alles-in-een mikrokombuise die Suid-Afrikaanse mark tref, is my pa die eerste om een vir sy vrou te koop. Ag, en dis nie drie weke nie, toe wil hy kyk of hierdie ding die biltonge wat in die dak gehang het, ook so mooi kan kerf soos komkommer. En daar brand die stomme masjientjie vas, en uit, en oor en verby.

Kry egter enige ander foefie op die mark, en ek koop hom aan.

Ek het in my lewe nog nooit juis boontjies op groot skaal moes kerf nie. Maar, o, by die boeremark is daar ‘n man met ‘n patent — enige boontjiekerwer en tannie of oom wat kerrieboontjies aan die tuisnywerheid lewer se droom. Ek waarborg ‘n eerste prys op enige landbouskou se tuisvlyt-afdeling in die kategorie gebottelde boontjie, draf jy jou bone met die elektriese kontrepsie kaf.

Koop gaan ek hom koop. Net vir ingeval ek hom eendag nodig sou kry.

So soek ek al vir jare ‘n ding wat soos ‘n ystangetjie lyk, maar nie ‘n ystangetjie is nie, wel ‘n olyfontpitter. Ek het gemiddeld so een keer elke drie jaar behoefte daaraan om ‘n olyf te ontpit, en dit sal dan vir my so lekker wees om die ding op te spoor in een van die baie kaste gevul met sinnelose kombuis-clutter.

Maar eintlik gaan dit nie oor die olywe nie, ek wil kyk wat die ding met lietsjies doen. Oor hoe lief ek vir lietsjies is en wat ‘n mens alles daarmee kan doen, gaan dit nou nie hier nie. Die geneuk met ‘n lietsjie is bloot die feit dat daar net een manier is om ‘n lietsjie af te dop: Jy knak hom oor die helfte met jou twee stelle voortande, jy druk die een helfte skil los (die dop kraak aan twee, so skoon soos langs ‘n voeg) en in ‘n bak met die halwe dop. Nou glip jy die vruggie uit die ander helfte soos ‘n glipperttjie (catawba) in jou mond in.

Nou maak ‘n mens ‘n dis van hierdie vruggies — moenie geblikte lietsjies naby my bring nie — wil ‘n mens darem hê elke tweede of derde lietsjie moet nie in jou maag nie, maar in die gaste se borde beland. Dan glip jy elke dan en wan met sukses wel ‘n vruggie in die bak — dit verg baie inspanning van my, maar ek kry die reg. En het ‘n mens eers die vaardigheid van vruggie-uit-en-losglip-van-die-dop bemeester, is dit redelik maklik om die vruggie in ‘n bakkie te laat land. Nou eet jy sowat die helfte van jou bakkie naaklietsjies en die res is vir die gaste.

En dis hier waar ek vermoed die onvleiende geneuk kom — jy wil die pit uit hê, maar darem nog iets van die lietsjie ook. Probeer jy ‘n stomp mes, sit jy met sop en iets wat herinner aan ‘n stukkie calamari waaroor die ganske Geallieerde Magte nou net in pantserwaens gery het. Vat jy ‘n skerp mes, dan sit jou gaste met stukkies dop in bord.

Daar is net een manier wat werk: jy byt tien teen een met symste twee stelle tande wat so van effe klaar gespeel het met die dop, deur die hemelse stukkie wit vleeslikheid. Registreer jou brein dis ‘n klein pitjie, dan eet jy die lietsjie dadelik self — ‘n lietsjie met ‘n klein pit en baie vleis is ‘n luukse wat nie voor die swyne gewerp word nie. Is die vruggie gelukkig genoeg om wel bedeeld te wees soverre dit die pit betref, dan raak jy nou versigtig met jou vingers van die vleis ontslae. En jy kry toegang tot die pit juis langs die twee snitte wat jou tande nou net voorberei het.

Daar is niks anders wat werk nie. Vra maar enige mens wat kos maak met vars lietsjies.

En so lief soos ek vir lietsjies is, kom ek by mense en ek sien daar is omgegaan met ontpitte vars lietsjies, dan sit ek nie mond daaraan nie. Annieka wat my goed ken verstaan dit nooit nie, maar ek swyg soos die graf. Miskien as sy hier gelees het sal sy begin verstaan, en die gasheer of –vrou se lietsjiegereg voortaan ook maar ‘n koue skouer gee.

Ek het een keer die fout gemaak om aan huise van baie goeie vriende van ons te vra, iets soos: “Van die een kosmaker aan die ander kosmaker — hoe kry jy jou lietsjies so mooi ontpit?” (Nogal maklik om ‘n lietsjie uit te ken wat op die een en enigste regte manier, en sonder toegang tot industriële masjienerie ontpit is, uit te ken.)

Die antwoord was kortweg, bloot:  “Jy wil nie weet nie.”

En toe weet ek.

So sonder om te veel vrae te moet vra, laat ek die lietsjiebord dan maar eerder net by my verbygaan.

En hier is ek al weer hopeloos oor my woordlimiet sonder dat ek uitgekom het, waarby ek wou uitkom — Annieka se een Kerspakkie van verlede jaar.

Kyk, dis wat ‘n Kers- of verjaarsdagpakkie vir my so maklik maak:  nooit hoef jy te wonder oor watter sakdoeke, grootte onderbroek of kleur das jy vir my hoef te koop nie. Jy knyp jou oë toe voor die rak waar al die kitchen utensils hang en trek die eerste ding af waarmee jou vingers kontak maak.

Synde nou my vrou, moet Annieka darem egter ‘n bietjie dieper die winkel instap, daar tussen die bokse en dinge in. En dit wat sy eerste omhels kan maar met vrymoedigheid winkeltrollie toe.

Hierdie jaar is dit toe nou ‘n omelettepan wat sy eie omelette vanself toe- en omvou, verseël warm hou. Al waarvoor jy moet pa staan is die versending bord toe.

Op die prentjie lyk dit maklik, op die televisieadvertensie verloop dit seepglad keer op keer. Op keer. Maar ai, ek vermoed hulle het ‘n waslap of ‘n ding in die middel van hulle televisiemodel modelomelette versteek. My omelette knak almal aan twee, dop ek nou die twee flappies eier met die  mobiele panbodems om. En knak hulle nie, dan flop hulle onder deur die twee flappies deur, en dan sit ek met ‘n gemors — ek kan nie die flappies, met my duime in die lug gehou weer laat lê nie, daar waar hulle lê, lê nou my eier en kaas. En ag, dis net een groot gemors.

Maar dis wat so wonderlik is van hierdie goed, selfs al werk dit nie so goed en maklik soos op papier en beeld nie, dit maak nie saak nie. Elkeen van die goeterstes kom met die alleroulikste resepteboekies, wenke  en dinge. En as daar een ding is wat hierdie pan se mense wel baie deeglik kon doen, dan was dit om die verruklikste omelette-resepte saam te stel.

Ons eet nou al twee keer ‘n week omelette, elke keer ‘n nuwe trefferresep. Weliswaar eerder flatervol as flatervry dat die skeppinkies op die bord beland, maar wat maak dit saak. Alle kos gaan tog stukkend maag toe.

Dankie my vrou, vir ‘n lieflike kerspresent tussen al die ander waarmee jy my bederf het.