13.11.11

Groeipyne

Kinders grootmaak is ‘n ding en ‘n half, en om saam met daardie kinders groot te word, nog twee en ‘n half daarby.

Ek spot Annieka altyd liefderyk dat sy soos Violetta Muis lyk as sy huil en dan lag ons saam tussen die trane deur, maar dis net dat sy haar gesig op die mooiste plooi trek en die pikantste snikgeluide maak. Haar trane maak my nie week nie, nie simpatiek nie, nie ondersteunend nie — dit doen aan my nie een van die dinge wat sy wil hê dit aan my moet doen nie; ek staar net daar en word oorval met liefde.

Dan takseer ‘n man ook later sy vrou se huil, soos ‘n ma haar baba se huil — jy kom gou agter watter huil ingryping noop, en watter huil bloot net huil is omdat sy woedend (vir jou, wie anders), gefrustreerd (met jou, wie anders) of óp (met jou en ander soos jy) is.

En dis dan nou juis Annieka se huil wat ingryping noop, haar Violetta Muis-huil, wat my in ‘n katatoniese spierstilstand kry en ek nie wil hê sy moet ophou nie, dis vir my so mooi.

So ry Violetta Muis saam met my van ‘n vriendin-hulle af, huis toe, gisteraand. Ek wil van die pad aftrek, maar ek weet dit sal moeilikheid soek wees wat kon gebly het, en my eie gemoed is ook maar soorts van swaarderig. Dit reën buite en ek dog ‘n motorruit is iewers oopgelos, so spat dit in die binneruimte.

Sien, Klaradyn slaap uit. Vir die eerste keer. Nie uitslaap soos by Ouma-hulle so een maal elke drie maande nie, uitslaap soos by Tannie Marieta.

Om snags na deurnagapteke te ry op soek na die regte melkformule, wanneer jou eie vriende en portuur al deurnag worstel met skooltake (en hier en daar al selfs weer matriek skryf met die eersgeborenes) hou sy voordele én nadele in.

Een nadeel is beslis die feit dat jou kind, naas kleuterskool- en speelgroepiemaats, onder Mamma en Pappa se vriende geen vriende het nie. So is dit dan ook dat Klaradyn se enigste maatjies buite skoolverband, Tannie Marieta se eerste kleinkinders is.

Ouma Marieta kyk na die kleintjies wat oorslaap, ons val in vir koffie, wat later wyn word, en toe ons die aandeteborde uitpak, kom die versoek:  “Mamma, kan ek vanaand hier slaap?”

Saam met ouerskap op ‘n ouderdom wanneer ander al vergeet het van pajama-dril, kom ‘n moeiliker manier van let go. En of dit ‘n voordeel of nadeel is, weet ek nie.

Kahil Gibran het hierdie let go kind so mooi vergelyk met die pyle van ‘n boog wat die ouers in hul hand vashou. Die gedagte is dan nou dat die ouers die kind die toekoms, waarheen hulle nie self saam met hul kinders kan gaan nie, inskiet.

Op 24 sou dit vir my makliker gewees het om ‘n lat uit te soek, spandraad te weef en my pyltjie laat gaan het. Op 44 is ek ongelukkig ‘n vegetariese Boesman wat nie nut van ‘n pyl en boog insien nie — die enigste koker vir Klaradyn, Ma en Pa se huis. Basta met die res.

Annieka mompel toe iets, maar dis net die einde van haar sin wat enige mens kan uitmaak. Dit klink dan nou ook ongelukkig soos “vra vir pappa”. Waarop Klaradyn oor trippel na Pappa en haar versoek, nou met versterking en ondersteuning van twee maatjies.

Ek reken toe as Mamma “ja” wou gesê het, sou sy “ja” gesê het, en as sy “nee” wou gesê het, kon sy mos “nee” gesê het. Veel tyd vir reken is daar ook nie, die kind se oë kyk met duidelike verwagting aan.

Ek en Annieka poog om altyd uit dieselfde mond te praat en ‘n verenigde front te vorm. Ek weet egter om nou bloot te reageer met “vra vir Mamma” sal nie oortuig as “ek wou maar net uit dieselfde mond praat as jy, my skat” nie.

Ek moet basies kies wie ek die moer in vir my wil hê:  my kind of my vrou.

En in die hoop dat hulle oor tien minute moeg gaan raak en begin huil en stry en baklei sê ek toe met ‘n reguit gesig: “Natuurlik, my lief.”

En daar speel hulle soos Engele nie kan nie.

Uiteindelik kom daar ‘n gap: die een stamp die ander per ongeluk  met die skopfiets, en twee van die drie in trane. Die derde gee oor aan groepsdruk en begin ook skree.

Ek gryp die geleentheid aan, en my kind, en begin verlig groet — oorslaapstories vergete.

Of so het ek gedink. Want vyf minute later sit ek met Violetta Muis langs my in die kar terwyl ek probeer onthou of Marieta ‘n alarmstelsel, veiligheidshekke en buurtwag  het.

Die selfone word nie in die kombuis gelaai nie, maar in die kamer. Netnou bel Marieta en dan hoor ons nie die fone nie.

Nee, ons gaan bad nie by kerslig met rooiwyn nie. Maak nie eers koffie of geselsies nie. Ons klim ongemaklik in die bed en wag vir die slaap wat nie wil kom nie. Annieka prewel een stryk deur en ek weet nie of dit ‘n deurnaggebed of nagmerries is nie.

Genadiglik lui die foon.

Ek trek sommer aan terwyl Annieka antwoord. Maar dis ‘n skoolkind. (Waar kry jy haar nommer en hoekom bel jy haar so laat in die nag? Dit is, mind you, nog nie eers agtuur nie.)

Gelukkig lui die foon, nie tien minute later nie, weer.

En nog tien minute later lê ons met ‘n warm lyfie tussen ons wat kef en kyf dat sy nie plek het om te lê nie, maar gou-gou wegsink in die slaap. Haar handjies speel-speel oor my rug, die voetjies warm teen my bobeen, syself veilig in Mamma se arms.

Vanoggend vertel sy van die “avontuur” wat sy gehad het, hoor ons van die kompetisie wat hulle gehad het om te sien wie se voete kom die skoonste uit die bad.

Ek is bly dat ons haar nie teengegaan het nie. Ook weet ek dat Klaradyn ons twee tree vir tree groot sal kry.

Gisteraand miskien ‘n klein treetjie vir Klaradyn, maar op sigselwers ‘n reuse sprong vir Ma en Pa.

No comments: