Vroutjie, wat ek net op foto’s ken (omdat sy my ouma, gebore 1901, se ma was) het volgens oorlede Ouma van ‘n “sêwietjie” gepraat.
Haar “kanarie” was glo, ewe lekker op die oor (en dan rym dit nog daarby) “kerêrietjie” gewees.
Egter die Ingelse sandwich wat sy ge-sêwietjie het, wat my nou agter sleutelbord het.
Ons het op skool van “samies” gepraat, maar of die woord nog in gebruik is, weet ek nie.
By die huis, en vir my ouers, was dit doodgewoon “pousebroodjie”.
Ek moet vanaand vir die derde keer in my lewe vir Klaradyn ‘n pousebroodjie maak. (Hulle neem net Vrydae, vir die lekker, ‘n kospakkie kleuterskool toe en dit het eers twee weke gelede gebruik geword.)
‘n Mens wens regtig seker nie jou kinders groot nie, maar ek kan nie wag dat sy graad 0 toe gaan nie. Doodeenvoudig sodat ek vir haar kan pousebroodjies maak.
Dit maak seker nie sin nie, en ek sal die woorde seker nog een vir een sluk, maar as jy ‘n ma soos ek gehad het, wat die allerlekkerste pousebroodjies vir haar kinders gemaak het, dan is dit vir jou ‘n uitdaging om die familiegebruik en –naam hoog te hou.
Ek onthou goed, sou iemand my op hoërskool vra wat op my brood is, dat my standaardantwoord “knoffelvis” was.
Standaardantwoord het dit geword nadat ek een keer regtig die lekkerste knoffelvis op my broodjie gehad het, en dit die een wat by my wou ops só afgesit het, dat ek dit daarna elke keer gebruik het as ek nie my kos wou deel nie.
(Ops en nieks-ops hoor ek ook nie meer nie. Ons het ge-ops as jy ‘n happie van iemand se pousebroodjie wou hê, en ge-nix-ops as jy met ‘n heerlike broodjie in die hand by die pelle aangesluit het en nie wou hê hulle moet jou kos afbedel nie. Dit was in die sewentigerjare, maar uit Fanus Rautenbach se Tiesjj is dit duidelik dat dié vorm van kindertaal beslis reeds in die derigerjare in gebruik was.)
Ek onthou die knoffelvis, hoender mayonaise, spek en eier, wonderwerke met oorskiet, en selfs ‘n klassieke gunsteling, peanut butter & jam, was net strate lekkerder uit my ma se hand.
Gee my, geblinddoek, happies van drie ma’s se peanut butter & jam-broodjies, en ek sal jou sê watter een het my ma gemaak.
Dit gaan oor die verhouding grondboontjiebotter teenoor konfyt wat vir die regte kombinasie sorg. Enige een kan peanut butter en jam op ‘n brood plak en in waspapier toedraai; slegs ‘n uitgelese paar wat uit dieselfde potjies en botteltjies ‘n meesterstuk kan skep.
Ek kon selfs tamatie op my broodjies ook hê, sonder om pouse met ‘n ongedefinieerde smudgy spul te sit.
Ma Judy het gesorg dat geen skyfie tamatie dit sou waag om water af te gee aan ‘n maagdelike snytjie witbrood nie. Óf die brood is liefderyk verseël met ‘n lagie onderdringbare botter (margarien is niks anders as geel gekleurde ghries en geen broodsmeer nie), óf ‘n plakkie kaas moes dien as buffer na onder en ‘n blaartjie slaai as buffer na bo.
En dan was sy ‘n vrou met trots: geen sandwich spread (wat hier iewers in my skooljare vir die eerste keer op Suid-Afrikaanse rakke verskyn het) op haar seun se brood nie. Dis vir lui huisvrouens. (Sy was ‘n werkende enkelma, ses dae ‘n week .)
O, en ek was so lief vir sandwich spread. Kinders kan darem walglik wees — ons het dit kameelperdkots genoem.
Miskien was ek nie so lief daarvoor nie. Seker maar net omdat ek dit nie kon kry nie, dat ek dit so graag wou hê.
Sal vandag self nie eers oorwéég om eendag vir mý kind sandwich spread op haar brood te gee nie.
Utopia was dit darem ook nou nie van die more tot die aand nie. Dit het my lank gevat voordat ek hier teen standerd sewe geleer het om nooit, NOOIT OOIT, op ‘n Maandagaand te noem dat vandag se broodjies darem heerlik was nie. O, Boetie, dan kry jy daai selfde met jou brood Dinsdag, Woensdag, Donderdag, en as jy nie pasop nie, Vrydag ook.
En daar het ek nou nog nie uitgekom waar ek wou begin nie: saam met Klaradyn se broodjie draal die graad 8-seuntjie op die trap vroeër die week tydens my terreindiens ook in my kop.
Daar sit hierdie mannetjie toe mos, netjies ge-collar en ge-tie vir skool, pouse op die trap, met, nie wat nie – Sjinese eetsokkies in die hand, heel behendig, en hy eet hom knuppeldik aan sy sushi, keurig afgerond met wasabi en sojasous.
Dit herinner my aan die ander graad 8’ie wat hier in die eerste kwartaal tydens pouse op die departementshoof: Engels afstap (dit het my, as mededepartementshoof ‘n goeie drie jaar gevat voordat ek dit gewaag het om met haar in gesprek te tree) met iets soos:
“Julle personeel het mos seker ‘n mikrogolfoond in daardie kombuis by die personeelkamer? Kan Juffrou hierdie asseblief vir my gaan opwarm. Dankie.”
Sy het dit gedoen.
Welke patroon Klaradyn se kospakkies en pousebroodjies eendag gaan aanneem weet ek nie, maar ek en my vingers jeuk om te begin.

