30.6.11

Iets oor toebroodjies

Vroutjie, wat ek net op foto’s ken (omdat sy my ouma, gebore 1901, se ma was) het volgens oorlede Ouma van ‘n “sêwietjie” gepraat.
Haar “kanarie” was glo, ewe lekker op die oor (en dan rym dit nog daarby) “kerêrietjie” gewees.

Egter die Ingelse sandwich wat sy ge-sêwietjie het, wat my nou agter sleutelbord het.

Ons het op skool van “samies” gepraat, maar of die woord nog in gebruik is, weet ek nie.

By die huis, en vir my ouers, was dit doodgewoon “pousebroodjie”.

Ek moet vanaand vir die derde keer in my lewe vir Klaradyn ‘n pousebroodjie maak. (Hulle neem net Vrydae, vir die lekker, ‘n kospakkie kleuterskool toe en dit het eers twee weke gelede gebruik geword.)

‘n Mens wens regtig seker nie jou kinders groot nie, maar ek kan nie wag dat sy graad 0 toe gaan nie. Doodeenvoudig sodat ek vir haar kan pousebroodjies maak.

Dit maak seker nie sin nie, en ek sal die woorde seker nog een vir een sluk, maar as jy ‘n ma soos ek gehad het, wat die allerlekkerste pousebroodjies vir haar kinders gemaak het, dan is dit vir jou ‘n uitdaging om die familiegebruik en –naam hoog te hou.

Ek onthou goed, sou iemand my op hoërskool vra wat op my brood is, dat my standaardantwoord “knoffelvis” was.

Standaardantwoord het dit geword nadat ek een keer regtig die lekkerste knoffelvis op my broodjie gehad het, en dit die een wat by my wou ops só afgesit het, dat ek dit daarna elke keer gebruik het as ek nie my kos wou deel nie.

(Ops en nieks-ops hoor ek ook nie meer nie. Ons het ge-ops as jy ‘n happie van iemand se pousebroodjie wou hê, en ge-nix-ops as jy met ‘n heerlike broodjie in die hand by die pelle aangesluit het en nie wou hê hulle moet jou kos afbedel nie. Dit was in die sewentigerjare, maar uit Fanus Rautenbach se Tiesjj is dit duidelik dat dié vorm van  kindertaal beslis reeds in die derigerjare in gebruik was.)

Ek onthou die knoffelvis, hoender mayonaise, spek en eier, wonderwerke met oorskiet, en selfs ‘n klassieke gunsteling, peanut butter & jam, was net strate lekkerder uit my ma se hand.

Gee my, geblinddoek, happies van drie ma’s se peanut butter & jam-broodjies, en ek sal jou sê watter een het my ma gemaak. 

Dit gaan oor die verhouding  grondboontjiebotter teenoor konfyt wat vir die regte kombinasie sorg. Enige een kan peanut butter en jam op ‘n brood plak en in waspapier toedraai; slegs ‘n uitgelese paar wat uit dieselfde potjies en botteltjies ‘n meesterstuk kan skep.

Ek kon selfs tamatie op my broodjies ook hê, sonder om pouse met ‘n ongedefinieerde smudgy spul te sit.

Ma Judy het gesorg dat geen skyfie tamatie dit sou waag om water af te gee aan ‘n maagdelike snytjie witbrood nie. Óf die brood is liefderyk verseël met ‘n lagie onderdringbare botter (margarien is niks anders as geel gekleurde ghries en geen broodsmeer nie), óf ‘n plakkie kaas moes dien as buffer na onder en ‘n blaartjie slaai as buffer na bo.

En dan was sy ‘n vrou met trots:  geen sandwich spread (wat hier iewers in my skooljare vir die eerste keer op Suid-Afrikaanse rakke verskyn het) op haar seun se brood nie. Dis vir lui huisvrouens. (Sy was ‘n werkende enkelma, ses dae ‘n week .)

O, en ek was so lief vir sandwich spread. Kinders kan darem walglik wees — ons het dit kameelperdkots genoem. 

Miskien was ek nie so lief daarvoor nie. Seker maar net omdat ek dit nie kon kry nie, dat ek dit so graag wou hê. 

Sal vandag self nie eers oorwéég om eendag vir mý kind sandwich spread op haar brood te gee nie.

Utopia was dit darem ook nou nie van die more tot die aand nie. Dit het my lank gevat voordat ek hier teen standerd sewe geleer het om nooit, NOOIT OOIT, op ‘n Maandagaand te noem dat vandag se broodjies darem heerlik was nie. O, Boetie, dan kry jy daai selfde met jou brood Dinsdag, Woensdag, Donderdag, en as jy nie pasop nie, Vrydag ook.

En daar het ek nou nog nie uitgekom waar ek wou begin nie: saam met Klaradyn se broodjie draal die graad 8-seuntjie op die trap vroeër die week tydens my terreindiens ook in my kop.

Daar sit hierdie mannetjie toe mos, netjies ge-collar  en ge-tie vir skool, pouse op die trap, met, nie wat nie – Sjinese eetsokkies in die hand, heel behendig, en hy eet hom knuppeldik aan sy sushi, keurig afgerond met wasabi en sojasous.

Dit herinner my aan die ander graad 8’ie wat hier in die eerste kwartaal tydens pouse op die departementshoof:  Engels afstap (dit het my, as mededepartementshoof ‘n goeie drie jaar gevat voordat ek dit gewaag het om met haar in gesprek te tree) met iets soos:

“Julle personeel het mos seker ‘n mikrogolfoond in daardie kombuis by die personeelkamer? Kan Juffrou hierdie asseblief vir my gaan opwarm. Dankie.”

Sy het dit gedoen.

Welke patroon Klaradyn se kospakkies en pousebroodjies eendag gaan aanneem weet ek nie, maar ek en my vingers jeuk om te begin.

28.6.11

O, Boereplaas

Ons het nou die woonstel wat ons altyd uitverhuur het, in 'n speelkamer omskep. En daar het ons, in plaas van huurders, nou vir die eerste keer gebruiksreg op die yskas wat my skoonouers ons tweedehands gegee het. Gisteraand toe ek Annieka vra om iets in die vrieskas in te werk, 'n takie waarvoor ek nie kans sien nie, laat val sy dat dit mos maklik is - en neem die goed na die speelkamer se yskas. Daarom dat ek die volgende weer plaas:

O, Boereplaas, o, soetste plaas, jou het ek lief bo alles.

Of is dit nou “geboortegrond” in die plek van “o, soetste plaas”?

Al dwaal ek deur die wêreld heen, niks ooit so mooi, so goed vir my…

Kersfees en Nuwejaar verlang ek, gebore stadsmuis, na ‘n plaas, enige plaas, en nie noodwendig Holfontein, die plaas van my kindertdherinneringe buite Bultfontein in die Vrystaat, waar ek as kind vakansie na vakansie deurgebring het nie.

Hierdie hunkering, jaar na jaar, hou geensins verband met horisonne, heuwels, ooptes of Bolandse optes en aftes nie. Ook geen kriek of kommandovoël, ‘n windpomp wat klap-klap die dam in lek of die sentimentele aandlied van die vlei- of vlaktevoëls wat my lok nie.

Laat staan ook maar die wind deur die sering- of peperbome wat die sering-, peper- en ander werfgeure tot in jou kamer bring, waar jy na ‘n hemelse middagete uitgestrek op die bed lê en wag vir die gerinkel en –klinkel van die agtermiddag-koffie- of teegoed wat aangedra en reggesit word.

Ek loop in elk geval altyd, en op enige plaas en enige tyd van die jaar, met chroniese hooikoors-oë en neus.

Nog minder is dit die vyf huismeidjies, drie kindermeidjies, (pejoratiewe, ek weet, de leste een van hulle) en nog twee of drie elk vir die stoep, voorhuis, werf, kombuis, en die res wat hulle besig hou met opwas, was en stryk.

Nee, my hart, siel en wese, smag elke Kersfees en Nuwejaar na ‘n plaas se ýskaste.

Soos die foto’s, af in die gang, van drie of vier geslagte se pa’s en seuns wat elk op daardie betrokke familiegrond bestaan gemaak het, is daardie selfde drie of vier geslagte se yskaste en koelkaste mos altoos deur die huis en buitegeboue versprei.

Oorle’ Oorgrootjie se hout- en draad- kontrepsie van kooks en steenkool, wat eers met die hand en toe met ‘n koperpyp nat gehou is, staan nog iewers buite teen ‘n muur, dalk by die eerste opstal, of wat daarvan oor is, so nie, in die omgewing van waar die nuwe(-rige) hoenderhokke aangebou is.

Dit maak ook nie saak nie, want dis nie van hom wat ek praat nie. Oupa se eerste gas-koelkas, met die vlammetjie wat jou hand so brand as jy as kind stadig met jou vingers oor die gat gaan, staan in die buitekamer langs die slagkamer.

Dan is die twee yskaste, die oudste van die twee nogal ‘n Fuchs Ware, wat Pa in sy tyd aangekoop het ook in die koelte van ‘n buitegebou met sif voor die vensters om die vlieë uit te hou.

In die huis self is die huidige boer se twee yskaste, en die een wat hy verlede jaar vir sy vrou gekoop het om op te maak vir ‘n effense onsmaaklikheid en ongemaklikheid waarop ons nie nou sal ingaan nie.

Maar nie Hans Moolman nie. Hy sit in Pretoria met ‘n fênsie yskas en vrieskas in een.

Die vrieskas het nie plek vir drie propperse vetgemaakte slaghoenders nie.

Die naaste wat die yskaskompartementjie aan ‘n emmer room of melk sal kom is die 250 ml plêstiek kannetjies van Clover en, tot my spyt – want nou het ek nie plek vir alles nie – een van hierdie twee liter kartonhouers van Spar wat die laaste ruk altyd goedkoper is as die ander. (Straks ook net goedkoper oor dit meer water in het, of die beeste hormone en steroïedes gevoer is wat dit eintlik onwettig maak om die melk vir menslike gebruik beskikbaar te stel en hulle sou gou as moontlik daarvan ontslae moet raak.)

En dan beplan ek ‘n driegang-maaltyd (met die stoelgang daarby is dit natuurlik vier of vyf, maar daarvoor het jy gelukkig nie ‘n yskas nodig nie) vir agt of tien mense, oor Kersfees én weer vir Nuwejaar. (Oukers- en Oujaarsaane is darem altyd stil en klein en rustig.)

Een van die twee is altyd kouevleis en slaaie, maar dan nie hierdie Bybelvelletjies wat jy in plêstiek of papier by die Deli koop nie, nee, daar moet ‘n varkboud, gepekel of vars, skaapboud en een of ander meer sappige snit van ‘n beesboud, self en met die hand voorberei word.

Die slaaie maak jy ook nie met ‘n skêr, verwysende na hierdie Werda-sakkiesslaaie, bottel- of blikoopmaker oop nie, dis Krismis, en Krismis is nie Krismis sonder een van Oorlede Ouma se gestolde slaaie nie. (Onthou haar generasie het yskaste vir die eerste keer leer ken. Kindertyd het hulle ge-kooks in ‘n skadukol onder die koelteboom. Hulle het toe mal gegaan en die yskas ordentlik ingespan en Ouma se Krismis kos is van Ma na Dogter na Kleinseun oorgedra!)

Kouevleis en slaai ons nie, dan braai ons. Maar onthou, ek kom uit ‘n huis waar ma en pa baklei het as die een die ander se kosmaakbeurt wou annekseer. My skoonsus is bekommerd oor my broer wat deesdae net een afleiding ken, en dis die kombuis. Die gevolg is ons praat nie hier van ‘n tjoppie oor die kole nie, ons praat van sosaties, ‘n agtiende-eeuse resep van ‘n Bolandse plaas met dae en dae, en bakke en skottels se voorbereiding. Dan maak en maal en stop ek ook net een maal ‘n jaar my eie boerewors, en dis in die Desembervakansie.

Hoe kan jy ook nou sê jy het ge-Kersfees en ge-Nuwejaar as jy nie by die een tuisgemaakte gemmerbier en by die ander ‘n Boerse bola of Britse punch het nie. En beide van hulle soek staanplek in die yskas. Saam met die wyn. En vanjaar ook sjampanje, wat vroulief spesiaal gaan koop het om te geniet saam met nuwe sjampanjeglase wat vroulief spesiaal gaan koop het om te pas by die wynglase wat vroulief verlede jaar spesiaal gaan koop het om te pas by die nuwe ten seater tafeldoek wat sy spesiaal gaan koop het. (En toe, omdat dit ‘n special was, loop koop sou toe hierdie jaar weer ‘n nuwe tafeldoek.)

Dan is daar nog die voorgereg, elkeen elke keer koud en in ‘n individuele bakkie, bordjie of een van Ma se skulpies wat vir jou as kind tog so grênd was – jy hunker, nostalgie ontwil, elke Kersfees of Nuwejaar na iets om daarin voor te sit.

Nou ken Annieka ook net een van drie plekke om met goed te gaan waarvoor sy nie dadelik die plek ken nie:  wasbalie toe, studeerkamer toe, of yskas toe. ‘n Vreemdeling moet haar tog nie ongenooid en onverhoeds eendag in haar eie huis raakloop nie — oor daar nie meer plek in die studeerkamer is nie, prop sy hom of haar wragtig in die wasbalie of yskas.

En dan moet hy nie kla nie, hy kon deur my vriendin, Esti, geweeg en onbekend bevind gewees het, en sy ken nét één plek: louoond toe met jou, of jy nou skoon of vuil, organies of anorganies, bladwisselend of  immergroen, lewendbarend of nie, is. Of nie.

Hier teen die drie en twintigste begin Annieka kla oor die koskaste wat so vol loop. Dan het ek bloot nodig om alles wat onnodig in die yskas gehou word (die goed wat sy self  die vinnigste uit haar gesigsveld verwyder het deur dit in die yskas te plaas) te hersoneer na waar dit hoort. Vier botteltjies slaaisous, grondboontjiebotter, aanmaakkoeldrank, koekmeel, broodmeel, bruismeel, semels...

Maar teen die nege en twintigste is daar double bookings in die yskas:  Krismis se left overs en Nuwejaar se nuwe aankope wat eersdaags voorberei gaan word.

Die oggend van die eerste, of reeds Kersdag wanneer daar spitsverkeer is, is die selfoon se wekker gestel om al om die uur af te gaan. Dit wat buite was, gaan yskas toe, wat in die yskas was gaan vrieskas toe. Die vrieskas se goed gaan weer buite toe, en so wissel die goed mekaar af tot die eerste gaste hier teen laat agtermiddag opdaag.

‘n Mens sal dink jy leer ken jou yskas op hierdie rotasiemanier. Moenie glo nie. Die goed raak nog helder oordag spoorloos soek ook. Opsoek na die blaarslaai deur die loop van Nuwejaarsdag kry ek aanvanklik, en sonder Annieka se ingryping,  alles behalwe die blaarslaai; wel Kersfees se verlore kruisement wat gelukkig en danksy Woolies se verpakking nog kraakvars en gereed is om Nuwejaar in die bola te gebruik.

Vra Klaradyn my toe – nadat sy my só gestaan en kyk het, soos net ‘n kind haar pa kan kyk – vir wat staan ek so gebukkend voor die oop yskasdeur en sing.

Toe leer ek haar maar die woorde van “O, Boereplaas” soos ek dit onthou.

26.6.11

BoerseGlühwein



 
Annieka, wat van nering ‘n Duitse onderwyseres is,  vertel vanaand aan tafel, toe ek en sy daarvan drink, vir Klaradyn dat glühwein, direk uit Duits vertaal, gloei-wyn beteken.

Van Duits ken ek min, en ek het regtig nie rede om Annieka se woordeskat van die taal te bevraagteken nie. Maat toe ek, gloeiend van ‘n ongeskik-gesonde, groot tweede glas,  luister hoe sy Klaradyn vertel van ál die alkohol wat uitkook, en hoe die Duitsers in die sneeu se wange daarvan gloei, toe begin ek wonder of ek nie ook haar etimologie in twyfel en met ‘n knippie sout moet neem nie.

Ek noem hierdie glühwein ‘n Boere glühwein omdat die Boerevrou van wie ek die resep oorspronklik gekry het, dit vir my gegee het met die mooi woorde:  “My pappie het dit altyd vir ons gemaak en voorgesit in hierdie einste koperkonfoor waaruit ek dit vanaand bedien.”

En dit was vir my vreemd. Hierdie dood-Afrikaanse vrou, ‘n jaar of wat ouer as ek, het tog sekerlik uit ‘n dood-Afrikaner gesin gekom? Vanwaar die gesingebruik in daardie jare om glühwein op Afrikaanse bodem te bedien. (Maar dan was haar pa seker net so uitsonderlik soos sy dogter, hoe sal ek nou weet?)

Annieka voel oor winter en glühwein soos sy oor winter en melkkos (en ek oor winter en sop) voel. En sodra die witstinkhout se eerste blare begin val (nog kortbroeke en kaalvoet of te not) dan begin sy daarna hunker.

Hoeka oor die stomme vrou vanjaar weer, soos verlede jaar hierdie tyd, met erge longvliesontsteking eintlik veronderstel is om by die huis, en nie die werk nie, te sit, toe dag ek vandag is die dag om vir haar ons komende winterseisoen met glühwein in te lei.

En soos met bykans alle winterkos is hierdie glühwein werklik ook “gesinskos”, ongekompliseerd en eenvoudig genoeg om elke dag te geniet en nie noodwendig net vir high days en holidays eenkant gehou te word nie. En oor die alkoholinhoud daarvan letterlik afge-water word, het ons met vrymoedigheid kelkies daarvan al onder gekontroleerde omstandighede op Duitse restaurantaande aan Annieka se Duitse skoolleerlinge bedien.

By die huis kry elke stoofplaat aan en ver-vier- of -vyfdubbel die resep in elke denkbare konfytpot of kastrol. Dan bottel ek dit vir vorentoe en elke dag se gebruik.

Nie almal hou van glühwein nie, beslis meer vrouens as mans, maar op ‘n koue wintersaand, liefs langs ‘n lieflike kaggelvuur, is daar vir my min dinge so lekker en gesellig as ‘n warm glasie hiervan in die hand:

  • 500 ml water
  • 500 ml suiker (ek maak dit minder, maar Annieka kom dit agter en dan verminder ek dit nie meer nie)
  • 1 suurlemoen se sap
  • 3 stokkies kaneel
  • 5 kruienaeltjies
  • 1 bottel rooiwyn (En of dit nou Tassies is of een van Napoleon se Suid-Afrikaanse gunstelinge, dit hang van jou smaak en jou sak af. Onthou net, dis jou drank, jy het daarvoor gewerk en betaal en jy kan daarmee maak wat jy wil. Selfs glühwein, ás jý wil.)

Dan meng jy die water, die suiker, die kaneel en die naeltjies en jy bring dit tot kook.

Vervolgens gooi jy die rooiwyn en suurlemoen se sap by.

Laat trek dit oornag.

Gooi deur ‘n sif en bottel.

Dan kan jy maar gaan speel met ander resepte en improviseer. Jy kan sitrusskille deurjaag, voel jy wel daarna — onthou net, sodra ‘n suurlemoen se sap klaar suur gemaak het, is sy skil geneig om baie gou bitter te maak.

Daar is selfs resepte wat vra vir neutmuskaat en ek weet nie wat nog alles nie.

Maar nou beweeg ons weg herbergerlike (as daar so ‘n woord mag wees) kuierwyn. Dit het ook ‘n plek. Maar ‘n ander plek as hier. Hierdie is vir pretensielose gesellige verkeer. Geniet dit.

Dis tien teen hoeka ook oor vriendin Lydia se pappie se glühwein dat ek nooit kan verstaan as mense kla wanneer dit winter se kant toe staan nie.

Die foto's is van wikimedia.org

19.6.11

Vadersdag 2010

Na ek Pappa-Mamma-en-Klaars gepos het, stuur ek toe 'n rekenaarsoegtog na die woord "vadersdag" van stapel. En kom ek toe op die volgende af:

‘n Overdaad aan stof tot dankbaarheid

Daar’s beslis baie Anniekas en Klaradyne wat heelwat beter vaders (en eggenote) het as Hans, maar jy sal ver moet soek om ‘n Hans te kry met ‘n Klaradyn en Annieka wat daaraan kan dink om kers vas te hou by myne!

Darem nie alle geldmaakskemas van die Illuminati wat van oorkant die water hier by ons kom nesmaak is so vreeslik sleg nie, en anders as moedersdag wat 365 dae in die jaar is, kom vadersdag darem net een keer elke 365 dae verby. En ís myne vanjaar nou lekker!

‘n Dag waarop ek nie net pa staan vir Klaradyn en man staan vir Annieka nie, maar selfs verantwoordelik moet staan vir ‘n ma wat daagliks meer en meer weer soos ‘n kind word.

En al drie van hulle het my vandag ingesleep en meegehelp om my ‘n lieflike vadersdag te bied.

My beker het voor sonop al oorgeloop toe Klaradyn haarself in my arm en haar kop op my skouer kom wikkel het.

Dit het nie veel moeite van my geverg om nie oudergewoonte vroeg op te staan nie, maar dis net met liefde en moeite dat ek haar en Mamma nie douvoordag wawydwakker geskarrel en rond gerol het nie.

Na wat vir my soos ure gevoel het, was beide darem wakker, maar Klaradyn het in my arm bly lê soos een wat suiwer in my belang daar lê. Toe sy stomme Annieka se ver kry om die pakkie te gaan haal, is dit met ‘n fluister, wat agter in ‘n teater van die verhoog af hoorbaar sou wees, in haar ma se ore waardeur sy te kenne gee dat sy in Pappa se arms bly sodat hy nie kan opstaan en rekenaar toe gaan nie.

Ek is bly Annieka het Klaradyn self ‘n pakkie laat kies, want nou verstaan die pakkies waarmee ek hierdie jaar vir haar met moedersdag en verjaarsdag by die huis aangekom het, beter. Die merrieperd van ons het ‘n willetjie van haar eie en as sy eers op iets besluit het, is daar, tot op hede, nog niks gewees wat haar daarvan kon laat afsien nie.

Vir haar pa, vanjaar, het sy besluit op ‘n DVD oor slange, en nóg Annieka, nóg die moedige verkoopsman, nóg die ander DVD’s in die selfde reeks oor olifante, leeus en arende, kon haar besluit van koers bring.

En is dít nou vir my, op grond van ‘n simpel sentimentele rede, spesiaal. Ek hét miskien al hier vertel van die eerste geskenk wat my pa my ooit vir my ma laat koop het – ‘n onooglike borsspeld van twee ineengevelgde adders met groen steentjies vir oë. (Toe ek verlede week deur my ma se juwele gaan om te kyk wat die personeel daar nog nié gesteel het nie, toe is dit waaragtig, met twee of drie ander waardelose items na, nog nét dié goud oorgeblaasde twee adders met die groen oë in die juwelekissie. En sedert circa 1970 weet ek vir ‘n feit, het my ma dit nog nooit gedra nie.)

So wat dit met pa en dogter rondom slange is, kom dit by die eerste aankoop van presentjies, weet ek nie, maar vir my is dit spesiaal.

En toe ek haar vir ontbyt (waarvoor Annieka gesorg het) roep met die woorde dat sy moet gou maak want ons twee moet gaan video kyk, moes julle die opwinding in haar oë sien toe sy besef dis háár fliek wat ons twee gaan kyk. (Annieka was net so bly – sy het met ‘n boek in die bad geklim en bietjie eietyd gehad.)

Vir Annieka het ek gisteraand al opnuut waardering gekry, toe sy, wat vir my soos ‘n uur gevoel het, bygestaan het, en gehelp het, dat Klaradyn vir my ‘n kaartjie maak.

Ai, en toe die kaartjie (voorwaar ‘n meesterstuk) se voorkant eers klaar is, moes die bewoording aan die beurt kom. Dis verbasend hoe vinnig ‘n kind ontwikkel as die kind gereed is. Met moedersdag nog, het Klaradyn dikteer en ek geskryf, waarna sy natuurlik alles self mooi in haar eie handskrif op die kaartjie kopieer het. Gisteraand het Klaradyn dikteer, Annieka die letters geklank, en Klaradyn self geskryf. Ag donder, en toe maak Klaradyn ‘n agterstevoor –r, wat nie ‘n probleem sou wees, as sy dit nie self agtergekom het nie. Dit kos hulle ‘n papiertjie uitknip en oor die “fout” plak met die –r in die regte rigting.

En vandag, vir die eerste keer in meer as drie weke en vier besoeke aan die dokter, is Annieka nie meer so siek soos ‘n hond nie, maar nader aan haar ou self as wat sy in weke was. (En was dit nie vadersdag nie, weet ek verder, sou ons, met die nuwe lewe in haar litte, kaste reggepak of boekrakke geskuif het.)

Annieka is nie gebore daatoe in staat om af te skaal op enige presentjie nie en selfs met longvliesotsteking wat al begin herinner aan chroniese longvliesontsteking, is sy twee dae hier weg op soek na iets  wat vir my, in ‘n tydjie saam met my dogter, vreugde sal bring. Maar Mamma sal ook kan score, want dis met ‘n hele bakstel vir kolwyntjies en meegaande resepteboek, maklik genoeg vir ‘n man om baas te raak, dat sy nog ‘n kersie op my vadersdagkoek plaas.

Vir Judy sou ek op ‘n dag soos vandag uit beginsel nie gaan haal het nie, maar toe doen Annieka dit self gisteraand aan die hand.

Met gemengde gevoelens dat ek hier weg is, maar enige een wat die vrou se blydskap beleef toe ek haar gaan optel het, se weerstand sou verkrummel en sy hart vermurwe.

Toe doen sy, wat minder as ‘n voëltjie eet, my die guns en eet al haar kos op, selfs nadat ek twee maal laat val het dat sy nie alles hoef op te eet wat ek vir haar geskep en kleiner gesny het nie. Maar dan was sy nog altyd lief vir ‘n dybeentjie, en ek het haar sommer twee gegee en self gesluk aan droë witvleis.

Haar kersie was egter die trane waarmee sy my agtermiddag vir die eerste keer in maande en uit die bloute by die deur afgesien het. Toe ek haar vra vir wat sy nou tranerig is, is al wat sy uitkry, “sommer oor jou.”

En dit klink nou vreemd, maar selfs dit was vandag vir my spesiaal. Menslike emosie getuig immers van begrip en onthou wat verder strek as die laaste vyftig sekondes, die omvang so min of meer van haar geheue die afgelope ruk.

So meer as net ‘n vadersdag was dit vir my, menswees-dag, man- en seunweesdag daarby.

Ek het voorwaar ‘n overdaad aan stof tot dankbaarheid.

18.6.11

Kringe in Fiela se bos


Die Graad 11’s Kringe in ‘n bos en die Graad 10’s Fiela se kind. My gedagtes daarom gereeld in die bos en die George/Knysna-omgewing.

En by Ouma van Wyk, oorspronklik ‘n nooi Voigt wat in 1900, volgens die een papier, en 1901, volgens die ander papier, op Groot-Brak gebore is, maar op George groot geword het.

Drie herinneringe rondom haar, wat ek daarom vandag, ter wille van Klaradyn eendag, aanteken.

In die sewe en tagtig (of was dit agt en tagtig?) jaar hier op aarde het Ouma haar mond nie aan ‘n papie gesit nie. Nie die gebliktes wat in die sestiger-jare vryelik beskikbaar geword het nie; nog minder toe ons dit later vars in die groentewinkels kon bekom.

Van ‘n sampioen het sy ook nooit gepraat nie, altyd ‘n papie: “ek eet nie papies nie,” “dit lyk vir my soos 'n papie daardie, my kind, is dit?”

Hier rondom Wêreldoorlog 1 strand die boot van ‘n uitlandse gesin iewers aan die kus. Swede of Switsers of Duitsers was dit gewees. Na verloop van maande sonder enige hulp of redding vanuit die stamland wat hulle verlaat het, vestig hulle hulle in die omgewing van Ouma van Wyk met die niks wat hulle oor het en die hope erbarmlike simpatie wat die hele gemeenskap oor hul uitstort – stomme mense, vreemdes in 'n vreemde land met 'n vreemde taal.

En oor hulle dit tuis kon doen, doen hulle dit hier ook. ‘n Lieflike gesins-uitstappie die Outeniqua-berge in; en terug met ‘n heerlike pluksel vars sampioene, wat ook sommer terstond voorberei word.

En daar is hulle gevind, pa, ma en drie kinders, morsdood in die tydelike gehug, die dood, letterlik, in die pot.

Ék wou weer nie patats eet nie (die stapelvoedsel van Matthee se boswerkers). En dan is ek weer by Ouma van Wyk. Tot vandag toe maak ek ‘n asblik van my maag, en dit grotendeels die rede waarom ek lyk soos lyk. Ek kan nie kos weggooi nie, nie uitkrap nie; dan maar eerder self klaar eet voor dit kombuis toe gaan.

En dit oor ‘n bloody storie van Ouma oor die hartseer (miskien was dit die ongelukkige) patat wat die seuntjie in haar roerende verhaal nie wou eet nie. Die patat land toe op die ashoop, en nou nog, luister Klaradyn na die liedjie van die lappop wat iemand op ‘n ashoop gegooi het, kan ek nie anders as om in my geestesoog, iewers op daai ashoop, ook die huilende patat raak te sien nie.

Miskien het ek self nie my patat wou eet nie en toe dik Ouma hierdie hartseer storie ter aansporing aan. Helaas, sy het die teendeel bereik – die gedagte aan die patat iewers op 'n ashoop uitgekrap waar die lappop, vrot pampoen en stukkende skoen hom nie eers kan opspoor nie, het my tot laat in my tienerjare afgesit. Van die storie, anders dat Ouma van Wyk dit vertel het, onthou ek egter niks. Dat dit ‘n patat was en dat hy sielsongelukkig was oor die seuntjie hom nie wou eet nie, het wel deeglik vasgesteek.
En kuier ek saam met Matthee in die bos, en lees ek van die patas wat by tye soorts van die mense se stapelvoedsel was, spring die gedagtes weer na Ouma van Wyk toe. Want die gedagtes en onthou het vasgesteek.

Vasgesteek, soos die beeld van ‘n armlastige dogter in ‘n agterstevoor-onderstebo-rokkie in my ma se gemoed vasgesteek het.

Ouma en Oupa was toe al klompie jare getroud en my ma, Judith,  en haar suster, Anne, twee laerskooldogters. Oupa was ‘n voorste man op die dorp (soos Ouma altoos na gesiene of vername verwys het) hy het sy eie skoenfabriek op George gehad en hulle het in Stockenström straat gebly.

(Onthou ook, dis nie George soos in George Clooney nie, dis 'n Boerse Geörg/Ge-org, die een wat rym met morg en sorg – dis nou as jy Ouma se uitspraak in die herinnering wil roep en hou.)

Ek het my ma so agtien jaar gelede na die huis, of wat daarvan oor is, geneem, en haar lanklaas so sonder woorde hoor huil. Maar waarvan ek wil vertel is my ma sommer nog kind.

Een maal ‘n jaar as my ma skoolvakansie het, ry sy en haar pa (die Oupa wat ek nooit geken het nie) te perd die bos in om daar by ‘n armblanke-gesin ‘n naaistertjie te gaan optel. Die meisietjie kom bly dan vir ‘n week of wat by my Ouma-hulle en lap en stop alles wat gestop en gelap moet word, sit some in, skuif knope en maak ook twee of drie nuwe uitrustings vir die dogters.

En dan klim sy by my ma op die perd en my en Oupa gaan laai haar weer af. Alles wat deur die loop van die jaar te klein of deurgewas en uitgewas geword het, alles wat nie meer reggestik of gelap kon word nie, is in ‘n bondel, saam op die perd se rug vir die gesin waar die ma elke jaar ‘n nuwe, ander bybie op die heup of aan die bors het.

Dis dan ook hier, op die twee besoeke elke jaar, waar my ma nie ordentlik wou wees om koffie wat hulle aangebied is te drink nie. En dan het dit niks met die feit te doen dat die tannie se  koffie niks anders as gebrande boomwortel was nie.

AP Brink het ‘n lieflike humoristiese skets rondom soortgelyke gebeure geskryf. Hy, tong in die kies miskien, maar my ma het, tot die dag wat haar geheue haar verlaat het, voet by stuk gehou dat daar geen bok of skaap, wat nog te sê koei, op daardie werf was, wat ma kon staan vir die katspoegie melk wat my oupa met elke besoek in sy koffie gekry het nie.

Maar nie dít wat my gedagtes by my Ouma op George het, as ek rondom Fiela en Kringe vassteek nie. Die armoede van die karakters vat my saam met my ma die bos in. Dan loop ek armoede raak, waarmee niks onder die son verkeerd is nie, maar ook iets anders, en ek wonder of dit nie sommer propperse agtertangse slegtigheid was nie.

So gaan tel hulle een jaar die meisie op en my ma sien die een dogtertjie het ‘n ou rokkie van my ma aan (een wat seker die vorige jaar opgedra en vir Judith en haar Anne beide al te klein, saam van die dorp teruggekom het.) Dit val my ma ook op hoe vreeslik vuil die rok is, en dat die rok intussen iewers aan 'n tak of bos of klip ‘n winkelhaak opgedoen het wat die dogter, wat dan so 'n goeie naaister is, mos lankal uit haar eie reg kon gemaak het.

Twee weke later toe hulle die naaldwerkster terug neem, en dis of ek my ma nog hoor: “so waar as die Here leef, Oubaas, daar het die kind die rok nog steeds aan, dieselfde een. Nog net so vuil soos toe ons twee weke gelede daar was, indien nie vuiler nie. Net, sy dra hom nou, die binnekant buite, en die voorkant na agter.”


11.6.11

Gevaartoelaag of nie

Die mens is darem maar ‘n vreemde spesie. Hoe meer ek van hom leer ken, hoe minder verstaan ek hom.”

Nie ek wat so sê nie, maar my skoonpa wat twee weke gelede, toe ons vir die naweekwegbreek Bosveld toe gou  gaan groet, vir my die slagyster stel.

Ek trap oop-oog daarin met ‘n “Hoe dan so, Pa?

Die kind is siek, maar julle gaan weg vir die naweek.”

Ek het van beter geweet as om te reageer en maar stil gebly. Die argument in stilte verder gevoer. En in my kop gewen ook.

Maar ook nie heeltemal nie. Ek en Annieka hét Klaradyn daardie Vrydagnag in die donkerte van die tent byna pimpel en pers geknyp – in die een of ander toets om te sien of die kind nie gevaarloop om te dehidreer nie.

Maar dis nou twee weke later. Ons het deur die genade nie nodig gehad om hoed in die hand en stert tussen die bene met 'n siek kind terug te keer nie.

Tog eggo sy woorde kort-kort steeds in my gedagtes. Die mens is darem maar ‘n vreemde spesie. Hoe meer ek van hom leer ken, hoe minder verstaan ek hom.

En dan het niks te doen met die onverantwoordelikheid van die nuwe geslag ouers waarna hy verwys het nie.

Soos vanoggend weer, toe ek vuurhoutjies by die motorhawe op die hoek wil koop en ek wonder of die vrou agter die toonbank wat so 'n mooi Afrikaans praat, enigsins 'n gevaartoelaag ontvang.

Jy kry Afrikaans, ‘n pragtige Afrikaans, Swartafrikaans en ‘n pragtige Swart-Afrikaans. Hierdie vrou is swart en praat die pragtigste Afrikaans, Boereafrikaans nie Swartafrikaans nie. As jy tegelyk na haar luister en vir haar kyk, is dit vir 'n Gautengse stadsjapie soos ek asof jy ‘n lemmetjiegroen melkskommel drink wat na aarbei proe:  wat jy hoor klop nie met wat jy sien nie.

Toe ek my nuuskierigheid nie meer kon hou nie, blyk dit toe dat sy ‘n nooi van Calvinia se wêreld is, wat ‘n beter heenkome in die bose stad kom soek het.

En as ek so na haar luister, is dit of sy wel ‘n beter heenkome gevind het.

En tog, maar tog, wonder ek vanoggend vir die soveelste keer die afgelope ruk toe ek daar verby ry, of sy danger pay (soos ons dit in die army genoem het) kry, en verstaan ek die mens, gedagtig aan my skoonpa, al hoe minder, hoe meer ek met die mens te doen kry.

Danger pay, vir die wat gelukkig genoeg is om nie te weet wat dit is nie, is die kontant bedrag wat weekliks (of was dit maandeliks) in die operasionele gebied aan dienspligtiges uitgedeel is om op drank en sigarette te spandeer, aangesien hulle net een maal elke ses maande by ‘n bank kon uitkom.

Ek, Annieka en Klaradyn word toe mos een nag so twee maande gelede in die middel van Pretoria nêrens anders nie as op die die Kaapse Vlakte wakker. Dis ‘n middernagtelike oor-en-weer-kruis-masjiengeweer-vuur wat herinner aan bendegeweld wat baie lelik uitdraai.

Ek loer uit vir voortvlugtendes deur die tuin en bel die buurman of te hoor of dit nie by hom is waar so geskiet word nie.

Dit blyk toe nou, met ‘n ompad oppad skool toe die volgende oggend, dat die kitsbank, soos die kraai vlieg twee huise van ons, en twee winkels van die motorhawe se One Stop/Quick Stop/Select Store af, opgeblaas is.

Onder andere die kitsbank. Ook ‘n jong polisieman. En ander gewond.

Maar nee, ‘n SA-misdaad storie, is hierdie steeds nie. Dis die mens, en wat hy elke dag doen, wat my, soos hy my skoonpa verbaas, daagliks stom slaan.

Die kitsbank is moer toe en ons raak net gewoond aan die ongerief van elders stop, toe die kennisgewing so ruk gelede in die verbyry die oog vang: New autobank opening soon.

En dit ís toe ook so. Nie waar nie, nie buite waar dit was nie, maar binne die motorhawe se One Stop/Quick Stop/Select Store.

Dis die deurnagwerkers daar wat destyds die polisie laat kom het. (Ons had helikopters in die lug, letterlik vir ure, elke denkbare en beskikbare patrollievoertuig op die toneel, ‘n legioen in uniform en genoeg pad- en voetgangerversperrings om aan die opening van die Wêreldbeker-sokkertoernooi te herinner, maar geen geluk. Die polisieman is dood aan diens, die bank (en seker die geld nou lankal ook, maar anders) skoonveld weg-gebláás.

Dis daardie deurnagwerkers wie se lewens van nul en gener waarde vir die bank- én winkelbestuurder geword het.

Ons hoef nie daaraan herinner te word dat mense weekliks vir baie minder as die inhoud van ‘n kitsbankkluis vermoor word nie.

En tog stuur die handelsbank sy kitsbank nou bínnenshuis sodat...

Ek weet nie hoekom nie. Dit kan tog nie wees ter wille van veiligheid nie. Dit kan tog nie wees in die hoop dat ‘n slapende nagskofwerker alarm moet maak as agt mans, gemasker en gewapen tot die tande toe, drie-uur een oggend daar instorm en sy of haar harsings een maak met die sigarette en pakkies kondome agter haar op die rak nie.

Wie is dit wat ek nie verstaan nie? Is dit die bank, of die vriendelike winkelbestuurder wat van tyd tot tyd daar geld tel, wat tog sekerlik betaal word om muur- en rakspasie aan die bank af te staan?

En kry die vrou wat so mooi Afrikaans praat, wat die platteland verlaat het vir 'n beter heenkome in die stad danger pay om daar te sit in die hartjie van die operasionele gebied?

Ek weet nie. Ek stop nie meer snags daar nie, ek is te versigtig.

Ook nie sommer bedags nie. Ek wil nie.


5.6.11

Kinderskry is nie karkoop nie

As trou nie perdekoop is nie, wonder ek baie, wat is kinderskry dan. Of wat is kinderskry dan nié?
Tog nie ‘n gegewe (of is dit soos Ouma gesê het, gegeefde) perd nie?

En ás dit is, moet jy hom dan in die bek kyk, of nie?

Daar is natuurlik nie in Afrikaans ‘n spreekwoord wat kinderskry takseer nie.

Beslis nie op soortgelyke wyse as wat daar is om die huwelik en sy kompleksiteite aan die hand van perdekoop te verwoord nie.

En dit maak vir my honderd persent sin. Spreekwoorde is stukkies opgegaarde wysheid wat in die volksmond oor baie jare heen van voorgeslag tot nageslag verder vorentoe die toekoms in, oorgelewer word.

En soos die huwelik vandag iets is wat jy geensins kan vergelyk met die koop van ‘n nuwe 4X4 vir Mamma om die honde doggy parlour toe te karwei nie, was vrou- of manvat ook jare gelede al baie ingewikkelder as wat dit destyds was om ‘n geskikte hings of merrie uit te soek.

Kinderskry en –grootmaak, aan die anderkant, was egter ‘n alledaagse roetinetakie, soos channel hopping op ‘n Vrydagaand as jy die fliek al klaar gekyk het— niks om oor huis toe skryf nie; kinderskry beslis nie rede genoeg om 'n ‘n spreekwoord vir die volgende generasies oor uit te dink nie.

Gezina Hebziba Clasina Moolman (néé Beyers), om nie te praat van Hans Jurgen Hartogh Moolman nie, draai daarom proesend en kopskuddend in hul graftes om as hulle weet die agter-agter-kleinkinders en hul portuurs stap Exculsive Books en CNA toe om in boeke te moet lees hoe bring jy ‘n baba tot sy eerste lewenslig as hy nou eers geverwek is, hoe oorleef jy, en die baba, die eerste jaar, die tweede jaar, én die kleuterjare.

Dat ons Kalahari toe gaan (en dis ‘n ander Kalahari as die een waar Oupa gaan jag het) om boeke te koop wat tien verskillende persoonlikheidtipe-ouers touwys maak om tien verskillende (versoenbare of onversoenbare) persoonlikheidstipe-kinders op die regte pad te kry, is buite hul wydste verwysingsraamwerk en oortref beide hul stoutste en lafste verwagtings denkbaar.

Maar dan is dit oor jy, destyds, as oudste van die agt of twaalf klein Moolmantjies help grootmaak het aan die laaste ses of sewe.

Onthou Grootjie en Oorgrootjie kon, weliswaar moontlik apokrief, glo ‘n plaas van oom Paul kry as hulle twaalf nuwe landsburgers in die lewe kon bring.

En teen die tyd as jongste Sussietjie al die werf se hanslam sy bottel kan gee (Ma se rug is af) word oudste Sus  se jongste twee al in haar hand geprop.

Realiseer die groot gesin met sy swetterjoel boeties en sussies nie (Ma se rug begin vroeg al neuk, of Pa het al 'n plaas en hoef nie een los te teel nie) is daar in elk geval, soos die jakkals draf, nie tien bossies  van die opstal af nie, ‘n nes vol nefies en niggies, aanplaksels en –naaisels, bywoners en inwoners wie se doeke jy omruil of wie se winde jy kleintyd al uitvryf.

Daarom, teen die tyd dat jou eerste telg eendag in jou arms lê en tiet vat (soos Ouma gesê het) ken jy jare lank al die verskil tussen ‘n koors om bekommerd oor te wees, en ‘n koors wat oornag net so stil-stil sy koers sal vat as wat hy daar opgedaag het, is daar onder hierdie son nie ‘n kinderkroep of –siekte wat jy nie self al ‘n keer of twee gehelp besweer het nie.

Egter nie Hans en Annieka se generasie nie.

Is jy nie ‘n enigste kind nie, het Ma en Pa in elk geval ‘n kindermeidjie (soos Ouma haar genoem het) gehad wat die boeties en sussies moes grootmaak terwyl Pa weer na een van daai vergaderings (daai vergaderings waarvan ons nie mag praat nie, saam met die ooms is) en Ma leer op haar beurt en in dieselfde tyd blomme rangskik of troukoeke versier saam met Pappa se ooms se tannies.

Kinderskry en –grootmaak is daarom regtig nie maklik vir ons nie. Perdekoop is trouens ‘n vulletjie.

Vir die geringste koors, sóú jy die koorspen kon opspoor, weet jy regtig nie of jy die bobbejaan agter die berg gaan haal (terwyl daai berg eintlik maar net ‘n molshoop ook kan wees nie) en of jy sit met ’n kind wat die dood op haar hakke, sy asem in haar nek, het nie.

Jy weet nie of dit ‘n –geit is nie (iets wat grootjie hulle op ‘n afstand met die stofpad langs kon sien aankom en uitruik) en of dit daai virus is waarvan hulle in die koerante skryf nie. (Daar was iets daarvan oor die nuus ook, maar jy het deur jou ritse boeke geblaai op soek na die beste manier om ‘n koors te meet / af te bring en net met 'n halwe oor gehoor.)

Maar vir hierdie klas van ding, van skarlakenkoors tot gordelroos en anderkant ensefalitis verby, is daar darem altyd raad iewers in een van die baie boeke en tydskrifte, is daar ‘n Doktor Smit of Suster Saaiman.

Hoeveel keer het ons nie dae lank gewonder wat fout kan wees nie, en dan kom ons hoofstukke later agter die kind is vermoedelik besig om 'n tand te sny.

As taalonderwyser weet ek hoekom jy nie 'n gegeefde perd in die bek moet kyk nie, maar as onbeholpe Pappa is die binnekant van kind se mond die laaste plek waar ek kyk.

('n Perd se ouderdom word glo deur sy tande verklap, en kry jy een present is jy dankbaar en niks meer nie – jy vat nie jou weldoener in die gesig en kyk die perd in sy bek om te sien hoe oud die dier is wat jy as geskenk gekry het nie.)

Maar hoe nou gemaak, en aan die ander kant, as die bobbejaan wat jy uit die molshoop wil wurg, niks met ‘n kroep, 'n kuggie, of koors te doen het nie?

Hoe gemaak as dit wat jy opmerk ‘n moontlike, vaagweg vermoedelike, geit van een of ander emosionele aard is?

Hoe gemaak as jy in jou onervarendheid reeds in jou geestesoor ‘n besorgde vrou by wie julle ter elfder ure en in nouer nood gelukkig darem ‘n afspraak kon kry, woorde hoor sê soos: gedragsafwyking, gedragswanaanpassing, aanpassingsprobleem, gedepriveerd, onstabiel, uitval, terugval en onryp?

Is dit wat jy opmerk ‘n fase?

Of, erger nog, is dit nie ‘n fase nie?

En as dit ‘n fase is, moes hierdie fase nie lankal deur twee nuwe en erger fases vervang gewees het nie?

Hoe gemaak as jy nie weet of dit wat jou opval, -1 op ‘n skaal van 1 tot 10 is; en of dit dalk 11 op daai selfde skaal van 1 tot 10 is nie?

Ek weet nie. Ek weet wragtig nie. Maar ek vermoed ten sterkste Oorle’ Clasina sou die kind net so een kyk, en dit nogal oor ‘n afstand, gegee het, en tien teen een gesê het:  “Maar heiden Hartjie, daai kind kort mos son. Kry haar kaalvoet en uit die huis uit, sommer nou en gee dan tog vir Ouma die tee aan.”




4.6.11

Elkeen na sy aard


Spyt kom straks te laat, maar insig net met verloop van tyd

Ek het al baie opnuut tot die besef gekom dat die grootte, diepte, aarde en omvang van ‘n sak- of ebgety (maar meesal ‘n sak-) in my gemoed, gemeet kan word aan dit wat in die pakkies is as ek uit Woolworths kom.

Huiswyn met ‘n skroefprop; of iets met ‘n Portugese kurk en baie woorde in ‘n vreemde taal op die etiket.

‘n Pakkie van hierdie gespikkelde jellie-eiertjies wat ek by Klaradyn leer eet het; of ingevoerde marzipan met 100% amandel en ‘n bitter, donker sjokolade wat gou smelt rondom.

Dan is daar ook die eenvoudige kaasskaal, wat amper soos ‘n Richterskaal van 1 tot 10 gelees kan word. 1 is goed, maar 10 is donker, baie donker en ons moet Pappa liefs bietjie uitlos tot hy beter voel: Roomkaas soos Kiri (1) , Soetmelk (2), Cheddar (3), Verouderde Cheddar (4), Ses Maande Verouderde Cheddar (5), Guerre (6), Emmentaler (7), Brie (8), Camembert (9), Deense Blou (10), Gorgonzola (11) en Stilton (12).

Dis 12, ek weet, maar tussen sommiges is daar net ‘n nuanse, of hoogstens iets soos ses maande verdere veroudering, van ‘n verskil.

Kom ons lees Brie, gerieflikheids-  en argumentshalwe dan maar op 8. Daar is egter nog ‘n verdere verskil en onderskeid wat getref moet word tussen ‘n ligte 8.0 en ‘n meer swaarmoedige 8.999.

Gemeet in terme van die brie in Pappa se Woolies-pakkie is dit die verskil tussen die Suid-Afrikaanse brie wat uit die Paarl kom, en eintlik maar net gewone Fairview-kaas in ‘n Woolies-verpakking teen ‘n duurder prys is (8.0) en die Imported from France-brie teen R316-87/kg meer (wat ons op ‘n definitiewe 8.999 te staan bring).

Eintlik is hierdie Woolies-pakkie-barometer van die gemoedstoestand net ‘n afgeskaalde of meer getemperde vorm van die een wat jare nou al deur die bankbestuurder en my salaris onderdruk word:  hoe groter die depressie of hoe dieper die teleurstelling, hoe groter en duurder die uitgawe. Daar is bykans nie ‘n skildery, meubelstuk, ornament of belaglike kitchen appliance  in my huis wat nie direk na aan een of ander sakgety in my gemoed herlei kan word nie.

Maar eintlik wil ek skinder. En ‘n mooi, liefdevolle, deernisvolle skinder sal dit wees. Want dis oor my vrou. My vrou, wat anders, en nie aan die hand van haar beursie nie, op die skommelinge in haar gemoed reageer.

Maar skinder ek, vermoed ek dis nie net oor my vrou nie, maar ook oor baie ander vroue soos my vrou.

Was dit trouens nét my vrou, het ek dit nie gedeel nie; dis oor ander mans straks sal identifiseer en vereenselwig dat ek uitpraat en aan die lig bring.

Ek weet immers vir ‘n feit dis nie net my vrou, of net ék wat daarvan bewus is nie. NP van Wyk Louw het jare gelede al ‘n radiodrama daaroor geskryf wat die professor op universiteit ons na laat luister het. Dalk was dit nie Van Wyk Louw nie, maar dan beslis iemand so goed en gerekend soos hy, want ons Prof het ons net na goeie en gerekende radiodramas laat luister.

Van die storie kan ek niks meer vertel nie, dis net die byklanke, en eintlik een spesifieke byklank, wat ek, asof dit gister was, onthou. En van daardie dag wat die prof ons daarna laat luister het, wil die klank daarvan my teen die mure uitdryf as my vrou, of enige ander mens, haar-, hul- of homself  met die ding wat daardie klank maak, bemoei.

Die dramaturg of regisseur het naamlik vir die volle duur van die betrokke radioteater gebruik gemaak van die harsingsdeurdringende geluid van ‘n elektriese stofsuier om een van die karakters in die drama se groeiende frustrasie, woede en wanhoop hoorbaar gestalte te gee.

Of jy as luisteraar saam met die man opgewerk geraak het oor sy vrou wat so stofsuig, en of jy oor die skouer van die stofsuigende vrou geluister het en saam met haar gebou het aan haar woede vir haar vrotterd van ‘n man elders in ‘n leunstoel, weet ek nie meer nie.

En dit maak nie saak nie. Feit bly staan, as jy twintig dertig jaar gelede daardie drama geluister het sou jy, wie jy ook al is, vandag steeds die geluid van ‘n stofsuier gehaat het, geweet het dis simbool, barometer, Richterskaal van ‘n vreeslike sakgety in ‘n mens se gemoed.

Annieka het die drama beslis nie geluister nie. Maar NP van Wyk Louw, of wie hy ook al was, het vrouens goed genoeg geken om te weet dat die aard en omvang, diepte en reikwydte van baie vrouens se depressie gemeet kan word aan die geesdrif, ywer, passie, wikkelende boude en boesems, bloedsweet en spierkrag waarmee hulle huis skoonmaak, ‘n eenvoudige ding soos ‘n Hoover, oor die matte (en as daar dan nie matte is nie, die teëls, bakstene, en selfs grasperke dan) skuif.

Die verwysing na ‘n vrou wat in die grasperk buite in die tuin stofsuig is nie ‘n storie of hiperbool wat ek inspan nie. Ek het vir die vrou se seun skoolgehou en hulle het destyds nie twee blokke gebly vanwaar ons vandag bly nie. Daar was in hierdie ekstreme geval sprake van behandeling en mediese ingryping, maar niks het gewerk nie. Maar dis ook al 17 jaar gelede. Ek weet nie of daar verandering ingetree het met die koms van hierdie lawwe blaasmasjiene waarmee all tuindienste-outjies deesdae die stof en blare in jou tuin rondskommel teen ‘n prys nie.

Die skool het ‘n stuk of ses van die goed aangekoop. Lekkergoedpapiere en goed wat rondlê word nou nooit meer opgetel nie, dit word bloot tussen die Inka-lelies, grondbedekker of beddings vol chrysanthemums  ingeblaas. Dan moet die skoolkinders voor elke besoek van ‘n gasskool of inspekteur of ding, soos in die weermag, chicken parade hou om die gemorsies uit die fyntuin op te tel.

Maar ek dwaal af.

Ek het seker stof tot dankbaarheid dat dit nie kredietkaartaankope, ontwerpersklere, weeklikse besoeke aan haarkapsalonne, of iets soos huismoles-wyn is waaraan die laagste kurwes in my vrou se gemoedstoestand gemeet kan word nie, maar aan huisskoonmaak.

Hier rondom ‘n Kersfees, verjaarsdag of huweliksherdenking kry ek partykeer snuf in die neus dat my keuse hierdie jaar nie so in die kol was soos wat ek vermoed het nie, maar die tekens is so subtiel, en nege uit tien kere verbeel ek my dit maar net.

As ek egter Kersoggend in die kombuis kom en ek vind my vrou sewe-uur in die oggend op haar knieë ágter die stoof besig om swarterige goetertjies met ‘n ou tandeborsel en vier vyf verskillende soorte skoonmaakgoed, bleikgoed, ontsmetgoed en ander anderste lekkerruikgoed skoon te maak, dan gaan rooi ligte aan’t flikker en ek hoor oorverdowende sirenes en alarms wat ‘n mens deesdae net in Tweede Wêreldoorlog-flieks hoor.

Gelukkig is daar niks, en daarom kla ek nie, wat Annieka so gou weer haar goeie ou selwers het, soos ‘n passievolle spring clean in die middel van enige seisoen nie.

Ek vermoed party vrouens se eiewaarde en selfbeeld is gekoppel, nie aan hoe húlle lyk nie (of hulle sexy mans for that matter), maar hoe hulle húise lyk.

Ek weet Annieka sal van my verskil en sê dis net waar van vrouens wat met Hans Moolman en mans soos Hans Moolman getroud is, wat so ‘n maniese obsessie het. Maar gelukkig het sy nie vandag en hier ‘n spreekbeurt nie.

Toegegee, ek het nog nooit die behoefte gehad om in enige huis in te kom en met my vingers oor die bokante van die Bettie Cilliers-Barnards, Vader Claerhouts of Zakkie Eloffs te vryf nie. En ek kan vir geen geld in die wêreld aan enige mens wat ek ken dink wat dit wel doen nie. Tog is dit die klas van detail wat deel vorm van my vrou spring cleaning-roetine insluit.

Om gaste oor te kry, om van ongenooides nie te praat nie, is partykeer grensend aan ‘n nagmerrie, vir haar, haar man, haar kind, die tuinier, die huishulp én die huishulp se kinders, aangetroude kinders, kleinkinders en agterkleinkinders wat dikwels teen ekstra onkoste ingekontrakteer word om die huis presenteerbaar te kry.

Die botter kan dan maar margarien wees, solank die bottermes net gewas, gespoel en blink opgevryf is; die custard kan maar instant van Parmalat-stoetery wees, solank die vlabeker net vroeër die aand vanuit ‘n spitterskoon rak opgediep en gepoets is.

En wee die gas wat nie gastebadkamer toe gaan nie, al is dit net om letterlik die neus te poeier. Wee veral die stomme gas wat dit sonder ‘n donkerbril daar inwaag — Annieka se persoonlike ritmiese skommel op haar knieë het netnou nog die finishing touches op die krane aangebring. (En laat ek dit nou net waag om more, oormôre, my hande aan daai verspotte klein waslappie vir ‘n verskoning van ‘n handdoek, skoon te vee! Dis nie vir mý nie, maar for the others soos die mannetjie van Defending the cave man dit so raak gestel het.)

En tog het ek, met verloop van jare geleer om so min of meer, maar eerder in mindere mate as meerdere, daarmee saam te leef.

Dis net as sy die stofsuier nadersleep om die pas gemopte teëlvloere te stofsuig, dat ek my maar liefs uit die voete maak en in die motorhuis tussen moertjies en boutjies gaan snuffel, skielik met die swembad se Creepy Crawly gaan totter.

So het ek, eintlik sy, ook darem al male sonder tal, dinge van my, te veel om te noem, opgespoor en my hart tog so verbly.

Wat my egter die blyste maak, is die kyk in haar oë en spreekwoordelike (soms minder spreekwoordelike) huppel in haar stap, wat sy kry, as sy, op van haar knieë, die vuil lappe, staalwolletjies en ou tandeborsels tot in die buitenste duisternis verban,  opstaan en die vertrek so ‘n selftevrede genoeglike kyk gee en dan lostrek met:  “O, kyk hoe mooi is ons huis nou! Kom, gee my ‘n soen!”

Die Kaap is dan weer Hollands, die ganse land weer Nat (of Sap, wat maak dit nou saak), as sy ‘n rukkie later die laaste knertsie spanning skiet gee en die kat uit die sak laat met iets soos:  “Wat het jý gedink van die geskenk wat Ousus-hulle my gisteraand gegee het?”