25.11.11

Een en Een is Drie


So is dit die derde dag van skool en my kollega, wie se klas uitkyk op die Olimpiese standaard- en grootte swembad, vertel hoe hy dag drie, soos gewoonlik baie vroeg by die skool is om sy klas en dataprojektorwerk (in die ou dae bordwerk) vir die dag gereed te kry.

Nou is dit mos maar hoe dit met ‘n skoolswembad is — van die more tot die aand is daar kinders in wat nie daar mag in wees nie, en kom hulle iets oor is dit nie hulle, wat oor sewe voet heinings en lemmetjiesdraad gespring het om daar in te kom nie, skuld nie, maar summier die skool se skuld. Hofsake, voorblad-koerantberigte, onderhoude op Carte Blanche insetsels op Special Assignment, paneelbesprekings en ondervragings in camera.

Uit die hoek van sy oog raak hy toe ook bewus van beweging daar by die swembad, en stap nader. Net om bewus te raak van vier of vyf stelle pragtig bruingebrande sitvlakke (pragtig bruingebrand, nie pragtige boude en wat ook al in ‘n man se afbuk daarmee saamhang nie) wat swemklere aantrek.

Hy kan nie anders as om soorts van te staar en te wonder hoe ‘n mens so oor jou hele lyf (en dan bedoel hy nou “hele lyf”, van Bangkok tot Marblehall by wyse van spreke) ‘n Desember-sonbruin kan opdoen nie. Opsigselwers ook nie iets waaroor ‘n mens vreeslik hoef te wonder nie, dit spreek vanself, heel logies. Maar hoe, en waarom, en wanneer, en saam met wie, en waar, is die vrae wat hom besig hou.

Dis egter vir hom duidelik dat dit mans, en nie skoolkinders is nie. Maar ek het nie gevra wat hom daardie idee gegee het nie.

Ook nou nie iets om oor huis toe te skryf nie. Die naweek kom en gaan. Dag vier breek aan.

Nou is dit mos maar hoe dit met enige skoolswembad is — van soggens tot saans is daar kinders (plaaslik en van omliggende hoër- en laerskole) in die water. Die talle duidelike  Toegang Verbode-, Oortreders sal vervolg word-, Geen Toegang-bordjies word totaal misgekyk as hulle bo-oor, onderdeur en soms dwars deur sewe voet heinings, betonmure en lemmetjiesdraad, moet klim, klouter, duik, gly en val om af te koel.

Net so is dit ook met ‘n beginner-juffrou vars uit die universiteit by ‘n groot skool: die eerste jaar rep hul geen woord, sluip van klas tot kar en weer tot klas, kyk as het ware die kat goed uit die boom en sprak geen sprook.

Maar hier in jou tweede jaar is dit ‘n perd van ‘n ander kleur, is jy mos al ‘n ou hand by die skool, jy tree op waar daar opgetree moet word, ferm, verantwoordelik en met ‘n dringendheid in jou stem, eie aan iemand wat sakke gesag op sy skouers met hom saamdra.

So kom hierdie ander kollega, haar tweede jaar in die onderwys is vyf dae oud, verby die swembad, en kan jy glo, so wrintie waar, daar is ‘n onwettige wederregtelike betreder in die oortreffende trap en hoogste graad in die swembad.

Die regte stem, woorde, dringendheid, didaktiese ongeduld, lyftaal en alles denkbaar, om korte mette te maak met hierdie ongepoetste mannetjie in die poel.

Maar dis of hy hom aan haar afvee.

Verbeel sy haar of ignoreer hy haar?

‘n Nog beter stem, woorde, dringendheid, didaktiese ongeduld, lyftaal en wat ook al denkbaar, om eerstens haar selfbeeld in ere te herstel, en hom, by wyse van spreke (die water is lekker warm) kleinkoppie te laat trek.

En daar styg die rysige gestalte uit die water, amper soos ‘n Glaukus, maar meer soos ‘n glimmende kaal bolyf uit hierdie Jenna Clifford-advertensies van onlangs, trouens sommer baie meer soos ‘n brons torso in die Jenna Clifford-advertensies wat ‘n mens nie kan help om raak te sien nie, en hy sê: “Goeie more, ek is Ryk.”

En dis nie dat sy nie weet nie, dis net dat die oomblik en alles wat daarmee saamgaan vir haar te veel is, en sy vra “Ryk wie?”

En hy sê vir haar presies Ryk Wie hy is en dat hy hier op afspraak oefen.

En sy sit haar dagtaak voort. Doelgerig en stip.

En nou wonder ek of ek een en een bymekaar moet sit.

Liewer nie.

Netnou is twee, dalk drie. Of wat ook al. Of andersom.


Fotobron op Wikimedia

No comments: