26.7.11

Love is in the air

(ook al 3 jaar gelede)

Klaradyn se een óúpa (Oupa Jack) het vanjaar 90 geword. Ouma Kapie, haar oumagróótjie word oor twee weke 90. Haar een oom en tannie (aan haar pa se kant) is so oud soos haar ouma en oupa (aan haar ma se kant) . En dan is haar een niggie so oud soos haar ma. Sy het ook ‘n nefie en ‘n oom wat ewe oud is.

Maar ‘n konsep van tyd, wat nog te sê ouderdom, is mos nou nog nie deel van ‘n vierjarige se verwysingsraamwerk nie.

Ons tel wel die slapies af na eerskomende Donderdag, want Vrydagoggend vlieg ons af Kaap toe vir Ouma Kapie se birthday bash. Wat Klaradyn betref, is dit haar eerste vliegtuigrit. (Die eintlike eerste vlieg, ook Kaap toe, ken sy net vanaf doopfoto’s, so dit tel nie).

Maar dan het ma en pa ‘n dik geskiedenis van afvlieg Kaap toe:

Met haar doop was die vlug af, met drie ure vertraag.

Enige vorm van medikasie vir die pyn in die ore van ‘n drie maande baba, lankal uitgewerk teen die tyd dat ons die vliegtuig en skommelings in die hoogtes bo seespieël tref.

Maar ons kla nie, ‘n vriendin se tweejarige het presies die teenoorgestelde reageer op sy kalmeerstropie, op pad Rusland toe van alle plekke. En daar sit die ma vir ure, letterlik úúúúre,  met ‘n kind wat op en af in die vliegtuiggange hardloop terwyl die res probeer slaap. Pappa wag in die vreemde en kan nie help nie.

Met Ouma Kapie se tagtigste verjaarsdag, tien jaar gelede, was die vlug so vertraag dat die hele gesin moes terug huis toe en die volgende dag eers weer aanmeld.

Verlede jaar, weens klakkelose oorbespreking, het ek via Kimberley aan die voet van ou Tafelberg gaan neerstryk.

Dog, ‘n gans ander Kimberley/Kaapstad-vliegtuigherinnering wat my nou agter die sleutelbord het:

Hoeveel paartjies is daar wat te koop kan loop met die feit dat hulle die groot gat van Kimberley uitgekies het, om by verloof te raak? (Ek sien die outjies daar praat van die “oop myn”, maar vir my sal dit altyd “Kimberley se groot gat” wees.)

Nee, die Moolmans was dit ook nie beskore nie.

Trouens en inteendeel.

Ons het verloof moes raak bokant daardie groot gat. Honderde meters in die lug bokant Kimberley se gat.

En nee, ek verwys nie na ‘n eksotiese lugballonvaart nie:  In ‘n vliegtuig, drie ure agter skedule opgestyg by Jan Smuts/Oliver Tambo/Johannesburg Internasionaal.

My broer, Jac, word vyftig en ek en Annieka vlieg af vir die geleentheid. ‘n Reuse familiesaamtrek, die ou mense, Judy en Jack, is ook daar.

Waarom nie romanties wees en op Tafelberg die ring oorhandig nie – die juwelier het immers nou klaar met ons bestelling en waarom uitstel ter 'n gelegener tyd, meer geleë kan ons nie kry nie.

In Kampsbaai staan Jac-hulle reg. ‘n Piekniekmandjie, koue sjampanje, kristal en alles en nog wat om ‘n lieflike uur op die berg mee af te rond. Is die verkeer nie te sleg nie, sien ons nog die son van daarbo sak, voor ons met die karretjie se laaste rit weer af na waar die res van die mense by Jac-hulle op die patio wag:  Kampsbaai na onder, Leeukop net regs, hope eetgoed en sjampanje; ‘n swaard wat in Simon van der Stel se tyd al diens gelewer het, gereed om die sjampanjebottels van hul proppe, nekke en bekke te verlos.

En daar, hoe dan nou anders, is ons vlug vertraag. Eers twee ure. Toe drie.

Ek sit een en een bymekaar:  met ‘n kabelkar sal ons Tafelberg nie haal nie, ons gaan trouens lank na die laaste aftog vir die dag eers daar aankom.

En Hans is in die onderwys, geen sprake daarom van ‘n helikopter (soos die Britse koningin die volgende dag, toe ek en Annieka wél die berg op is, daar aangekom het) nie.

Plan B sou Seinheuwel kon wees. Maar wie wil nou verloof raak op die agterste sitplek van 'n kar met jou ouer Boeta wat agter stuur sit en jou in die truspieëltjie  dophou! En uitklim op die heuwel sal ek waaragtig ook nie – dis al sedert Antjie Somers se dae al dood eenvoudig net te onveilig om na donker daar uit te wil hang.

Maar verloof moet ons verloof wees, stap ons by die huis in: die skemerkelkies sal op die ys gehou kan word, die ou mense wakker. Ander geleentheid is daar nie.

Vir ingeval die alarm afgaan was my hande in my sak, by my sleutels, toe ons op Johannesburg deur die metaalverklikker gestap het. Maar eintlik nie by my sleutels nie, by Annieka se ring, want dié is toe op daardie oomblik, tog so mooi toegedraai, styf teen my lyf in die onmiddellike omgewing van my eie kroonjuwele besig om te versmoor.

Eers veilig in die lug kom die vlugkelner spoedig om vir drinks en teen Annieka se verwagting in bestel ek nie gin & tonic nie, maar sjampanje, sommer namens haar vir haarself ook.

Maar ek het ‘n tannie links van my, en hoe nou gemaak om die ring uit te kry, daar waar ek hom versteek het met die oog op die rit bergop, sonder dat sy nie die een of ander paniek-knoppie druk as ek begin losknoop, afzip en vroetel waar ordentlike mans nie in die geselskap van ouer tannies met pers hare op 'n vliegtuig begin vroetel nie?

Sy het ons twee verliefdes hoeka al so ‘n vuil kyk gegee, selfs nog voor ons opgestyg het.

En toe val alles net mooi in plek reg bokant Kimberley se gat:  Die kelner het sy sjampanje gebring, die tafel is afgeslaan (my skoot daarom bedek en ek gevrywaar van openbare onsedelikheid), die tannie se aandag by die venster uit (want die loods het nou net laat val dat, kyk ons links uit, ons Kimberley se liggies soveel en soveel meter onder ons sal sien.)

En daar haak ek die spreekwoordelike Gordiaanse knoop deur en raak ons toe verloof bokant die gat.

Nie omdat ons wil nie, maar omdat ons moes.

Annieka sê sy het niks verwag nie, nie daardie aand nie, nie daardie naweek nie.

En wat sy, groot-oog, verwag het toe ek lostrek en die pakkie uitkry, los trek om die pakkie uit te kry, kon ek haar ook nog nooit so ver kry om met my te deel nie.

Mog ons gesinnetjie, al is dit dan nou ook laat, tog net Vrydag as ons vir die verjaarsdag afvlieg in een stuk daar aankom. En weer terug ook.

PS:  Ek moet tog onthou om te vertel van die diamant wat weggeraak het.

En dalk nou weer weg is.

22.7.11

Kleivoete

Dit was nie altyd lekker, Sondae, langs my ma in die kerk nie. Ek wou wegkrimp as sy onder die Psalms en Gesange so 'n Engelse “Djeezuz Kristus” in plaas van “Jiesus Gristus” inwerk.
Net so het sy Jamie Uys ook altyd ge-Djýmie en nooit ge-Jámie nie.

Oor laasgenoemde se uitspraak was sy blykbaar reg; ek verkeerd. Maar in die dae toe dit my gepla het, was ek 'n kind en het ek nog gedink soos 'n kind.

Tog het beide hierdie manne wie se name met ‘n J (of dan nou die affrikate -dj) begin, my gevorm en gehelp groot kry.

Egter nie oor Jesus vandag nie, maar Jamie.

Vir my geslag het Jamie Uys geword wat Dokter Chris Barnard vir my ouer broer-hulle se geslag was:  Suid-Afrika se claim to fame, die Suid-Afrikaner wat ons land op die spreekwoordelike map geplaas het.

Vir Daar doer in die Bosveld (was dit nie hoeka die eerste Afrikaanse film in volkleur nie?) het ons, af in die straat by maatjies, die garage leeggedra en ‘n projektor moes huur.

Hoe daai goed werk, weet ek tot vandag nie. Ek was altyd te klein, die ouer seuns in die geselskap of ‘n pa of oom, het dit beman. Ek het met respek en opwinding die gedoente (en meermale ook geswets) rondom die hele gebeurlikheid van projektoropstel gade geslaan.

En teen die tyd dat ek groot en oud genoeg was om oor te neem, het fliekwinkels al videowinkels geword - VHS en Beta Max. En videowinkels het dit gebly, tot vandag toe nog, al neem ons jare nou al nie meer enige video’s daar by hulle op bruikleen nie.

In die beginjare, al is dit onwaarskynlik dat ‘n youngster ooit hier sal lees, het jy egter nie net ‘n video uitgeneem nie; soos met die filmprojektor het jy huis toe gekom met ‘n swart houtkis en daarbinne was ‘n videomasjien, groter en boksiger as ‘n hart-long-masjien in Grootte Schuur.

Van Bosveld onthou ek egter nie veel nie. Selfs steeds nie na ‘n hersuitsending op TV jare later nie. Al wat ek weet is dat die mense in hierdie fliek piekniek gehou het, waar, en soos, en hoe, ek van piekniekhou hou:  in die Bosveld, tussen lang gras onder koeltebome (en skynbaar sonder goggas).

Met die uitsondering van die gebrek aan ‘n afwesigheid van goggas het ek die voorreg om soos Oom Jamie-hulle se mense piekniek te hou, twee keer gehad:  In die Waterberge een Dingaansdag en in die Oos-Vrystaat, nou onlangs. (Maak daai Bosveld hier bo ter wille van die Clarence-verwysing dan maar bos-veld of bosserige grasveld.)

Toe kom Beautiful People. Ons was daardie jare nog ‘n gesin en die hele gesin het opgeruk Bedfordview toe, Nu Metro toe vir die fliek.

My pa moes ‘n vreemde man gewees het:  net twee ander kere het ons as gesin so iets gedoen — vir Pappalap (wat hy ons twee keer gaan kyk het) en vir Yori Geller in die Civic.

Lank daarna sou my pa nog sê dat Pappalap sy gunsteling fliek is, en elke keer wou ek sê dat dit nie Pa se gunsteling is nie, dis Pa se enigste.

Toe Uri Geller Suid-Afrikaners hier in die sewentiger jare kom vermaak het, het hy, wat andersins suinig was, nie net my en my broer saamgesleep nie, maar ook my broer se nooientjie. Uri Geller was hierdie ou wat yster met sy “special powers” (soos Klaradyn by die kleuterskool onder die invloed van haar geslag se tekenprente leer praat) kon buig.

Die sluitstaaf van my ma se tuisgemaakte kraletjieshandsak het daardie aand tydens ‘n eksperiment met die gehoor gebuig, en as my pa later lekker gesels het, moes ek altyd hardloop om dit te gaan kry dat ons vir die mense kan wys.

Maar met die wye draaie wat ek nou loop kom ek, wat nog te sê ‘n moedige waarskynlike leser, nooit uit by die ontnugtering wat ek hierdie afgelope naweek rondom Jamie Uys beleef het nie.

Terug op jou spoor Hans!

Dit sou eers na Jamie se dood vir die breë publiek algemene kennis word dat die diere waarvoor hulle jare gelede so in Beautiful People gelag het, nie rêrig dronk geword het van die gegiste maroelas nie, maar dat die diere verdoofmiddels ingejaag is.

So ek en my generasie ruk destyds nog onbevange en in verwondering op.

Beautiful People word opgevolg deur Funny People (1 en 2).

My ma, wat al in Beautiful People  nie vir die diere gelag het nie, maar gehuil het vir die pelikane wat op ‘n streep vrek van honger en dors, verroer nog minder ‘n lagspier vir die verspottighede in hierdie twee flieks wat volgens haar “sommer laf” is, maar die res van ons Suid-Afrikaners geniet ons gate uit.

Toe is dit The gods must be crazy ( weer 'n 1 en 2).

Suid-Afrika het ‘n Chris Barnard-figuur daardie jare nog nodiger gehad as tien jaar vroeër en Jamie Uys doen dit weer vir ons. Die media is vol van die die flieks se suksesse in Amerika, Europa en die Ooste.

In Gods 1 het ek regs voor gesit en vir die eerste keer in 'n fliek en in my lewe letterlik van my stoel afgegly soos ek gelag het.

Wat Jamie daarna gedoen het, weet ek nie.

Skinderstories oor die ingryping in die lewe van Gods se Boesmans was daar wel, maar Leon Schuster, wat sedert Funny People  al aan die knie van Jamie geleer het, neem by hom oor om die volk te vermaak.

Jamie is toe dood en Klaradyn ‘n klompie jare later gebore. Ons koop Beautiful People verlede jaar hierdie tyd vir haar. Sy geniet dit ontsettend, en ek dink die feit dat ons goedkoop DVD-speler weier om die kommentator se Engelse klankbaan te speel, dra daartoe by. Ons sit net die beeld en die lieflike agtergrondmusiek. Pa hoef nie die oom met die warm diep stem se Engels te vertaal nie en hy beïndruk haar met die running commentary wat hy gee.

Ons probeer toe ook The gods must be crazy, Pappa vertel soos die storie aangaan. Fout. Pappa lag steeds so dat hy vergeet om te vertel, nie kan vertel nie. Mamma moet oorneem. En toe begin die terroriste darem hopeloos te veel en te ernstig op mekaar skiet vir ‘n klein dogtertjie se gemoed. Ons skip ‘n paar scenes en toe’s die fliek klaar; Klaarsie geensins beïndruk nie.

In die ou dae met filmprojektors kon jy natuurlik nie ‘n scene skip nie.

Maar daar was ‘n iets wat grootmense kon doen wat daai films laat spring het.

Op laerskool, en selfs begin hoërskool, het jy elke laaste dag van die kwartaal in die saal gefliek. Ons meneer het dan altyd daardie spesiale iets gedoen as daar ‘n tannie in ‘n bikini op die doek verskyn het of as ‘n oom en tannie begin soen het. Die beeld bewe dan vervaard, die projektor maak klappertand-geluide en van die klankbaan hoor jy net mooi minder as niks. Teen die tyd dat Meneer dis weer veilig vir kleine ogies het, was die Tannie al in haar kerkrok en sixties hoed, die ander oom en tannie nie meer in die kar of op die sitkamerbank nie.

Verlede naweek is dit toe Klaars en Funny People. En pa moet eindeksamenvraestelle merk , so hy neem sommer al twee uit sodat hulle dit saam kan geniet. Ma spring ‘n bak springmielies en sluit by ons aan.

Nie ‘n teleurstelling nie; ‘n ontnugtering.

Vir die eerste keer wonder ek hoe die klankopnames oor so ‘n lang steelafstand so duidelik is.

Vir die eerste keer tel ek mense op wat praat maar hulle monde is toe.

‘n Mens moet die geloof van ‘n kind behou. Die goedgelowigheid van ‘n kind.

Toe die tannie in haar crimpelene rok langs die oom in die Safari-pak in die hoogste Britse aksent lostrek en die Kaapse Kleurling in die boom klink of hy ‘n Southerner van die cotton fields is, sy benoudheid herinner aan ‘n Negro Spiritual, sit ek darem een en een bymekaar en besef ons kyk jare later na die weergawe wat destyds oorsee bemark en uitgereik is.

Ek verbeel my selfs ek sien ‘n lieflike toneel vir die eerste keer. Dit handel oor soldate wat op ‘n paradegrond belaglik gemaak word en ek kan my nie indink dat Oom Magnus en Pik so iets daardie jare sou toegelaat het nie – daarom dat die buitewêreld dit kon sien; ons nie.

Ek maak vrede met bykans alles, maar toe smelt my held se kleivoete soos vetkryt in die son. Die een na die ander random ou uit die publiek wat hulle kwansuis lukraak op Funny People se candid camera gevang het, is ‘n Suid-Afrikaanse akteur wat ‘n kort rukkie later met die opbloei van die Suid-Afrikaanse televisie bekendheid begin verwerf het. Zak du Plessis, die ou van The Dingleys en nog twee of drie ander, ek ken nie nou hulle almal se name nie.

Dis soos om ‘n Kersfeesvaderpak, Playboy Magazine, of half-jack in jou pa se kas te ontdek. Jy kan dit nie glo nie. Jou held, van hero to zero.

Dankie tog ons het nie meer helde nie. Nie meer as ons groot is nie. Nie meer vandag nie.


7.7.11

Hoe loop die gedagtes nou met my...

Dit was die jaar 1989. Hans pas klaar met universiteit en twee jaar in diens van die SAW&Seuns. Ek’s bo in die lug in ‘n bachelor’s flat met ‘n kombuisie kleiner as my huidige badkamer.

Synde ‘n laat-laatlammetjie, my broer was in standerd 8 toe ek die eerste lewenslig aanskou het, was dit nogal ‘n okkasie toe hy, sy vrou en kinders vir die eerste keer op ‘n Sondag, al die pad van Johannesburg af, my kom eet.

Ek besluit op geelrys en bobotie. Dit behoort fieterjasig en verwikkeld genoeg te wees vir so ‘n historiese moment.

Twee kookboeke het ek. Die Kook en Geniet wat Boeta-hulle namens die twee kleintjies as mondigwordingspresent gegee het (Dear Hansie, Happy 21st Birthday. Love Joanne. Love Marc —onderskeidelik in ‘n graad 1- en standerd 1-handskrif). En Huisgenoot Wenresepte 2, begin ’89 toe ek huis opsit van Ma-hulle gekry (In die mooiste sierskrif hierdie keer:  Hans Moolman Feb 1989, op die skutblad se binneblad, Oubaas, geniet jou bak en brou!! Liefde Judy, ‘n entjie dieper in op die titelblad.)

Wenresepte sal dit dan wees. Pagina 112 (Ek het vanaand weer daar gaan blaai en ‘n dis gemaak van gemaalde wildsvleis, geen brood en bittermin melk — dit sou, gemeet aan enkele van die ingrediënte en die metode, vaagweg miskien kon herinner aan bobotie.)

Op pagina 112 het Huisgenoot twee bobotieresepte. ‘n Droëvrugte-bobotie, en neffens hom een wat aan Tini Vorster, voormalige Premiers- en Staatspresidentsvrou , toegedig word.

Vrydag na skool koop ek aan, Saterdag na wintersport berei ek voor, en Sondag eet ons.

Gelukkig (ongelukkig?) is ek nie bang vir improviseer nie. As daar plek is vir droë-appelkose, droë-appellringe en rosyntjies; waarom die droë-perskes en ‘n dadel vir die soet nie?

Een keer in my lewe het ek geblikte chestnuts gekoop. So ‘n maand of wat tevore. Oor ek wou proe hoe dit proe. Nodeloos om te sê my bobotie het chestnuts en amandels ook ingekry.

So dis nie dat ek bang is om te waag nie. Dis net, toe ek die tweede keer kerriepoeier moet byvoeg, dat dit nie vir my sin maak nie. Ek dog eers dis vir die eier, maar nee, daar staan dit — dit moet ook in die vleis. Miskien was die borrie vir die eier, maar nou sê tannie Tini skielik niks van borrie nie. Ek het tog al borrie bygegooi.

Maar dis eers toe ek wonder of suurlemoensap en asyn nie dieselfde werk verrig in ‘n resep nie, dat ek snuf in die neus kry — in my angstigheid en spanning het ek dan links gelees en ingegooi, en dan weer regs, en ingegooi. Nadat ek soorts van tot verhaal gekom het blyk dit ek nou net mooitjies alles van beide resepte saam in een bak het. (Met dan nog my talle eie minder tradisionele bestanddele, daarby.) En dis, besef ek toe, hoekom ek nie juis melk oor had om met die eiers te meng, nadat ek die geweekte brood daar uit gelig het nie — ek het die een resep se min melk, by die ander resep se meer brood gegooi.

Maar dit was ‘n treffer! Dis ook al 20 jaar later, en ek en my broer-hulle het verlede jaar weer die ete in die herinnering geroep.

En van toe af, is dit hoe ek na resepte kry. Kry Hester van Pletzen van Westonaria se gemmerkoekies nie die kaneel in, wat Marlene Meintjies van Wolmaransstad ons wel wil laat afmeet nie, en dit terwyl laasgenoemde op haar beurt weer fyn kruienaeltjies meld waarvan eersgenoemde geen sprook sprak nie; dan foeter ek Hester se kaneel, Marlene se kruienaeltjies, my all spice én die verbeelding se knippie neut, by Mev. Dawn Kinghorn se eierlose gemmerkoekies met die baie botter.

Maar hoe kan jy ook nou gemmerkoekie wil bak sonder eiers. Dan moer ek sommer ‘n eier of wat ook in. Interessantheidshalwe kyk ons dan sommer ook waarom ‘n mens kwansuis nie heuning in die plek van die gouestroop kan gebruik nie.

En soos vanaand weer, kan ek nie bobotie maak, daaraan dink of daarvan praat , sonder om nie tere herinneringe aan daai eerste bobotie van my te kry nie.

Later jare sou ek by ‘n puris soos Peter Veldsman, of miskien was dit Leipoldt homself, lees dat bobotie slegs bobotie is, as dit van skaapvleis gemaak word.

(Dis glo ook so met sosaties wat kebabs/kabobs word, die oomblik wat jy skaap verruil vir bees of vark, selfs die oomblik as jy allerhande ander fieterjasies soos pruimedante of nuwerwetse peppadews, in plaas van appelkose, inryg.)

Maar Leipoldt se bobotie is ‘n vertelling op sy eie: Ek’s nou al mooi groot en wil die girl wat my liewe vrou sou word, se ouers beïndruk. Ek het, daardie jare was Leipoldt se resepteboeke nie soos vandag agter elke klip uit te skop nie, pas ‘n verslete aankoop van een van sy ou-ou boeke gemaak. En, soos ek later sou agterkom eie aan hom is, geen die man nie ‘n resep nie, hy vertel hom skrywendergewys, en jy verlekker jou in die lees van kulinêre prosa.

Dit kos my ook soek om ‘n slagter te kry wat skaapvleis vir my sal maal. Die goed se meulens is deesdae so fancy dat my kilogram skaapvleis nog in die meule se derms vassit as dit klaar by die bek ingeprop is. Nou moet jy die skaapvleis aanjaag met nog skaap van bo, om iewers onder die kilogram of wat maalvleisies op te vang. En dan sit hulle met nog twee kilo’s skaapvleis in die binnewerkinge van die masjien, wat hulle nie verkoop kry nie. Lang storie.

Maar ek het my gemaalde lamsboud en by die Oosterse Plaza het ek selfs tamarind (tamaryn?) gekry om my bobotie ou-tentiek sonder asyn te maak.

En daar gaan my bobotie in, die jong dame het vlinders in haar oë en skoenlappers op allerhande ander plekke, haar ouers lyk ook ingenome.

Maar toe ek die bobotie uithaal na die tyd wat Leipoldt ons aanraai om dit uit die oond te kry, toe is my bobotie skaars gestol. Toe ons dit uiteindelik gaar het, toe is dit so droog soos laasjaar se wildsbiltong wat buite bly hang het.

Dis eers ‘n jaar of wat later, toe my versameling Leipoldt-boeke aansienlik uitgebrei het, dat ek lees bobotie ís gemaak van gemaalde skaapboud. Maar dis nou die skaapboud wat oorgebly het van Sondag se middagete. Die goed wat Leipoldt se kookster oond toe gestuur het was gare gemaalde left overs.

Leipoldt het aanvaar ons weet dit, en gevolglik niks daarvan genoem in sy eerste vertelling rondom bobotie nie.

Ek maal vandag steeds my skaap by dieselfde slaghuis as destyds. Maar deesdae maak ek die mince eers gaar. Dan tel ek Leipoldt se spoor op en loop die pad met hom verder. Sonder tamaryn, met asyn.

Maar dis net as ek die tweede myl wíl saamstap en nie soos vanaand ‘n spul hase uit die towenaar se hardebolkeil moet ruk om iets in die oond te kry nie.

Die skaapvleis het koedoe geword. Die wit brood, die droë broodkrummels waarmee ons schnitzels maak. Daar was appelkose, maar nie korente of rosyntjies nie — sulke snaakse droëvrugtige goedjies wat ek ‘n ruk gelede by die Sjinese mark gekoop het, moes daarvoor instaan.

Daarby moes elke potjie soet en konfyterigheid wat net wou lyk of hy leeg se kant toe staan, dit ontgeld by gebrek aan ‘n blatjankie. En om alles weer Low GI vir Annieka te maak, toe rasper ek twee appels ook by. (Wenresepte het my op hierdie spoor gesit.) Te lekker. Daar’s selfs ‘n bietjie oor vir more vir skool.

En nou, nadat ‘n vriendin my vandag by die skool haar bobotie gegee het om skelmpies te eet, terwyl die baas met ons vergader, my nie net uit by vanaand se vrye interpretasie van bobotie nie, maar uiteindelik ook by die nog vryer bobotie-improvisasie waarvan ek die afgelope jaar al op drie geleenthede wou blog, maar nooit so ver gekom het nie.

Ek het ‘n ruk gelede vertel van die oudleerling, Judit, ‘n oud-Angolees, wat ek na 21 jaar weer opgespoor het. Nou hierdie dame  wat ek as jong Angolese vlugteling-meisie in ‘n hout huis sonder krag en aldag lopende water leer ken het, het intussen so opbeweeg dat sy lankal nie meer kook die dag wat sy ‘n paar vriende oornooi nie, sy kry spyseniers.

En elke keer as ons daar kom, of ons nou agt is, en of ons nou dertig is, is daar nie minder nie as vier of vyf vleisgeregte nie.

Een daarvan, die heerlikste, mees on-Portugese, anti-Angolese, lasagne denkbaar.

’n Vriendin van haar, duidelik ook van gemengde herkoms maar vanuit die Kaap oorspronklik, wat vir haar kos maak.

En almal wat gereeld hier lees, weet hoe lief ek vir kosmaak is, maar toe Annieka verlede jaar vriendinne oor het vir haar verjaarsdag, toe ry ek en my vrou daardie oggend deur na hierdie vriendin om die lasagne op te tel wat Annieka bestel het.

Italiaanse bloed, straks van ‘n krygsgevangene wat bergpasse en paaie kom bou het, het die dame bes moontlik in haar — vandaar die heerlike lasagne wat sy maak. Maar iewers, vermoed ek, was ‘n definitiewe Moslem-ouma of grootjie, want dié vrou maak ‘n Kaaps-Maleise lasagne met so ‘n sterk bobotiegeur dat haar pa dalk nog ‘n ou wynboer, wie se vrou hom nie alles kon bied wat hy wil hê nie, kan wees. En terwyl vroulief gereken het Pappa is af kelders toe, is hy toe al die tyd net uit in die rigting van die kelders, maar nie heeltemal kelders toe nie.

Want, en laat ek dan maar die woordjie fusion hier inwerk, dit is immers wat dit is, letterlik, ‘n lasagne infused with the flavours of a Cape Malay (of straks nou Bolandse boerse Boere-) bobotie.

Vat jy alles van Leipoldt en jy maak dit aan soos Luigi sy bolognaise, lekker klam, en jy borrie jou béchamel met ‘n knypie kerrie of wat ook al (om die geklopte eier en melk van Tannie Tini te eggo) sit jy met die heerlikste dis denkbaar.

Die van julle wat kan kosmaak en nie bang is om spronge toe-oog te waag nie, gaan probeer dit gerus, dit werk.

Ekself was nog te bang om self my hand daaraan te waag. Maar waarom nou gevaar loop om te verbrou as ek dit direk van Gamaliël kan koop?

Bobotie was nog nooit so lekker nie. Lasagne, mind you, ook nie.