Daar is ‘n woord daarvoor en ek het gister gedink dat ek my daaraan
skuldig maak. Maar omdat ek nie seker was wat die woord daarvoor was nie, was
ek nie seker of ek daaraan skuldig was nie.
En dan is dit mos nou maar een maal hoe dit met woorde
is:
Jy hoor ‘n woord wat jy nie ‘n idee het wat dit is nie, jy
het die woord straks nog nooit gehoor nie, en dan kruis daai dessitse woord in
die volgende drie weke jou pad ‘n verdere sewe keer.
Vir my was dit so met nepotisme.
Ek het ‘n ou man geword voor ons kort na die eerste demokratiese verkiesing in
1994 konstant, en tot vandag toe steeds op gereelde basis, daarmee bombardeer
is. Ja, ek wil suggereer dat ons eers onder die ANC se voortou neem daaraan
blootgestel is, maar dis ‘n lieg. Dit was toe al die tyd net ‘n nuwe woord vir
‘n baie ou en bekende ding wat ons in die vorige regime sommer Boereverneukery en baantjies vir boeties genoem het.
Of jy wonder oor ‘n woord en waar jy die woord gaan opspoor,
soos ek gister, en dan duik hy kort daarna, of weke later uit die bloute op.
In gister se geval, sommer dieselfde dag. Ons sit in ‘n
personeelvergadering, die lugversorging stukkend, die kraaie gaap en ek vang
vis op so ‘n wyse dat my nek vanoggend skoon in ‘n spasma is. Die gasspreker,
‘n advokaat aan die woord oor onderwysreg en mens- en kinderregte, haal vir
Desiderius Erasmus aan wat regsgeleerdes beskryf as “bewapen met drie sillogismes.
En ek ruk wakker. Pikwakker. Want daar is miskien die woord
vir dit waaraan ek gister skuldig gevoel het: sillogisme.
Na afloop van die vergadering soek die woordeboek op: “Redenering bestaande uit twee premisse
waaruit ‘n besluit, konklusie afgelei word as die premisse waar is. Bv. Mense
is sterflik, ‘n koning is ‘n mens; daarom is ‘n koning sterflik.”
Hierdie relaas rondom sillogisme egter suiwer die gevolg van
die ander sillogisme waarop ek myself vanoggend gerieflikheidshalwe betrap het
en is dit eintlik hier waar ek my klets wou begin het:
‘n Mens kry darem maar
sulke pragtige mans, en dan bedoel ek nou mans wat pragtige mans vir hul
vrouens is (‘n goeie en deugsame man vir sy vrou is.)
Die “pragtige man” in
ons familie was my ma se peetkind se man, Brian. Eintlik my niggie se man, maar
dan klink dit of ons speelmaats was en dis geensins die geval nie; ek is goed
twintig jaar jonger as hulle.
So twee keer ‘n jaar
is ons familie toe, hetsy vir ‘n naweek, Paasnaweek of kort vakansie. Ek hoor nou
nog my ma stekies uitdeel aan my pa, of opvoed aan my, as ons dan nou na die opruk
Oos-Vrystaat toe huiswaarts keer: “Wat ‘n pragtige man is Brian tog nie vir Ruth
nie,” of “Hoe ‘n pragtige man het die Brian nie toe tog uitgedraai nie.”
En hy was. Hy het.
Wat die sterkste
indruk op my as kind gemaak het, ek vermoed onder breinspoeling van my ma
(gedagtig aan die stekies na pa en my opvoeding) was die feit dat hy elke
oggend, nie net as ons daar was nie, elke oggend van sy lewe, heel eerste, voor
al die ander, opgestaan en vir elkeen in die huis koffie in die bed gebring
het.
En so het hy een
oggend douvoordag , jare later met sy kinders al uit die huis en op
universiteit, vir sy vrou haar koffie in die bed gevat, omgedraai en sy kop in
die gastetoilet gaan wegblaas.
Nou ek is nie ‘n
koffie- en teedrinker.
My vrou ook nie.
Of so het ek gedink.
Want toe begin sy,
hier teen Julie vanjaar, na jare van getroude lewe, soggens koffie maak. (Het
sy, “living a life of quiet desperation” haar koffielus al hierdie jare
onderduk?)
En na ‘n week begin sy
voor my opstaan om koffie te maak.
En daai week is nog
nie eers ‘n vol week nie, toe maak ek my stem dik, die ertappelboer sal trots
op my wees, en ek sê: “Nou maar, jy maak nou vir jouself koffie, hoekom maak jy
nie maar vir my ook nie?”
Nou is daar seker
mense wat lelik dink van my vrou: sy maak vir haarself koffie, en vat nie eers
vir haar man en hoof van die huis nie. Ja, jy mag maar lelik van haar dink, ek
gee nie om nie. Maar nie oor die koffie in die bed nie. Onthou, en ek hét gesê,
ek IS nie ‘n koffiedrinker nie.
Maar verander dit maar
na “ek WAS” nie ‘n koffiedrinker nie.
Want so begin Annieka
mos toe nou ‘n lekker ding: koffie in
die bed vir Hans. Elke weeksoggend. En dit raak vir my ‘n heerlike bederf. Later
kry ek my koffie in die bad.
Ék is nou die een wat die
R366-00/kg-koffie in die trollie gooi en haar vertel om dit agter die olywe in
die ander kas weg te steek dat die bediende nie ons koffie drink nie.
Nou kyk, daar is by my
geen vrees dat my vrou iets onverantwoordeliks gaan aanvang nie. Maar toe is
daar vanoggend nie die, wat nou al gebruiklik geword het, tradisionele koppie
koffie langs my bed nie.
Ek lê selfs bietjie
later, vir ingeval dit nog kom, maar sy soek al juwele uit en daar is van
koffie geen sprake nie.
En ek betrap my minute
later in die kombuis met die ketel wat my aankla.
En ek wonder, sal ek
nie maar vir ons koffie maak nie.
Maar toe onthou ek
skielik vir Brian, en onthou ek gelukkig ook wat met mans gebeur wat vir hul
vrouens in die oggend koffie maak.
En of dit nou sillogisme
is of nie, dit skeel my min. Ek is en bly weliswaar nie bereid om die risiko te
loop nie.
No comments:
Post a Comment