As jy ooit in Pretoria verby Die Hoërskool Staatspresident CR Swart ry, ry bietjie stadiger. (‘n Mens ry in elk geval nie vinnig in die omgewing van enige skool nie, kinders is onvoorspelbaar soos diere.)
Kyk verby
die graffiti teen die naambord, die bossies en die gras tussen die plaveisel,
kyk ook die Hoërskool wat nou al jare
Hoerskool is mis en loer na die very eighties glasdeure by die hoofingang.
Onthou dan
Hans Moolman staan daarvoor pa. Hy het die hele projek bestuur, van die ontwerp
tot die aanbring van die loodglas-verf op die vier deure. (Ja, daar is twee aan
die ander kant ook, oppad personeelkamer toe.) Daar het nogal baie dinkwerk
ingegaan. Die vier deure beeld onderskeidelik uit: (a) die vakke, (b) die buitemuurse
bedrywighede, (c) die drie steunpilare van die skool (ouers kinders en
onderwysers) en (d) het ek nou vergeet.
‘n Paar van
ons moes een nag, in die hoogs onstuimige tagtigerjare, daai vier deure
afskroef om die verfwerk te doen en het in die voorportaal op ‘n baie harde
krismisbed moes slaap om die veiligheid van die skool te bewaar.
Agter
daardie deure van Die Hoërskool Staatspresident CR Swart is vasgelê by verre
die lekkerste jare van my loopbaan as onderwyser.
Ek het
vanmiddag weer daar verby moes ry om Klaradyn by die kleuterskool op te tel en het opnuut kwaad geword.
Ander
oudkolegas, soos ek uit twee monde die afgelope ruk moes hoor, ry daar verby
en wil huil.
Verwysende
dan natuurlik na die reeds genoemde verwaarlosing wat vêrder strek as graffiti,
bossies en grassies tussen plaveisel. Onversorgde, ongeverfde deure, geute,
pilare, tennisbane wat opgebrokkel herinner aan ‘n droë rivierbedding, vervalle
paviljoene, verdroogde, toegegroeide en in sommige gevalle verdwene sportvelde en –terreine.
En dit net
in die verbyry.
Ek, aan die
anderkant, wil nie huil nie. Ook nie as ek hoor daar word grappendergewys na
hierdie eertyds pragtige skool verwys as
CR Pikswart nie. Ek weet die prentjie van onderwys Suid-Afrika het onherroeplik
verander, en skoolfonds, getalle, bums on
seats, om die skool na behore te onderhou is daar nie. Nie vanuit die
huidige ouergemeenskap nie, nog minder vanuit owerheidsgeledere .
Maar ek
word kwaad, onredelik kwaad as ek onthou hoe anders dit kon gewees het.
Die moeders
en vaders wat dit kort tevore hul moederlike en vaderlike plig geag het om die
naam van ‘n laerskool in die omgewing te verander vanaf die voorstad waarin dit
geleë is, na die veelseggende Laerskool Volkshoop, se telge tref toe mos
hoërskoolouderdom.
En daar moet hulle ‘n nuwe hoof aanstel. Nooit
‘n ligte saak vir enige gemeenskap nie, maar sommer ‘n baie gewigtige een vir
ons lede van die beheerliggaam.
Van die
moeders het na die tyd te vertelle gehad dat hulle om ‘n geopende Bybel op die
koffietafel, die hande in ‘n kring gevat, gesit en bid het om leiding en dat
die regte kandidaat tog net in die pos aangestel moet word, terwyl die vaders
eenkant elders die amptelike besluit om ‘n aanstelling moes neem.
Aan stuur
van sake, soos so dikwels destyds, genadiglik ‘n bediener van Godswoord van uit
die korrekte denominasie, kring, ring, leerstoel en uit die regte hout gesny.
En die res
is geskiedenis: Die twee ander kandidate
op die kortlys het die volgende ronde bevordering ontvang as skoolhoofde waar hulle steeds aan die hoof
staan, beide skole vandag nog steeds twee van die meer suksesvolle skole aan
die Rand.
Ons
kandidaat, die regte man vir die pos met die regte politieke denke en in
antwoord op die gebede van kort tevore, is minder as drie jaar later skielik
oornag uit sy hoofdestoel tot hoofkantoor “bevorder” . Dit nadat die
skoolgetalle na net vyf maande drasties begin daal het, talle kinders wat tot
soveel as drie boeties en sussies in die skool gehad het, skielik by naburige
skole ingeskryf is, en die skool, toe hy hom weer kon kry, met meer as 33%
gekrimp het.
As die
ouergemeenskap maar net wou slaap op die bed wat hulleself opgemaak het, want
kort hierna het dinge lelik in die gesigte van die oorblywende broers en
susters ontplof. Ook in die gesigte van die broeders (en hul susters) want met
die name van vorige hoofde en adjunkhoofde netjies opgeteken in die boek The Super Afrikaners, het ons gou begin
wonder watter skoen ons hoof tot hier geskop, watter hand ons hoof tot hier
getrek het.
Die nuwe
man aan stuur van sake, en die nuwe beheerliggaam (steeds ‘n dominee as
voorsitter, hoe dan anders, maar van ‘n gans ander denominasie) besluit toe na eenstemmigheid op ‘n
ouervergadering bereik is, om die skool oop te stel vir leerders uit die township, ‘n besluit waarvoor ek hul
steeds salueer.
Dertig jaar
en meer se bouwerk wat in twee, drie jaar afgebreek is, word nie oornag op
hierdie manier weer opgebou nie. Ek dink ook nie dit sit in enige hoof se broek
om sodanige bouwerk te kan herstel nie.
En, o
donder, wat ‘n ramp was hul besluit nie. Die volksgenote het nou al klaar hul
kinders oorkant die pad, en laer af met die straat, gevat; toe kom jong Turkse liberals agter dat hul eie liberaliteite
maar net baie vlak onder hul pienk velle lê en vat hul bloedjies nog vêrder af
in die straat.
En daar
staan die skool vandag. Wat van hom oor is. (Oorle’ Oom Blackie draai en draai
en draai en draai nogmaals in sy graf om.) Ek was pos 54 toe ek daar begin het.
Toe ek laas getel het was daar iets soos 14 poste (maar ek praat onder korreksie).
‘n Oudleerling en later jare lange mees lojale onderwyser het sy eie seun nie
daar ingeskryf nie — daar was vir
hierdie kranige rugbyspelertjie nie genoeg ander graad 8’s om ‘n
rugbyspannetjie vol te maak nie.
Onderwys
Suid-Afrika hét onherroeplik verander, ek weet. Maar ek kan nie daar verby ry
sonder om te wonder wat sou gebeur het as ons nie destyds ‘n antwoord op
polities korrekte gebede gekry het nie, maar een van die mans met meriete wat
hul onderskeie skole suksesvol deur die veranderinge kon lei en bou.
Dan
beskuldig ek ook geensins ‘n hoof of hoofde nie, ek lê die skuld (en ek het
gesê ek is onredelik) aan die voete van die besluitnemers destyds.
Laerskool
Volkshoop se naam kon herstel word en dis vir my lekker om weer verby Laerskool
Queenswood te kan ry.
Maar wat
hulle reggekry het met Hoërskool Staatspresident CR Swart, het ‘n anderste
soort goddelike ingryping nodig, as wat destyds van God afgebid is.
Die
verfwerk op die glasdeure skilfer ook af. Dis tyd dat dit vervang word. Nie die
verfwerk nie. Die deure.
NS: Hoekom
ek in ’97 daar weg is? Ons weet hoe dit is met rotte en sinkende skepe en ek
het weggehardloop toe dit duidelik word dat Afrikaans Tweede Taal my voorland
word. En ek is in die onderwys, primêr nie oor die kinders nie, maar oor
Afrikaans, en oor die huistaalvlak wat ek steeds bevoorreg is om aan te kan
bied.
Dit was 2008. Daar is die laaste jaar of wat heelwat geld in die skool gepomp. 'n Ruk gelede was ek histeries toe ek sien hulle kap die tennisbane op. Gelukkig was dit nie om dit tot niet te maak nie, maar dit oor te doen - weliswaar nie almal nie, ook nie as tennisbane nie, maar as netbalbane.
Toe die skool 50 geword het, is die ingang ook oorgedoen.
Hoe dit binne die skool gaan, weet ek nie, maar dit bly vir my heerlik om elke paar jaar daar in 'n tou te staan om te stem. Hierdie jaar het ek Klaradyn vir 'n begeleide toer van die skool geneem - een vet lekkerte.
Ek is van die mening toegedaan dat daar vandag steeds baie leerders in die skool is, wat soos ek, die skool as die beste skool ooit sal onthou.

No comments:
Post a Comment