Judy het altyd as sy, ons, of
later van tyd ook sy en Oom Jack, ná ‘n gesellige kuier van vriende afskeid
neem, oulaas gegroet met hierdie woorde: “Hou matigheid voor oë en moet niks
doen wat ek nie ook sal doen nie, hoor!”
Altyd. Ás sy lekker gekuier
het.
Oor ek haar kind is, en daarom
altyd kind sal bly, (al was ek ook al lankal getroud en later sélf ʼn pa) het sy
my natuurlik nooit ooit só afgesien nie.
‘n Vrou wat ek hoogstens
miskien vyf keer in haar lewe die woord “kak” hoor sê het (vir haar die ergste
en afskuwelikste van enige vorm van kragspraak) maak nie dié klas van grappies
met haar seuns nie. Dit betaam haar bloot net nie.
Ek is nou al gatvol om elke
oggend se gespreklose kuier in die ouetehuis se versorgingseenheid af te sluit
met: “Ek gaan nou skool toe, werk toe. Ek sal later weer vir Ma kom hallo sê.
Onthou daar is net een ding wat Ma nooit moet vergeet nie – ‘Ons is lief vir
Ma’. En wat moet Ma onthou? ‘Ma moet onthou om vir ons lief te wees, en vir ons
te bid.’”
Kuier ek enige ander tyd as
tussen 06:00 en 06:30 is dit: “Ek gaan
nou huis toe, ek gaan vir ons kos maak, vir Annieka en Klaradyn, dis mos nou my
vrou en my kind.”
Of dit nou 14:00, 16:00,
18:00 of 20:00 is, of nie. Dit maak nie saak nie – ek gaan maak kos. Kosmaak,
vir jou gesin, is iets wat haar ouerhart altyd sal verstaan, al het die
grysstof lankal opgehou om te probeer, of kán, verstaan.
As dit goed gaan, die
oggend, dan hoef ek haar nie daaraan te herinner om vir ons lief te wees nie,
dit kom, saggies, vanself: “En ek vir
julle.”
As dit baie goed gaan, die
middag, dan kry ek: “Ry veilig,” of, “Pas jouself mooi op, Oubaas.”
Gisteroggend was ‘n rapsie
slegter as die laagtepunt wat nou langer as ‘n week sonder enige opflikkering
was.
Op die ingewing van die
oomblik, na sy die hele tyd nie ‘n enkele woord gesê het nie, maar kromgetrek
en skeef, skaars na my gekyk het, wil ek myself opbeur met ‘n variasie op my
geykte tema. El trek los met: “En moet
niks doen nie, wat ek nie ook sal doen nie, gehoor!”
Ag, Here, en op daardie
oomblik breek daar ‘n stoute, ondeunde glimlag oor haar lippe en hele gelaat.
Haar glashelder bokkie-oë
begin sommer blink.
En of dit van trane was, sal
ek nie weet nie.
Ek is te gou daar uit.
Ek wou haar nie met my eie
diepe ontroering ontstel nie.