30.11.15

'n Kosbare herinnering van 7 Oktober 2010

Judy het altyd as sy, ons, of later van tyd ook sy en Oom Jack, ná ‘n gesellige kuier van vriende afskeid neem, oulaas gegroet met hierdie woorde: “Hou matigheid voor oë en moet niks doen wat ek nie ook sal doen nie, hoor!”

Altyd. Ás sy lekker gekuier het.

Oor ek haar kind is, en daarom altyd kind sal bly, (al was ek ook al lankal getroud en later sélf ʼn pa) het sy my natuurlik nooit ooit só afgesien nie.

‘n Vrou wat ek hoogstens miskien vyf keer in haar lewe die woord “kak” hoor sê het (vir haar die ergste en afskuwelikste van enige vorm van kragspraak) maak nie dié klas van grappies met haar seuns nie. Dit betaam haar bloot net nie.

Ek is nou al gatvol om elke oggend se gespreklose kuier in die ouetehuis se versorgingseenheid af te sluit met: “Ek gaan nou skool toe, werk toe. Ek sal later weer vir Ma kom hallo sê. Onthou daar is net een ding wat Ma nooit moet vergeet nie – ‘Ons is lief vir Ma’. En wat moet Ma onthou? ‘Ma moet onthou om vir ons lief te wees, en vir ons te bid.’”

Kuier ek enige ander tyd as tussen 06:00 en 06:30 is dit:  “Ek gaan nou huis toe, ek gaan vir ons kos maak, vir Annieka en Klaradyn, dis mos nou my vrou en my kind.”

Of dit nou 14:00, 16:00, 18:00 of 20:00 is, of nie. Dit maak nie saak nie – ek gaan maak kos. Kosmaak, vir jou gesin, is iets wat haar ouerhart altyd sal verstaan, al het die grysstof lankal opgehou om te probeer, of kán, verstaan.

As dit goed gaan, die oggend, dan hoef ek haar nie daaraan te herinner om vir ons lief te wees nie, dit kom, saggies, vanself:  “En ek vir julle.”

As dit baie goed gaan, die middag, dan kry ek: “Ry veilig,” of, “Pas jouself mooi op, Oubaas.”

Gisteroggend was ‘n rapsie slegter as die laagtepunt wat nou langer as ‘n week sonder enige opflikkering was.

Op die ingewing van die oomblik, na sy die hele tyd nie ‘n enkele woord gesê het nie, maar kromgetrek en skeef, skaars na my gekyk het, wil ek myself opbeur met ‘n variasie op my geykte tema. El trek los met:  “En moet niks doen nie, wat ek nie ook sal doen nie, gehoor!”

Ag, Here, en op daardie oomblik breek daar ‘n stoute, ondeunde glimlag oor haar lippe en hele gelaat.

Haar glashelder bokkie-oë begin sommer blink.

En of dit van trane was, sal ek nie weet nie.

Ek is te gou daar uit.


Ek wou haar nie met my eie diepe ontroering ontstel nie.