Hierdie ongetroude vriendin op Bloemfontein het ‘n ding met
bloedoortappings en vigs. “Want as ek dan nou vigs móét kry, laat dit dan tog
net op ‘n opwindender manier as aan die hand van ‘n boring bloedoortapping wees,” reken sy.
Daarom dan ook hoekom ek my nie sommer skuldig maak aan
diefstal nie. As ek dan nou vervolg móét word, tog net nie oor iets wat ek gesteel
het nie.
Uit ‘n prille jeug onthou heelwat seker tjoklits by die Griek op die hoek.
In my geval onthou ek ‘n eenmalige insident met sweets want die tjoklits by Pappa-sous-se-klou (ek vermoed dit was Papasoseklou, of
iets dergelik) se kêfie was agter glas, met jare se opgehoopte vlieëmis wat
sulke piepklein korreltjies gelê het.
Dan was daar die suikerlepeltjie met die gepoleerde
rooskwarts aan die steel wat ek vir my ma gevat het die nag toe ons by rykes in
Alberante-uitbreiding (vir Alberton soos wat Waterkloof-rif in die sewentigerjare
vir Pretoria sou wees) wakker gebly het, om die geveg tussen Gerrie Coetzee en
een of ander Spinks te kyk. Boksentoesiaste uit daai dae, en dis tog of daar
daardie jare meer was, behoort die geveg
hier teen drie-uur die oggend te onthou. Toe die geveg begin het ek opgestaan
om te gaan piepie. En toe ek terugkom was die fight over en die TV af.)
Vir wat ek die suikerlepeltjie nou ook die volgende oggend
vir my ma loop staan en gee het, sal net ‘n kind weet. Ons (ek en my ma) is
later met die kar Skuldbult toe om die ding al verduidelikende terug te besôre.
So was dit ook in standerd ses, 1976, met die koraalboomsade
(dendroloë uit daardie dae sal ‘n ander naam onthou) wat die curiowinkel in die
foyer van Windhoek se grêndste hotel destyds, teen ‘n asembenemende 99c verkoop
het. Die meeste van ons ken koraalboomsade, ons weet dalk net nie dis
koraalboomsade nie. Dis hierdie bloedrooi/knaloranje piepklein saadjies met so
kraaiswart klein knoppie in die buig van die boontjievormige saadjie. (As jy zoo toe gaan, of dit nog op Durban se
strandfront by die esplanade waag, is daar vrouens wat krale verkoop met van
hierdie saadjies in.)
Nou in ’76, en ‘n pakkie Simba tjips is toe net op van 5c na 7c, was ‘n volle 99c vir ‘n 3
mm-koraalboomsaadjie, wat ons pouses by die skool sommerso uit verveling met
ons tone opgetel het, darem wragtig ‘n sonde. En oor hulle so kan kroek om daai
belaglike prys te vra, het ek gedink ek sal hulle terug kroek en ‘n handvol
skaai.
Dis altans hoe ek dit aan my ouers verduidelik het toe ek,
na die relaas oor die belaglike prys, my hande uit my broeksak wurm en die
handvol sade as bewys voorlê. Gelukkig was die hotel (Namib/Windhoek
Sands/Sun/Inn?) hopeloos te grênd en my ouers nog hopeloser te trots, om hul
jongste telg aan die ore met die hysbak af te sleep tot voor die
winkelbetuurder.
Ag ons nou nie die witboordie- (of is dit in die onderwys se
geval blou-?) insidente rondom ‘n
riem afrolpapier so een maal in twee jaar
vir die druk van vraestelle en aantekeninge tuis, as diefstal nie, is
dit eintlik my vierde, laaste en grootste diefstal waarby ek wil uitkom. En dit
in 2000. Ek darem nou 40 en heel toerekeningsvatbaar.
Hans is steeds in die onderwys, maar kantoorgebonde. Die
saal aangrensend aan sy kantoor is gevul met die vrugte van duisende rande se
onafgelewerde/verkeerdelik geadresseerde/verdwaalde/misplaasde wanbesteding en
bemagtiging van en in die onderwys.
En daar eenkant, nog uit die dae van die vorige regime se
verwarring met aankope en besending, lê hulle:
‘n hopie leë skooljoernale, lieflik deur die Staatsdrukkery gebind. Twee
keer so groot en twee keer so dik as die grootste dikste Familie- of Statebybel
wat jy in enige museum in SA sal kry.
Hulle lê al vir jare daar, word al vir jare nie meer aan
skole uitgereik nie.
Maar dan is dit mos nou maar een maal soos dit met die
Staatsdiens is. Jy kan nie vir een gaan vra nie; die goed is iewers aangewins
en waar dit aangewins is, moet uitreiking gemagtig word. Die lêer waarin dit
aangewins is weg of vernietig toe die gebou in ‘81 oorstroom het. Aanwinsbeampte
(of is dit nou uitreikingsbeampte?) met verlof/afgetree/afgesterf, sy pos
vakant/tydelik vakant/oortollig verklaar. Vorms in triplikaat vir voorlegging
aan... Kantoor A405, vyfdevloer, regtervleuel...
Wat ook al die rede, daar’s nie ‘n manier dat jy jou hande,
op die regte manier, met die regte papierwerk, volgens die korrekte kanale, in
jou dertigjaar-dienstydperk as staatsdiensamptenaar, op een van daardie
skooljoernale sal kan lê nie.
Ek smokkel dit toe nou maar daar uit.
Maar smokkel is iets wat jy diamante die grootte van
mieliepitte doen. ‘n 900-bladsy, A2, Gutenberg-Bybel tipe Staatsdiensjoernaal
is nie die klas van ding wat hom sommerso laat uitsmokkel nie. Nie as jy ‘n
pennelekker, waarvan sy kosblik daagliks groter as sy aktetas is, is nie.
Hoe ek dit reggekry het en die ekseemagtige senu-uitslag wat
daarmee saamgegaan het, is ‘n blog-pos op sy eie.
En ek wou eintlik vandag uitgekom het by hoekom ek blog.
Nodeloos om te sê dat hierdie moerse boeke vandag... Nee, ek weet wraggies nie waar hulle vandag
is nie. (Die boekrak se een rak wat hulle in ‘n stadium so min of meer waterpas
moes hou, het ek tog al reggemaak.)
Nodeloos, daarom eerder, om te sê dat ek hulle toe nooit as
joernaal of dagboek ingespan het nie. (Het selfs in kalligrafie ‘n titelblad in
elkeen laat aanbring.)
Ook toe Klaradyn gebore is, en ek die visioene van ‘n Pa wat
dagboek hou van haar eerste paar jaar, gekoester het, het niks gekom nie. (Dink
net hoe roerend kan dit vir die Pa wees om op ‘n 21ste
verjaarsdag/troudag/gradeplegtigheid die
kronieke bewend te oorhandig. Dink net hoeke verleentheid dit nie vir die
stomme brat/bruid moet weesnie!)
So sou jy wonder waarmee ek eintlik besig is as ek so blog:
ek’s besig om daai bloody gesteelde
joernale vol te skryf. Lyn vir lyn. Bladsy vir bladsy.
En elke oomblik daarvan te geniet.
No comments:
Post a Comment