Loop ek gister ‘n matriekdogter in die superette raak. Kom
ons noem haar Wilma van der Linde. Lieflike kind, maar nee, ek loop haar nie
raak nie, ek loop haar verby, skuur letterlik agter haar rug verby en hoop sy
sien my nie.
Ons sal heerlik geselsie maak, maar ek is laat vir ‘n
afspraak by die jaarbladontwerper, én ek is vrekhonger. Ek sluip uit en gaan
eet my hamburger buite by die kar voor ek moet jaag om betyds vir die jaarblad
te wees..
Met dié kom sy uit en ek kan dadelik sien sy het my wel in
die winkel gesien, en, soos ek, gemaak of sy my nie sien nie.
Ek weet ook sy lees presies dieselfde op my gesig.
Maar hier is ons nou as het ware in mekaar gesigte, verplig
om ons geselsie aan te knoop. ('n Geselsie wat ons beide sal geniet, maar nie
een van duidelik nou op hierdie oomblik tyd voor het nie – ek hou immers van
die kind, en die kind hou van my.)
Op my vraag hoe dit gaan, laat val sy dat dit sleg gaan.
Die matrieks het gister én Vrydag wiskunde geskryf. Vrydag
se vraestel was ‘n riller, so nou lei ek af die tweede vraestel was nie veel
beter nie.
“Hoekom, was die wiskunde weer sleg?”
“Nee, my pa is verlede week oorlede.”
My hart reik dadelik uit tot hierdie kind vir wie ek ‘n baie
sagte plekkie het.
“Haai, dis vreemd, hulle het niks eers by die skool genoem
nie.”
“Nee, wat, hulle sal nie, ek is mos nie meer in die skool
nie.”
En toe besef hierdie lieflike kind vir wie ek ‘n sagte
plekkie het, is nie hierdie jaar se lieflike kind vir wie ek ‘n baie sagte
plekkie het nie, maar een van twee jaar gelede vir wie ek ‘n baie sagte plekkie
gehad het.
Gelukkig is ons al twee haastig en ek hoef nie te sukkel om
‘n hele voet en been uit my mond, waar ek dit sopas gedruk het, te loop haal
nie.
Vanoggend sien ek Wilma op ‘n afstand en storm nader om haar
my faux pais van gister te vertel. Maar toe ek voor die kind staan, seker
gister se insident wat my brein benewel, lyk dit nie vir my soos Wilma nie.
“Wie’s dit die?” vra ek vir die juffrou met wie die kind
gesels.
“Dis Rochelle.”
“O, ek het gedag dis Wilma, moenie worry nie meisiekind.”
“Maar dis Rochelle van der Linde, Wilma se jonger sussie.
Daar oorkant staan Wilma.”
No comments:
Post a Comment