Trompie, van die
Boksombende, het altyd as hy van die skool af kom sy ma se dahlia wat in die
bedding by die voorhekkie staan, geskop dat die ding oor die dak trek (en, in
geestesoog, voor die kombuisdeur beland.)
By my huis is daar nie dahlias
nie en die enigste skopwerk wat ek deesdae doen is skoene onder die bed in.
‘n Skoolvriend van my het
weer tennisbaan toe gegaan en, wat vir my (wat eerder ander goed wou speel) soos ure gevoel het,
die bal teen die oefenmuur geslaan. En
geslaan. En geslaan. Tot hy die ding in sy binneste waarmee hy geworstel het, die draak wat hy moes veg, uit baklei het, uitgewoed het, teen die muur.
Ek het nie ‘n tennisbaan
nie en kry, selfs sonder om tennis te speel, gereeld las van ‘n tenniselmboog.
En dis, in antwoord op
die vraag “waarom ek blog”, die rede waarom ek blog: ek blog by gebrek aan dahlias of ‘n tennisbaan.
Die Groot Afrikaanse
roman wou ek weliswaar op een van twee plekke gaan skryf het...
En nou onthou ek nie meer
die naam van die strand wat ek een jaar op die Strandloper-staproete raakgestap
het, onthou nie.
Maar ek weet dit sou lekker gewees het.
Die Underwood portable ou tikmasjientjie wat
die droom voltooi, kry geen mens in elk geval meer lint voor nie.
Die ander plek is in een
van daai ou rondawels (wat nie rond is nie, maar wragtig nie ‘n chalet genoem
kan word nie) op Punda Maria.
Maar vandat daar ook nou krag en ‘n swembad is,
sal daai prentjie ook maar net een in my kop bly.
Deur die genade is geen
gedig wat ek ooit geskryf het, met enkele uitsonderings hier en daar in
tydskrifte, wat nie eers meer bestaan nie, ooit gepubliseer nie.
Die ander skrywersdroom
het Hennie Aucamp by my gesteel. Hy noem sy boek Ontmoetings. Vertellings rondom mense wat hy ontmoet het, mense wat
op hom afgegee het.
Ek is bevrees na 20 jaar
sit ek steeds net met twee, hoogstens vyf, hoofstukke: die een oor die vrou wat destyds in die
weermag ‘n baba se lyk uit die yskas gaan pluk het en onder die vroue se neuse
loop swaai het; die ander oor ‘n skilder wat deesdae in die buiteland sit.
Drie, vier en vyf is my
kind, my vrou en my ma (want kan jy nou dink wat sal gebeur as ek hulle nie
insluit nie!)
My Ontmoetings-boek se naam sal jy nou nooit op die internet kan google en aankoop via kalahari.com nie, maar hierdie
parkeerplek in die kuberruin, hierdie afsaal, skep darem nou die geleentheid om my
te verplig om my teksie so tussen skoolhou te skryf.
Nie dat skoolhou meer is
wat dit was nie.
Ek onthou darem steeds, en verlang daarna, die heerlike
Vrydagmiddae na skool hier in die laat tagtiger- begin negentigerjare. As die
klok trrr-trrr, dan brrr-brrr my kar reguit kafee toe vir Vrye Weekblad. Dan is dit ek en Max du Preez en die bed.
O, en ek wou so graag
‘n onderwysrubriek in Vrye Weekblad beman!
Maar voordat ek nog my
voorlegging kon maak, toe trap hulle die koerant se tjank af en daar bars
daardie bubble ook.
My ander en laaste
aspirasie as skrywer was tot onlangs om die pa-en-kind-rubriek by Willie Burger
in Baba en Kleuter oor te neem.
Om pa te wees, het ek op
40 agtergekom, is waaroor die lewe eintlik gaan en ek het gedog ek sal darem so
lekker my en Klaradyn se oomblikke met die lesers kan deel.
Tot onlangs? Ja, vandat
ek begin blog het, kom ek agter daar is ander dinge wat my gedagtes op loop
neem, nie noodwendig net my kind nie.
Hierdie verposing of pouse, daarom my Statebybel-joernaal, my dahlias, my tennisbaan-oefen- groen muur, my groot Afrikaanse
roman, my Ontmoetings a la Aucamp, en
sommer twee rubrieke in die Afrikaanse media - alles in een.
No comments:
Post a Comment