In die army het
VTB gestaan vir ‘n uur elke week se vryetydsbesteding, maar synde jy enige iets
kon doen solank dit nie is wat jy wil doen nie, maar wat hulle jou verplig om
te doen, het ons gepraat van Verpligte-tydsbesteding.
Hoe ruk my binneste so soorts egter nie van
vanaand nie. Ons lees en gesels deur ‘n boekie wat help met tyd leer. 7-uur
staan ons op, 8-uur ontbyt ons, 9-uur is dit skottelgoed en so gaan dit aan tot
4-uur.
In drie van die prentjies (of dan nou tydgleuwe in
die dag) word onderskeidelik gelees, getekent (waar Klaradyn aan daardie –t
kom, sal ek nie weet nie, maar van die eerste dag dat sy die woord gebruik, is
die –t met haar) en televisie gekyk.
Ek vra watter een van die drie sy die meeste
geniet...
Ek moes dit seker verwag het.
Sy het tot verlede jaar nog gedink televisie kyk beteken om ‘n DVD in die
masjien te sit. Toe sy met ‘n televisie en kanale konfronteer word, toe vra sy
waar is die boksie van die DVD, sy wil die buitekant sien.
In 2005 reeds het die gemiddelde Amerikaanse kind
900 uur per jaar op skool spandeer. En voor die televisie? 1 023 uur per jaar.
In daardie stadium was die televisie in die
deursnithuishouding vir ‘n gemiddeld van 6.7 uur aangeskakel.
Teen die ouderdom 18 bring dit die kind te staan
op 22 000 uur se passiewe vermaak. Al wat hy of sy tot nou toe meer van in sy of
haar lewe gedoen het, was slaap.
Op 16 kon daar reeds 33 000 moorde voor hom of
haar afgespeel het. Hulle praat van 200 000 tonele van geweld waaraan die
kinders tot nou toe blootgestel is.
Nie ek wat so sê nie, maar Michael Gurian in sy
boek The Minds of Boys. Die man se
studieveld is nie televisie nie, maar seuns, en ander boeke rondom dieselfde
onderwerp wat ek vir enige ouer of onderwyser gemoeid met seuns kan aanbeveel, is
Boys and Girls Learn Differently en The Wonder of Boys.
Google gerus die naam. Ek het op hom afgekom in leeswerk
wat ek twee jaar gelede gedoen het rondom die tendens wat, en ek glo nie ek
veralgemeen nie, elke skool deesdae kenmerk, en dit is die feit dat die skole
se toppresteerders by verre deur meisies oorheers word.
Om die injustices
of the past aan te spreek, is dit te verstane dat die saak ter plaatse nie
veel aandag van die huidige regeringskant geniet nie. Hier word juis gefokus op
die ontluiking van die she child (soos
die regering dit stel) en is enige navorsing wat die opkoms van dogters
bevestig, ‘n pluimpie in die hoed van die regering wat die vrou wil ophef.
Gesien in die lig van die onderdrukking van die
vrou wat Afrika in vele opsigte kenmerk, is dit verblydend.
Is jy jou lewe lank in die onderwys, is dit egter
nie die voorloop en verbyvat deur die meisies wat kommer wek nie, maar die
opmerklike uitsak en agteruitgaan van die seuns.
Maar ek dwaal af. Ek was by televisie.
Vriende van my het sestien en sewentien jaar
gelede gespog oor hoe suksesvol die televisie as dagmoeder en susmiddel vir
hul, in daardie stadium nog babas en peuters, ingespan word.
Ek weet waar is daardie twee kinders nou, en
hoewel dit tien teen een niks daarmee te doen het nie, kan ek nie help om
prentjie van die kleintjies voor die televisie, destyds, in my geestesoog op te
roep nie.
Doktor Barbara Brock, ‘n professor in
rekreasiebestuur aan die Eastern
Washington University het 50 gesinne gekry om alle skerms vir 30 dae prys
te gee. Die kinders se kontaktyd met skerms, in daardie stadium was gematig, tussen 2 en 4 ure per dag.
Wat het verbeter? Akademiese prestasie,
slaappatrone, buie, verhoogde leestyd, fisiese aktiwiteite en binding binne die
gesin.
Die drie belangrikste vervangingsaktiwiteite was speel in die buitelug, kuier met die
gesin, en lees, teken en speletjies.
‘n Ander studie het na slegs ses weke waarin
televisie-kyk tot ses ure per week beperk is, ‘n 25% afname in verbale en
fisiese geweld onder 900 skoolkinders bevind.
Ek is allermins ‘n voorstaander (en kry ‘n mens nog
sulke mense?) daarvan dat televisie-, rekenaar- en speletjieskerms verban moet
word. Inteendeel.
Tog noop hierdie klas van bevinding my om gefokus
aandag te gee aan hoe ek daarmee omgaan.
Op 'n vlug tussen Kaapstad en Johannesburg is daar
verlede week ‘n gesin van vier langs ons in die ry. Die twee seuntjies, beide
jonger as Klaradyn, se vaardigheid met die effe groter as palm-grootte
skermspeletjies is opvallend. Ek besef Klaradyn sal nie eers weet waar om die
ding aan te sit of wat om te doen as sy dit eers aan het nie.
Hulle is vir die volle duur van die vlug egter net
daarop gefokus, niks anders nie. Nie mekaar nie, nie die venster nie, nie die
ouers nie, nie die koeldranktrollie nie – niks.
Ai, maar hoe jammer, want luister ek na hul
verbale kommunikasie en die gebrekkige gesprekke wat hul met mekaar en hul
ouers probeer uitvoer, kom ek agter, wat hulle wen in vaardigheid aan die een
kant, het hulle tienvoudig verloor en agter geraak aan die ander kant.
Ek sal ‘n ander aand weer die boekie met Klaradyn
lees en gesels. Maar dan sal ek nie doen pas nadat sy Disney Hollywood Chihuahua gekyk het nie, ek
sal wag vir ‘n lekker middag agter die kwaste en kryte.
Miskien, net miskien, antwoord sy dan anders.
No comments:
Post a Comment