20.11.12

18 November 2009

Iets wat my glad nie trek nie is toekomsvoorspellers. En dan bedoel ek toekomsvoorspellers soos fortuinvertellers, kristalbalkykers, teekoppielesers en gypsies.

My pa het in my heel klein kindertyd iewers heen gery en met ‘n “oom” wat kwansuis die toekoms lees, gaan gesels. My ma en haar suster het ook van tyd tot tyd hul teekoppies laat lees by een of ander siener.

Ek onthou een so iemand het onheil aan die hand van ‘n 8 oor my tannie se pad voorspel. En daar sterf Uncle Chappie toe 8 Augustus 1978.

En ja, my ma en pa het boeke van Oorle Siener van Rensburg op die rak gehad.

Tog het ek nooit daaraan gebyt nie.

Familie van ons, aan die ander kant, het as vriend ‘n siener. Ag, en dan noem ek hom ‘n siener, maar ek weet nie wat hy is nie.

Synde egter ‘n vriend, laat val die man van tyd tot tyd egter goed, en alles wat hy laat val, realiseer.

Die derdelaaste mededeling wou dit hê dat die familie ‘n baba ryker gaan word. Hulle hoop op nuus van my en Annieka se kant af, en hou duim vas dis nie een van hul kinders nie. Toe laat weet ons niggie se oudste dogter sy verwag.

Tweedelaaste was dat iemand tronk toe gaan. En daar bring die tuinman wat reeds veertien jaar vir hulle werk twee nagte in die tronk deur.

En toe kom die man met die boodskap dat die familie in Januarie ‘n sterwe gaan hê.

Glo my, ek sal Januarie laat weet wie het afgesterf.

Geen mens het nog ooit rede gehad om iets wat die man kwyt raak te bevraagteken nie. Iewers gaan iemand in ons familie sterf, dis ‘n feit soos ‘n koei.

Ek wil dit net regtig nie weet nie. Nie as iemand ‘n baba gaan kry nie, nie as iemand tronk toe gaan gaan nie, en nog minder as daar ‘n sterfte iewers eerskomende Januarie gaan wees.

Op sy wydste gelees kan dit een van 46 wees. Maar dan moet ons al die aangelaptes en –genaaides bytel en moet die man waaragtig ‘n bioniese oog hê om so ver te kon sien.

Ek kan my nie indink dat enige mens hierdie klas van inligting wil weet nie.

En nou dat ek weet. Wat maak ek daarmee?

Ek is kapabel en neem die hele Januarie verlof en hou Klaradyn by die huis.

Net sodat ‘n komeet ons huis kan tref, of die weerlig die spieël soos met Totius se kind gebeur het. Of so iets absurds.

Ek dink onder omstandighede soos die altyd aan ‘n storie wat Victor Frankel in sy bekendste boek vertel. Maar verniet of ek die storie kan oorvertel. My kopie het ek uitgeleen en nie terug gekry nie.

‘n Turkse storie, verbeel ek my.

Die man kom te wete dat Dood op sy hakke is en slaan op vlug op soek na veiligheid. Hy oornag in ‘n herberg, maar is die volgende oggend met ‘n spoed weer fort, sê maar Istanbul, toe. Dood, wat saam met die man in die herberg oornag het, vra die herbergier die volgende oggend wie die man is wat soos haastig daar weg is. Toe die herbergier die man se naam laat val, merk Dood op, iets soos:  “Vreemd dat ons paaie hier moes kruis. My afspraak met die man is eers more in Istanbul.”

27.8.12

Klaars vier 7

As ek 'n dogtertjie was, wat 7 geword het, soos Klaradyn gister, dink ek dat ek 'n dogtertjie sou wees wat kan terugkyk op 'n heerlike verjaarsdag.
Met 'n mamma soos Mamma Annieka spring so verjaarsdag sommer vroeg in. Ligte geselsies rondom die onderwerp dateer uit April; ernstige geselsies skop Junie in.
Vanaf begin Julie is alles in plek en gefinaliseer – ons wag net vir die aftelling om om en by 15 Augustus te begin.
Vanjaar was dit vroeg duidelik:  ons gaan nie vanjaar 'n groot partytjie hê nie.
Dit het toe dadelik Klaradyn en 'n maatjie by die dieretuin geword.
Die maatjie het met verloop van tyd 'n –s bygekry.
En toe ons weer sien, toe vang Klaradyn ons met die een waarmee ons haar 'n klompie jare gevang het: op 4 kon sy vier maatjies kry, op 5 was dit vyf.
So sewe van hulle is toe Saterdag dieretuin toe. Met nie minder nie vyf oppassers.
Ons gesin kuier gereeld in die dieretuin en ek het spoedig tot die gevolgtrekking gekom dat 'n besoek aan die dieretuin darem baie lekkerder is in 'n groepie maatjies wat pouses saamspeel, as saam met 'n ma en 'n pa.
Die gholfkaretjies is vir twee ure ingespan, toe het ons op die gras plat geval vir 'n piekniek.
Na die piekniek wou die oues omval vir 'n slapie, maar die jonges het begin wegkruipertjie, hardlopertjie, en rondhol-in-elke-denbare-rigting-tjie begin speel. En skielik was vyf oppassers te min om 'n ordentlike ogie oor sewe graad eentjies te hou.
Maar hulle het dit geniet. Soos ek dit het, het die een maatjie dit so geniet dat sy die gesin die volgende dag weer daar had.
'n Ander, wat saam met my gery het toe ons huis toe is, het laat val dat sy wonder wat die kanse is dat hulle die volgende dag na kerk weer daar 'n draai kan gaan maak.
Ons merrieperd het soos 'n ou uitgeputte karperd op die bed neergeslaan en aan die slaap geval.
Van Sondag se kolwyntjies het ek reeds vertel.
Maandag kry ons toe nou die klaspartytjie se pakkies in plek. 'n Koeldrankie en lekkertjies met biltong en droë wors vir 'n lekker afwisseling. En dan nou die kolwyntjies.
Maandagoggend toe word die meisiekind wakker gesing deur Mamma en Pappa.
Tannie Bev sing oomblikke later uit Kampsbaai oor die foon vir haar Engels.
Sy kry is seëlringetjie met KLARIE daarop graveer van die ouerpaar.
Met Ouma Nooi (langs wie se sterfbed ek nou hierdie sit en tik om my gedagtes rustig te hou) se debietkaart het ek drie storieboeke gekoop. En sy het dit ook gekry.
Ons het maar dat Annieka voor in skryf(...  )
Ag, siestog, want toe sterf my ma twee minute later, maar meer daaroor later.
By Ouma Wiesie gekom, na die lekker wakkerword, wag daar toe knap na 06:00 'n tros ballonne by die voorhek om die herdenking van die kind se geboortedag luidkeels in skel kleure aan te kondig.
En etlike meters verder, by die voordeur hang “HAPPY BIRTHDAY” uitgespel.
By daardie huis lyk dit of Kersvader se slee met 'n eerste besending Kersfees 2011-geskenke op pad Noordpool toe, gebreek het – boeke en poppe en poprokke en nog boeke. En nog.
En dit alles tussen 06:00 en 07:00
'n Bietjie later is Pa by die skool om die kosmandjie af te laai. Verjaarsdagmaatjies kom in gewone kleure skool toe, en ek hou haar lank van die hek af dop. 'n Gelukkige blondekop in pienk wat hol en jol en elke oomblik geniet.
Ek het, toe die juffrou by die klas aansluit knap voor die klok lui. 18 hande om te help dra. 18 hande vir een skinkbord, en nog 18 hande vir die boks met eetpakkies. Hoe hulle nie oor mekaar geval het nie, hoe hulle alles in een stuk uiteindelik tussen die tafel en stoele deur, agter in die klas gekry het, weet ek nie en is suiwer genade.
Die verdere verloop ken ek nie, maar alle boodskappe dui daarop dat dit 'n lieflike klaspartytjie was.
Na skool kom kuier Tannie Esme met haar tradisionele verjaarsdagkoek – vanjaar 'n groot 7 met dolfyne.
Liezel van oorkant die straat kom sluit by ons aan en huispartytjie saam.
Toe bring Petri sy blom, en nou het ons 'n huis vol mense met stemme en gelag en vrolike speel.
Met die laaste van ons gaste weg, is ons deur na Ouma en Oupa vir 'n gesinsete met Oom Erik en Tannie Nettie wat by ons aansluit.
Die kind val in die kar aan die slaap, voor 20:00 op pad huis toe.
En toe weer oor die storie wat Mamma lees.
Maar daarvan moet Mamma my vertel, ek het dadelik deurgeskiet na Ouma Nooi toe om te sien hoe dit daar gaan.
En afskeid te neem, sou dit toe nou gister 13:30 blyk, want by haar positiewe het sy my nie weer, en ek haar nie weer, gesien nie.
Nou het ek nie meer drie vrouens om my lewe te oorheers nie, maar net twee.
En dit sal steeds een vet lekkerte wees en bly.

Klaars word 6

Nee, wat! Wat ‘n teleurstelling! Ek is al tranerig van Vrydag af, dan letterlik; dan figuurlik.

Dit het begin toe die kind Vrydagaand vir Pappa wil help met die ballonne en sy dit inderdaad onmiddellik regkry. Soos ek die vorige drie jaar gedoen het (want dis al wanneer ek ballonne opblaas — verjaarsdagtyd) kom ek agter sy trek en rek elkeen eers so uit bietjie uit, met so ‘n effense saaklikheid maar ook ‘n ietsie van ‘n vertoon.

My pa het geglo die ballonne word styf en stram van die lê en dat hulle makliker opblaas as jy hulle op hierdie manier so ‘n bietjie gebrei het. En hier ruk en pluk Klein Klaradyn ewe kordaat aan die ballonne.

Maar dis nie die ergste nie — sy kry die ballon opgeblaas. Sý, my kléintjie! Wanneer het dit dan nou gebeur? Soos ‘n dief in die nag wat ‘n mens bekruip! Dis soos gister (2009) en eergister (2008) en die dag voor eergsiter (2007) dat sy ook nader gestaan het en wou help. Natuurlik het ek nie gelag nie, natuurlik kon sy nie opblaas nie.

En nou het sy selfs die vermetelheid om die ding nog toe te wil knoop ook!

Nee, Vrydagaand was nie vir my lekker nie.

En Saterdag se partytjie het gesuig! Ek is gewoond speletjies speel, vir drie jaar het ek verlof ingesit en dan by die kleuterskool allerhande speletjies met pryse en pret en plesier aangebied.

Ek is Saterdagoggend 03:30 wakker, en staan toe maar op. Ek kry alles gereed vir my speletjies: toue, lepels, koevertjies met prentjies en dingetjies vir opwindende speletjies, kaarte vir stomstreke, ballonne, vissievang-goed, balle vir eierresies, sakke vir sakresies, my dasse vir stertaftrap, en alles  en sommer nog baie wat. Ek stoom selfs drie van my ma se ou kerkhoede vir wanneer elkeen van die twaalf ‘n hemp, twee handskoene, ‘n paar skoene van ons en ‘n hoed op die kop en aangetrek moet kry. Ek kry die toiletpapier reg vir die toiletpapiertoedraai wat elke jaar die hoogtepunt is.

I am on a roll!

Maar om ‘n armlastige onderwyser te wees, hou ook sy voordele in:  in plaas daarvan om pophuise Hospice toe aan te ry, is dit makliker om Hans te vra of hy nie die kinders se pophuis vir Klaradyn wil kom optel nie.

En so het Klaradyn nie net een lieflike pophuis nie, maar twee, lieflikes, grotes, die grootste en mooiste wat ek nog ooit gesien het.

Met die dan ons tien dogtertjies verwag, het ek en Annieka vroeg al besluit om die pophuise uit te dra, en alles wat verband hou met die poppe. Te lieflik, te gesellig.

So toe die ys gebreek is met ‘n strepie en kolletjie oor die gesig, hulle elkeen ‘n moment met die handpoppe gehad het, die koek gesny is en dit tyd is vir SPELETJIE-TYD, toe roep ek hulle nader.

Nou my skoonma het my geleer dat ‘n mens nie kind wat speel se spel onderbreek nie, en ek hét iewers geleer ‘n kind is nooit so ernstig as juis wanneer hy speel nie, en dit hét gelyk asof die meisies ‘n heerlike tyd het...

Maar ek roep hulle nader, daar is immers ‘n uur se speletjies wat wag.

Ek het beslis ‘n fout gemaak om met die ballonne te begin, vir seuntjies sou dit reg wees, vir dogtertjies nie. Hulle het my vir so twee speletjies verdra, maar voor die eerste een klaar was, het party al uitgesak en agter die pophuise ingeklim.

Toe ek speletjie 3 wil begin, toe staan ek alleen.

Maar ook maar goed, want het ek aanhou speel het die soutdeeg-yskasmagneeetjies wat ons om die tafel gemaak het, seker houtskool verbrand. Dis die eerste keer dat ek die deeg met voedselkleursel kleur, en dit werk nogal. Klaradyn se twee magneetjies en pa se demonstrasiemodel is styf teen die yskasdeur staangemaak. Maar ek is bang om dit af te haal – ek is bevrees die magneet gaan agterbly en ek gaan met ‘n soutdeeg boonste helfte in my hand agterbly. ‘n Glue gun vermoed ek sou beter gewerk het as koue lym. Maar elkeen is weg met sy magneetjie.

Met my entoesiasme benede vriespunt, tel Annieka dit toe op om die kinders te vat om pakkies oop te maak. Te heerlik.

Ons blaas en sing rondom Tannie Esme se verjaarsdagkoek wat die hoofattraksie was. (Net jammer die kinders eet so min van die kunstenaarswerk, maar ook nie regtig nie, want ons het Sondag heerlik weggelê, die koek is nie net mooi nie, hy is heerlik gebak ook, met botterversiersel, die works!

In ‘n stadium het hulle gemmerbroodmannetjies versier wat ek gedink het elkeen huis toe gaan neem, maar ‘n hele paar het hulle s’n sommer daar opgeëet.

Iewers het groepies trampolien gespring, die pophuise is beset, ek en ‘n dogtertjie het nog soutdeeg-vormpies gemaak, en ek wil my verstout om te sê elkeen (behalwe nou Pappa wat uitgemis het op die speletjies) het darem so min of meer ‘n lekker tyd gehad (‘n heerlike tyd vir party, te oordeel aan die boodskappies wat na die tyd ingekom het.)

Teen 12:00 het ek iets oor die kole gehad vir ‘n soutigheidjie en 13:00 toe was die mammas daar.

Toe Klaradyn nog net so moeg na haar tweeuurlange middagslapie wakker word, was haar eerste woorde:  “Mamma, ek dink ek is nou eers bietjie klaar gepartytjie.”

Maar toe moet ons opruim en regmaak vir Sondag se ete met die familie.

En toe tjank ek Sondag heerlik onder die tafelgebed wat ek Annieka gevra het sy my swaer moet vra om te doen:  dit was die eerste verjaarsdagete sonder Ouma Nooi.

Ek was Sondag daar om haar op te tel, maar ek het geweet dit sal ‘n onreg teenoor myself, teenoor my ma, en die ander gaste wees. Dit was Sondag twee dae dat ek gevoel het ek gaan kuier by ‘n vegetable. Miskien was dit twee af dae, ek sal vanmiddag sien; miskien gaan sy net baie vinnig, baie drasties agteruit.

Maar Ouma was daar, in die poeding (een van haar resepte) wat Annieka gemaak het, en toe ek die kouevleis in die bord pak en ek donder en plak dit nie sommer net op die bord nie, toe weet ek dis ook hoe my ma dit sou gedoen het.

Toe weer ‘n middagslapie, en toe weer gereed maak vir die eetdingetjie by die skool in die klas vandag.

Ek twyfel of ons weer volgende jaar partytjie gaan hou met 10 of meer maatjies.

Die Juffrou het genoem dat Klaradyn die uiteenlopendste maats met die uiteenlopendste persoonlikhede genooi het, en so, weet ek, sal dit altyd bly. Hulle begin ook nou die ouderdom bereik waarop die maatjies wat nie in dieselfde skool of klas is nie, nie noodwendig maklik in ‘n groot groep inskakel nie.

Annieka dink aan drie kuiermiddae oor twee weke versprei, waarop vier van hulle saam speel. Ek is bekommerd vir “two is company, three is a crowd” maar glo four sal dan ‘n happy bunch wees.

Maar ook nie nou se worries (of soos die kinders in hul Afrikaanse opstelle skryf, warries) nie. Dis nog ‘n jaar, en voor dan is dit nog eers Pappa se eie verjaarsdag, Saterdag.

3 jaar gelede

Op die tema het sy die vakansie in die wildtuin al besluit.
Op een was daar nie ‘n partytjie nie, die oupas en oumas het kom koffie drink en Ouma Louise het ‘n koek gebring.
Op twee is ons dieretuin toe. Oom en Tannie, ook Ouma, Oupa en ander Ouma.
Drie, en nou al in die kleuterskool, is feestelik gevier met ‘n Lion King-partytjie. Tannie Esme het ‘n koek bestel, een van daardie wat ander mense se kinders altyd het, maar jy nie kan bekostig nie.
En so ‘n tradisie begin wat ons teen vier baie bekommerd had — die kind wou weke lank ‘n Muishond-partytjie hou, en vir ‘n muishond sien selfs die voorste baksters in Pretoria nie sommer kans nie.
Met breispoeling, indoktrinasie, kondisionering (erger as die waaraan Pavlov se honde blootgestel was) en gebed, het sy, danksy pienk, want toe sterk in haar lewe ingeskop het, ter elfder uur op ‘n Feetjie-partytjie besluit.
Die partytjie is iets waaroor ons April al begin gesels en fantaseer. Ons was al by perde en ponies vanjaar, Pa het Bloubul-voorstelle gehad om Ma op haar senuwees te kry, en in ‘n stadium het ons saans na storietyd vir lank rondom ‘n Vrugte en Groente-partytjie gedagtes gewissel.
Maar die wildtuin had die koeël deur die kerk – ons sal vanjaar safari.
Moet net nie dink, synde ons al van April af al die leë oomblikkies met partytjie-geklets vul, dat alles in plek is nie. Trouens en inteendeel.
Ek en Annieka opedag so hier vanaf Junie, dat partytjie niks meer word as net klets nie. In die eerste week na die opedag herstel ons so, dat daar steeds by partytjie nie uitgekom word nie. Dit laat ons nou met hierdie week: 9 maatjies Saterdag by die huis, 20 maatjies Maandag by die kleuterskool.
Saterdag is Annieka se baba, Maandag is myne. ‘n Dag waarvoor ek selfs verlof insit.
Ek het hierdie lieflike dogter met hierdie lieflike opvoeding in my klas gehad wat in haar matriekjaar verklap het dat haar werkende ma een middag ‘n maand verlof neem om saam met haar dogter deur te bring. Kwaliteit-tyd tussen moeder en kind.
Dis toe ek besluit het om myself die luukse te veroorloof om een dag ‘n jaar verlof te neem en tyd in Klaars se partytjie in te sit. Ook dan nou nog net hierdie jaar en volgende jaar dat ek hierdie voorreg het, want dan is groot skool.
Die Out-of-Africa-pakkie, uitgeknip vir ‘n safari-partytjie en in Letaba se winkel, het ons nie Julie-vakansie gekoop nie. O, sy sou so mooi gelyk het, maar ‘n mens, of dan nou mense in my en my vrou se sosio-ekonomiese klas en inkomstegroep, betaal nie R300-00 in ‘n curiowinkel vir ‘n kleuter se partytjie rok nie! Daar is nie ‘n manier nie.
Toe betaal ons maar vanoggend R310-00 vir ‘n pakkie van Woolworths. Steeds lieflik en mooi, maar die kind herinner nou eerder aan ‘n African Queen as aan ‘n little maiden, Born Free, in the African bush.
So al waarvan ons in hierdie laat stadium verseker is, is:
die tema (en ons is stilweg dankbaar dat Bratz en Hannah Montanah, al is dit baie geriefliker en makliker, nog ‘n jaar van die voordeur weggehou is.
die kaartjies, dis gemaak (die een hier bo word in die kleuterskoolboekies geplak, en hou tog maar die bek oor die ysbeer as deel van Afrika, dis die gedagte wat tel en nie die arktiese gepelsde nie)
Tannie Esme se koek (dis getrou aan haar presiese aard en natuur, reeds bestel)
Die aantal gaste.
En hierdie aantal gaste is nou nogal ‘n besprekingspunt. As jy drie word kan jy twee maatjies oornooi en dan is julle drie. As jy vier is, kry ons drie maatjies, dan is dit vier. Maar iewers deur die loop van verlede week het Annieka, in haar moegheid na die mopedag, alle redelike denke en selfbeheersing verloor, van die vier maatjies vir wanneer jy vyf word, het niks gekom nie, en met die laaste telling staan ons op nege.
Ag, maar dan word ‘n mens ook net een maal in jou lewe die absoluut wonderlike ouderdom van 5. Nog net ses slapies, Liefkind.

Angelica

Angelica
Dit het my seker 20 jaar geneem om weer op die naam te kom — Angelica — voor ek die woord so ‘n klompie jare iewers in ‘n boek raakgelees het en onmiddellik geweet het, maar dis die woord waarna ek so lank al soek vir daai goed waarna ek so lank al soek.
Helaas, ook seker nou al meer as vyf en dertig jaar sedert ek dit laas gesien, wat nog te sê geproe het, Angelica.
So ver dit my betref, het jy dit net in rooi en groen gekry. Dit was taai en soet. En jou ma het die groenes gebruik om blaartjies te sny wat sy om die cherry gesit het om soos blaartjies te lyk.
Dalk was daar nie eers rooies nie, en is die rooi wat ek onthou, die rooi van die soet verglansde kersies wat die blommetjie was, met die groen angelica blaartjies om.
Ja, moenie met my en Annieka raas oor die fuss rondom Klaradyn se verjaarsdag nie, dis die oumas se skuld, oor hulle beide sulke lekker partytjies vir hul kinders gehou het.
Annieka vertel nou nog van die tuisgemaakte dadelballetjies wat sy onthou. (En dit móés lekker gewees het, want ek kan my nie indink dat enige kind van dadels kan hou nie!)
Ek op my beurt het ook net die warmste van warm herinneringe rondom my kinderpartytjies. Daar is iewers meer foto’s as die paar hier bo, wat ek onthou, ander partytjies met ander kinders, maar waar die vandag is sal ek nie weet nie.
Haai, en dan is dit vreemd, maar van die opwinding die dag van die partytjie, onthou ek niks, dis die aanloop en voorbereidings wat my die helderste in die geheue staan.
Daardie jare het jy nog Afrikaanse uitnodigingskaartjies gekry, en as dit nie kaartjies was nie, wel briefies in ‘n briefblokkie.
Nee, ek sal nie ‘n Engelse uitnodiging uitstuur nie, vergeet dit.
Dan het jy langs Ma by die tafel gaan sit terwyl sy elke maatjie se naam op die regte plek invul. Jy en Anna, Anna Mofokeng van Witsieshoek, die dierbare swart vrou wat my op ouderdom 1 in haar arms het, het Telawarren- en Launcestonstrate op en af gestap om self die briefies in die maatjies se posbusse te gooi.
Nee, ek hou nie van die SMS wat Annieka geriefshalwe uitstuur nie, dis nie dieselfde ritueel nie.
Dan ook die kolwyntjies. In die stokoue kolwyntjiepanne wat vandag nog in ons kombuis is. Met die koms van muffins bak ons lankal nie meer kolwyntjies in die vorm soos die seuntjie met sy masker en seerowerhoed hierbo regs nie. Maar van die pannetjies wat daardie koekies in sy bordjie vyf en veertig jaar gelede gebak het, raak ek nie ontslae nie, nie in my leeftyd nie.
Kyk ek ou partytjiefoto's is daar seuntjies met dasse aan. En sien ek weer my ma se moeite, destyds, met die versiering van die koekies. Botterversiering, ‘n regte kersie in die middel, en een of ander tydrowende getotter al om die rand van die koekie. Ek onthou die jaar wat ek laat blyk het ek hou nie van verglansde kersies nie (ek hou steeds nie van verglansde kersies nie, maar is dol oor die maraschino-tipe met sy amandel geur) en sy toe jube-jubes (hierdie versuikerde gelatien lekkertjies) een vir een stukkend gesny het om die koekies te versier.
Ook die jaar toe ek ‘n rugbyveld vir ‘n koek wou hê, en my ma, by gebrek aan plastiek rugbymannetjies, twee spanne sokkermannetjies op die groen klapper-veld van die platkoek staangemaak het.
En terug by die rooi en groen van die angelica. Wat was daai rooi en groen jellie wat hulle vir ons in lemoene gestol het. Jy het dan so ‘n kwart stukkie lemoen gekry, maar daar waar die lemoen moet wees, was ‘n skyfie jellie? Ek onthou weer rooi en groen?
Dit was ook die jare van Iced Zoo-koekies toe die diertjies op die koekies nog soos diertjies gelyk het, en nie soos ongedefinieerde monsters wat uit ‘n Jurassic Park ontsnap het nie. (Uit haar eie sou Judy Moolman natuurlik nooit ‘n gekoopte koekie op ‘n kinderpartytjie gehad het nie, nie oor haar dooie liggaam nie. Maar ek het daarom gevra. Ook oor sulke ander lekker boksie-koekies met ‘n malvalekker en klapper bolaag, op ‘n Marie-beskuitjie-tipe onderlaag.)
Wat is walgliker as ‘n omgekeerde roomyshorinkie met ‘n malvalekker vir ‘n kop en jelly tots vir knopies?
Maar my ma se moeite wasn anders— die top van die horinkie is afgesny om as hoed vir die malvalekker te dien. Die horinkie is dan op ‘n Marie-beskuitjie vasge-versiersuiker. Nie vir die fancy-geid soos deesdae dikwels die geval is nie, dis oor daai roomyshoring boepensvol gestop is met ander lekkertjies. Wat is lekkerder as ‘n omgekeerde roomyshorinkie met ‘n malvalekker vir ‘n kop en jelly tots vir knopies? Vir ‘n kind, daardie jare?
Dit tref my, nou toe ek deur die foto’s gaan, dat ek nie hoedjies en van daardie uitblaas-goedjies het vir vanjaar se partytjie het nie. Dit kan mos nie. Jy betaal ‘n plaas se prys, dan gee die kinders dit twee blasé en smyt dit eenkant neer. So what!
Ag, en die hoedjies. Dis iets om saam te vat huis toe, dat Ma dit daar in die asblik kan gooi. Ek kan die moeite met die hoedjies op die foto nie glo nie. Dit moet van crepe­papier wees. In geen jare kry jy so iets meer nie.
Ek voel sommer weer hoe word die paper cups van die sixties pap in my mond met die drink van ‘n tweede glasie oranje of rooi aanmaakkoeldrank.
En is die Shrek-hoedjies, saam met die Shrek-bordjies, -kaartjies, glasies, -banners, -balloons en –party boxes dieselfde?
Ek is van mening dat dit onmoontlik nie kan wees nie.
Ek bevind my die afgelope naweek in die geselskap van ‘n pa wat vertel van die events-organiser wat by die huis ingetrek gekom het met die stoeltjies en dinge. En hoe lekker dit was, twintig minute nadat die laaste gas weg is, om met ‘n skoon huis te sit.
Ja, dis seker ook lekker. Maar, o, so anders lekker. Maar straks kan die events-organiser my vertel waar om angelica op te spoor. Dit was groen (en miskien rooi), taai en soet. En jou ma het die groenes gebruik om blaartjies te sny wat sy om die cherry gesit het om soos blaartjies op jou kolwyntjie te lyk…

16.7.12

20 - 2 - 2010

19 of 20 Februarie 2010 dan nou duidelik die laaste keer dat ons gaan KFC het:

Dit neem regtig nie veel om my nostalgies te kry nie.
Laat agtermiddag al het ek my voet neergesit, maar dit vir myself gehou. Twintig voor sewe sluit ek my by Annieka en Klaradyn op die hangmat aan waar hulle ‘n oomblikkie kwaliteit-ma-en-dogter-tyd het.
Ek wag tot kwart voor en herinner hulle daaraan dat dit nou reeds kwart voor sewe is.
Soos Pavlov se honde trek hulle gelyk los:  “Wat eet ons vanaand?”
“Ek stel voor Mamma kry vir ons Kentucky Fried Chicken.”
As ek van plan was om kos te maak, was ek mos teen hierdie tyd al vir ure in die kombuis doenig, het ek al die tafel gedek, en het ons, met die dat ons Klaars deesdae ‘n knertsie vroeër in die bed wil kry, tien teen een reeds aangesit vir ete. Maar ek hou dit vir myself. In belang van ‘n gesellige Woensdagaand tuis,
En my vrou moes my en my neergesette voet goed gelees het, want sy laat haar dit welgeval.
Dis Klaradyn se tweede, hoogstens derde, kennismaking met die kolonel se geheime resep en sy spring op met ‘n “Jippie, KFC!”
Wat weet sy van KFC, en waar kom sy aan KFC. Dis Kentucky Fried Chicken.
Nie eers ‘n kilometer van ons af nie, en op pad na Ouma-hulle toe, het ons so vir drie maande elke dag die vordering van ‘n nuwe gebou op die erf van die motorhawe dopgehou.
Na ‘n ruk was die kennisgewing bord op om die hele gemeenskap bewus te maak van die feit dat daar eersdaags ‘n KFC in hul midde gaan handel dryf.
En die plek was nie ‘n maand oop nie, toe stop ons nou eendag daar.
Ek sien hulle spoor ons aan om hul nuwe boneless chicken te probeer. (Miskien ook nie so nuut nie en dalk al lank in die land, onwetend net vir ons wat rand per kilogram baie goedkoper vir ons hoendervleis betaal.)
Maar, in for a penny, in for a pound, en waarom sal ons nie iets nuuts probeer nie:  “Make that the boneless option please.”
Wat ‘n teleurstelling! Droog. Horingdroog. Smakeloos, taai, vaal en oninteressant. Nie weer nie. Nooit weer nie.
Soe toe ons gesinnetjie, heel opgewonde, in die middel van die week en net oor pa sy voet neergesit het, in die motor klim en om die draai ry Kentucky toe, weet ek dat, wat ons ook al bestel, dit beslis nie boneless gaan wees nie.
Dit is mos The closer to the bone, the juicier the marrow? Of sit ek die pot heeltemal mis?
En toe ek daar, van uit die motor, na die prentjies op die spyskaart, of is dit bloot lys van keuses, staar, toe is dit of heimwee aan my gemoed wil kom klop.
Met verset in alles wat nuut is duidelik in my, dat ek luister hoe Annieka die bestelling plaas.
Terwyl ons wag klop die heimwee net harder.
Op pad huis toe neem dit van my besit en toe ons om die tafel sit en waaraan ek en Annieka ons tande slaan, die hoendervleis is, verdrink ek in ‘n verlang na jare gelede dat ek glads my eetlus verloor. Selfs al is die hoender honderd maal lekkerder as die vorige ontbeende stukkies sening, en proe dit amper net soos jare gelede.
Maar presies dieselfde as destyds, is die hoender ook nie. Soos ek nou hier tik het ek sooibrand van twee stukkies hoender. Twintig jaar gelede het ek nooit sooibrand van Kentucky gekry nie?
(Ja, goed, twintig jaar gelede het ek nooit van enige iets sooibrand gekry nie. En is dit miskien nie die kolonel se resep wat so baie verander het nie, maar ek wat so oud geword het. Tog vir die doeleindes van vanaand se skrywe verkies ek om nie so daaraan te dink nie. Ek voel ten minste nie ‘n dag ouer nie.)
Ek sal te skaam wees om die goed wat lyk of dit met ‘n baie sterk verbeelding miskien net-net sou kon deurgaan as ertappelskyfies, nie eens vir ‘n bedelaar gee nie. Behalwe vir die twee wat ek geproe het, is ons skyfies onaangeraak asblik toe.
En dis nie die kapokertappels met sous waarna ek verlang nie. Dis wat ons ronde een na die opening gehad het. Ons het toe al geleer om dit nie weer te bestel nie.
Nee, ek mis die rys, die goeie ou rys, wat hulle in die beginjare van Kentucky Fried Chicken, saam met hul hoender bedien het. ‘n Heerlike geel spicy rice (in die dae toe Tastic hul rys teen minder as 3 sent per porsie adverteer het).
Hulle spicy was nie fiery nie, bloot geurig en pikant. En saam met ‘n skeppie koolslaai op die vurk, alles mooi in toom en op vurk gehou deur ‘n stukkie hoender, was dit darem maar vir my ‘n eersteklas smaaksensasie.
Dis nou al hoeveel jaar dat ek wens die kolonel se nageslag en erfgename wil net vir ‘n maand of wat retro gaan, dit was hoeka ‘n ruk gelede so in die mode, en weer, al is dit net vir ‘n maand, hul spyskaart van ouds terugbring.
Selfs die koolslaai was toenterjare lekkerder. Hulle het beslis ‘n nuwe kostebesparende slaaiversnipperaar (tien teen een die werk van een of ander Swart-bemagtigingsmaatskappy) iewers in die kombuis in die plek van die oue. Dis dik soos saagsels. En die sous, o, die sous. Ek dink al wat oor is is ‘n bietjie water en asyn (meer water en minder asyn). Die souserigheid van her, nou ‘n smakelose waterigheid. Vir al wat ek weet het hulle nog die kool ook vervang met ‘n geneties gemanipuleerde variëteit waaraan Robert Mugabe, wat dit so teen genetiese manipulasie van sy volgelinge se voedingshulp uit die buiteland het, nie sy mond sal sit nie.
Vanaand het Annieka haar bakkie slaai opgeëis met “Ek sien nog al uit hierna, dit was altyd in die ou dae vir my so lekker.”
Ek het haar doelbewus dopgehou. Sy het een happie gevat. En nie weer nie.
Was dit nie Jeanne Jacques Rousseau wat te vertelle had van, iets soos, ‘n slaaf wat in slawerny gebore is, gee nie om om ‘n slaaf te wees nie, want hy weet nie van beter nie.
Dis hierdie gedagte van hom wat by opkom as Klaradyn se “Jippie, KFC!” in my gedagtes kom spook nie.
Die generasie wat nie van beter weet nie, sal seker opgewonde raak. Maar vir ons oues wat van beter weet, sal daar altyd ‘n gemis bly.

13.6.12

Engelse groentesop (iewers in 2010)

“Dis die lekkerste sop wat jy nog ooit gemaak het.”

Behalwe vir die feit dat die hierdie woorde teen 13:00 die eerste woorde is wat Annieka dié dag tot my rig, moet haar laaste woorde rondom die sop, gisteraand laat, ook in die herinnering geroep word: “Ek is bang vir dit wat jy daar in daardie pot aanvang.”

Nie dat dít die oorsprong was vir die heersende woorstilstand tussen ons, wat nou so mooi met die woorde oor die sop dan opgehef word nie. En dis ook nie hier ter sprake nie.

Tog is dit die agtergrond waarteen ek my sop begin het, en na tien jaar van getroude lewe, die seker wete dat my sop haar nie sommer sal welgeval nie.

Dit het agtermiddag begin met die pakkies “soup mix”-groente waarmee die outjies van jou Spar jou wil wys maak dat dit eintlik maklik is om ‘n lekker sop te kook.

Maar in daardie slaggat het ek darem al by herhaling hierdie jaar, en die laaste hele klompie jare getrap, so ek hou verby.

Toe val my oog op sulke R5-00 pakkies met ‘n stuk of vyf skywe opgesaagde murgbene in. En my belangstelling in sop word opnuut geprikkel. Ek kyk na die prys van die sopvleis daarnaas, weeg dit op en bevind dit lig/goedkoop genoeg. Ek pak sommer vier pakkies murgbene in, ook die swaarste pakkie sopvleis en sit af terug na die pakkies groente wat my van effe net ‘n kort vlietende oomblik van stryk had.

Ek het nou al vanjaar, en ook verlede jaar vertel van my algehele onvermoë om ‘n lekker pot sop te kook. Wat natuurlik nie 100% waar is nie; gee my beesstert, frankfurters, spinasie, uie, en noem maar op, ek maak ‘n heerlike sop. Mense verjaar en vra my om vir dertig mense en meer ‘n verskeidenheid soppe voor te sit, en ek doen dit met groot sukses en liefde.

Maar prop my nou een van daai pakkies sopgroente in die hand, daai pakkies wat altyd hopeloos te veel seldery in het en een of ander twee groentes waarvan die gemiddelde mens nie 100% seker is van nóg die Engelse, nóg die Afrikaanse naam nie, dan staan ek verleë en pik verward rond.

My vou, Hans-meesterkosmaker van formaat se vrou, Annieka, moes voor die skool sluit ‘n pot sop werk toe neem EN SY HET HAAR MA EN PA GEVRA OM VIR HAAR DIE SOP TE KOOK! O, die verleentheid, die vernedering! (Om my naam in ere te herstel het ek vier dae later my eie pot sop vir my eie tafel geneem. En ek moes die resep, op aanvraag, met twee mense deel!)

So as Annieka, wat duidelik nie van my sop hou nie, dan nog ‘n stilstuipe van enkele ure verbreek met iets beuselagtigs soos sop, dan moes my sop spesiaal wees.

En dit was! My eerste pot sop van die aard, wat ek in die winter van 1991 gemaak het, het so geproe, het laas so geproe. Ek het Annieka eers in 1994 ontmoet, so vanuit haar perspektief is beslis die lekkerste sop wat sy nog ooit uit my hand geproe het.

Dis dalk oor my ’91 pot so suksesvol was, niks anders nie as beginner’s luck, dat ek daarna vir negentien jaar so gesukkel het – ek wou nie my eerste poging ewenaar nie, ek wou daarop verbeter.

En ek het my ore aan valse profete uitgeleen.

Maar Vrydag het ek huis toe gekom en myself voorgeneem om die sop te bou soos ek dit wil bou, soos ek dit uit my kinderdae onthou. Ek het myself los gesny van alle goed bedoelde raad en wenke wat ek oor 19 jaar opgebou het, myself met liefde afgesonder en die voorbereidings begin.

Ek lieg, ek het eers my skoonsus gebel om te hoor hoe maak ‘n mens “Engelse groentesop”. Maar sy was nie beriekbaar nie, en teen die tyd wat sy my teruggeskakel het, was my pot al twee of drie ure lank in die baie goeie geselskap van baie lae hitte onder sy alie.

Die geneuk met hierdie sop is die feit dat my ma dit nooit gemaak het nie, sy het neerhalend daarna verwys as “Engelse groentesop”. Waarskynlik “Engelse groentesop” genoem omdat die enigste, hoogstens twee of drie keer, dat ek dit as kind geëet het, aan huise van my Engelse skoonsuster se ma was.

By ons aan huis is dik romerige soppe geëet. En as ‘n pakkie kitssop dit nie verdik het nie – o, en ek haat ‘n pakkie kitssop – dan het my ma haar groente onder die lem verpulp.

(Ons het die ou vrou vanmiddag vir ete gaan haal en ek het die Sondagmaal afgeskop met ‘n klein skeppie van my sop. Op 82, met die geheue van ‘n goudvis, kon die vrou steeds nie my sop in haar liggaam kry nie. Ek het in ‘n stadium aan Annieka genoem ek kry self die idee sy trek letterlik haar lip op vir die sop, so asof sy walg. En Annieka het beaam en gesê my andersins baie diplomatiese ma maak hoegenaamd geen geheim van haar weersin nie.)

Nou wat is hierdie “Engelse groentesop” van my wat my nou aan die klets het, en Annieka darem ook weer op haar beurt aan die praat gekry het? (My skoonpa, die eintlike sopmaker in Annieka se gesin, het spesiaal gebel om komplimente uit te deel oor die porsie wat ons Saterdagaand daar gaan aflewer het.)

Ek sou sê dis groentesop soos almal dit maak (met groente en sopvleis en dalk ‘n sopbeen of twee) sonder enige iets wat die sop dik kan maak: allermins nie ‘n pakkie kitssop nie, nie lensies of koring of hawer of gort of bone of hawermout of meel of mazeina nie.

Dis waterige sop, soos engeltjie-piepie so waterig, maar dik aan murgsagte baie klein blokkies groente, saf gekookte repies vleis en lepeltjies murg. Dis al. So eenvoudig soos dit.

En al hierdie jare was dit binne my bereik, maar ek het gefoeter met droë four-in-one soup mix, hawermout, pasta en noem maar op. Alles.

Alles behalwe mazeina of pakkies kitssop.

Die kollega aan my tafel wat die lekkerste sop denkbaar opkook, glo dat elke sop ‘n pakkie of twee kitssop moet inkry, en sy is reg, haar sop is heerlik, die lekkerste van sy soort wat ek ken. Maar self kan ek nie so ver kom om ‘n pakkie by te foeter nie. Dit voel vir my as ek deur die moeite gaan om ‘n outentieke pot sop te kook, dit grens aan heiligskennis om dan die een of ander instant by te wil meng.

Ek het  bloot twee pakkies sopgroente baie klein verwerk, my yskas en groenterak leeggemaak aan ander groentes in die huis, die vleis, sout en peper, en sowat drie liter water bygevoeg. Alles is prutpot toe en ek het daarvan vergeet.

Omdat ek daarvan oortuig is ons het op grond van die een of ander verkeerde vertaling uit Grieks of Latyn begin het om seldery in ons eietydse Westerse kookkuns te gebruik, moet ek bieg ek het slegs sowat ‘n kwart van die seldery in die twee pakkies gebruik.

Ek is nou so begeesterd, ek neem my selfs voor om my hand hierdie winter nog weer aan ‘n bot bonesop te slaan, nog ‘n sop wat my kinderhuis nie geken het nie, nie uit my pa se hand nie, ook nie uit my ma se hand nie. (Ek wonder baie keer of ‘n reaksie teen ‘n oormatige blootstelling daaraan in hul arm en landelike kinderdae, nie straks daarvoor verantwoordelik was nie. Net so veel soos ek hunker na party disse uit my kleintyd, is daar immers weer ander waaraan ek vir geen geld ter wêreld weer my lippe wil sit nie.)

My vorige poging tot bonesop, ook al twee of drie jaar gelede, het in die asblik beland nog voor dit op die stoof gekom het – ek het die goed laat gis.

My ander probleem met bonesop is die feit dat al die sopbone wat Leipoldt so in sy boeke besin lankal nie meer in vandag se dae geredelik beskikbaar is nie.

Maar gee tyd, ek sal nog van die bonesop verslag kom lewer.







12.6.12

Soos voorlaas, weer iets oor die sirkus

Die tyd stap aan

Saterdag sien ek ‘n man met ‘n opvallende poniestert saam met sy seuntjie in Hatfield se inkopiesentrum stap.

Die man lyk bekend, ek moet weet wie dit is, en ek stap agter hulle aan om die pa te kan eien.

Toe, enkele treë verder en oomblikke later, toe weet ek, tref dit my soos ‘n glas koue water in die gesig.

En dit verbaas nou al vier of vyf jaar dat die man my so aantrek, ek sou reken my onderbewussyn  sou die hele insident lankal begrawe het.

‘n Kollega van ons en haar seun was daardie middag in die gehoor.

Snaaks, sy het nooit daaroor gepraat nie (en dis nie asof sy my so goed ken om te weet ek het elke oomblik daarvan gehaat nie, dat wat ek daar moes doen, teen alle verwagting, lynreg teen my karakter en persoonlikheid ingaan nie.

Audience participation is ‘n ding wat ek haat. Om as kunstenaar die vierde muur tussen jou en die gehoor te breek, staan my geensins aan nie, maar erger nog as dit, is wanneer ek hierdie kant van die muur inloer en die kunstenaar breek deur na my toe.

As ek ‘n tannie in my middeljare en versot op Bles Bridges was, het ek destyds nie ‘n enkele van sy konserte bygewoon nie – net nou roep hy vorentoe om my ‘n laproos in die hand te prop.

Nee dankie.

Maar Klaradyn was klein en dit was haar eerste of tweede besoek aan die sirkus.

Ons was nog beginner-ouers en het ring side seats teen die dubbel die prys van die onbespreekte sitplekke aangeskaf.

Ons was nog beginner-ouers en het die kaartjies meer as ‘n week voor die tyd reserveer.

So daar sit ons drie toe  heel voor in die middel tydens ‘n middagvertoning wat nie 50% vol bespreek was nie.

Heerlik.

Tot hierdie mal haas in die ring tree.

Ek eien hom dadelik as ‘n mal haas, die man is geheel en al onverskrokke in alles wat hy doen. (Die laaste twee jaar is hy die imbesiel  wat uit die kanon torpedo – ‘n lieflike sirkustoertjie gevul met nostalgie en lewendig gehou deur die talle uitbeeldings daarvan in strokiesprente en grappies.)

Die middag het hy ons egter op die trampolien vermaak en ek maak myself die heeltyd wys hy het meer waagmoed as verstand, dis asof hy sy lewe waag sonder selfs ‘n druppeltjie adrenalien – hy storm net in en doen.

En die volgende oomblik toe storm hy tot voor my en dis duidelik – hy wil my ring toe sleep vir die een of ander audience participation act.

Op daardie punt besef ek daar is een van twee maniere waarop ek nou my naam gaan vergat:  ek kan ten aanskoue van almal ‘n scene opsit en weier om te gaan, of ek kan gaan.

Toe kies ek laasgenoemde – in die ring kan wegkruip agter ‘n masker, in die stoel kan ek net myself wees.

Die musiek het ek herken uit daardie fliek waarin die middelklas werklose Britse mans besluit om die dames die full monty te gee, en te oordeel aan die bewegings waarmee die gimnas die gehoor vermaak het, was dit duidelik wat van my verwag word.

Meer onthou ek nie, behalwe dat ek soos ‘n mol ‘n tonnel tot terug by my vrou en kind wou knaag.

En dis die poniestert by my verby in Hatfield.

En ek besef die sirkus is al amper weer weg, ons sou verlede naweek gaan, maar het op hierdie naweek besluit. En toe vergeet ons weer.

Ek voel vreeslik skuldig oor die een jaar wat ons, om den brode, die sirkus verby laat gaan het sonder om Klaradyn te neem, en ek besluit opnuut:  hierdie jaar gaan ons definitief.

Saterdagaand was buite die kwessie, wat ons met een vertoning, Sondagmiddag, laat.

Ons koop steeds die kaartjies voor die tyd, maar dis suiwer sodat Klaradyn en ek rustig na al die diere kan kyk.

Op die wysie van Die vierperdewa sing sy al die pad: 

Daar kom hy aan, die sirkus karavaan!
Hy kom na ons toe, die sirkus is weer hier.
Die perdjies draai, die apies swaai:
Die sirkus is weer hier!

Ons koop lankal nie meer ring side seats nie, ek het my les geleer. (‘n Ouerpaar gaan sit ook net een keer heel voor in die middel tydens ‘n dolfynvertoning, of dit nou in PE of Durban is.)

Ons sit agter, bo, en liefs nie na aan die paadjie nie – soms stap hulle op met die trappe en ruk jou uit waar jy nie uitgeruk wil word nie.

Soos altyd is dit een vet lekkerte. Soos altyd is die Boswell-vrouens aan stuur van sake by die diere. Ek onthou die ouer dame met haar perde toe sy nog gelyk het soos haar dogter, nou, met die tiere, lyk. En ek verbeel my selfs die Ou Mrs Boswell het detyds gelyk soos haar dogter vandag lyk. En het sy as jonger vrou ook gelyk soos haar kleindogter vandag lyk?

Maar dis met ‘n ander heimwee dat ek daar uitstap:

Ons het vir die eerste keer nie tydens pouse op die ponies gaan ry nie.

In die begin was dit vyf rand; verlede jaar tien.

Maar die ringmeester het dit duidelik gestel:  “Pony rides are only for little ones under the age of five.”

Klaradyn se eerste besoek aan die sirkus was op 4 maande. Die Moskou Staatsirkus was in die land en sy moes saam met ons. Dit het my opgeval hoe rustig ‘n baba tussen die geraas en geklap en musiek deur kan slaap. Ek het haar in ‘n Kangaroe-drasak aan my lyf gedra.

Klaradyn het vandag ook nie gevra vir die tradisionele sirkus-twak ingevoer uit Sjina wat die venters verkoop nie. (Dis nou al drie jaar sulke lawwe liggies wat nie meer werk teen die tyd dat jy by die huis aankom nie – dit het helemaal ophou werk, of dit kan nie afsit nie, pla die kind as sy gaan slaap en jy moet wag tot die batery ‘n dag of wat later afgeloop is.

In die beginjare kon Ouma Nooi nog saam met ons kom. Dis sommer nou die ander dag.

Sy het ook nie vir spookasem gevra nie.

Ook nie eers vir ‘n rooi harlekynneus van spons nie.

Die laaste een, ook al ‘n jaar gelede, het die honde bygekom na ons skaars tuis gekom het.

Ek sou vir haar ‘n liggie gekoop het. En ‘n rooi neus met spookasem daarby.

As sy net gevra het.

Maar sy het nie.

Ek wou in ‘n stadium vra of sy nie spookasem of ‘n liggie of ‘n neus wil hê nie. Wat van ‘n pannekoek? Hoe lyk dit met ‘n sirkus-t-hempie?

En of dit wyslik of dom was, weet ek nie, maar ek het daarteen besluit.

Die kind word nou groot.

Sy het darem die derde of vierde jaar in ‘n ry die Coke onder my stoel omgeskop.

En by gebrek aan die ponies het ons pouse op die swaaie vlak voor die hoofingang kon gaan ry.

En genadiglik het daar ‘n reus van ‘n man in die stoel voor haar plaasgeneem en kon ek haar weer vir die volle duur van die vertoning op my skoot vashou.

My kind word groot en een van die dae laat sy haarself tien teen een saamsleep sirkus toe terwille van haar ma en haar pa.

Want dis ‘n feit soos ‘n koei: die mal haas met die ponie sal al oud en afgeleef wees, miskien al die ou oom wat soggens die kaartjies uit die karavaan en deur die venster verkoop, sy seun sal al self sy buiging ‘n keer of wat in die ring gemaak het, dan sal die Moolmans steeds aanmeld vir drie kaartjies, iewers agter en liefs nie na aan die paadjie nie.