1.12.11

Kersfees se kenwysie

Of so noem Izak de Villiers dit en raker kan dit nie beskryf word nie.

Elke mens het seker sy eie rede waarom hy hierdie tyd van die jaar tranerig wil raak, as hy die tipe mens is wat tranerig raak bygesê, by die aanhoor van Stille Nag. Veral as dit ‘n lewendige uitvoering is en kinders wat dit sing.

Na 20 jaar in die onderwys was ek seker al by 20 Kersfees-koorafsluitingskonserte. Voeg daarby die kerk se Kerssangdienste en Hans se traankliere kan die weduwee se kruik wat nooit wou leeg nie, ‘n go gee.

My pa het ek drie keer in ‘n kerk gesien, as jy die laaste keer toe hy in sy kis was nie bytel nie: op my broer en  sy peetkind se onderskeie troues en my oom se begrafnis.

Januarie standerd drie is ek ‘n week laat vir skool. Ons kruip vir hom weg by sy eie bloedsuster waar ons weet hy ons nie sal kom soek nie. Hy wil op ons skiet.

Die egskeiding haal die koerante en dit word ‘n shot gun divorce in plaas van marriage: Hans Moolman gee geweerslisensie in skeihof toe regter hom vra om huwelikslisensie.

Desember daardie jaar moet ek saam met hom af Kaap toe na sy broer-hulle. Ek lieg, Desember daardie jaar gaan die vrou, twintig jaar sy junior, met wie hy ‘n buite-egtelike verhouding het, af Muizenberg toe. Groot Hans en Klein Hans skadu agterna na sy broer toe.

Oukersdag ry ons agtermiddag van Muizenberg af terug Bellville toe. My pa stop by ‘n kroeg en sê ek moet in die kar bly. Was dit vyf minute? Tien?

Nie vyftien nie.

My pa sou my nooit so lank alleen in die kar gelos het nie.

Van alkoholisme weet ek nie veel nie, selfs al was Hans Moolman een. Hy het vir jare niks gedrink nie. Dan een glasie sjerrie. Dan bedlêend vir weke. Die drankwinkel lewer af, soos die apteek met sy man op ‘n bromponie.

Dan kom vat hulle Pa weg.

As hy terugkom is alles reg. Soos altyd. Vir twee, drie jaar. Tot een, net een bier saam met die bure.

Ek het hierdie siklus geken en was bang. Daar in die Kaap. In die kar, buite ‘n kroeg.

Ek was nie vir langer as tien minute bang nie.

Hy het teruggekom, geglimlag en ons het Bellville toe, na sy broer-hulle gery. In stilte.

Daar aangekom was daar ‘n Kersboom in die sitkamer. Ooms, tannies, nefies en niggies.

Ons het Kersliedjies gesing. Vir die eerste keer in my lewe het ek Kersfeesliedjies om ‘n boom gesing.

My pa het langs my, onder ‘n lamp gesit.

Hy het nie gesing nie.

Die ander kinders en mense moes dit opmerk en ek was embaressed dat my pa nie eers die Kersfeesliedjies ken nie.

Maar dit het my nie verbaas dat hy dit nie ken nie.

En toe is dit Stille Nag. Soos elke donderse keer daarna vir amper dertig jaar nou al, indien nie langer nie. Ons het nie ge-Kersfees nie, voor  ons nie ge-Stille donderse Nag het nie.

Ek weet nie hoeveel versies het Stille nag in daardie dae gehad nie. Ek weet nie eers hoeveel versies het dit volgens die nuutste beryming nie.

Ek weet net, dat toe my pa eers onder die lamplig begin huil het, het dit vir my soos vreeslik baie versies gevoel. En ek het gewens dit wil nou end kry.

Kan ons nie asseblief nou klaar kry nie, Liewe Here.

En toe, toe die laaste vers aanbreek, toe begin my pa, woordvas, toe begin my pa, ook nootvas, die onbekendste, moeilikste versie van Stille Nag saamsing. Uit volle bors. En almal moes dit raakgesien en -gehoor het.

Tot die laaste woord en noot.

As kind kon ek dit glad nie verstaan nie.

En nou, as groter, ouer mens, wil ek nie daaroor dink nie; is ek bang ek begin verstaan.

Maar as ek, soos vanaand, Stille Nag hoor, wil ek elke keer tranerig raak, en raak ek tranerig.

Nie omdat dit vir my mooi of hartseer of roerend is nie.

Ek onthou my pa, onder die lamplig regs van my langs die Kersfeesboom.



NS: Die geneuk met die geleentheid dinge te vertel wat ‘n mens nou met aanlyn-dagboeke en –joernale soos hierdie het, is dat daar vir elke bloody deur wat jy toesluit en afsluit, twee of drie nuwes oopval.

My ma het in daardie stadium ‘n rokkewinkel saam met haar suster oopgemaak. In een van die flats bo die winkel het hierdie commen vrou gebly wat elke dag daar uitgehang het en later met kleur en geur begin vertel het van die ou nuwe boyfriend met wie sy haar man verneuk.

En toe eendag, besig om ‘n bathing costume vir die Kaap-get away, aan te pas, sit sy aan daardie kant van die cubicle, en my ma aan hierdie kant, een en een bymekaar en hulle besef so saam-saam, my donder, hierdie man is anders as my pa nie.

NS:  Dit was Saterdagnag. Sondagoggend begin ek naarstiglik soek na die tekste wat ‘n vriend my gevra om by sy gemeente se Kerssangdiens voor te lees. Een van die tekste wat ek tussen eksamenantwoordblaaie opspoor hou verband met die ontstaan van Stille Nag rondom 1818 in Duitsland. Ek weet wat wag.

Haai, en as ek ‘n vrou was, kon ek maar maskara aangesit en my tissues in die kar gelos het. Soos ‘n hert in dorre streke sit my oë in hul kaste toe die koor, wat onlangs met reg  na hulself kon begin verwys as die beste gemengde skoolkoor in die wêreld, deurdruk na vers drie van Stille Nag..

Charles Dickens se Christmas Carol het ons vertroud gemaak met The spirit of Christmas Past. Ek het rede om te glo dat ek Saterdagnag een van die Spirits van my Christmases Past nekomgedraai het.

Skielik wonder ek wat van die Ivan Rebroff-opname geword het, waarmee ek as kind groot geword het.

Nie dat alle huil nou uit Kersfees is nie. My ma het altyd gesê dat sy hier rondom Dingaansdag wil gaan slaap en ons hoef haar eers na Nuwejaar wakker te maak. Sy moes dit te veel gesê het, want dit gee toe af aan haar seun.

Daar’s iets aan die opwenwysie van ‘n juwelekissie se ballerina wat afwen, wat my ontsettend melancholies stem. Nie dat ek ‘n opwen ballerina het nie, maar wel iets soortgelyks.

Ons was nog ‘n gesin toe sit ons die Kersfees voor ek graad 1 toe gaan met die karavaan af Douglas toe, na vriende wat daardie jaar soheentoe verhuis het.

Dit was die enisgte en eerste en laaste en tot my dood toe nooit weer nie, Kersfees wat ek die karavaan ingeklim het en onder die krapperige geruite kombers, netjies opgevou op my pa-hulle se slaapbank geloer het wat die Kerspresente is wat my ma daar gesit het om later die middag toe te draai.

Nog nooit weer nie. En nooit weer nie.

Nie drie dae later nie, slaan ek uit van masels en daar bly ons toe nou tot Klein Hansie aan gesterk het en  mis hy op die koop toe die eerste week van graad 1.

En dit net oor hy geweet het hy moenie, maar tog gaan loer het wat onder die kombersie op hom wag.

 

No comments: