31.12.11

Propperse skaaprib oor die kole

Op sekere dele van die platteland is dit dalk nie so ‘n probleem soos hier by ons nie.

En in die stad help dit ook nie jy gaan na ‘n nuwerige, kleinerige slaghuis nie; die kanse dat die nat-agter-die-ore mannetjie wat homself verbeel hy is ‘n blokman, jou sal kan help, is skraal.

Ek ry al die pad Silverton toe, Uitkyk-slaghuis toe met ‘n miernes slagters (baie van hulle al baie lank in die land) agter die glas-yskastoonbank van hulle. Kan die eerste man jou nie help nie, is daar wel iewers ‘n ou oom met die asem van aftrede kort op sy hakke wat nadergetrek word en beslis kan help.

En dan is hulle ook ‘n vriendelike spul. As hulle nou eers die karkas daar van agter gebring het, gee hulle nie om as jy agtertoe stap saam met hulle en presies verduidelik wat jy wil hê nie.

En wat ek wil hê is eenvoudig, ‘n skaap- of lamsribbetjie soos die ou boeremense dit gemaak het.

Die meeste jong slagters vat jou dan na hul ribbetjies toe en dit word gou duidelik dat hulle gehoor het, maar nie geluister het nie. Al wat hulle raak gehoor het is ribbetjie. Maar dis nie wat ek gevra het nie, ‘n ribbetjie soos die ou boeremense hom voorberei het, bring daar vir my ‘n karkas van agter en dan wys ek jou.

Wat die man natuurlik nie doen nie. Hy soek ‘n ouerige oom op en stuur hom om te kom hoor wat ek wil hê. Die ou oom se gesig helder dan op, hy kry ‘n deernisvolle glimlag en sy oë kry so ‘n ver-af kyk. Nie lank nie, en hy kom aangestap met die beste karkas waarop hy sy hande kon lê — met liefde en respek uitgesoek.

In die ou dae toe elke week ‘n skaap geslag is en jy nog met ‘n hele lam by jou werf aangekom het uit dankbaarheid van jou buurman wat jy gou gaan help om die se trekker weer aan die gang te kry, is daar anders omgegaan met vleis as vandag. Dit was voor die koms van ys- en vrieskaste, en wat nie voorberei en ingelê is in bottels nie, is redelik gou geëet.

My skoonpa se oorlede ouma het selfs na die koms van ‘n vrieskas steeds haar beste vleis gaar gemaak en ingelê — sy het mos kon sien hoeveel minder jou vleis word nadat jy dit eers gevries het. En so mors ‘n mens nie met goeie kos nie.

In daardie dae, woon jy op die dorp en is jy inderdaad so een of twee keer ‘n jaar verplig om vleis te moet koop (die ou mense was mededeelsaam en dis hulle wat die res van die land van ubuntu geleer het) het ‘n hele skaap jou ook heelwat minder gekos as wat ons vandag vir twee versukkelde tjoppies moet opdok.

Gevolglik was ‘n ribbetjie toe nog ‘n ribbetjie. Jy het jou karkas so met die rugstring langs halveer, van die boud en die blad ontslae geraak en dit wat in die middel oorgebly het skoongewerk, en dit was jou ribbetjie. (Ter wille van Klaradyn en die moderne stadskind: wat jou nou het is die skaap se rugstringtjoppies nog vas aan die ribbetjie.) Die ribbebene is nou mooi in die helfte deurgesaag, maar net die bene, en nie die vleis nie.

Praat ek dan ook nou se dae van saag, dan dink ons almal in terme van die eietydse elektriese vleissae wat in elke slaghuis en plaaswerf se vleiskamer staan. Voorste jare was daar natuurlik nie so ‘n saag nie. Jy het die karkas gehang en ribbetjies van die rugstring losgeknak, en werk jy met ‘n volgroeide skaap, desnoods ‘n handbyltjie nader gesleep. Alles is nou van die rugstring losgesny en die rugstring is dan met die vleis wat daaraan oorgebly het in ‘n groot swart pot gekook.

Maar dis ‘n ander kuns op sy eie. Ons is by die ribbetjie wat nou die lengte en wydte van ‘n skaaptjop langer en wyer aan die een kant is.

Nou, en ek praat hier van by Uitkyk, moet jy sien hoe staan die ander ouer slagters nader en bewonder jou ribbetjie met nostalgie. Ook die jonges, want hulle wil sien en leer.

Dit is ‘n manier van doen en eet wat nog nie heeltemal uitgesterf is nie. Met verlede week se aankoop het die eerste slagter wat ons bedien het, nie op ‘n ou oom afgestap nie, maar ‘n youngster wat darem al blou om die baard is, nadergeroep. Die jong man het presies geweet wat ons soek en laat val hy darem vier ander kliënte het wat ook van tyd tot tyd inkom om dieselfde snit.

‘n Ligte geneuk kom nou by die betaalslag. Om jou aandete te weeg is nie ‘n probleem nie, maar watter kode tik hulle in? Die vir tjops? Of die vir ribbetjie? Die lot het vanjaar op die prys van ‘n baie swaar “braaipak” geval. (Maar jy moet sien hoe bont staan die stedelike slaghuise as ek elke dan en wan ‘n doodgewone ding soos worsderms wil aankoop. Ja hulle kan die derms vir jou uitryg, meters van die goed, maar geen stelsel maak ooit voorsiening vir ‘n kode waarteenoor dit afgeweeg en geprys kan word nie.)

En dan maak jy daardie amperse halwe skaap van jou gaar. Oor die kole. In die Weber, Jetmaster of sommer die Defy.

Dis dan ook nou hier waar ons van die ou mense afskeid neem. Daar is onder die son niks verkeerd om jou vleis te geur presies soos hulle gedoen het nie — sout en hoogstens ‘n bietjie peper.

As jy aanstellerig wil wees kan jy Herbs de Provence, ‘n knippie gemengde kruie, allerhande braaisout en barbecue spice, selfs knoffel en kruisement na smaak gebruik. Ek verkies die teendeel, sout en peper.

Maar dis hier waar my en oorle’ ouma- en oupagrootjie se weë skei. Hulle het van die vleis nou ‘n brandoffer gemaak. Ek hou my vleisie heeltyd met die beenkant onder dat die been hom as het ware pienk kry. Met die konveksiestrome en dinge waarvan ek niks weet nie, is my vleiskant se vetjies, danksy die Jetmaster- of Weberdeksel heerlik uitgebak en het die vleis nog ‘n sappige pienk as dit voorgesny word.

Berei ons dit vir Ouma en Oupa voor, eintlik maar van Oupa wat ek dit so leer doen het, maak ons dit natuurlik well done en daar is werklik onder die son niks mee verkeerd nie. Die vetjies is ewe goed uitgebak en die vleis bloot net anders heerlik gaar.

Lekker bly lekker, ongeag of jy hom ‘n driekwart-uur in die goeie geselskap van die regte hitte het, ‘n uur, nog ‘n kwart daarby, of ‘n uur en ‘n half.

No comments: