Die probleem, na my
mening, het ontstaan op grond van die feit dat die skole vanjaar ‘n week en ‘n
half later as ander jare gesluit het.
Die lekker hiervan is die
feit dat jy nie volgende jaar met Nuwejaar nog in jou bas en bloed hoef skool
toe te foeter nie. Maar daaraan dink jy nie middel Desember as die skool
uiteindelik sluit nie.
Die feit dat die swembad
se water eerste dag van die vakansie al warm genoeg was vir Annieka om te swem,
moes my gewaarsku het. Maar dit het nie.
Ons beide se biologiese
klok was so ingestel op al die vorige Kersvakansies, dat nie een van ons die
week en half wat ons gemis het, geregistreer het nie.
Ek en Ankie het beide
gefrons toe die bediende frons en lostrek met die feit dat sy nie weet of daar
die volgende dag busvervoer gaan wees nie. Dis nou toe ons vriendelik groet en
sê dat ons haar dan more weer sien.
Dit was trouens eers die
volgende oggend toe ek by die Apteek wil instap en voor dooiemansdeur te staan
kom, dat ek besef dis inderdaad Geloftedag.
En toe was dit natuurlik
klaar hopeloos te laat en lankal verby — enige denkbare pre-Christmas rush van welke aard ook al, behoort tot die verlede,
is waters waarmee ons meul nooit weer sal kan maal nie.
Die ergste is, my
inkopies was November al afgehandel. Ek het al begin vergeet wat waar
weggesteek is, en as dit nie was vir ‘n plastieksak wat tydig en ontydig van
iewers bo in ‘n kas op my kop afgly nie, sou party pakkies sweerlik daar bly lê
het tot Maart of April 2010.
Maar nie Annieka nie, sy
is die een wat lelik onkant betrap is en is hier teen die twintigste in aller
yl vervaard winkels toe.
Ek is klaar. Ek maak vir
my en Klaradyn ‘n heerlike creme
soda-float en klim in die swembad. Maar ons het nog nie eers nodig gehad om
‘n tweede keer sonbrandroom aan te smeer nie, toe is Annieka terug en ons moet
terstond uit die water en in die kar, mall
toe. Ek lieg, malls toe, drie van
die goed, ses dagreise te perd van mekaar af. Ons laat die stukkende
verkeersligte, ompaaie weens verbouings en onwettige immigrante (kry mens nog
iets soos ‘n onwettige immigrant, of is almal deesdae welkom?) wat by elke
bottelnek in die pad sy gesig by die venster insit om sluikhandelware aan jou
af te smeer, maar eers daar; dit is immers Kersfees en ‘n tyd van vrede,
vreugde en mededeelsaamheid.
En ek loop natuurlik
oopoog en siende blind daarin. Ek dog ek moet saam om my wenslysie rugbaar te
maak, by die regte rakke of met die regte boek toevallig in my hand as sy my in
Exclusive Books opspoor. Maar nee, nie my raad of wenslysie wat my vrou nodig het
nie, my pakkies is al vanoggend gekoop; ek moet saam omdat haar geld op nou op
is en sy my nodig het om ‘n tweede beursie tot haar vrye beskikking te hê.
Maar, so what. Dis Kersfees en ek maak daar
geen geheim van dat ek een van die duisende mense is wie se koppe hulle hierdie
tyd van die jaar heeltemal verlaat nie. Kersfees-mededeelsaamheid kan ‘n
honderd vorme aanneem, en wie is ek om slegs een definisie daaraan te wil
toedig.
Net vanoggend, en nou
praat ons van 24 Desember, terwyl ek Vroulief se laaste pakkie toedraai, laat
val ek aan haar dat ek nooit een van daai mense sal wees wat reken
Kersfeespakkies is net vir die kinders en ons het besluit niks vir die
grootmense vanjaar nie. Se voet! Ek sit self in hierdie tyd ‘n glimlag op die
bankbestuurder se gesig.
En dan is daar vir my
niks so lekker soos die last minute
shopping in die peakest van peakest
Christmas rush hour count down to X-mas nie: Bedoelende nou om die winkels
24 Desember knap na twaalf in te vaar nie. Selfs by my is daar dan hoegenaamd geen
ruimte meer vir enige vorm van rasionele denke nie.
Ons sal nou al meer as ‘n
week gelede besluit het om nie hierdie jaar Christmas
crackers op die tafel te hê nie. Ons het dan ook nou al op meer kere as wat
jy vingers aan jou hand het, by die crackers
gestaan, elke denkbare soort en kleur oorweeg, en keer op keer net weer
eens besef dat Christmas crackers nie
vanjaar by die tafel gaan pas nie.
Jy dink nie nou crackers nie, jy dink rose, wit rose.
Annieka het vanjaar ‘n tafel wat sy ‘n romantiese Kerstafel noem. En daarvoor
soek sy wit rose. Daarvoor dat ons so op nommer 199 moet winkels toe, om die
witste denkbare rose moontlik, op te spoor.
Natuurlik is daar nie wit
rose nie. Nêrens nie. Nie eers daar waar daar eergister nog bosse der bosse
pikspierewit rose te kus en te keur was nie. Dit lyk my die hele land het
vanjaar ‘n romantiese Kersfeestafel. (Dis hierdie bloody prentjies wat die vrouetydskrifte hierdie tyd van die jaar
vir die vrouens optower, en dan moet ons mans met die salarisse van loonarbeiders,
die miljoenêrsdrome en visioene verwesenlik.)
Vier bosse bont rose
later, spring hierdie effekleurige, maar in vier verskillende effekleure, crackers voor my op en ek slaan brieke
aan. En toe die pers, rooi, oranje en geel crackers
sien daar is vir elkeen van hulle ‘n matching
bos rose in die mandjie, toe klim hulle sommer van self in. Nie een pak
nie, maar drie. (Ons het twee Kersetes met twee verskillende takke van die
familie by ons aan huis vanjaar.)
En wat, in hierdie hele
proses, hoor ek die kritiese leser vra, het van Christus geword, waar het ons
Hom langs die pad verloor.
Ek vra myself daardie
vraag nou al seker twintig jaar nie meer nie. As dit nie langer is nie.
Ek troos my daaraan die
feesdag is ‘n feesdag deur die Kerk ingestel, honderde jare gelede, so gekies
om een of ander heidense feesdag van die goddeloses te troef, net sodat die
Christene nie dikbek moet sit terwyl die res van die mensdom merriment en festivities het nie.
Ek troos my daaraan dat
Kersfees, soos hy die afgelope meer as ‘n honderd jaar gevier word, ‘n fees is
wat deur die geldmag in stand gehou word. En wie is ek nou om stroomop te wil
swem.
Ek weet ook, dra jy nie
jou geloof heeljaar met jou saam nie, dra jou geloof jou nie heeljaar nie, help
dit beslis nie jy sleep ‘n verslosserfiguur hier teen die einde van die jaar
aan die hare en ore, in nie.
Hierdie tyd van die jaar
is dit egter my hart se wens dat ‘n een en elkeen wat hier lees, of al hier
gelees het, ‘n heerlike feesgety sal vier, ongeag wat dit is waarin jy jou rede
vir feesvieringe vind. Hetsy dit nou Christus, die gesin, die einde van die
jaar, of sommer net ‘n lieflike somer in Suid-Afrika is.
No comments:
Post a Comment