19.12.11

Rondom Kersfees 2009


Die probleem, na my mening, het ontstaan op grond van die feit dat die skole vanjaar ‘n week en ‘n half later as ander jare gesluit het.

Die lekker hiervan is die feit dat jy nie volgende jaar met Nuwejaar nog in jou bas en bloed hoef skool toe te foeter nie. Maar daaraan dink jy nie middel Desember as die skool uiteindelik sluit nie.

Die feit dat die swembad se water eerste dag van die vakansie al warm genoeg was vir Annieka om te swem, moes my gewaarsku het. Maar dit het nie.

Ons beide se biologiese klok was so ingestel op al die vorige Kersvakansies, dat nie een van ons die week en half wat ons gemis het, geregistreer het nie.

Ek en Ankie het beide gefrons toe die bediende frons en lostrek met die feit dat sy nie weet of daar die volgende dag busvervoer gaan wees nie. Dis nou toe ons vriendelik groet en sê dat ons haar dan more weer sien.

Dit was trouens eers die volgende oggend toe ek by die Apteek wil instap en voor dooiemansdeur te staan kom, dat ek besef dis inderdaad Geloftedag.

En toe was dit natuurlik klaar hopeloos te laat en lankal verby — enige denkbare pre-Christmas rush van welke aard ook al, behoort tot die verlede, is waters waarmee ons meul nooit weer sal kan maal nie.

Die ergste is, my inkopies was November al afgehandel. Ek het al begin vergeet wat waar weggesteek is, en as dit nie was vir ‘n plastieksak wat tydig en ontydig van iewers bo in ‘n kas op my kop afgly nie, sou party pakkies sweerlik daar bly lê het tot Maart of April 2010.

Maar nie Annieka nie, sy is die een wat lelik onkant betrap is en is hier teen die twintigste in aller yl vervaard winkels toe.

Ek is klaar. Ek maak vir my en Klaradyn ‘n heerlike creme soda-float en klim in die swembad. Maar ons het nog nie eers nodig gehad om ‘n tweede keer sonbrandroom aan te smeer nie, toe is Annieka terug en ons moet terstond uit die water en in die kar, mall toe. Ek lieg, malls toe, drie van die goed, ses dagreise te perd van mekaar af. Ons laat die stukkende verkeersligte, ompaaie weens verbouings en onwettige immigrante (kry mens nog iets soos ‘n onwettige immigrant, of is almal deesdae welkom?) wat by elke bottelnek in die pad sy gesig by die venster insit om sluikhandelware aan jou af te smeer, maar eers daar; dit is immers Kersfees en ‘n tyd van vrede, vreugde en mededeelsaamheid.

En ek loop natuurlik oopoog en siende blind daarin. Ek dog ek moet saam om my wenslysie rugbaar te maak, by die regte rakke of met die regte boek toevallig in my hand as sy my in Exclusive Books opspoor. Maar nee, nie my raad of wenslysie wat my vrou nodig het nie, my pakkies is al vanoggend gekoop; ek moet saam omdat haar geld op nou op is en sy my nodig het om ‘n tweede beursie tot haar vrye beskikking te hê.

Maar, so what. Dis Kersfees en ek maak daar geen geheim van dat ek een van die duisende mense is wie se koppe hulle hierdie tyd van die jaar heeltemal verlaat nie. Kersfees-mededeelsaamheid kan ‘n honderd vorme aanneem, en wie is ek om slegs een definisie daaraan te wil toedig.

Net vanoggend, en nou praat ons van 24 Desember, terwyl ek Vroulief se laaste pakkie toedraai, laat val ek aan haar dat ek nooit een van daai mense sal wees wat reken Kersfeespakkies is net vir die kinders en ons het besluit niks vir die grootmense vanjaar nie. Se voet! Ek sit self in hierdie tyd ‘n glimlag op die bankbestuurder se gesig.

En dan is daar vir my niks so lekker soos die last minute shopping in die peakest van peakest Christmas rush hour count down to X-mas nie: Bedoelende nou om die winkels 24 Desember knap na twaalf in te vaar nie. Selfs by my is daar dan hoegenaamd geen ruimte meer vir enige vorm van rasionele denke nie.

Ons sal nou al meer as ‘n week gelede besluit het om nie hierdie jaar Christmas crackers op die tafel te hê nie. Ons het dan ook nou al op meer kere as wat jy vingers aan jou hand het, by die crackers gestaan, elke denkbare soort en kleur oorweeg, en keer op keer net weer eens besef dat Christmas crackers nie vanjaar by die tafel gaan pas nie.

Jy dink nie nou crackers nie, jy dink rose, wit rose. Annieka het vanjaar ‘n tafel wat sy ‘n romantiese Kerstafel noem. En daarvoor soek sy wit rose. Daarvoor dat ons so op nommer 199 moet winkels toe, om die witste denkbare rose moontlik, op te spoor.

Natuurlik is daar nie wit rose nie. Nêrens nie. Nie eers daar waar daar eergister nog bosse der bosse pikspierewit rose te kus en te keur was nie. Dit lyk my die hele land het vanjaar ‘n romantiese Kersfeestafel. (Dis hierdie bloody prentjies wat die vrouetydskrifte hierdie tyd van die jaar vir die vrouens optower, en dan moet ons mans met die salarisse van loonarbeiders, die miljoenêrsdrome en visioene verwesenlik.)

Vier bosse bont rose later, spring hierdie effekleurige, maar in vier verskillende effekleure, crackers voor my op en ek slaan brieke aan. En toe die pers, rooi, oranje en geel crackers sien daar is vir elkeen van hulle ‘n matching bos rose in die mandjie, toe klim hulle sommer van self in. Nie een pak nie, maar drie. (Ons het twee Kersetes met twee verskillende takke van die familie by ons aan huis vanjaar.)

En wat, in hierdie hele proses, hoor ek die kritiese leser vra, het van Christus geword, waar het ons Hom langs die pad verloor.

Ek vra myself daardie vraag nou al seker twintig jaar nie meer nie. As dit nie langer is nie.

Ek troos my daaraan die feesdag is ‘n feesdag deur die Kerk ingestel, honderde jare gelede, so gekies om een of ander heidense feesdag van die goddeloses te troef, net sodat die Christene nie dikbek moet sit terwyl die res van die mensdom merriment en festivities het nie.

Ek troos my daaraan dat Kersfees, soos hy die afgelope meer as ‘n honderd jaar gevier word, ‘n fees is wat deur die geldmag in stand gehou word. En wie is ek nou om stroomop te wil swem.

Ek weet ook, dra jy nie jou geloof heeljaar met jou saam nie, dra jou geloof jou nie heeljaar nie, help dit beslis nie jy sleep ‘n verslosserfiguur hier teen die einde van die jaar aan die hare en ore, in nie.

Hierdie tyd van die jaar is dit egter my hart se wens dat ‘n een en elkeen wat hier lees, of al hier gelees het, ‘n heerlike feesgety sal vier, ongeag wat dit is waarin jy jou rede vir feesvieringe vind. Hetsy dit nou Christus, die gesin, die einde van die jaar, of sommer net ‘n lieflike somer in Suid-Afrika is.

No comments: