Met Klaradyn
se geboorte destyds het ek opgehou om matriekeindeksamenvraestelle te gaan
nasien. Sy was nog nie vier maande oud nie en ek het nie kans gesien om haar óf
Annieka vir ‘n volle week van voor sonop tot na sonsak alleen te los nie.
Net gister raak ek tranerig toe ek en Klaars, na ons almal baie ver
(vir ‘n tingerige sesjarige) fiets gery het om ‘n roomysie te gaan eet, laat
agtermiddag in die swembad baljaar. Dit was die tyd van die dag, ses jaar
gelede, wat ek in die swembad was en Annieka op die bank besig om te borsvoed,
dan gesels ons twee ons geselsies – sy vanaf die bank, ek vanuit die water.
Ook op drie maande wat ons met Klaars begin swem het. Ek wonder baie
keer of haar natuurlike liefde vir die water so natuurlik en ingebore is soos ons
dink, en of dit nie maar bloot Desember 2004 op drie maande in haar in gevorm
is nie.
Ag, en toe raak ek bederf, die tyd saam met die gesin belangriker en
lekkerder as die aansienlike klompie geld wat jy met die merk verdien. En bederf is op sy beste mos maar eintlik
bloot eufemisme vir vrot; dit wat ek
nou ses jaar later is – te vrotsig om te gaan merk.
Die stories wat ons ore bereik van daar waar ons land se matrieks se
vraestelle gemerk word, raak elke jaar net meer ysingwekkend. Maar gelukkig is
dit net stories, ouvroustories aangespoor en -gepor deur wit rassiste, fossiele
uit die Apartheidsjare.
Soos die hoofnasiener (ons praat deesdae van ‘n chief makka) besluit in die betrokke vak dat sy makka’s elkeen die betrokke vraag wat
hulle gaan merk, eers self moet doen. En daar score party van die outjies toe so min as 44%.
Ook nie die enigste vak waarin dit gebeur het nie. Met die dat
onderwysers glad nie mag uitpraat oor die eksamen en die nasiensessies nie
(amper soos ons op die grens destyds nie mog vertel het van die oorlog en die
dood nie) mag die nasieners niks met hulle huis toe neem wat lyk soos papier
nie. En so moet die outjies in ‘n ander vak aan die einde, die vraestelle wat
hulleself aan die begin voltooi het, weer ingee. En daar is toe skielik twee
wat 100% gekry het – hulle het ronde 1 te sleg gedoen en deur die loop van die
week hul gemors uitgesmokkel, om te vervang met iets wat beter lyk – toe skryf
hulle die memorandum woord vir woord oor.
Nie dat ‘n mens alles moet glo wat jy hoor nie, nie dat ‘n mens alles
kan glo wat jy hoor nie.
Ek laat my nie vertel dat daar ‘n hoofnasiener was, kon gewees het,
wat tien van sy (tien teen een haar) nasieners huis toe gestuur het bloot omdat
hulle te onbevoeg was nie. Daar is dan hoeka, soos in sport, ‘n sekere kwota novice outjies voorgeskryf – om die ding
te kan doen, is dit verpligtend dat jy dit nie kan doen nie, sodat ons jou kan
leer hoe om dit te doen.
Die laaste keer wat ek gemerk het, was dit bloody ver wat ons moes ry en ‘n stuk of sewe van ons is saam hier
weg in die viertrek-wa waarmee, as hulle nie Botswana is nie, die huis se
algemene domestiese assistent gewoonlik saans die Centucky vir die honde gaan koop.
Nou gewoonlik werk dit so – jy werk uit hoeveel kos een keer se heen
en weer, saam met die tolgeld. Dan betaal Abel, argumentsonthalwe R60-00 vir
Maandag, Bettie dieselfde vir Dinsdag, Carolina vir Dinsdag, en so aan tot by
Gert vir Sondag.
Maar toe kom die man aan wie die wa behoort met Joodse boekhouding
vorendag: Dit sal elkeen van julle R60-00 ‘n dag, R420-00 vir die week, gekos
het om daar en terug te kom, so elkeen van julle skuld my R420-00 se petrol- en
tolgeld vir die week. Daar pocket die
viertrek-eienaar toe, weereens in aansluiting by die aanvanklike argument, R2
520 vir die week se ry.
Ek kan nie die presiese bedrae onthou nie, dis immers sewe jaar
gelede, maar ek onthou ons het uitgereken die bestuurder en vandag steeds nog
kollega van ons almal het meer verdien aan taxi-geld heen en weer, as wat hy
verdien het van die onderwysdepartement vir die merkwerk.
Op soortgelyke wyse, vermoed ek partykeer, dat ons nasionale
gemiddeldes bereken word, dis nou nadat alle agtergeblewe berekeninge en
versoeke van vakbonde in ag geneem is.
Lekker werk. En lekker merk, as dit is wat jy moet doen.
No comments:
Post a Comment