21.12.11

7/12/2010

Met Klaradyn se geboorte destyds het ek opgehou om matriekeindeksamenvraestelle te gaan nasien. Sy was nog nie vier maande oud nie en ek het nie kans gesien om haar óf Annieka vir ‘n volle week van voor sonop tot na sonsak alleen te los nie.

Net gister raak ek tranerig toe ek en Klaars, na ons almal baie ver (vir ‘n tingerige sesjarige) fiets gery het om ‘n roomysie te gaan eet, laat agtermiddag in die swembad baljaar. Dit was die tyd van die dag, ses jaar gelede, wat ek in die swembad was en Annieka op die bank besig om te borsvoed, dan gesels ons twee ons geselsies – sy vanaf die bank, ek vanuit die water.

Ook op drie maande wat ons met Klaars begin swem het. Ek wonder baie keer of haar natuurlike liefde vir die water so natuurlik en ingebore is soos ons dink, en of dit nie maar bloot Desember 2004 op drie maande in haar in gevorm is nie.

Ag, en toe raak ek bederf, die tyd saam met die gesin belangriker en lekkerder as die aansienlike klompie geld wat jy met die merk verdien. En bederf is op sy beste mos maar eintlik bloot eufemisme vir vrot; dit wat ek nou ses jaar later is – te vrotsig om te gaan merk.

Die stories wat ons ore bereik van daar waar ons land se matrieks se vraestelle gemerk word, raak elke jaar net meer ysingwekkend. Maar gelukkig is dit net stories, ouvroustories aangespoor en -gepor deur wit rassiste, fossiele uit die Apartheidsjare.

Soos die hoofnasiener (ons praat deesdae van ‘n chief makka) besluit in die betrokke vak dat sy makka’s elkeen die betrokke vraag wat hulle gaan merk, eers self moet doen. En daar score party van die outjies toe so min as 44%.

Ook nie die enigste vak waarin dit gebeur het nie. Met die dat onderwysers glad nie mag uitpraat oor die eksamen en die nasiensessies nie (amper soos ons op die grens destyds nie mog vertel het van die oorlog en die dood nie) mag die nasieners niks met hulle huis toe neem wat lyk soos papier nie. En so moet die outjies in ‘n ander vak aan die einde, die vraestelle wat hulleself aan die begin voltooi het, weer ingee. En daar is toe skielik twee wat 100% gekry het – hulle het ronde 1 te sleg gedoen en deur die loop van die week hul gemors uitgesmokkel, om te vervang met iets wat beter lyk – toe skryf hulle die memorandum woord vir woord oor.

Nie dat ‘n mens alles moet glo wat jy hoor nie, nie dat ‘n mens alles kan glo wat jy hoor nie.

Ek laat my nie vertel dat daar ‘n hoofnasiener was, kon gewees het, wat tien van sy (tien teen een haar) nasieners huis toe gestuur het bloot omdat hulle te onbevoeg was nie. Daar is dan hoeka, soos in sport, ‘n sekere kwota novice outjies voorgeskryf – om die ding te kan doen, is dit verpligtend dat jy dit nie kan doen nie, sodat ons jou kan leer hoe om dit te doen.

Die laaste keer wat ek gemerk het, was dit bloody ver wat ons moes ry en ‘n stuk of sewe van ons is saam hier weg in die viertrek-wa waarmee, as hulle nie Botswana is nie, die huis se algemene domestiese assistent gewoonlik saans die Centucky vir die honde gaan koop.

Nou gewoonlik werk dit so – jy werk uit hoeveel kos een keer se heen en weer, saam met die tolgeld. Dan betaal Abel, argumentsonthalwe R60-00 vir Maandag, Bettie dieselfde vir Dinsdag, Carolina vir Dinsdag, en so aan tot by Gert vir Sondag.

Maar toe kom die man aan wie die wa behoort met Joodse boekhouding vorendag: Dit sal elkeen van julle R60-00 ‘n dag, R420-00 vir die week, gekos het om daar en terug te kom, so elkeen van julle skuld my R420-00 se petrol- en tolgeld vir die week. Daar pocket die viertrek-eienaar toe, weereens in aansluiting by die aanvanklike argument, R2 520 vir die week se ry.

Ek kan nie die presiese bedrae onthou nie, dis immers sewe jaar gelede, maar ek onthou ons het uitgereken die bestuurder en vandag steeds nog kollega van ons almal het meer verdien aan taxi-geld heen en weer, as wat hy verdien het van die onderwysdepartement vir die merkwerk.

Op soortgelyke wyse, vermoed ek partykeer, dat ons nasionale gemiddeldes bereken word, dis nou nadat alle agtergeblewe berekeninge en versoeke van vakbonde in ag geneem is.

Lekker werk. En lekker merk, as dit is wat jy moet doen.

No comments: