19.12.11

Christmas Past (2)


“Sê vir Klaradyn daar’s vir haar ‘n eier in die gang,” in so ‘n  diep en hol, dog onmiskenbare (veral as dit net drie van julle in die huis is) klein dogtertjiestemmetjie.

En toe weer: “Sê vir Klaradyn daar’s vir haar ‘n eier in die gang.”

Ek registreer, maar registreer ook nie. Ek en Annieka is besig om die feesgety se onderskeie spyskaarte te bespreek.

Tog word dit soos ‘n plaat wat vashaak:  “Sê vir Klaradyn daar’s vir haar ‘n eier in die gang.” Dieselfde diep en hol stemmetjie, nou net al effe dringender.

“Sê vir Klaradyn daar’s vir haar ‘n eier in die gang. Sê vir Klaradyn…”

Tot Annieka (Mammas is wonderlike goed) snap en met verbasing en ‘n opgewonde energie in haar stem lostrek met “Klaradyn, daar’s vir jou ‘n eier in die gang!”

En daar kom Klaradyn uit die kamer, gang toe om haar eier, so ‘n hervulbare plastiek ene van verlede Paasfees, in die gang op te tel met ‘n “Dankie, o, dankie Kersvader. Kyk julle, Kersvader het vir my ‘n geskenkie in die gang gelos!”

Wat sy daarin gesit weet ek nie. Maar so is daar, in soortgelyke stemming, ‘n stuks of dertien diverse Kersfeevaderlysies deur die huis versprei:  Barbie pop, Barbie kar, Barbie perd, Barbie klere, ‘n nuwe baba-hondjie en wat ook al sy die afgelope maand in die winkels by stilstaan om ons nader en tot stilstand toe te roep. Ek en Annieka, soms in solo, soms in duet, asof uit een mond, reageer eenvoudig net:  “Dis mooi, jy kan dit op jou lysie sit.”

En so sit ons toe nou vanjaar weer, soos die vorige twee Kersfeetse, af na die Danville-liggiehuis. Die liggies word elke jaar net meer en meer oordadig, maar teen honderde besoekers per aand, verdien die vrou goeie en eerbare geld vir haar welsynsmissie.

Verlede jaar kon ons haar nog op ‘n afstand na die Kersvader op sy stoel laat kyk; hierdie jaar het ek geweet, as sy ook met die man ‘n geselsie gaan wil aanknoop, sal ek dit nie in my hê om nee te sê nie. En is die man nie vriendelik vanjaar nie — uit die aard van die omgewing is dit inderdaad ‘n Afrikaanse Kersvader, hy het ‘n wit baard wat ek na drie jaar se soek nou al, nog by geen kostuumplek kon opspoor nie, en dan maak hy dit maklik met ‘n mikrofoon in die hand sodat almal kan hoor wat elke kleintjie vanjaar vir Kersfees wil hê.

Op vier geleenthede, vir drie jaar nou al, speel ek my hart en longe uit om ‘n oortuigende Kersvader vir my kind en ander maatjies te wees. En ek doen dit, of altans so het ek gedink, bloody oortuigend. Ek verdwyn altyd met ‘n waterdigte plan uit die geselskap, haal my trouring af, en maak selfs seker dat ek ‘n ander, en baie ou paar, skoene en kouse aanhet, voordat ek met ‘n ge-HO-HO-HO myself aankondig.

So laat val Klaradyn, in aanloop tot die kleuterskool se Kersboom, vanjaar ewe onskuldig aan Mamma:  “As Pappa vanjaar weer Kersfeesvader gaan speel, gaan hy weer in so ‘n stadige diep stem praat.”

My Kersfeesvader-loopbaan binne sekondes moer toe.

Later lag ek so ‘n diep HU-HU-HU vir haar uit my maag terwyl ons afkoel in die swembad, toe gooi sy weer koue water in my gesig met ‘n “Pappa lag nou net soos Kersfeevader.”

Ek klim summier uit die swembad en sms haar peetpa met die versoek of hy nie asseblief Oukersaand Kersvader sal wees nie.

Ag siestog, en toe is ek nie vanjaar die kleuterskool se Kersfeesvader nie. Hulle hét my weer gevra, maar my selfbeeld was te klein en ‘n geknakte riet— “net as julle nie vir ‘n verandering niemand anders kan kry nie”. Ek ry rond op soek na ‘n ander mondering. Oorweeg selfs om my baard, waarsonder my eie vrou my in veertien jaar nog nooit gesien het vir die okkasie af te sny, en begin hier twee, drie dae voor die groot opwinding vir almal, mooi hard en duidelik dat Klaradyn kan hoor, vertel dat ek nie vanjaar Kersboom toe gaan nie, ek moet skool toe. (Dis nou sodat ek onafhanklik kan opdaag en weer vertrek sonder dat enige iemand enige snuf in die neus kan kry.) Annieka ruk haar op vir my wat so oortuigend vertel van my ander verpligtinge en ek moet my motief verduidelik. Sy lag, die juffrou het laat weet ‘n ander Pappa het laat val hy is beskikbaar.

‘n Ander pappa (met dieselfde plakkies as wat hy netnou in die geselskap mee gesit het, én met sy trouring aan, sónder ‘n baard, óf HO-HO-HO) val die eer te beurt. En daar is stomme Klaradyn se wind toe vanjaar heeltemal uit haar seile geneem met die vreemde bakkies en stem— sy weier om haar pakkie by hom in ontvangs te neem, wat nog te sê daarvan om op sy vreemde skoot te sit vir ‘n tradisionele foto.

Gevolglik hou ek haar reaksie op die Liggiehuis se Kersfeesvader en die lang ry kinders wat hul beurt geduldig afwag, fyn dop. Maar nee, Klaradyn het haar skrik klaar geskrik, toe ons aanstaltes maak om te beweeg, kom die handjie en fyn stemmetjie na Pappa:  “Ek wil ook soontoe gaan, Pappa.”

Al het Klaradyn seker nou al 47 keer gehoor dat hy elke keer, die hele aand nou al, eers vra wat die betrokke kind se naam is, en dan vra wat die kind vir Kersfees wil hê, is ek skielik bang sy word deur ‘n oomblik wat te groot is, met ‘n bek vol tande gevang. Ek buk af en vertel haar Kersfeesvader gaan haar vra wat haar naam is, en dan gaan hy haar vra wat sy Kersfees wil hê.

Klaradyn antwoord, duidelik gesteurd, dat sy weet, en ek moenie worry nie. (Verbeel ek my gee sý mý hand ‘n versekerende drukkie?)

Maar soos wat die tou voor ons al korter raak, begin ek tog te worry. ‘n Irrasionele vrees neem trouens van my besit.

Wat gaan my kind antwoord as Kersvader haar voor al hierdie mense vra wat sy vir Kersfees wil hê? Selfs ek is nou al gatvol geluister na Barbie poppe en remote control vliegtuie of karretjies. Sê nou my kind, wat ‘n ingebore geneigdheid het om individualisties te wees, haak af met iets soos:  “’n Mamma wat vir my lief is en nie met sigaretstompies op die voetsole brand nie” of “’n Pappa wat nie my mamma so slaan as hy te veel gin gedrink het nie!”

En op daardie oomblik kan ek nie aan ‘n enkele ding op enige een van daardie dertien lyste wat die huis vol lê, dink nie. Maar tyd vir vêrder dink is daar ook nie, daar roep die man die dogtertjie met die pienk rokkie al, en al wat ek raaksien is hoe my vrou met ‘n selfoonkamera nader staan om die oomblik te verewig.

Maar my vrees wás irrasioneel, dit ís toe ‘n doodgewone alledaagse holruggeryde Barbie-pop.

En ek en Annieka hét hoeka afgespreek dat Klaradyn nou op vier oud genoeg is om ‘n regte egte Barbie-langbeenpop te kry. Dit wás tot sy gesien het hoeveel die doodgewone plain Jane Barbie, sonder enige fancy klere of trimmings en ander accessories teen die spits van die 2008-Kersseisoen kos.

Siestog, my arme kind, het gedink. Nóg ‘n jaar sonder ‘n Barbie. En toe rasionaliseer die tragiek:  nou leer Klaradyn ten minste wat dit is om te droom en te hoop.

Maar wat maak jy as jou kind, na storietyd en die dag se afsluit-gebedjie, skielik kiertsregop sit, jou in die oë kyk en dit duidelik van haar hart af kry: “Pappa, ons Kersboom is regtig nie mooi nie”?

Ag, en Annieka wás so trots op vanjaar se boom. Dis regtig een wat, as hy net gelukkig genoeg was om in een van Top Billing se huise te staan, lag-lag op die voorblad van die Tuis of en of ander ander tydskrif se Desemberuitgawe-voorblad kon pryk.

“Nou hoe dan so my kind?”

“Hy lyk nie soos dies in die winkels nie, Pappa.”

“Hoe kan jy dan nou so sê, Klaradyn? Ons s’n is ook mooi. Hy’s net nie so groot soos die in die winkels nie.”

“Ons s’n is nie so blink nie Pappa. Ons moet ook so blink een hê. Met liggies.”

Annieka het hierdie jaar doelbewus nie vir blink gegaan nie. En liggies sou ook nie werk by die 12 silwer engele wat lyk asof dit uit die smeesilwer van Carol Boyes se hand gegiet is. (Kyk jy na die prys, dan is dit.)

Dan is daar nog die twaalf engele, wat ook sou kon deurgaan as kontemporêre een-en-twintig-eeuse feetjies, wat ‘n Made in Italy agterop elkeen geplak had. Made in Italy, alles goed en wel het ek gedink, maar paid in South-Africa met ‘n rand en wisselkoers wat mank gaan onder ruoliepryse en Robert Mugabe se streke in Suid-Rhodesië, maak dit ‘n gevleuelde engel van anderse vere.

En dan sê jou kind vir jou jou tydskrif-voorblad-formaat-kersboom is nie mooi en blink genoeg nie.

Dan onthou jy dis Kersfees en môreoggend gaan julle garage toe en kry die boks waarop Kersfeeversierings nou al vir ses jaar in swart koki-pen staan uit.

En dan laat jy haar toe om die boom (en die meubels, en die sitkamerlampe, en die ornamente) mooi en blink te maak, totdat dit só mooi en blink is dat selfs sý vir jou sê die liggies is nou nie meer nodig nie, Pappa.

Mamma troos jy met ‘n begrypende drukkie van medelye.

No comments: