“Sê vir
Klaradyn daar’s vir haar ‘n eier in die gang,” in so ‘n diep en hol, dog onmiskenbare (veral as dit
net drie van julle in die huis is) klein dogtertjiestemmetjie.
En toe
weer: “Sê vir Klaradyn daar’s vir haar ‘n eier in die gang.”
Ek
registreer, maar registreer ook nie. Ek en Annieka is besig om die feesgety se
onderskeie spyskaarte te bespreek.
Tog word
dit soos ‘n plaat wat vashaak: “Sê vir
Klaradyn daar’s vir haar ‘n eier in die gang.” Dieselfde diep en hol
stemmetjie, nou net al effe dringender.
“Sê vir
Klaradyn daar’s vir haar ‘n eier in die gang. Sê vir Klaradyn…”
Tot Annieka
(Mammas is wonderlike goed) snap en met verbasing en ‘n opgewonde energie in
haar stem lostrek met “Klaradyn, daar’s vir jou ‘n eier in die gang!”
En daar kom
Klaradyn uit die kamer, gang toe om haar eier, so ‘n hervulbare plastiek ene
van verlede Paasfees, in die gang op te tel met ‘n “Dankie, o, dankie
Kersvader. Kyk julle, Kersvader het vir my ‘n geskenkie in die gang gelos!”
Wat sy
daarin gesit weet ek nie. Maar so is daar, in soortgelyke stemming, ‘n stuks of
dertien diverse Kersfeevaderlysies deur die huis versprei: Barbie
pop, Barbie kar, Barbie perd, Barbie klere, ‘n nuwe baba-hondjie en wat ook
al sy die afgelope maand in die winkels by stilstaan om ons nader en tot
stilstand toe te roep. Ek en Annieka, soms in solo, soms in duet, asof uit een
mond, reageer eenvoudig net: “Dis mooi,
jy kan dit op jou lysie sit.”
En so sit
ons toe nou vanjaar weer, soos die vorige twee Kersfeetse, af na die
Danville-liggiehuis. Die liggies word elke jaar net meer en meer oordadig, maar
teen honderde besoekers per aand, verdien die vrou goeie en eerbare geld vir
haar welsynsmissie.
Verlede
jaar kon ons haar nog op ‘n afstand na die Kersvader op sy stoel laat kyk;
hierdie jaar het ek geweet, as sy ook met die man ‘n geselsie gaan wil aanknoop,
sal ek dit nie in my hê om nee te sê nie. En is die man nie vriendelik
vanjaar nie — uit die aard van die omgewing is dit inderdaad ‘n Afrikaanse
Kersvader, hy het ‘n wit baard wat ek na drie jaar se soek nou al, nog by geen
kostuumplek kon opspoor nie, en dan maak hy dit maklik met ‘n mikrofoon in die
hand sodat almal kan hoor wat elke kleintjie vanjaar vir Kersfees wil hê.
Op vier
geleenthede, vir drie jaar nou al, speel ek my hart en longe uit om ‘n
oortuigende Kersvader vir my kind en ander maatjies te wees. En ek doen dit, of
altans so het ek gedink, bloody
oortuigend. Ek verdwyn altyd met ‘n waterdigte plan uit die geselskap, haal my
trouring af, en maak selfs seker dat ek ‘n ander, en baie ou paar, skoene en
kouse aanhet, voordat ek met ‘n ge-HO-HO-HO myself aankondig.
So laat val
Klaradyn, in aanloop tot die kleuterskool se Kersboom, vanjaar ewe onskuldig
aan Mamma: “As Pappa vanjaar weer
Kersfeesvader gaan speel, gaan hy weer in so ‘n stadige diep stem praat.”
My Kersfeesvader-loopbaan
binne sekondes moer toe.
Later lag
ek so ‘n diep HU-HU-HU vir haar uit my maag terwyl ons afkoel in die swembad,
toe gooi sy weer koue water in my gesig met ‘n “Pappa lag nou net soos
Kersfeevader.”
Ek klim
summier uit die swembad en sms haar peetpa met die versoek of hy nie asseblief
Oukersaand Kersvader sal wees nie.
Ag siestog,
en toe is ek nie vanjaar die kleuterskool se Kersfeesvader nie. Hulle hét my
weer gevra, maar my selfbeeld was te klein en ‘n geknakte riet— “net as julle
nie vir ‘n verandering niemand anders kan kry nie”. Ek ry rond op soek na ‘n
ander mondering. Oorweeg selfs om my baard, waarsonder my eie vrou my in
veertien jaar nog nooit gesien het vir die okkasie af te sny, en begin hier
twee, drie dae voor die groot opwinding vir almal, mooi hard en duidelik dat
Klaradyn kan hoor, vertel dat ek nie vanjaar Kersboom toe gaan nie, ek moet
skool toe. (Dis nou sodat ek onafhanklik kan opdaag en weer vertrek sonder dat
enige iemand enige snuf in die neus kan kry.) Annieka ruk haar op vir my wat so
oortuigend vertel van my ander verpligtinge en ek moet my motief verduidelik.
Sy lag, die juffrou het laat weet ‘n ander Pappa het laat val hy is beskikbaar.
‘n Ander
pappa (met dieselfde plakkies as wat hy netnou in die geselskap mee gesit het,
én met sy trouring aan, sónder ‘n baard, óf HO-HO-HO) val die eer te beurt. En
daar is stomme Klaradyn se wind toe vanjaar heeltemal uit haar seile geneem met
die vreemde bakkies en stem— sy weier om haar pakkie by hom in ontvangs te
neem, wat nog te sê daarvan om op sy vreemde skoot te sit vir ‘n tradisionele
foto.
Gevolglik
hou ek haar reaksie op die Liggiehuis
se Kersfeesvader en die lang ry kinders wat hul beurt geduldig afwag, fyn dop.
Maar nee, Klaradyn het haar skrik klaar geskrik, toe ons aanstaltes maak om te
beweeg, kom die handjie en fyn stemmetjie na Pappa: “Ek wil ook soontoe gaan, Pappa.”
Al het
Klaradyn seker nou al 47 keer gehoor dat hy elke keer, die hele aand nou al,
eers vra wat die betrokke kind se naam is, en dan vra wat die kind vir Kersfees
wil hê, is ek skielik bang sy word deur ‘n oomblik wat te groot is, met ‘n bek
vol tande gevang. Ek buk af en vertel haar Kersfeesvader gaan haar vra wat haar
naam is, en dan gaan hy haar vra wat sy Kersfees wil hê.
Klaradyn
antwoord, duidelik gesteurd, dat sy weet, en ek moenie worry nie. (Verbeel ek my gee sý mý hand ‘n versekerende drukkie?)
Maar soos
wat die tou voor ons al korter raak, begin ek tog te worry. ‘n Irrasionele vrees neem trouens van my besit.
Wat gaan my
kind antwoord as Kersvader haar voor al hierdie mense vra wat sy vir Kersfees
wil hê? Selfs ek is nou al gatvol geluister na Barbie poppe en remote control vliegtuie of karretjies.
Sê nou my kind, wat ‘n ingebore geneigdheid het om individualisties te wees,
haak af met iets soos: “’n Mamma wat vir
my lief is en nie met sigaretstompies op die voetsole brand nie” of “’n Pappa
wat nie my mamma so slaan as hy te veel gin
gedrink het nie!”
En op
daardie oomblik kan ek nie aan ‘n enkele ding op enige een van daardie dertien
lyste wat die huis vol lê, dink nie. Maar tyd vir vêrder dink is daar ook nie,
daar roep die man die dogtertjie met die pienk rokkie al, en al wat ek raaksien
is hoe my vrou met ‘n selfoonkamera nader staan om die oomblik te verewig.
Maar my
vrees wás irrasioneel, dit ís toe ‘n doodgewone alledaagse holruggeryde Barbie-pop.
En ek en
Annieka hét hoeka afgespreek dat Klaradyn nou op vier oud genoeg is om ‘n regte
egte Barbie-langbeenpop te kry. Dit
wás tot sy gesien het hoeveel die doodgewone plain Jane Barbie, sonder enige fancy
klere of trimmings en ander accessories teen die spits van die
2008-Kersseisoen kos.
Siestog, my
arme kind, het gedink. Nóg ‘n jaar sonder ‘n Barbie. En toe rasionaliseer die tragiek: nou leer Klaradyn ten minste wat dit is om te
droom en te hoop.
Maar wat maak
jy as jou kind, na storietyd en die dag se afsluit-gebedjie, skielik
kiertsregop sit, jou in die oë kyk en dit duidelik van haar hart af kry:
“Pappa, ons Kersboom is regtig nie mooi nie”?
Ag, en
Annieka wás so trots op vanjaar se boom. Dis regtig een wat, as hy net gelukkig
genoeg was om in een van Top Billing
se huise te staan, lag-lag op die voorblad van die Tuis of en of ander ander tydskrif se Desemberuitgawe-voorblad
kon pryk.
“Nou hoe
dan so my kind?”
“Hy lyk nie
soos dies in die winkels nie, Pappa.”
“Hoe kan jy
dan nou so sê, Klaradyn? Ons s’n is ook mooi. Hy’s net nie so groot soos die in
die winkels nie.”
“Ons s’n is
nie so blink nie Pappa. Ons moet ook so blink een hê. Met liggies.”
Annieka het
hierdie jaar doelbewus nie vir blink gegaan nie. En liggies sou ook nie werk by
die 12 silwer engele wat lyk asof dit uit die smeesilwer van Carol Boyes se
hand gegiet is. (Kyk jy na die prys, dan is dit.)
Dan is daar
nog die twaalf engele, wat ook sou kon deurgaan as kontemporêre
een-en-twintig-eeuse feetjies, wat ‘n Made
in Italy agterop elkeen geplak had. Made
in Italy, alles goed en wel het ek gedink, maar paid in South-Africa met ‘n rand en wisselkoers wat mank gaan onder
ruoliepryse en Robert Mugabe se streke in Suid-Rhodesië, maak dit ‘n gevleuelde
engel van anderse vere.
En dan sê
jou kind vir jou jou tydskrif-voorblad-formaat-kersboom is nie mooi en blink
genoeg nie.
Dan onthou
jy dis Kersfees en môreoggend gaan julle garage toe en kry die boks waarop
Kersfeeversierings nou al vir ses jaar in swart koki-pen staan uit.
En dan laat
jy haar toe om die boom (en die meubels, en die sitkamerlampe, en die
ornamente) mooi en blink te maak, totdat dit só mooi en blink is dat selfs sý
vir jou sê die liggies is nou nie meer nodig nie, Pappa.
Mamma troos
jy met ‘n begrypende drukkie van medelye.
No comments:
Post a Comment