In ‘78 en
in standerd 6, maar dit gaan nie oor haar nie, had ek en die res van ons wat
gelukkig genoeg was om by haar klas te kry, die wonderlikste Engelse
onderwyseres that ever tread upon this
earth. En ek noem haar by die naam: Gerda Jordaan, maar destyds was sy
ongetroud — Gerda Mills dan. Miss Mills
soos ons haar genoem het.
Laat dit
dan maar vir eers bietjie oor haar gaan.
Daardie
jare was sy ‘n beginneronderwysers met een, hoogstens twee, jaar ervaring by
een of ander spesiale skool in Johannesburg waarvan sy ons altyd met groot
deernis vertel het.
Miss Mills
het ‘n Engelse biblioteek in haar klas opgebou en dit was vir ons belangriker
en meer spesiaal om boeke by haar klasbiblioteek uit te neem as in die
vergeelde stof van die krakerige fossiel in die skool-hoofgebou se biblioteek.
Ook nie net Engelse boeke was dit gewees nie, goeie Afrikaanse boeke het ook
van hand gewissel, en dis hiér waar ek kennis gemaak het met AP Brink, onder
andere.
Woordeskat,
en vreemde woorde soos vendetta, het
sy aan die hand van ryklike vertellings en illustrasies deel van die res van
ons lewens gemaak. Vendetta se
spesifieke storie het my lankal ontgaan, maar ek sien nog hierdie groot woord, vir ‘n standerd sessie destyds, in haar wit
handskrif op die groen bord, die betekenis daarvan in my brein verewig.
Readers Digest het daardie jare, en miskien het hulle steeds,
‘n rubriek gehad wat lesers se vocabulary
uitgebrei het. ‘n Groot woord, en dan drie of vier moontlike verduidelikings
waaruit jy moes kies. Ek kan vandag steeds nie ‘n stokou Readers Digest tydens een of ander eksamentoesig uit ‘n Engelse
klas se rak gryp, daardie rubriek deurlees en nié weer in Juffrou Mills se klas
sit, tintelend van afwagting en opwinding, terwyl sy nuwe maand se Vocabulary in die Digest met ons deurgaan nie.
Dan onthou
ek die wonderlike woordspeletjies wat sy ons laat speel het. Ek onthou dit
goed, want dertig jaar later word haar speletjies steeds in my Afrikaansklasse
lewendig gehou.
Sy was nie
die tipe onderwysers op wie skoolseuns verlief geraak het nie, ek dink, jy het
bloot net dadelik lief geword vir hierdie engel in die Engelsklas.
Wat sy
gedink het toe ek, nou in standerd 7 en boonop gelukkig genoeg om in haar
registerklas te wees, skielik ‘n probleem ontwikkel het om haar te you, weet ek nie. Vir hierdie
Boerseuntjie is, en was, you nog
altyd jy. En Miss Mills is nie iemand
wat ‘n mens jy en jou nie. Sy, ander
grootse mense en engele word ge-Ú.
“Miss, how do we address you when we don’t want to address you as you, because you is disrespectful in Afrikaans and should be ‘ú’?”.
Sy het net
geglimlag, daardie selfde warm misterieuse glimlag wat my gegroet het toe ek
haar tien jaar gelede in Potchefstroom opgespoor het, en hierdie seuntjie wat
spesiaal aan die einde van die periode getalm en gesloer het om agter te kan
bly en te vra, oortuig dat dit ok is
om iemand in Engels te you. Soos ek
hier sit en tik gaan daar ‘n warmte deur my binneste as ek onthou dat sy tien
teen een haar vlerk sagkens op my skouer sou kon gesit het voor sy my, van haar
tydelike klas (sy was destyds ‘n junior onderwysers) se stoep weggesien het.
Ek dank die
Here, in retrospeksie vandag, dat ek reeds uit matriek en op universiteit was,
toe nuus ons ore bereik het dat Juffrou Mills en Mnr. Jordaan getrou het. Mnr.
Jordaan, sien, was ‘n getroude meneer en basiliske met skindertonge wou dit hê
dat Miss Mills ‘n huwelik opgebreek het.
So iets is
vir my selfs vandag ondenkbaar. Miskien is dit herinnering en onthou wat feite
plet en plooi, maar vandag verbeel ek my Mnr. Jordaan se sieklike vrou is
oorlede en Juf. Mills het toe met hom getrou. Ek weet nie meer so mooi nie.
Maak ook
nie saak nie, want dis eintlik by my Ouma Moolman en my eie ma wat ek wil
uitkom vandag.
In standerd
7, Hansie is klaskaptein, verjaar Miss Mills. Ek samel geld in vir ‘n geskenk
en oor sy ‘n geliefde by almal is, stroom daar hope geld in, genoeg om vir haar
‘n pottery koffiestel te koop. My ma
moes opsluit al die pad Johannesburg toe ry, Jacoby’s toe, om vir Miss Mills ‘n
bruin blink geglasuurde seventies
koffiestel te gaan koop.
Hansie werk
die toespraak vir tydens die oorhandiging uit: ons is na haar huis genooi. Haar
huis, ‘n klein woonstel gerieflik naby die hoërskool. Ek ken die toespraak
selfs ‘n week voor die tyd uit my kop.
En daar
sterf Ouma-Engel op Brits. ‘n Songedroogde en weggekrimpte ou vroutjie by wie
ons, selfs na die egskeiding, en my pa se dood ‘n jaar tevore, steeds eenmaal
‘n maand deurgery het Brits toe om te gaan kuier. Ouma-Engel, so genoem, oor
die reuse Laat-Victoriaanse Gerub, sy vlerke tot aan die hemel, altyd agter
haar bed in ‘n gekrulde raam in die ouestehuis
op Brits.
Dis vir my
‘n uitgemaakte saak: Juffrou Mills verjaar, ek moet buitendien toespraak maak
en die geskenk oorhandig: “Jammer,
Mamma, ek kan nie saamgaan nie, ek sal saam met Susan se ma by Juffrou Mills en
terug kom.”
En toe die
troefkaart uit my ma se mond: “Jy kan
regtig nie, Oubaas, jy is een van die draers van Ouma se kis.”
Oor die
jarelange selfverwyt dat ek nie bereid wou wees om ‘n draer van my eie ouma se
kis te wees nie —en dit omdat ek na een of ander verjaarsdagpartytjie wou gaan
— is egter ook nie waaroor dit vandag gaan nie.
Trouens nie
eers my ouma se begrafnis nie, maar my pa se begrafnis ‘n jaar vroeër.
Ons stop
die dag daar by die krematorium. Ek gekisklere en baie vernaam. Ék kon immers
sê wat ons moet sing tydens die roudiens:
Nearer my God to thee en Uit dieptes gans verlore (op die
Voortrekkewysie en beryming soos my Pa so baie daarvan gehou het.)
Maar ook
die pers begrafnisbriefie en nat swymel in my oë terwyl die handjievol mense Nearer my God to thee moet oorstaan
tot ‘n ander keer.
Dis die
stop daar by die krematorium die dag waaraan ek Oukersdag 2008 gedink het. Oom
Frans en Tannie Johanna van die Kaap, my pa se broer en skoonsuster, het aan
die oorkant van die pad gestop. Hulle was al uit en het kom handskud.
Weggekrimp dat haar swart bollatjie net-net uitsteek het my pa se ma, diep in
die negentig toe al, in die kar bly sit. Ek het oorgestap en gaan groet. Sy het
my stom sonder herkenning aangestaar en oom Frans moes kom verduidelik, iets
soos, “Dis Hansie, oorlede Hans, ma se seun, se seun.”
Sy het my
aangekyk, en háár woorde sal ek nooit vergeet nie, verbatim daarom: “O, so jy
is die seun van die man wat hulle vandag begrawe, aangename kennis. Wie word
vandag begrawe?”
Of dit
bloot die ouderdom was, weet ek nie. Dalk die ontwrigting van ‘n roetine en al
die pad van Brits af Johannesburg toe. Moontlik selfs ‘n kalmeerpil wat die
gewoonte was, en is, om mense in te jaag. Feit bly staan, Ouma Moolman het ‘n
jaar voor haar dood nie geweet wie ek is nie, wie haar eie seun was wat hulle
daardie dag begrawe het nie.
En oumas is
snaakse goed. Word hulle oor geslagte heen en met verloop van tyd dan almal
dieselfde.
Ek gaan tel
my ma Oukersdag by die ouetehuis op. Klaradyn slaap en ons skil groente in die
kombuis. Later het ek haar in Klaradyn se kamer wat sy, asof vir die eerste
keer, op haar kritiese manier met ‘n estetiese oog betrag. “Ma moet bietjie
rus.”
Klaradyn
word op ons bed wakker en ek stuur haar na haar Ouma-Nooi toe. Ouma-Nooi omdat
sy Klaradyn, net soos sy my ge-Oubaas
het, van geboorte af Ounooi, en
Klaradyn self na haar begin verwys het as Ouma-Nooi.
Niks.
Ek draf oor.
“Wie is
hierdie dogtertjie in die kamer by my?” vra sy oomblikke later onbegrypend.
En ewe
onbegrypend ‘n ongemaklike bietjie later: “So jy sê dis jy en jou vrou se kind
hierdie!?”
‘n Slaap-of
kalmeerpil is dit beslis nie. Haar roetine kan ook nie so ontwrig wees nie, sy
was verlede week ook by ons. En die vorige week. ‘n Uitmergelende rit, soos van
Brits na Johannesburg vir ‘n ou vrou, is dit ook nie. Met die motor is sy nie
vyf minute van ons af nie, soos die kraai vlieg net ‘n katspoegie.
En tog, so
vinnig, so vreeslik ver.
En om te
vra vir die vleuels van ‘n engel om haar te begelei? Iets waarop ek myself
deesdae meer dikwels betrap.
Het sy, net
haar voete nog onvas vas op Moederaarde, nie lankreeds by hulle aangesluit nie?
No comments:
Post a Comment