Hoeveel mense kan daar
dan nou wees wat so onnosel is om hul jaarlikse Kersinkopies uit te stel tot
die laaste Saterdag voor Kersfees?
Meer as wat ek vermoed
het, toe ek hier teen ‘n goeie week voor Kersfees besluit het om eerder te wag
tot die ergste spits verby is en eerder uit te stel tot Saterdag wanneer almal
al by die see is.
Moeilik om te glo dat die
stygende petrolpryse en knypende rand so ‘n invloed kan hê, maar toe ‘n mens
Saterdag twaalfuur in Menlyn se Pick & Pay staan, was dit duidelik — die
Kaapse en Natalse strande is dolleeg, Pretoria en omgewing, van so ver as
Rustenburg en Brits, is in Menlyn om Kersinkopies te doen.
Ek weet uit dure
ondervinding dat ‘n mens nie moet uitstel nie, en ek doen nie.
Die geneuk is net dat ek
dan ook nie uitstel met die uitdeel van die geskenke nie. So het Annieka haar
Kerspresent wat ek in Julie gekoop het, iewers in Augustus gekry. Die tweede
Kersgeskenk in Oktober, kon ek nie mee wag nie en sy het dit dieselfde dag
gekry. Klaradyn het haar skopfiets die eerste week van die vakansie al gekry.
(Ag, die dae is so lekker, en waarom nou wag tot die 25’ste as sy nou al so
lekker daarmee kan speel) Haar R400-00 aap het sy in die tweede week van die
vakansie gekry. (Dis by een van hierdie winkels waar jy die vel teen R200-00
koop en dan stop jy hom op en sit vir hom ‘n hart teen ‘n verdere bedrag in, en
‘n stem (nog R50-00). En klere teen ‘n verdere R50-00. En nog klere want dis
tog so kostelik. Die plek het so twee jaar gelede oopgemaak en ek onthou ek het
dit een kyk gegee en gedink “oor my dooie liggaam”. Maar dit was lank voor die
tweede week van die Desembervakansie.) En die res van haar Kersgeskenke, wat
ons al meer as ‘n maand in die kombuis wegsteek, het sy weens omstandighede
buite ons beheer reeds op St Nikolaus-dag gekry. (Lang storie.)
Die gevolg is, Saterdag
voor Kersfees sit ek en vrou- en kindlief 8:00 af Menlyn toe om 8:30 te wees.
“Hulle sal spesiale Kersgety-tye hê, maak gou
Annieka, ek ry oor drie minute, kam die kind se hare, borsel haar tande en trek
haar aan, ek ry oor twee minute, is jy nog steeds nie aangetrek nie, waar’s my
beursie.”
Die gedagte, denkend aan
verlede jaar se katastrofe, was dat ons Klaradyn by Ouma en Oupa los terwyl ons
gou oorhoop mall toe vir die shopping, maar hulle het Vrydagaand laat
val dat hulle self Saterdag strate toe gaan vir hul Kersinkopies.
Ek wil-wil begin opsien
na die oggend. Ek onthou hoe het ons verlede jaar gependel tussen Game (vloer 3 vlak 5 vleuel C) en die
hipermark (vloer 1, vlak 2 vleuel D, ses dagreise te perd vêrder) om pryse te
vergelyk. Game het gelukkig hul X-mas specials op ‘n pamflet by die deur gehad en dit was gou duidelik
waar die specialste special was. Pa
moes toe die ses dagreise te perd met die voet deur die malende menigte aanpak
terwyl Ma en Klaars elders wag sodat Kindlief nie sien wat Kersvader gaan bring
nie.
Nou is dit mos hoe dit
met hierdie specials werk: iewers is
daar in fynskif only while stocks last.
En teen die Saterdag voor Kersfees verlede jaar het die stocks van daardie betrokke Kersverrassing nie ge-last nie.
Met die dat ek Annieka
bel om te hoor waar hulle is, lui haar selfoon iewers tussen die menige pakkies
in my arm…
Maar ek volstaan en brei
nie uit nie. Genoegsaam om te noem dat ek hulle meer as ‘n uur later in
Woolworths opgespoor het. En dis nie dat ek hulle raakgesien of raakgeloop het
nie; ek het my kind raakgehóór — raak gehoor skréé, tussen ‘n Babelse
verwarring en Jingle Bell Rock Around The
Clock oor die luide luidsprekerstelsel.
Maar dis 2007 gewees.
Vanjaar is 2008. Ek en Annieka het fluisterend ‘n strategiese maneuver bedink
en selfs seker gemaak die selfone is volstrekte gelaai. Die oggend se
navigasie, roetekaart en besoekpunte is gememoriseer en ek kan selfs vir jou sê
voor watter rak in Boardmans Annieka
haar om 9:30 gaan bevind.
Ons kry vanjaar selfs
parkering vlak voor die voordeur — as daar ‘n rooi tapyt was, sou ons aan die
end van hierdie stukkie sterbehandeling gewees het, so naby. Ek sien myself
teen 10:00 in die swembad met, in die gees van Kersfees, ‘n tjoppie oor die
kole ‘n rukkie later.
Nee, hulle het nie
spesiale Kersgety-inkopietye nie; dis ons drie en enkele werknemers in die
onderskeie winkels uniforms wat bedremmeld voor die toe deure rondhang. Voor
Edgars trek ‘n Kersvader sienderoë vir Klaradyn sy Kersvaderpak en baard aan.
Maar ek laat my nie
onderkry nie. Die Moolmans laat hul nie van stryk kry nie. Die eetplekke SAL
oop wees. En IS. ‘n Kerngesonde ontbyt in Juicy
Lucy, net die ding om stamina te bou,
is ons voorland.
Die mense sloer so
bietjie, al is ons die enigste kliënte. Straks is die kaas nog nie alles
gerasper en sukkel hulle met die oonde om warm te word.
Teen 9:30, toe die gange
buitekant begin herinner aan tien minute na die wederopstanding van elke mens
wat nog ooit die aarde bewandel het, die Kersvader voor Reggies herinner aan ‘n nat gelekte rooi stokkielekker in die stof,
die kinder en kleintjies koek soos ‘n kolonie rooimiere om hom, beleef ek ‘n
oomblik van ongekende helderte: “Gaan jy solank om tyd te spaar, dan kry jy ons
in Exclusive Books. En as ons nie
daar is nie, in die CNA. Vandaar sal
ons ons weg oopveg na Bargain Books, of
wat daai plek daar bo naby die flieks ook al genoem word.”
En van daai oomblik af is
dit asof Kersvader en sy elfies die een na die ander Poker-hand Aces High stel kaarte in my palms deel.
Toe ek ewe stout en
speels vir vroulief teen die roltrap af ‘n soentjie stuur, wie sien ek aan die
oorkant inbeweeg by House of Coffees?
Ouma en Oupa. ‘n Ouma en Oupa wat dit altoos so geniet om hul enigste kleinkind
te sien. En by hulle te hê, as pa gou afhop na onder om iets vir Mamma te kry.
Ai mense, en daar loop ek
in 60 sekondes iets raak wat ek dadelik weet net reg is en sal herinner aan
iets wat lyk asof ek dae en weke daarna loop soek het. (Dis vir Annieka
belangrik.) Maar so maklik kan dit nie wees nie. Ek sê vir die vrou om die ding
te bêre, ek kóm hom koop, later vanoggend, gaan net geld trek en ander pakkies
eers afhandel. Ek shop heerlik met
die oog, maar ‘n driekwart uur later is dit steeds duidelik, die pakkie wat lê
en wag, is die pakkie wat dit sal wees.
Ek sluit by Klaradyn en
die skoonouers aan net mooi toe die poppie haar suiglekkertjies saam met die strokie
uitdeel.
Vandaar is dit Pappa en
Klaars en Exclusives se
kinderboekafdeling. Kyk, as dit nie was vir dor tannies en geldgierige ooms wat
heeljaar in winkelsentrums rondloop op soek na klein kindertjies om te steel
nie, kan ons Klaradyn, van 3 af al, net in die kinderboekruimte van Exclusives aflaai, gaan fliek en koffie
en window shop na die tyd, en haar
drie ure later met geweld daar wegsleep.
In ‘n stadium psst iemand
hier van die oorkantse rak vir my. Ek dog eers dis ‘n los gelukkie wat hierdie
respektabele pa in die versoeking wil lei, maar nee, dis Annieka, rooi en
natgesweet, sy soek die sleutels om pakkies in die kar te sluit, Klaradyn moet
haar net nie nou sien nie.
‘n Halfuur later val daar
weer ‘n boek hier van bo langs my neer. Weer Annieka, rooier en natter as
netnou, loer na my van bo die Teen
Fiction. Sy soek geld. Ek gee met ‘n oop en ruim hand.
‘n Ruk later, en hoewel
Klaars nog heel gelukkig is, begin Pa al dink aan aanbeweeg na die volgende
boekwinkel, verskyn my vrou hygend en voetseer vanuit ‘n ander hoek. Ek raak
roekeloos en gee haar my debietkaart. Sy ken die nommer.
12:30 kon sleep sy en
Ouma en Oupa ons daar uit vir ‘n vinnige roomys.
Ek stel voor ons mans
gaan huis toe in een kar terwyl ma en dogter die laaste afrondingswerk doen.
Maar my skoonpa is nie so gelukkig soos ek nie — hy sal maar vir die res van
die dag elke keer getrou buite die deure wag terwyl sy vrou binne spoeg en
spartel op soek na die laaste Christmas
Specials.
Ek, wat my betref, het
nooit so lekker ge-Christmas shop
nie, en sien halsreikend reikhalsend uit na Pappa en Klaars se 2010 besoek aan Exclusive Books. Waarlik ‘n tyd van rus
en vrede.
No comments:
Post a Comment