19.12.11

Christmas Past (3)


“Ou Niek,” het ek op Boere Afrikaans mee groot geword, is ‘n eufemistiese en meer idiomatiese benaming vir die duiwel, Satan of Lucifer.

Met ‘n Duitse juffrou vir ‘n mamma, word Klaradyn egter groot met ‘n ander vorm en verbuiging van die Afrikaanse Nicolaas/Niklaas/Nico en sing sy al van drie af op die wysie van Jingle Bells die Duitse “Nicolaus, Nicolaus, pak die Taschen aus.”

My kennis van Duits is beperk tot donnerwetter, ich liebe dich, en schweinehund, maar soos ek dit het en aflei, sing ma en dogter dan van sakkies en pakkies wat op St Nicolaus-nag uitgesit word vir Nicolaus om met geskenkies te vul.

So moet Klaradyn dan nou ook getrou op die aand van 5 Desember ‘n skoen voor die deur sit wat Oom Nicolaus dan vul met ‘n ietsie klein.

Ek moet tog onthou dat ek verlede jaar op Boekevat gelees het die Hollanders bring nog ‘n versie of gediggie of iets soortgelyks in wat Nicolaus (en ek vermoed vir hulle eerder Sinterklaas) in die skoen los. Dit sal Annieka se verbeelding nuwe uitbreidingsmoontlikhede gee — niks demp haar entoesiasme om haar te beperk tot ‘n tradisie uit die koue Germanië nie, en soos dit met tradisie en oorlewering is, pas elkeen hom mos maar na eie behoeftes en geleenthede aan. In ons huis word elke Nussknacker en Räucher Mannetjie, van die kombuisdeur, oor die tafel en af in die gang tot by Klaradyn se kamer gepak, sodat hulle, ounag wanneer ons almal slaap, vir Oom Nicolaus die pad kan aandui na haar kamer en rooi reënsteweltjies toe.

(Die stomme Nicola, wat ‘n tuinwoonstel by ons huur, het onvermydelik vir Klaradyn “Tannie Nicolau” geword, en dis verniet of ons dit uit haar kan uitkry. Tannie Nicolau is ongetwyfeld familie van Oom Nicolaus, ás sy nie sy vrou is nie, en Klaradyn het vir haar die hoogste agting, ontsag en bewondering.)

Nou sê ek weer, ek meng nie in met Mamma se programmering van Klaradyn se kinderbrein nie, maar dit klink vir my Sint Nicolaus is ‘n oom wat om die wêreld stap, en slegs as die kinders deur die loop van die jaar baie soet was, plaas hy vyf Desember pakkies in hul skoene.

Te gevaarlik en volksvreemd kan dit nie wees nie. Die gebore en getoë geswore ateïste wat hul kind (en ek sal my daarvan weerhou om na hierdie kind as hul geskenkie van God te verwys) saam met Klaars in die skool het, ag hul Niklaas onskuldig genoeg om die res van ons selfs op 6 Desember na hul Nicolaas/Niklaas/Sinterklaas-partytjie te nooi, wanneer hul seun dan kry, presies dit wat Klaradyn en die ander maatjies rondom Kersfees kry.

Dat die (meer duiwelse) Niek en Niklaas, Nicolaus, Nicolaas, Sinterklaas en Santa Claus(e?) iewers in die folklore van die fverlede ‘n gemeenskaplike stamvader het, klink vir my op die oor af heel waarskynlik. Of jy nou 5 Desember ‘n skoen voor jou deur, of 24 Desember ‘n kous aan jou bedstyl in die gereedheidshouding kry, is ses van die een en ‘n half dosyn van die ander.

Dat dit egter eerder Ou Niek, en beslis nie die nimlike Oom Nicolaus nie, was wat die nag van 5 Desember by ons ingeloer het, is ‘n feit soos ‘n koei.

Dis die laaste dag van die skooljaar (en elke laaste dag van enige skoolkwartaal breek altyd net een week, dikwels twee weke, te laat aan. Benewens dit wag ons nou al vir meer as twee maande vir hierdie dag om aan te breek. Nie omdat die skool sluit nie, onnies moet in elk geval nog vir twee dae langer by die skool gaan sit, omdat Madagascar 2 hierdie dag landwyd in die rolprentteaters begin draai. En toe die koerant se fliekgids kwart voor ses aankondig, is Pappa kwart voor vyf voor in die ry vir die gesin se kaartjies.

Pappa onthou maar al te goed hoe hy as verliefde ou/jong-man (seker maar oujongkêrel, maar dit klink so rof op die oor) jare gelede by presies dieselfde teaters so op 14 Februarie in die ry gestaan het vir die lang verwagte vrystelling van Romeo and Juliet. (Die een met Kate Winslet en Leonardo de Caprio.)

Elke verliefde paartjie, hormoon en feromoon in die omtrek van ‘n 100 km-radius was daardie aand saam met ons in die tou. Ons het stampvol, verlief, in die tweede ry van voor langs ‘n Engels-magtige tannie en haar dowe Engels-onmagtige vriendin uit een of ander Oosblok-land, sitplek vir ons ghaaate gekry. (Die kleuterskool-juffrou wil nie dat haar kinders van gat en gatte praat nie, nou praat die hele geslote kleuterskoolgemeenskappie en hul gesinne al van ghaat en ghaaate.)

Hoe ek dit weet en onthou, is, die buurtannie moes die volle drie ure van die fliek in sterk Oos-bloks aan haar hardhorende Shakespeare-Engels-onmagtige gesellin vertaal aanbied. En die dowe een van die twee (waarom praat dowe mense altyd harder as die res van ons) het ook nie gehuiwer om elke drie minute in Oos-bloks te vra presies wat nou gebeur nie.

Ewenwel, daar staan Pappa toe van kwart voor vyf tot knap na half ses vingeralleen voor ‘n geslote kaartjiekiosk (Mamma-hulle is boekwinkel toe) en ons is op die ou einde nie 23 mense in die teater nie.

Na die fliek wil Pappa ook eers boekwinkel toe, dis die begin van die somervakansie, my magtig man. 5 sprokies en 4 pakke kinderkaarte (Klaradyn moet hierdie vakansie leer van Old Maid, Go Fish, Donkey en die ander kindergunstelinge) later is ons huis toe.

Tuis, skoene uitgeskop en op die bed, is ek deeglik bewus hoe die Nussknackers en rauceher manhen, geposisioneer word om vir Nicolaus die pad aan te dui. ‘n Rukkie later hoor ek daar word vervaard vir skoene gesoek, maar ek hou my ore doof en lyf doodmoeg toe Vroulief se gesprek met Klaradyn duidelik daarop dui dat Pappa sal moet opstaan om Klaradyn se reënsteweltjies  in die waskamer te gaan haal.

Krag om twee van die vyf sprokies te lees, het ek altyd, maar dan is dit Annieka se beurt om by my oor te neem. Ek gaan wag voor die TV vir haar om by my aan te sluit as Klaradyn slaap. Waar ek self toe nou ook aan die slaap val, en ure later, in die verby strompel kamer toe, opmerk Annieka het op haar beurt in Klaradyn se arms aan Morpheus oorgegee. (Dis die laaste dag van ‘n skooljaar gewees, onthou.)

Wanneer sy, en duidelik ook Klaradyn, deur die loop van die nag by my op die dubbelbed aangesluit het, weet ek nie, maar toe ek half ses my oë oopmaak is die twee slapende skones langs my, en ‘n prins sal sy soen moet ken om hulle wakker gesoen te kry.

Of so het ek gedink, maar dan is dit mos hoe dit met vrouens is (ek hoop wragtig nie dis net Annieka nie) hulle het mos hierdie wonderlike vermoë om te lyk asof hulle slaap as en wanneer dit vir hulle gerieflik en geleë is om te lyk asof hulle slaap. Toe my voet egter grond raak, fluister sy iets hier vanuit haar newels in my newels.

Ek is nog nie mooi by nie en ek dink sy is by Nico, die skool se atletiekafrigter wat gister met sy atlete op ‘n oefenkamp vertrek het (in die heilige Kersvakansie, kan jy dit oorvertel!)

Midde die vroegoggend misverstand is ons 100% sagte gefluister kort voor lank ook nie meer ‘n te sagte gefluister nie, en net toe ek uiteindelik begin snap dat Nico al die tyd Nicolaus is, en dat Annieka aan die slaap geraak het sonder om sy pakkie in die paar pienk Crocs voor die prinses se kamerdeur te sit, spring Klaradyn, wat soos haar ma gewoonlik soggens tien na vyftien minute vat om na behore wakker te word, kiertsregop en voor jy kan sê mes is sy op en uit en af in die gang.

“Julle het vir my gejok,” is die woorde wat ons ‘n breukdeel van ‘n sekonde later begroet.

O, en soos Fiela Komotie ons in Fiela se kind geleer het: ‘n onreg wat jy teenoor ‘n kind pleeg, is ‘n onreg wat die Here jou nooit sal vergewe nie. (Of so iets.)

Ek en Annieka se tegelyk dat dit nog te vroeg is, kyk dis nog nie eers mooi daglig nie, ons moet vêrder slaap, Oom Nicolaus sal nog kom.

Dit is vir Klaradyn heel aanneemlik en sy is dadelik terug in die bed by ons. En maak ek my oog oop, dan kom dit dringend, asof dit Annieka is wat praat, van Klaradyn:  “Slaap!”. En as Annieka waag om net haar een been uit die bed te lig, dan klink Klaradyn weer kompleet soos ek wat sis:  “Slaap!”

So hou dit vir goed ‘n kwartier aan en Klaradyn besef sy gaan ons nie aan die slaap kry nie, ons besef Klaradyn gaan nie weer slaap nie en die son skyn sy strome van verblindende seën reguit in ons kamer in.

Die volgende vyftien minute verloop surrealisties. In Engels kan ons nie meer oorslaan nie, Klaradyn verstaan verdomp alles, selfs ‘n kommen Boerse Engels tel sy op. So het ons grepe in Afrikaans, afgewissel met Annieka se Duits, Hans se poging tot Oud-Nederlands en Klaradyn se bevelende “Slaap!” elke kort-kort tussen in. Woorde en sinsnedes wat in Duits én my geïmproviseerde Hoog-Hollands te veel op Afrikaans trek, éss-péé-él (spel) ek Annieka vir mekaar.

En nou is ek Annieka soos twee honde wat trek aan dieselfde been — elkeen wil sy eie rigting in.

Ek wil dat ons die datum verkeerd had, dis eers môre! (EM-OOO-ERR-EE!)

En sy wil die man bang hê vir die drie Spanjoele wat in die kombuis slaap.

Ai, en ek haal my hoed vir my vrou af, en ek salueer haar.

Op die ou einde spring sy maar by die diepkant in en af is sy in die gang, Klaradyn, soos die dood op haar hakke.

Die eerste wat sy sien toe sy die kombuis tref, is haar selfoon op die blad, en jou wraggies, kan jy dit glo, daar is ‘n SMS van Oom Nicolaus. “Ja, hy was hier, maar hy was bang vir die honde in die kombuis en wou nie vêrder nie!”

Ook dit is vir Klaradyn se gemoed heel aanneemlik. Maar nou moet die pakkie nog gekry word. En dis ‘n ietsie klein. Toegesluit in die kar se kattebak. In die garage.

Ai, en dis hier waar die ongemaklikheid inskop. Sy onthou toe die KersfeespakkieS (met ‘n hoofletter –s aan die einde om meervoud en baie rande aan te dui — vir 24 Desember, die kersie op die koek, die klimaks, drie weke láter) wat ons al meer as ‘n maand agter die kombuiskas se groenterak wegsteek.

En sy gaan ruk die haas, of sal ek sê hase, uit die hoed.

Hoe die stomme donder al daardie dure pakkies in ‘n paar nommer 6 kinder-Crocs sou wou kry, weet ek nie.

Maar gelukkig vra Klaradyn nie.

En dis snaaks hoe kinders is?

Dit pla haar geensins dat hy per SMS te bang vir die honde was om in die kombuis te kom, en tog vlak voor hul neuse moes verby tip-toe om drie moerse Toys-R-Us-, Reggies- en Woolworths-pakkies agter die patats in te prop nie.

No comments: