“Ou Niek,”
het ek op Boere Afrikaans mee groot geword, is ‘n eufemistiese en meer
idiomatiese benaming vir die duiwel, Satan of Lucifer.
Met ‘n
Duitse juffrou vir ‘n mamma, word Klaradyn egter groot met ‘n ander vorm en
verbuiging van die Afrikaanse Nicolaas/Niklaas/Nico en sing sy al van drie af
op die wysie van Jingle Bells die
Duitse “Nicolaus, Nicolaus, pak die Taschen aus.”
My kennis
van Duits is beperk tot donnerwetter,
ich liebe dich, en schweinehund, maar soos ek dit het en
aflei, sing ma en dogter dan van sakkies en pakkies wat op St Nicolaus-nag
uitgesit word vir Nicolaus om met geskenkies te vul.
So moet
Klaradyn dan nou ook getrou op die aand van 5 Desember ‘n skoen voor die deur
sit wat Oom Nicolaus dan vul met ‘n ietsie klein.
Ek moet tog
onthou dat ek verlede jaar op Boekevat gelees
het die Hollanders bring nog ‘n versie of gediggie of iets soortgelyks in wat
Nicolaus (en ek vermoed vir hulle eerder Sinterklaas) in die skoen los. Dit sal
Annieka se verbeelding nuwe uitbreidingsmoontlikhede gee — niks demp haar
entoesiasme om haar te beperk tot ‘n tradisie uit die koue Germanië nie, en
soos dit met tradisie en oorlewering is, pas elkeen hom mos maar na eie
behoeftes en geleenthede aan. In ons huis word elke Nussknacker en Räucher
Mannetjie, van die kombuisdeur, oor die tafel en af in die gang tot by Klaradyn
se kamer gepak, sodat hulle, ounag wanneer ons almal slaap, vir Oom Nicolaus
die pad kan aandui na haar kamer en rooi reënsteweltjies toe.
(Die stomme
Nicola, wat ‘n tuinwoonstel by ons huur, het onvermydelik vir Klaradyn “Tannie
Nicolau” geword, en dis verniet of ons dit uit haar kan uitkry. Tannie Nicolau
is ongetwyfeld familie van Oom Nicolaus, ás sy nie sy vrou is nie, en Klaradyn
het vir haar die hoogste agting, ontsag en bewondering.)
Nou sê ek
weer, ek meng nie in met Mamma se programmering van Klaradyn se kinderbrein
nie, maar dit klink vir my Sint Nicolaus is ‘n oom wat om die wêreld stap, en
slegs as die kinders deur die loop van die jaar baie soet was, plaas hy vyf
Desember pakkies in hul skoene.
Te
gevaarlik en volksvreemd kan dit nie wees nie. Die gebore en getoë geswore
ateïste wat hul kind (en ek sal my daarvan weerhou om na hierdie kind as hul
geskenkie van God te verwys) saam met Klaars in die skool het, ag hul Niklaas
onskuldig genoeg om die res van ons selfs op 6 Desember na hul
Nicolaas/Niklaas/Sinterklaas-partytjie te nooi, wanneer hul seun dan kry,
presies dit wat Klaradyn en die ander maatjies rondom Kersfees kry.
Dat die
(meer duiwelse) Niek en Niklaas, Nicolaus, Nicolaas, Sinterklaas en Santa
Claus(e?) iewers in die folklore van die fverlede ‘n gemeenskaplike stamvader
het, klink vir my op die oor af heel waarskynlik. Of jy nou 5 Desember ‘n skoen
voor jou deur, of 24 Desember ‘n kous aan jou bedstyl in die gereedheidshouding
kry, is ses van die een en ‘n half dosyn van die ander.
Dat dit
egter eerder Ou Niek, en beslis nie die nimlike Oom Nicolaus nie, was wat die
nag van 5 Desember by ons ingeloer het, is ‘n feit soos ‘n koei.
Dis die
laaste dag van die skooljaar (en elke laaste dag van enige skoolkwartaal breek
altyd net een week, dikwels twee weke, te laat aan. Benewens dit wag ons nou al
vir meer as twee maande vir hierdie dag om aan te breek. Nie omdat die skool
sluit nie, onnies moet in elk geval nog vir twee dae langer by die skool gaan
sit, omdat Madagascar 2 hierdie dag
landwyd in die rolprentteaters begin draai. En toe die koerant se fliekgids
kwart voor ses aankondig, is Pappa kwart voor vyf voor in die ry vir die gesin
se kaartjies.
Pappa
onthou maar al te goed hoe hy as verliefde ou/jong-man (seker maar oujongkêrel,
maar dit klink so rof op die oor) jare gelede by presies dieselfde teaters so
op 14 Februarie in die ry gestaan het vir die lang verwagte vrystelling van Romeo and Juliet. (Die een met Kate
Winslet en Leonardo de Caprio.)
Elke
verliefde paartjie, hormoon en feromoon in die omtrek van ‘n 100 km-radius was
daardie aand saam met ons in die tou. Ons het stampvol, verlief, in die tweede
ry van voor langs ‘n Engels-magtige tannie en haar dowe Engels-onmagtige
vriendin uit een of ander Oosblok-land, sitplek vir ons ghaaate gekry. (Die kleuterskool-juffrou wil nie dat haar kinders
van gat en gatte praat nie, nou praat die hele geslote
kleuterskoolgemeenskappie en hul gesinne al van ghaat en ghaaate.)
Hoe ek dit
weet en onthou, is, die buurtannie moes die volle drie ure van die fliek in
sterk Oos-bloks aan haar hardhorende Shakespeare-Engels-onmagtige gesellin
vertaal aanbied. En die dowe een van die twee (waarom praat dowe mense altyd
harder as die res van ons) het ook nie gehuiwer om elke drie minute in
Oos-bloks te vra presies wat nou gebeur nie.
Ewenwel,
daar staan Pappa toe van kwart voor vyf tot knap na half ses vingeralleen voor
‘n geslote kaartjiekiosk (Mamma-hulle is boekwinkel toe) en ons is op die ou
einde nie 23 mense in die teater nie.
Na die
fliek wil Pappa ook eers boekwinkel toe, dis die begin van die somervakansie,
my magtig man. 5 sprokies en 4 pakke kinderkaarte (Klaradyn moet hierdie
vakansie leer van Old Maid, Go Fish,
Donkey en die ander kindergunstelinge) later is ons huis toe.
Tuis,
skoene uitgeskop en op die bed, is ek deeglik bewus hoe die Nussknackers en
rauceher manhen, geposisioneer word om vir Nicolaus die pad aan te dui. ‘n
Rukkie later hoor ek daar word vervaard vir skoene gesoek, maar ek hou my ore
doof en lyf doodmoeg toe Vroulief se gesprek met Klaradyn duidelik daarop dui
dat Pappa sal moet opstaan om Klaradyn se reënsteweltjies in die waskamer te gaan haal.
Krag om
twee van die vyf sprokies te lees, het ek altyd, maar dan is dit Annieka se
beurt om by my oor te neem. Ek gaan wag voor die TV vir haar om by my aan te
sluit as Klaradyn slaap. Waar ek self toe nou ook aan die slaap val, en ure
later, in die verby strompel kamer toe, opmerk Annieka het op haar beurt in
Klaradyn se arms aan Morpheus oorgegee. (Dis die laaste dag van ‘n skooljaar
gewees, onthou.)
Wanneer sy,
en duidelik ook Klaradyn, deur die loop van die nag by my op die dubbelbed
aangesluit het, weet ek nie, maar toe ek half ses my oë oopmaak is die twee
slapende skones langs my, en ‘n prins sal sy soen moet ken om hulle wakker
gesoen te kry.
Of so het
ek gedink, maar dan is dit mos hoe dit met vrouens is (ek hoop wragtig nie dis
net Annieka nie) hulle het mos hierdie wonderlike vermoë om te lyk asof hulle
slaap as en wanneer dit vir hulle gerieflik en geleë is om te lyk asof hulle
slaap. Toe my voet egter grond raak, fluister sy iets hier vanuit haar newels
in my newels.
Ek is nog
nie mooi by nie en ek dink sy is by Nico, die skool se atletiekafrigter wat
gister met sy atlete op ‘n oefenkamp vertrek het (in die heilige Kersvakansie,
kan jy dit oorvertel!)
Midde die
vroegoggend misverstand is ons 100% sagte gefluister kort voor lank ook nie
meer ‘n te sagte gefluister nie, en net toe ek uiteindelik begin snap dat Nico
al die tyd Nicolaus is, en dat Annieka aan die slaap geraak het sonder om sy
pakkie in die paar pienk Crocs voor
die prinses se kamerdeur te sit, spring Klaradyn, wat soos haar ma gewoonlik
soggens tien na vyftien minute vat om na behore wakker te word, kiertsregop en
voor jy kan sê mes is sy op en uit en
af in die gang.
“Julle het
vir my gejok,” is die woorde wat ons ‘n breukdeel van ‘n sekonde later begroet.
O, en soos
Fiela Komotie ons in Fiela se kind geleer
het: ‘n onreg wat jy teenoor ‘n kind pleeg, is ‘n onreg wat die Here jou nooit
sal vergewe nie. (Of so iets.)
Ek en
Annieka se tegelyk dat dit nog te vroeg is, kyk dis nog nie eers mooi daglig
nie, ons moet vêrder slaap, Oom Nicolaus sal nog kom.
Dit is vir
Klaradyn heel aanneemlik en sy is dadelik terug in die bed by ons. En maak ek
my oog oop, dan kom dit dringend, asof dit Annieka is wat praat, van Klaradyn: “Slaap!”. En as Annieka waag om net haar een
been uit die bed te lig, dan klink Klaradyn weer kompleet soos ek wat sis: “Slaap!”
So hou dit
vir goed ‘n kwartier aan en Klaradyn besef sy gaan ons nie aan die slaap kry
nie, ons besef Klaradyn gaan nie weer slaap nie en die son skyn sy strome van
verblindende seën reguit in ons kamer in.
Die
volgende vyftien minute verloop surrealisties. In Engels kan ons nie meer
oorslaan nie, Klaradyn verstaan verdomp alles, selfs ‘n kommen Boerse Engels
tel sy op. So het ons grepe in Afrikaans, afgewissel met Annieka se Duits, Hans
se poging tot Oud-Nederlands en Klaradyn se bevelende “Slaap!” elke kort-kort
tussen in. Woorde en sinsnedes wat in Duits én my geïmproviseerde Hoog-Hollands
te veel op Afrikaans trek, éss-péé-él
(spel) ek Annieka vir mekaar.
En nou is
ek Annieka soos twee honde wat trek aan dieselfde been — elkeen wil sy eie
rigting in.
Ek wil dat
ons die datum verkeerd had, dis eers môre! (EM-OOO-ERR-EE!)
En sy wil
die man bang hê vir die drie Spanjoele wat in die kombuis slaap.
Ai, en ek
haal my hoed vir my vrou af, en ek salueer haar.
Op die ou
einde spring sy maar by die diepkant in en af is sy in die gang, Klaradyn, soos
die dood op haar hakke.
Die eerste
wat sy sien toe sy die kombuis tref, is haar selfoon op die blad, en jou
wraggies, kan jy dit glo, daar is ‘n SMS van Oom Nicolaus. “Ja, hy was hier,
maar hy was bang vir die honde in die kombuis en wou nie vêrder nie!”
Ook dit is
vir Klaradyn se gemoed heel aanneemlik. Maar nou moet die pakkie nog gekry
word. En dis ‘n ietsie klein. Toegesluit in die kar se kattebak. In die garage.
Ai, en dis
hier waar die ongemaklikheid inskop. Sy onthou toe die KersfeespakkieS (met ‘n
hoofletter –s aan die einde om meervoud en baie rande aan te dui — vir 24 Desember,
die kersie op die koek, die klimaks, drie weke láter) wat ons al meer as ‘n
maand agter die kombuiskas se groenterak wegsteek.
En sy gaan
ruk die haas, of sal ek sê hase, uit die hoed.
Hoe die
stomme donder al daardie dure pakkies in ‘n paar nommer 6 kinder-Crocs sou wou kry, weet ek nie.
Maar
gelukkig vra Klaradyn nie.
En dis
snaaks hoe kinders is?
Dit pla
haar geensins dat hy per SMS te bang vir die honde was om in die kombuis te
kom, en tog vlak voor hul neuse moes verby tip-toe
om drie moerse Toys-R-Us-, Reggies- en
Woolworths-pakkies agter die patats in te prop nie.
No comments:
Post a Comment