Ook net twee keer ‘n
jaar, iewers in die winter- en dan weer in die somervakansie (soos vroeër
vandeesmaand weer) dat ek die geleentheid het om een van my meer persoonlike en
andersoortige lekkerste van lekkers te beleef: ek trek my en Annieka se karre
in die motorhuis.
Ja, vanoggend was dit
sommer net nog ‘n garage, maar nou is
dit nege, tien ure later, ék stink aan sweet, maar die tires (want aan die karre
kon ek niks doen nie) maak so ‘n skril wrywende skuurgeluid, kenmerkend aan
motors wat in kliniese wit operasieteaters, met groen geverfde, of selfs
geteëlde vloere, parkeer word.
En vir ‘n week, maksimum
twee, kán ‘n mens maar van die vloer af eet, die boor op sy plek, die hark aan
sy haak en die vier verlengkoorde netjies opgerol, kry. ‘n Maand later, moet
dit wat jy ook al wil boor, hark of elektrifiseer, maar oorstaan tot ná die
volgende somer- of wintervakansie, afhangende van watter een eerste kom.
Dis ses jaar later, en
die los geut is nog nie geheg nie, die stortdeur nie vervang nie, en die
onderdeur wat swel van die reën, ook nog nie afgeskuur nie.
Aan die ander kant, die
eerste wat ek gedoen het, destyds toe ons ingetrek het, was om kort duskant die
100 vierkante meter se rakoppervlakte in die motorhuis aan te bring. En nóú sal
dit beter wees as ons spesiale risikoversekering op die voertuie uitneem: daar, in die dak, waar in ‘n vroeëre bedeling
talle rugstringbiltonge gehang het, hang nou beddens, spieëls, matrasse, pramme
(maak dit maar liewer prams) en
etlike ander motorbedreigende items wat lankal nie meer stáánplek kan vind op
die etlike vierkante meters dennehoutrakke nie, maar aan draad en tou en tie-backs, tevrede moet wees met hángplek.
Ek gaar, Annieka gaar,
Klaradyn gaar. Ék gaar in my kar. Annieka gaar in háár kar, Klaradyn in haar pram. En elke maand word, wát ook al úit
die karre moet kom, om plek te maak vir wat ook al in die volgende maand ín die
karre moet kom, tussen die vorige maande se motor-gaar, saam met die
huishoudelike en ander gaar, gegaar.
Sesmaandeliks dan, word
die sleepwa, tuinier, kruiwa en ma, rommelwa en pa (asook deesdae Klaars en
haar plastiek-kruidenierstrollie) ingespan, om net weer vir die karre in die garage oornag-parkeerplek te maak.
Dis ‘n dag, ‘n volle dag
(op góéie dae, ás ons gelukkig is) se werk.
Klaradyn ontdek soveel speelgoed,
sy vermaak haarself met die herontdekte skatte in die trollie.
Annieka lees elke
papiertjie, traktaatjie en pamflet van die vorige ses maande sorgvuldig deur;
my hopies gaan onaangeraak vullishoop toe. (Wat ek in ses maande nie gemis het
nie, gaan ek nie meer nodig kry nie, óf was ek lankal klaar in die moeilikheid
oor — dit help nie ek spoor dit nou op nie). Ek en Petrus/James/Paul/Mathew, na
gelang van watter Nuwe-Testamentiese figuur die ouers gekies het om in die
herinnering te roep, pendel asgate toe en terug.
Lunch-tyd eet ons almal pies onder die
lapa en skat elkeen stilweg hoeveel ure lê nog voor.
Laat-agtermiddag,
vroegaand trek ek dan die karre in, en, soos met gister se heimwee na jogurt,
neem ‘n ontsettende behoefte of verlange van my gees besit.
In vyf en twintig jaar
het ek dit ook nog net een keer weer gedoen, en dít is ook al meer as vyftien
jaar terug.
Waar is die dae wat ons
Donderdagmiddae in ons blink jogger-pants
ingespring en die garage opgeruim het, hom Vrydagmiddae
versier het en daardie aand ge-garage-paartie
het tot knap voor huis toe gaan tyd as die laaste gloeilampe uitgedraai is en
ons close-dans op Heart
(you’re driving me crazy… save
your love for somebody new..)? Of enige een of ander slow moving ietsie wat in die vroeë tagtigs al kon deurgaan as ‘n golden
oldy.
Trek ek dan nou, jare
later, my kar in, brand ek elke keer om:
- lakens en komberse met duimdrukkers voor die rakke vas te steek
- die grassnyer, stukkende naaimasjiene en stoele uit te dra
- crinkle paper om die fluoressent lig te draai
- staanplek te maak vir die CD-speler (laat dit dan maar ‘n CD-speler wees, met elke denkbare compilation van die laat sewentiger-, vroeë-tagtigerjare)
-
tafels vir eet- en drinkgoed in die gereedheid te kry
In die kring waarin ek
beweeg het, was die drinkgoed altyd (met slegs een uitsondering na) botteltjies
Coke, Fanta en een of ander Sparletta. Daarom sal ek die hout
koeldrank-kratjies wat ons onlangs aangeskaf het, opvul met kouedrank
(weliswaar in plastiekbottels, en nie die glasbotteltjies van ouds, wat met
soveel sorg opgepas is, sodat ons dit na die tyd kan gaan inruil vir ons deposit nie.
Eetgoed:
- Renown Weense worsies op peuselstokkies (Onthou iemand anders nog die advertensie oor Springbok-radio met hierdie frase in?)
- ‘n “Krimpvarkie”, met rooi, geel en groen cocktail uitjies, kasies, blokkies ham en gherkins, ingeryg op tandestokkies en “keurig” staangemaak in een of ander lemoen of omgedopte halwe spanspek of ding.
- Baie tjips.
- Geen gekoopte doopsous in ‘n pakkie of bakkie nie, nee, tamatiesous, chutney en mayonnaise gemeng met wat ook al daar in die huis is (en ‘n knippie Fondor)
-
Bakkies grondboontjies gemeng met rosyntjies.
Ek onthou wragtig niks
soets nie.
In die tuin is daar
draadstoele (wat in die grond wegsak as sy op jou skoot kom sit; maar in 2009
sak ek, alleen, al in die grond weg nog voor Annieka nog net in my rigting kyk,
of daaraan dink om op my skoot te kom sit).
In die bome is ‘n string blou en rooi en geel en groen ligte, ingeryg aan ‘n
swart kragkabel. (In hierdie tyd en dae sal ons darem nie meer ‘n bekommerde pa
hê wat hierdie ligte vinniger vervang en indraai, as wat ons hulle uitdraai
nie.)
Die getroude couples wat ek nooi sal almal unisex kom.
Is dit winter, sal daar ‘n hele paar polo-nek-truie
wees.
Ek het so goed gevoel in
my swart hoë(-erige)hakskoene, swart kouse, swart broek en swart polo-nek. (Wat het geword van die
silwerige The Saint-kettinkie wat Yvette, ‘n Desembervakansie-romanse, my een
jaar gegee het? Hy het só mooi afgewys teen die swart.) Vandag klink dit “tapid”.
Die vrouens sal hul sakke
en dinge almal in Klaradyn se kamer gaan bêre. Nogal jammer dat jy nêrens êrens
meer ‘n geblokte Sarah Moon- geblokte
poster sal kan opspoor nie.
Ons mans sal dit dertig
jaar later (ek weet daar was seuns wat dit gedoen het, my nefie was een van
hulle) seker nie meer nodig ag om ‘n sakdoek of twee, styf opgerol, gereed te
hê om in jou dye te posisioneer vir wanneer die close plate begin speel nie. (Of sal ons nóú éérs?)
Om myself, vandag, hier,
uit te laat oor die keuse van musiek, sal moeilikheid soek wees by elkeen uit
daardie jare wat wél hier lees. ‘n Redelike mate van eenstemmigheid behoort
daar egter te wees (maar dit hang ook af van die kring waarin jy beweeg het)
rondom ABBA, hetsy nou vroeë-, middel- of laat-Abba.
Goeie, onskuldige dae was
dit gewees, wat goeie, onskuldige herinneringe terugbring as jy jare later jou
kar in die motorhuis trek.
Nie dat daar nie gesuip en
ook fyn gedraai is nie, daar ís. Maar dit was by ander, wilde partytjies waarheen
ons nie genooi is nie, waarheen ons nie gegaan het nie.
Die één beskonke seun op
‘n partytjie, wat ek onthou, ironies genoeg, was ‘n klasmaat, met die
allesseggende bynaam van Voël, wat
vallend dronk by ‘n matriek-klaspartytjie aan huis van ons registerjuffrou
opgedaag het.
Ook net ‘n enkele
matriek-partytjie (van die baie) waar ‘n groepie van die naïewe girls, naïef genoeg was om by die
gasvrou se toe kamerdeur in te stap (om hul sakke en dinge te kry) en verleë,
baie verleë, moes uitstap. (Die betrokke girl,
haar ongebore kind en, miskien was hy die pa van haar ongehude kind, het al
drie, voor sy vier maande klaar met matriek was, in ‘n motorongeluk, op pad
heen iewers ver, omgekom.)
En as ek iemand was wat
spesifieke goed vir my kind van ‘n Here afgebid het, sou dit wees, dat sy ook
eendag, oor veertig jaar van nou, genot sal put uit eenvoudige dinge, soos om
as gesin ‘n garage reg te pak; dat
herinneringe aan gesonde, onskuldige pret, vyf en twintig jaar na matriek, ook
haar hart met heimwee sal vul.
Hier waar ek haar
vanaand, tussen die paragrawe deur, gaan in-tuck
het, my verbeel het ek hoor haar roep, haar kamervenster aangedraai het,
kan ek net hoop en vertrou, in liefde, dat die opvoeding wat ek Annieka haar
bied, dit wel moontlik sal maak.
Die lewe, ‘n lewe; so
propvol kosbaar, mooi en pret, kan só maklik breek.
No comments:
Post a Comment