Is dit dan
nou grootword! Of oudword?
My een
helfte het my vandag by: “Was die afgelope Oujaarsaand, én Nuwejaarsaand in
Pretoria nie net die wonderlikste in jare nie?”
En daar
donder die ander helfte in met: “Is dit nou grootword om so daarna te kyk, of sommer net doodgewoon stokhoringoudword?”
Want ja, ons het
nege-uur gaan slaap. Een en elk van ons. En nóg ek, nóg Annieka het Oujaarsaand
enigsins gewedywer om Klaradyn in die bed te sit, en so verskoning te vind om
aan die slaap te raak. Die hele kaboedel van ons is, van Ouma-hulle af, reguit
bed toe.
Soos verlede
jaar. En die vorige jaar.
Ek het
geweet ek sal hier teen 11-uur, half-12, se kant wakker word en dan die
volgende dag se voorgereg begin.
Soos die
vorige jaar. En die vorige.
Net nie
weer ‘n herhaling van 2005 nie. Daardie jaar, Oujaar, het ek gesien hoe die
vuurwerke van die hele Pretoria 12-uur om my afgaan, vir kilometers, of wat
soos kilometers en ure gevoel het, op die snelweg oppad na ‘n
deurnag-noodveearts wat ons genadiglik ses middernagtelike noodoproepe vêrder
raakgebel het.
Ons wag nou
nog vir die vriendelike Omie-veearts, in die blok net agter ons, se respons op sy middernagtelike
selfoonboodskap, nadat sy spreekkamer-antwoordmasjien sy nommer met groot
vertroue in sy stem aan ons beskikbaar gestel het.
Aan die
ander kant, dit was etlike minute voor 12, op Oujaarsnag, en die selfoonnetwerk
seker so besig en gekruis van seënbede, -wense en ander dronkensverse, dat die
kanse ook maar skraal is dat hy ons boodskap ooit gekry het.
En Boeta
was die vorige week, knap voor Kersfees ook by hom. Dieselfde ding. Net,
hierdie keer was dit skoonpa wat Boeta tot knap voor die poorte van die dood,
en gelukkig weer terug, moes begelei. Ons was nog met vakansie. (Klaradyn se
eerste seevakansie, op 18 maande.)
Boeta, ons
oudste, en reun van die drie, lei aan ‘n vreemde kondisie. Of is dit
konstitusie?
In elk
geval, genadiglik, ook nie meer nie. Teen Nuwejaarsoggend 4-uur, en ‘n
onderwyser met 18 jaar ervaring se hele, volle, algehele salaris (en so paar
honderd meer), later, het ‘n wonderlike Doktor, met ‘n Britse aksent, hom
lewenslank genees. Nie van die kondisie/konstitusie nie, maar die geldrowende
gevolge, sóú dit weer toeslaan.
Boeta blaas
op. Amper, ek vermoed, soos ‘n bees wat te veel lusern gevreet het. Hy blaas
dan op, soos ‘n ballon, en sál bars, as jy nie, soos met ‘n bees wat te veel
lusern gevreet het, ‘n lem, of ‘n mes, ‘n spyker of skroewedraaier (liefs ‘n
gesteriliseerde skalpel) hier van die kant deursteek, en hy afblaas nie.
Gelukkig nie soos ‘n ballon nie. Boeta bly met sy voete stewig op Moederaarde,
en flipper-flapper nie dak toe soos ‘n ballon wat afblaas nie.
Boeta-hulle
is drie Patryshonde. En hierdie opblasery van hom is iets wat geensins by
kleiner honderrasse soos Spanjoele voorkom nie. Volgens die man met die Britse
aksent is dit selfs seldsaam onder die groter rasse. Aldus hom hanteer ‘n
gewone 9 to 5 GP-veearts hoogstens drie of vier sulke gevalle in hul hele
loopbane. ‘n deurnag-ER-veearts, aan die ander kant, draf in besige klinieke
(soos die Nooddiens in Skotland waar hy sy ondervinding opgedoen het) weekliks
deur so ‘n geval.
Dis iets
wat hoofsaaklik snags gebeur. Normaalweg net by groter rasse, en dis moontlik
dat dit geneties binne sekere bloedlyne is. (Dit verbaas my nie, ons het nog
altyd vermoed dat Boeta een of ander fyngeteelde koninklike bloed in hom het,
amper soos die Europese koningshuise van ouds met hul ingeteeld geneigdheid
daartoe om bloeiers te wees.)
Dit gebeur
as honde aan die speel gaan na hul aandete. Iets gaan fout met die vertering en
hulle raak gastries. Soos die maag opblaas, druk dit teen sommige van die ander
ingewande, draai daarteen, en kort voor lank is die dermkanaal, iewers by die
begin, en die einde, geknoop soos hierdie lang maer ballonne waarmee clowns in die sirkusse altyd se oulike
poedels vir die kinders gebou het.
Daarom dat
jy gat deur die buik moet maak, sodat die dier kan afblaas en die derms en
dinge hul normale lê kan kry.
Dit alles,
en nog baie meer, vertel die Britse aksent my terwyl hy my daarop wys hoe blou
Boeta se tong word en dat hy definitief teen 2-uur dood sal wees, as ons nie
nou iets doen nie.
Wat ons
genadiglik toe ook begin doen.
Nou
Boeta-hulle het later as gewoonlik geëet. En bloody lekkerder en ryker ook. Ons is saam met hulle na Oupa-hulle
toe vir die Oujaarsbraai. Die mense-mense kuier dan lekker, en die twee gesinne
se honde-mense het ‘n fees van ‘n tyd met handjies en hande wat stilweg (en ook
nie altyd vreeslik onopsigtelik nie) snoepgoedjies onder die tafeldoek aangee.
As dit dan
klaar is, en die honde trommeldik, het Oupa die gewoonte om, wat ook al in die
bak oorgebly het, vir die diere op te sny. (Hy is trouens een van daai mense
wat doelbewus over cater sodat daar
vir die res van die gesin ook meer as net beentjies is.)
Eintlik
gaan die honde ook saam dat hul nie sonder ons met die klappers konfronteer
word nie. Ons het kleintyd vir hulle opnames van donderweer en klappers
gespeel, maar dit lyk nie of dit gewerk het nie. Toe die eerste klappers begin
afgaan, begin die honde hardloop. Vir Boeta se konstitusie voel dit soos “speel
op ‘n volmag” en knap na 11 daardie nag raak hy stil, opgeblase, en ons weet
uit ondervinding, nee, ek lieg, ons weet uit dure ondervinding, dat hy kort voor lank gaan begin brul van die
pyn.
Ek begin
bel, van die DBV tot Onderstepoort, en eindig toe nou, na ‘n majestueuse
vuurwerkvertoning, by die Britse aksent.
Toe die man
eers hoor dis die derde keer dat dit gebeur, die laaste keer was ‘n week
gelede, oortuig hy my (en ek het al gehuil met die sterwende hond langs my in
die kar terwyl dit niks met Old Lang Syne
te doen het nie) dat ons sal moet opereer. Die maagwand word op twee plekke aan
die buikwand geheg, en as die hond weer opblaas, bly die maag in plek, niks kan
knoop nie. Boeta blaas as’t ware dadelik af, soos wat hy opblaas.
‘n Week
later gaan haal ons hom en besef dat die duur van die vorige dure ondervindings
sommer kinderspeletjies was in vergelyking met die huidige. Ons kry die res van
die kwartaal net rooivleis in as ons naweke by Oupa-hulle gaan braai. Nie Boeta
nie, vir hom is dit gemaalde hoendernekkies, witrys gemeng met ‘n volle bakkie
maaskaas en varkvet. (Ek het nie eers geweet ‘n mens kry nog Holsum te koop nie.)
So moes dit
ook wees vir die res van sy lewe. Maar ek het na drie maande ingegryp en sy pellets sag begin maak. Vandag eet hy
droë pellets, blaas van tyd tot nog op, maar gelukkig (en ongelukkig vir ons
ore en neuse) dadelik en gelyktydig weer af ook.
Daarom dat
ons Oujaarsaande die laaste drie jaar maar redelik rustig verloop. Die honde is
al drie en ons vat hulle nie meer saam nie. Ons is al by die huis nog voor die
eerste klappers begin. En of dit nou van oudword is, of grootword is, dit maak
nie saak nie.
Teen elfuur
hol en blaf die honde die van ons wat nie reeds deur die klappers tot die
werklikheid geruk is nie, wakker. Ek staan dan op en maak die voorgereg,
verwens elke donderse klapper en dink aan al die plekke, waar die son nooit
skyn nie, waar ek elkeen persoonlik sou wou opdruk, kry die voorgereg in die
yskas en gaan bed toe.
Daarom dan
ook dat die afgelope Oujaarsnag in Pretoria vir my so ‘n heerlikheid was. Ek
was al aan die afmeet en –weeg van die bestanddele, toe ‘n moerse donderslag,
én vrou, én kind (en hond en hond en hond) pikwakker, regop en bevrees in die
gang af het, Pappa toe.
En daar
plaas God, en ‘n meesterlik georkestreerde donderstorm, ‘n demper op elke
ellendige klapper en vuurwerk binne ‘n 20 kilometer radius van ons huis en sy
gesin.
‘n Rukkie
later staan ek en Annieka by die venster en bewonder ‘n vuurwerk- en
klankvertoning soos min uit die hand van die skepping.
Die honde?
Hulle hol soos besetenes in die tuin rond en hap na die water wat uit die geute
peul.
Ook die nag
van die eerste, toe ek gedog elke lont wat nie die vorige aand nat geword het
nie, vuur gaan kry, kondig ‘n malse Hoëveldse donderstorm homself hier teen
twintig voor twaalf aan.
Voorspoedige
Nuwejaar, Annieka en Klaradyn. Boeta, Sussa en Snuffels.
Ons is
waarlik geseën.
No comments:
Post a Comment