18.12.11

Oor rysslaai

Ek wonder nou al ‘n geruime rukkie welke soort rysslaai bevryde en geskeide tannies aan die Oos-Rand in die laat sewentigs vir hulself gemaak het.
Miskien sal hipnose my by die antwoord bring.
Alles is my nog helder in die geheue, alles, behalwe die fyner detail van die spesifieke ingrediënte.
Ons was een keer by die tannie; net een keer, al het haar naam destyds ‘n ruk lank gereeld in gesprekke opgeduik.
Haar naam was Mara, en soos alle Maras wat nog ooit daarna my pad gekruis het, was sy gemaklik groot met gerieflik groot boesems, het sy ‘n lieflike joviale persoonlikheid gehad met die een ding wat enige Mara dadelik in enige samedromming van mense laat uitstaan: ‘n hartlike diep sonore stem.
Ek het al baie oor Maras gewonder. Hulle naam, so het ek in die Bybelklas geleer, beteken “Bitter water” en ten spyte van hierdie verdoemenis wat onnadenkende ouers oor hul pienkvoet-dogtertjie uitspreek, herinner een en elkeen van hulle nooit ooit aan enige bitter waters wat hul lewenspad oorspoel nie.
Miskien, het ek in ‘n stadium gewonder, het hulle geen bitter waters nie juis omdat hul kwota bitter water reeds in hul naam opgesluit is, en is die keuse vir ‘n doopnaam nie ‘n verdoemenis nie, maar ‘n vrywaring van bitter waters wat op ander maniere hul lewenspad sou kon kruis.
Ewenwel, hierdie Tannie Mara was ‘n tipiese Tannie Mara.
Ons het by haar huis aangekom en sy was in haar tuin, in haar swembroek in die son. Snaaks, vir my as kind, die feit dat daar nie ‘n swembad was nie. (Maar wat verstaan jong seuns, mans for that matter, nou van tan en sulke dinge.)
Daar is die bruin gebrande vrou met die diep stem en joviale persoonlikheid toe nou langs haar huis in die tuin geklee in ‘n baaikostuum. En by haar ‘n moerse out size Tupperware-bak gevul met genoeg rysslaai om ‘n leërskare voetsoldate Egipte toe en terug te sien.
Sy het vir ons van die rysslaai aangebied, en wel... dit was heerlik, so heerlik dat dit my dertig jaar later steeds bybly.
In die laaste dertig jaar het ek die Tannie Mara haar heerlike rysslaai al by herhaling probeer nadoen. Maar verniet. Alles herinner aan Nataniël se famous opgekookte bruinrys-dieet, waarby die koker om die een of ander rede vergeet het om sout by te voeg, in vergeleke nou met dit wat ek van hierdie eenmalige kennismaking met Tannie Mara se rysslaai onthou.
Hierdie slaai was nie ‘n bykossie nie, ‘n toespyse nie, dit was ‘n dis, ‘n volle driegangmaaltyd op sig selwers. Iets waarvoor jy drie of vier keer op ‘n dag yskas toe kon stap vir ‘n bakkievol, ‘n lepelvol, ‘n skottelvol, na gelang van jou behoefte.
Ek probeer die een resep na die ander, ek fynkam resepteboekies uit die jare sewentig, veral die soort wat deur skole en kerke en vroue verenigings uitgegee is ter stuiwing van die een of ander fonds, maar verniet — die bestes herinner slegs vaagweg.
Ek volg lankal nie meer my eie kop nie, want dis wat ek vir die eerste tien jaar of so probeer het:  gooi in wat jy alles onthou, gooi in wat jy dink vir jou lekker sal wees in ‘n rysslaai.
Dit was presies die raad van ‘n kosmaker-van-formaat-vriendin toe ek verlede week by haar aanklop en vra watter rysslaaie sy al alles in haar lewe gemaak het: gaan winkel toe, staan voor die rakke en besluit wat vir jou sal lekker smaak, koop dit en gooi na smaak en harte lus by.
Dit laat my met kaas, rosyne, pruimedante, gedroogde appelkose, ingelegde appelkose, gedroogde perskes, ingelegde perskes, ui, sprietui, chives, amandels, gekapte ander neute, olywe, seldery, rooi soetrissie, geel soetrissies, gherkins, tamaties (kersie-, jam-, pruim-, rosa-, noem maar op), hierdie nuwerwetse peppadews, blokkies ham, stukkies beacon, dadels, petit pois, knoffel, komkommer, eiervrug, koffiebone en vanilla peule.
OK, laasgenoemdes is dalk oordrywing, maar daar is letterlik honderde goed wat jy kan ingooi, maar lank nie te sê dit gaan proe soos Tannie Mara se rysslaai van destyds nie.
Geneuk met ‘n rysslaai mos ook die feit dat dit eers moet staan, ‘n dag of wat, om geur te ontwikkel. Ek kyk hom uit die staanspoor so en weet ek gaan nie tevrede wees nie. Ek proe hom dag een, dag twee, laat hom nog ‘n nag om lyf te kry en krap dit dan maar in die asblik weg.
Om van die sous, en die honderde variasies van souse wat ek al raakgeloop het, nie te praat nie. (Dit terwyl ek ten sterkste van vermoede is hierdie tannie se rysslaai het geen maar geen donderse souserigheid of nattigheid bygehad nie!)
Ek is van net een ding seker: dit was gewone Tastic­­-rys. Want dit was die enigste vorm van rys wat daardie jare beskikbaar was. Sprinbok-radio het adverteer, vir jare lank, “Tastic — dit kook volmaak, elke keer, vir minder as 3 sent ‘n porsie!”
Daar was kaas in. Dit sou een van twee kon wees, cheddar of soetmelk.
Die soet en swart moes seker rosyntjies of uitgeswelde korente gewees het, maar waarom verbeel ek my dit was gesnyde pruimedante?
Was die rooi, tamatie of soetrissie?
Ek besluit soetrissie, maar dit kan nie wees nie. Daar was twee gele in die slaai, die kaas... en dan moes die ander geel tog sekerlik geel, en nie rooi, soetrissie gewees het.
En dis nie geneuk met die slaai, ek onthou dit nie net met die tong, die vermenging van geure en teksture nie, maar ook met die oog, die kleure, en selfs die neus, enkele geure. Maar moer ek al die sintuie saam in een bak, moet ek dit drie dae later weer net so in die asblik moer.
As psigiaters my kan vat tot by my vroegste gewaarwordinge in die baarmoeder en Ma en Pa se gesprekke voor my geboorte, is ek seker dis ‘n vulletjie om vyftien jaar later by Tannie Mara en haar rysslaai ‘n draai te maak.
Het jy egter iewers in jou agterkop of ‘n boek die tipe rysslaai wat bevryde en geskeide tannies aan die Oos-Rand in die laat sewentigs vir hulself gemaak het, kan jy psigiatrie die moeite en my die geld spaar.

No comments: