Ek wonder
nou al ‘n geruime rukkie welke soort rysslaai bevryde en geskeide tannies aan
die Oos-Rand in die laat sewentigs vir hulself gemaak het.
Miskien sal
hipnose my by die antwoord bring.
Alles is my
nog helder in die geheue, alles, behalwe die fyner detail van die spesifieke
ingrediënte.
Ons was een
keer by die tannie; net een keer, al het haar naam destyds ‘n ruk lank gereeld
in gesprekke opgeduik.
Haar naam
was Mara, en soos alle Maras wat nog ooit daarna my pad gekruis het, was sy
gemaklik groot met gerieflik groot boesems, het sy ‘n lieflike joviale
persoonlikheid gehad met die een ding wat enige Mara dadelik in enige
samedromming van mense laat uitstaan: ‘n hartlike diep sonore stem.
Ek het al
baie oor Maras gewonder. Hulle naam, so het ek in die Bybelklas geleer, beteken
“Bitter water” en ten spyte van hierdie verdoemenis wat onnadenkende ouers oor
hul pienkvoet-dogtertjie uitspreek, herinner een en elkeen van hulle nooit ooit
aan enige bitter waters wat hul lewenspad oorspoel nie.
Miskien,
het ek in ‘n stadium gewonder, het hulle geen bitter waters nie juis omdat hul
kwota bitter water reeds in hul naam opgesluit is, en is die keuse vir ‘n
doopnaam nie ‘n verdoemenis nie, maar ‘n vrywaring van bitter waters wat op
ander maniere hul lewenspad sou kon kruis.
Ewenwel,
hierdie Tannie Mara was ‘n tipiese Tannie Mara.
Ons het by
haar huis aangekom en sy was in haar tuin, in haar swembroek in die son.
Snaaks, vir my as kind, die feit dat daar nie ‘n swembad was nie. (Maar wat
verstaan jong seuns, mans for that matter,
nou van tan en sulke dinge.)
Daar is die
bruin gebrande vrou met die diep stem en joviale persoonlikheid toe nou langs
haar huis in die tuin geklee in ‘n baaikostuum. En by haar ‘n moerse out size Tupperware-bak gevul met genoeg
rysslaai om ‘n leërskare voetsoldate Egipte toe en terug te sien.
Sy het vir
ons van die rysslaai aangebied, en wel... dit was heerlik, so heerlik dat dit
my dertig jaar later steeds bybly.
In die
laaste dertig jaar het ek die Tannie Mara haar heerlike rysslaai al by
herhaling probeer nadoen. Maar verniet. Alles herinner aan Nataniël se famous
opgekookte bruinrys-dieet, waarby die koker om die een of ander rede vergeet
het om sout by te voeg, in vergeleke nou met dit wat ek van hierdie eenmalige
kennismaking met Tannie Mara se rysslaai onthou.
Hierdie
slaai was nie ‘n bykossie nie, ‘n toespyse nie, dit was ‘n dis, ‘n volle
driegangmaaltyd op sig selwers. Iets waarvoor jy drie of vier keer op ‘n dag
yskas toe kon stap vir ‘n bakkievol, ‘n lepelvol, ‘n skottelvol, na gelang van
jou behoefte.
Ek probeer
die een resep na die ander, ek fynkam resepteboekies uit die jare sewentig,
veral die soort wat deur skole en kerke en vroue verenigings uitgegee is ter
stuiwing van die een of ander fonds, maar verniet — die bestes herinner slegs
vaagweg.
Ek volg
lankal nie meer my eie kop nie, want dis wat ek vir die eerste tien jaar of so
probeer het: gooi in wat jy alles
onthou, gooi in wat jy dink vir jou lekker sal wees in ‘n rysslaai.
Dit was
presies die raad van ‘n kosmaker-van-formaat-vriendin toe ek verlede week by
haar aanklop en vra watter rysslaaie sy al alles in haar lewe gemaak het: gaan
winkel toe, staan voor die rakke en besluit wat vir jou sal lekker smaak, koop dit
en gooi na smaak en harte lus by.
Dit laat my
met kaas, rosyne, pruimedante, gedroogde appelkose, ingelegde appelkose,
gedroogde perskes, ingelegde perskes, ui, sprietui, chives, amandels, gekapte ander neute, olywe, seldery, rooi
soetrissie, geel soetrissies, gherkins, tamaties (kersie-, jam-, pruim-, rosa-,
noem maar op), hierdie nuwerwetse peppadews,
blokkies ham, stukkies beacon,
dadels, petit pois, knoffel,
komkommer, eiervrug, koffiebone en vanilla peule.
OK,
laasgenoemdes is dalk oordrywing, maar daar is letterlik honderde goed wat jy
kan ingooi, maar lank nie te sê dit gaan proe soos Tannie Mara se rysslaai van
destyds nie.
Geneuk met
‘n rysslaai mos ook die feit dat dit eers moet staan, ‘n dag of wat, om geur te
ontwikkel. Ek kyk hom uit die staanspoor so en weet ek gaan nie tevrede wees
nie. Ek proe hom dag een, dag twee, laat hom nog ‘n nag om lyf te kry en krap
dit dan maar in die asblik weg.
Om van die
sous, en die honderde variasies van souse wat ek al raakgeloop het, nie te
praat nie. (Dit terwyl ek ten sterkste van vermoede is hierdie tannie se
rysslaai het geen maar geen donderse souserigheid of nattigheid bygehad nie!)
Ek is van
net een ding seker: dit was gewone Tastic-rys.
Want dit was die enigste vorm van rys wat daardie jare beskikbaar was.
Sprinbok-radio het adverteer, vir jare lank, “Tastic — dit kook volmaak, elke keer, vir minder as 3 sent ‘n porsie!”
Daar was
kaas in. Dit sou een van twee kon wees, cheddar
of soetmelk.
Die soet en
swart moes seker rosyntjies of uitgeswelde korente gewees het, maar waarom
verbeel ek my dit was gesnyde pruimedante?
Was die
rooi, tamatie of soetrissie?
Ek besluit
soetrissie, maar dit kan nie wees nie. Daar was twee gele in die slaai, die
kaas... en dan moes die ander geel tog sekerlik geel, en nie rooi, soetrissie
gewees het.
En dis nie
geneuk met die slaai, ek onthou dit nie net met die tong, die vermenging van
geure en teksture nie, maar ook met die oog, die kleure, en selfs die neus,
enkele geure. Maar moer ek al die sintuie saam in een bak, moet ek dit drie dae
later weer net so in die asblik moer.
As
psigiaters my kan vat tot by my vroegste gewaarwordinge in die baarmoeder en Ma
en Pa se gesprekke voor my geboorte, is ek seker dis ‘n vulletjie om vyftien
jaar later by Tannie Mara en haar rysslaai ‘n draai te maak.
Het jy
egter iewers in jou agterkop of ‘n boek die tipe rysslaai wat bevryde en
geskeide tannies aan die Oos-Rand in die laat sewentigs vir hulself gemaak het,
kan jy psigiatrie die moeite en my die geld spaar.
No comments:
Post a Comment