O, Boereplaas, o, soetste plaas, jou het ek
lief bo alles.
Of is dit
nou “geboortegrond” in die plek van “o, soetste plaas”?
Al dwaal ek deur die wêreld heen, niks ooit so
mooi, so goed vir my…
Kersfees en
Nuwejaar verlang ek, gebore stadsmuis, na ‘n plaas, enige plaas, en nie
noodwendig Holfontein, die plaas van my herinnering buite Bultfontein in die
Vrystaat, waar ek as kind vakansie na vakansie deurgebring het nie.
Hierdie
hunkering, jaar na jaar, hou geensins verband met horisonne, heuwels, ooptes of
Bolandse optes en aftes nie. Ook geen kriek of kommandovoël, ‘n windpomp wat
klap-klap die dam in lek of die sentimentele aandlied van die vlei- of
vlaktevoëls wat my lok nie.
Laat staan
ook maar die wind deur die sering- of peperbome wat die sering-, peper- en
ander werfgeure tot in jou kamer bring, waar jy na ‘n hemelse middagete
uitgestrek op die bed lê en wag vir die gerinkel en –klinkel van die
agtermiddag-koffie- of teegoed wat aangedra en reggesit word. Ek loop in elk
geval altyd, en op enige plaas, met chroniese hooikoors-oë en neus.
Nog minder
is dit die vyf huismeidjies, drie kindermeidjies, (pejoratiewe, ek weet, de
leste een van hulle) en nog twee of drie elk vir die stoep, voorhuis, werf,
kombuis en die res wat hulle besig hou met opwas, was en stryk.
Nee, my
hart, siel en wese, smag elke Kersfees en Nuwejaar na ‘n plaas se yskaste.
Soos die
foto’s van drie of vier geslagte se pa’s en seuns wat elk op die lap grond
bestaan geskoffel het, is daardie selfde drie of vier geslagte se yskaste en
koelkaste mos altoos deur die huis en buitegeboue versprei.
Oorle’
Oorgrootjie se hout- en draad- kontrepsie van kooks en steenkool, wat eers met
die hand en toe met ‘n koperpyp nat gehou is, staan nog iewers buite teen ‘n
muur, dalk by die eerste opstal, of wat daarvan oor is, so nie, in die omgewing
van waar die nuwe(-rige) hoenderhokke aangebou is.
Dit maak
ook nie saak nie, want dis nie van hom wat ek praat nie. Oupa se eerste
gas-koelkas, met die vlammetjie wat jou hand so brand as jy as kind stadig met
jou hand oor die gat gaan, staan in die buitekamer langs die slagkamer. Dan is
die twee yskaste, die oudste van die twee nogal ‘n Fuchs Ware, wat Pa in sy tyd aangekoop het ook in die koelte van ‘n
buitegebou met sif voor die vensters om die vlieë uit te hou. In die huis self
is die huidige boer se twee yskaste, en die een wat hy verlede jaar vir sy vrou
gekoop het om op te maak vir ‘n effense onsmaaklikheid en ongemaklikheid waarop
ons nie nou sal ingaan nie.
Maar nie
Hans Moolman nie. Hy sit in Pretoria met ‘n fênsie yskas en vrieskas in een.
Die vrieskas het nie plek vir drie propperse vetgemaakte slaghoenders nie. Die
naaste wat die yskaskompartementjie aan ‘n emmer room of melk sal kom is die
250 ml plêstiek kannetjies van Clover en,
tot my spyt, want nou het ek nie plek vir alles nie, een van hierdie twee liter
kartonhouers van Spar wat die laaste ruk altyd goedkoper is as die ander
(straks oor dit meer water in het, of die beeste hormone en steroïedes gevoer
is wat dit eintlik onwettig maak om die melk vir menslike gebruik beskikbaar te
stel.)
En dan
beplan ek ‘n driegang-maaltyd (met die stoelgang is dit vier of vyf, maar
daarvoor het jy gelukkig nie ‘n yskas nodig nie) vir agt of tien mense, oor
Kersfees én weer Nuwejaar. (Oukers- en Oujaarsaand is darem altyd stil en klein
en rustig.)
Een van die
twee is altyd kouevleis en slaaie, maar dan nie hierdie Bybelvelletjies wat jy
in plêstiek of papier by die Deli koop nie, nee, daar moet ‘n varkboud, gepekel
of vars, skaapboud en een of ander meer sappige snit van ‘n beesboud, self en
met die hand voorberei word. Die slaaie maak jy ook nie met ‘n skêr, verwysende
na hierdie Werda-sakkiesslaaie,
bottel- of blikoopmaker oop nie, dis Krismis, en Krismis is nie Krismis sonder
een van Oorlede Ouma se gestolde slaaie nie. (Onthou haar generasie het yskaste
vir die eerste keer leer ken. Kindertyd het hulle ge-kooks in ‘n skadukol onder
die koelteboom. Hulle het toe mal gegaan en die yskas ordentlik ingespan en
Ouma se Krismis kos is van Ma na Dogter na Kleinseun oorgedra!)
Kouevleis
en slaai ons nie, dan braai ons. Maar onthou, ek kom uit ‘n huis waar ma en pa
baklei het as die een die ander se kosmaakbeurt wou annekseer. My skoonsus is
bekommerd oor my broer wat deesdae net een afleiding ken, en dis die kombuis. Die
gevolg is ons praat nie hier van ‘n tjoppie oor die kole nie, ons praat van
sosaties, ‘n agtiende-eeuse resep van ‘n Bolandse plaas met dae en dae, en
bakke en skottels se voorbereiding. Dan maak en maal en stop ek ook net een
maal ‘n jaar my eie boerewors, en dis in die Desembervakansie.
Hoe kan jy
ook nou sê jy het ge-Kersfees en ge-Nuwejaar as jy nie by die een tuisgemaakte
gemmerbier en by die ander ‘n Boerse bola of Britse punch het nie. En beide van hulle soek staanplek in die yskas. Saam
met die wyn. En vanjaar ook sjampanje, wat vroulief spesiaal gaan koop het om
te geniet saam met nuwe sjampanjeglase wat vroulief spesiaal gaan koop het om
te pas by die wynglase wat vroulief verlede jaar spesiaal gaan koop het om te
pas by die nuwe ten seater tafeldoek
wat sy spesiaal gaan koop het. (En toe, omdat dit ‘n special was, loop koop sou toe hierdie jaar weer ‘n nuwe
tafeldoek.)
Dan is daar
nog die voorgereg, elkeen elke keer koud en in ‘n individuele bakkie, bordjie
of een van Ma se skulpies wat vir jou as kind tog so grênd was, jy hunker elke
Kersfees of Nuwejaar na iets om daarin voor te sit.
Nou ken
Annieka ook net een van drie plekke om met goed te gaan waarvoor sy nie dadelik
die plek ken nie: wasbalie toe,
studeerkamer toe, of yskas toe. ‘n Vreemdeling moet haar tog nie ongenooid en
onverhoeds eendag in haar eie huis raakloop nie — oor daar nie meer plek in die
studeerkamer is nie, prop sy hom of haar wragtig in die wasbalie of yskas. (En
dan moet hy nie kla nie, hy kon deur my vriendin, Esti, geweeg en onbekend
bevind gewees het, en sy ken nét één plek: louoond toe met jou, of jy nou skoon
of vuil, organies of anorganies, bladwisselend of immergroen, lewendbarend of nie, is. Of nie.)
Hier teen
die drie en twintigste begin Annieka kla oor die koskaste wat so vol loop. Dan
is dit bloot ek wat alles wat onnodig in die yskas gehou word, die vinnigste
uit haar gesigsveld verwyder is deur dit in die yskas te plaas, hersoneer na
waar dit hoort.
Teen die
nege en twintigste is daar double
bookings in die yskas: Krismis se left overs en Nuwejaar se nuwe aankope
wat eersdaags voorberei gaan word.
Die oggend
van die eerste, of reeds Kersdag wanneer daar spitsverkeer is, is die selfoon
se wekker gestel om al om die uur af te gaan. Dit wat buite was, gaan yskas
toe, wat in die yskas was gaan vrieskas toe. Die vrieskas se goed gaan weer
buite toe, en so wissel die goed mekaar af tot die eerste gaste hier teen laat
agtermiddag opdaag.
‘n Mens sal
dink jy leer ken jou yskas op hierdie rotasiemanier. Moenie glo nie. Die goed
raak nog helder oordag spoorloos soek ook. Opsoek na die blaarslaai deur die
loop van Nuwejaarsdag kry ek aanvanklik, en sonder Annieka se ingryping, alles behalwe die blaarslaai; wel Kersfees se
verlore kruisement wat gelukkig en danksy Woolies
se verpakking nog kraakvars en gereed is om Nuwejaar in die bola te gebruik.
Vra
Klaradyn my toe, nadat sy my só gestaan en kyk het soos net ‘n kind haar pa kan
kyk, wat staan ek so gebukkend voor die oop yskasdeur en sing.
Toe leer ek
haar maar die woorde van “O, Boereplaas” soos ek dit onthou.
No comments:
Post a Comment