1/12/2009
Ek spot graag, ver agter hul rug natuurlik, met die 99.999% van ons
skool se ouers wat een en elkeen die een of ander metalic nifty (en ever so
expensive) 4x4 vuurwa iewers in een van die vier motorhuise staanmaak. Dis
nou vir die bediende om Woensdae die laundry
by die mense wat die huishouding se strykwerk op kontrakbasis doen, heen en
weer te kry. Maar darem ook vir oor naweke as die tuinier die honde se KFC moet
gaan optel.
Maar ek sal my woorde moet sluk. My lief en dierbare skoonsuster het
‘n klompie jare gelede haar sportsmotortjie met die afslaandak vervang met ‘n
outomatiese viertrek-vuurwa uit die Duitse kamp — sodat Sally, die golden
retriever, nie nodig het om daagliks die 400m af Kampsbaai-baai toe te stap
nie, maar heen en weer kan pendel.
So wat ek ook al deel, moet gelees word in die lig van die lewenstyl
en –wyse wat deur hierdie brokkie useless
information veronderstel, suggereer en impliseer word.
Ek en my broer is uit die selfde hout gesny, nie een van ons het ver
van die gesin se kosmaak-boom geval nie, en is gevolglik van daai mense wat
leef om te eet, en nie eet om te leef nie.
Met my voorlaaste besoek aan die Kaap sien ek hy pak sy
skaaptjoppies regop soos soldaatjies vir die uitbraai van die vetjies. So vir
twee jaar doen ek hom dit na.
Maar so is die man en sy vrou intussentyd weer op drie of vier van
hierdie oorsese kosmaakvakansies van hulle. Nou of dit iewers op ‘n bark in
Frankryk, of in Italië of Andalusië was, en of dit ter plaatse by ‘n buurman of
hotelskool was, sal ek nie weet nie. Maar met die laaste besoek kom ek agter hy
braai sy tjoppies nou anders.
Ek kom huis toe, soek my dood na lekker vet (soos in dik) en
vetterige (soos in vetjies) skaaptjops teen minder as R99-00 per kilogram, en
toe probeer ek hom nadoen.
My braaihout is beslis nie dieselfde as syne nie (ons maak meubels
van dit wat hulle daar vir braaihout opkap) en ek vermoed my skapies het darem
al gras gevreet, terwyl sy lammetjies tien teen een op moedersmelk alleen
slaggereed groei. Maar vir die res het ek gedoen wat hy gedoen het, en dis
heerlik.
As jy van ‘n pienkerige uitgebraaide skaaptjoppie hou.
Kole is warm.
Die helfte van die braaityd spandeer die peloton tjoppies styf gepak
sy-aan-sy op hul beenkant. Die been word warm en doen sy ding. Dan maak jy
hulle staan op, was dit ‘n bees, die filletkant van die T-bone.
Nie lank nie, maar oor warm kole.
Nou eers lê jy hulle op hul vetjies en jy braai dit soos jy daarvan
hou.
As jy nie te veel wyn in het nie, en die goed nie omgedonder het
nie, het jy nou tjops wat op hul bo- en onderkante nog pienk is.
Nou skroei jy die einste bo- en onderkante oor die kole, gooi sout
of wat jy ook al verkies, en geniet jou tjops. Pienk in die middel met die
vetjie lekker bros.
Probeer gerus. En al proe dit dalk nie veel anders nie, voel jy in
elk geval so goed oor jouself die moeite wat jy gedoen het, jy verbeel jou
sommer dit proe strate heerliker.
17/12/2011
Ek kon dit seker "Skaaptjoppies oor die kole" genoem het, maar die -k's het so lekker allitireer dat ek dit kotelette gehou het.
Dis twee jaar later, ek braai steeds ordentlike skaaptjops op hierdie manier.
Toe ons nou een aand in die Kaap, terug by my broer-hulle braai en dis tjops op die vleisbord wat uitgebring word braai toe, toe sien ek hulle braai steeds op hierdie manier.
Destyds toe ek hierdie geplaas het, het twee vriende na my teruggekom en genoem dat hulle my voorstel op die proef gestel het, en nie sommer sal terugkeer na die ou vertroude manier van doen nie.
No comments:
Post a Comment