3.3.12

Die ander patee


My ma het altyd gesê om nooit te wil onthaal met disse wat jy nog nie van te vore gemaak het nie.

Maklik vir haar generasie. Maar hoeveel gemsbok-blaaie, speenvarke, lewendige krewe of vars springboklewers kruis nou ooit Hans Moolman se pad, dat hy eers kan eksperimenteer en oefen op die vrou en kind, alvorens hy homself teen ronde twee of drie vaardig genoeg kan ag om dit vir gaste voor te sit?

Aan die ander kant:  hoeveel keer het ek nie al in die slagyster getrap om iets te wil maak wat ek nog nooit gemaak het nie, en dan is dit ‘n effense flop, die gaste om die tafel met hul bekke vol tande en niks om te sê nie.

Ek onthou ‘n jaar toe ek die gaste wou trakteer of fyn banketgebak (en ek bak nie koeke nie, hou nie eers van poedings pak nie). Ek het spesiaal koekpanne en dinge gekoop, en regtig uit my pad gegaan met allerhande fancy ingrediënte en dinge.

Toe almal daar opdaag vir die verhewe okkasie toe is daar agter elkeen van die vyf koeke ‘n resepteboek staan gemaak, met darem ‘n volkleur prentjie op sodat die gaste kon sien hoe die koek veronderstel was om te lyk, hoeveel die koek veronderstel om te rys.

En tog, ten spyte van talle soortgelyke insidente waar die maaltyd beter af sou gegaan het, was ek net meer bedrewe en gekonfyt in die maak van die dis, was ek glad nie lus om die ou beproefde lewerpatee te maak vir Ouma Kapie se negentigste verjaarsdag voorverlede naweek nie.

Dat die familie egter lewerpatee uit my wou kry, was ‘n feit, en daarby sou ek nie verby kon kom nie.

En daar maak ek toe nou wragtig hoenderlewerpatee met melba-toast vir 30 mense wat sover as van Windhoek kom, terwyl ek die betrokke resep nog nooit op die proef gestel het nie.

‘n Heerlike hoenderlewerpatee het ek egter een keer by La Petit Ferme, links van die pad, ry jy die vallei af op pad Franschhoek toe, geëet. (‘n Heerlike iets van alles wat ‘n mens daar kán eet, is wat jy eet, as jy daar eet, maar dit daargelaat.)

Toe ek Desember 2002, my hart maar net verlangend na die Kaap, in Menlyn aan het Kersinkopies doen is, val my oog op ‘n La Petit Ferme-kookboek wat Woolies bemark. Net daar halveer ek my begroting vir Annieka se Kerspresent en koop die boek vir myself. En wragtigwaar ja, daar is ‘n hoenderlewerpatee in, tien teen een dié een wat destyds vir my so lekker was.

Maar daar is soveel ander verruklike resepte in, dat ek nog nooit by die maak van hul hoenderlewerpatee uitgekom het nie.

Dis nou tót ek vir Ouma Kapie se do moet lewerpatee maak en ek nie lus het vir al die honderde ingrediënte van my vertroude resep nie. Hierdie een lol nie met sampioene, spekvleis en daai bloody tamatiepasta, wat jy oopsny en nie opgebruik voor dit begin muf in die yskas, nie.

Net daar besluit ek, soos Annieka altyd sê, simplicity is the essence of life, kom ons gee die gaste ‘n patee gestroop van tierlantyntjies, ingeperk tot die heilsame essensiële. Al wat jy nodig het is lewer, botter, ‘n ui, room, sout en peper, en mosterd.

Vir agt mense smelt jy 125 gram botter in ‘n pan. Voor dit begin brand en rook en swart word (omdat jy jou plaat te hoog aan het) gooi jy ‘n ui wat jy opgekerf het daarin. As jy nou sit met ‘n bielie van ‘n ui wat op ‘n landbouskou kan wen, stel ek voor jy skil maar rojaal, tot jy sit met ‘n middelslag-mediumgrootte ui.

As jy te lui of haastig was om die ui mooi fyn te sny, braai jy die ui vir so ‘n korterige rukkie. Maar as jy jou ui met geduld en presisie mooi klein gekerf het, gooi jy dadelik, saam met die ui, jou 500 gram hoenderlewertjies by.

Maak vooraf die lewertjies mooi skoon. Sulke ronde groen goetertjies wat deesdae in die massa-verpakte bevrore pakkies insluip, is nie lewer nie, dis gal en letterlik galbitter.

Laat die uie en lewer nou vir so vyf minute prut. Jou uie sal sag wees, as jy klein genoeg gesny het, en jou lewertjies sal deurgaar (deurgaar genoeg) wees.

Gooi nou ‘n teelepel sout en ‘n teelepel peper by. Nog so ‘n halwe teelepel sout.

Roer dan twee teelepels Engelse mosterd by.

Verpulp alles in ‘n voedselverwerker (of deur ‘n sif as jy dit soos van ouds wil doen).

Gooi nou ‘n ¾ koppie room en ‘n eetlepel brandewyn by. En meng.

En nou mag jy maar skrik. Die patee gaan hopeloos te loperig voorkom. Hoe gaan hierdie goed stol?

Onthou egter daar is baie botter in. Hierdie loperige souserigheid gaan lieflik stol in ‘n tekstuur wat op jou tong gaan smelt. Hê net geduld. (En moenie, soos ek, oor tien minute, jou vingerafdruk bo op een van die bakkies gaan maak nie, dit SAL stol.)

Gooi dit in jou ramekins, of waarin jy dit ook al wil bedien. Ons het 30 klein plastiekbakkies met dekseltjies gekoop, dit gevries en toe afgevlieg Kaap toe.

Moenie van die konfyt vergeet nie.

En maak self jou melba-toast, dis baie lekkerder as die wat jy klaargemaak koop.

Jy gaan onmoontlik nie so sukkel soos ek die naweek gesukkel het nie. Ouma Kapie se kombuis het nie staanplek vir twee mense nie, haar oond werk nie so lekker nie. Daar is nie ‘n werksoppervlaktetjie wat nie vol beskuit, koekies, bekertjies en foto’s van klein- en agterkleinkinders gepak is nie. Sy het wel, nie minder nie as drie broodroosters nie. Net jammer elkeen dateer van voor Republiekwording en as jy nie die brood verbrand nie, verbrand jy jou vingers in ‘n poging om die roosterbrood omgedraai te kry.

Terloops:  hierdie klein blikkies tamatiepasta waarvan jy altyd net ‘n helfte nodig het, hou goed in die yskas as jy die blikkie opvul met olyfolie. Dit sluit die suurstof uit wat die pasta laat vrot. Die tamatiepuree (groter blik, minder gekonsentreerd) se res gooi ek in ‘n ysbakkie en vries vir latere gebruik, blokkies op ‘n slag.

Die prentjie is sommer net 'n prentjie wat ek op Wikimedia Commons opfespoor het - by ons sal jy nooit patee bedien kry sonder 'n konfytjie nie.

No comments: