26.9.11

Hartskos

Nie dat iemand belang sal stel nie, maar hier dan ‘n vyfde resep wat nie die regte een is nie:

Een groot bottel Cross & Blackwell mayonnaise

Een blik kondensmelk daarby ingeroer

Mosterdpoeier (meer as wat jy die eerste keer ingooi — ek het drie keer  ingegooi)

Asyn so veel as wat jy nodig het om van die oorheersende kondensmelksmaak ontslae te raak

En nou help dit nie ek word oorval met moedige pogings nie; dit is mos nou maar een maal soos dit met sommige kokke gaan — sommer uit die kop uit kook, en meng, en voeg hulle so na gedagte (en wat daar op die rak oor is) by.

En so was dit met Judy. Ek het al uit elke denkbare kookboek  wat sy ooit op haar rak had, elke resep wat net vaagweg, moontlik, miskien, dalk, kan, herinner aan haar aartappelslaai, probeer maar dis duidelik die ding was in haar kop, oor jare heen met liefde voorberei en vervolmaak soos haar gesin dit die meeste waardeer het.

Daarom dat ek nou self bymekaar gooi en (ver-)brou. Dit help ook nou nie om haar te vra nie — toe ons laas gekyk het, en dis ook al meer as ‘n jaar gelede, was daar van haar brein nie eers 60% oor nie.

Die “baie vriendelike dame en man” (soos sy hulle noem) by wie sy tans in die Kaap kuier, is eintlik haar oudste seun en skoondogter. Maar ek dwaal af.

O, en dan onthou ek,  al (af-)dwalende,  die lekkerste Kersfeeste en beplannings- en verkennende gesprekke, hierdie tyd van die jaar al, rondom die wie, wat en waar van die Kersete. Nie dat daar vreeslik beplanning ooit was nie, dit was eintlik maar net bevestiging van elke jaar se roetine en standaardspyskaart.

Die varkboud, en ek brand om boekdele te vertel, was  Judy se speciality.

So vra ek haar (toe ook al in die sewentig) so ses jaar gelede, Kersfees is daardie jaar by ons, of sy weer, soos van ouds, vir die varkboud sal sorg.

“Natuurlik,” willig sy in, want sy is ‘n bobaaskok en bedien haar man nog elke dag (en vir ‘n jaar of twee, drie daarna steeds) van drie maaltye ‘n dag.

Maar sy roep my met ‘n beklemming, wat net dié naaste aan haar sal herken, later by die spaarkamer in. “Oubaas, maar Mamma weet nie hoe om ‘n varkboud gaar te maak nie; ek het dit nog nooit gedoen nie. Sê nou dis nie lekker nie?”

Ek het koud geword. Soos daai een oggend ‘n jaar of wat tevore toe ons by hulle oorslaap en my oog vang haar op die bed sit. En ek sien, nie my ma nie, maar my ouma, soos ek haar jare gelede as kind op ‘n bed sien sit het.

Hierna het dit vinnig gegaan. En dit was toe in elk geval al klaar te laat.

Koud het ek weer geword, ‘n ruk daarna toe ons daar opdaag vir ete, en die tafeldoek, servette, plekmatjies en borde pas nie bymekaar soos vir ‘n koningsmaal nie, by gebrek aan vars blomme, nie eers ‘n potplant op die tafel nie. Dít, nie soos Judy al die jare was nie.

My en Annieka se bestelling, elke een Sondag in die maand, as ons deurry na die oues toe, was “Ma se sosatietjops”. Maar nou laat weet ons al teen Dinsdag sodat dit op die laatste Woensdag al hul lê in die erdebak kan kry. (Siestog, hier teen die einde, voor hul ouestehuis toe is, het ons glad nie laat weet nie — anders kook sy ‘n week lank aanmekaar, is sy Sondagoggend vieruur al op die been en heeltemal buite weste teen die tyd dat ons daar stop.)

Die laaste sosatietjops wat ek onthou, en onthou ons het hiermee grootgeword, was, om dit vleiend te stel, grensend aan oneetbaar en ek, Annieka miskien ook, het dit met stil en ingehoue trane weggesluk.

In hierdie stadium het elkeen uit die familie wat kom kuier die selfopgelegde taak gehad om die yskas te detox van bakkies, en muffies en ander ongedefinieerde goed wat gevaar geloop het om saam met ‘n wors en ‘n eier in haar wederhelf se ontbytbord te beland.

Gevolglik mymer ek en my broer gereeld elke jaar langafstand oor die telefoon oor Ma se kos en elke keer kom die sosatietjops onder heimwee, herinnering en bespreking. (Ons is ‘n gesin wat leef om te eet, in plaas van andersom.) Saam is ons twee seker al meer as ‘n eeu oud en in al hierdie gedeelde jare het ons nog nooit ‘n ander mens raakgeloop wat sosatietjops maak of ken nie en ons maak stilweg vrede daarmee dat hierdie tjoppies van Ma voortaan net in die geheue geproe gaan word.

Tót nou die anderdag op besoek aan ‘n mark, wat in die volksmond seker eerder bekend staan as ‘n vlooimark, maar dit beslis nie is nie; eerder afsetgebied vir onwettige immigrante se onwettige gesteelde ware. Die enigste stalletjie wat vaagweg vlooimarkkwaliteit had, toe die een met die tweedehandse boeke. Ook dan nou presies hier waar ek krap en hooikoors opdoen van snuffel in die stof en stories wat elke boek van vertel..

Betsie Rood se Maleier-kookkuns, vang my oog. Ek kon nie glo dat die betrokke uitgewer in die sewentigerjare hulle sou bemoei het met so anti-Apartheid onderwerp en iets anders as Boerekos en vertaalde kookboeke uit die buiteland nie.

Met Cass Abrahams se Kook Kaaps-Maleis by die huis is dit ook maar redelik onbelangstellend dat ek deurblaai en wag vir vrou- en kindlief om die geld wat ons nie het nie, uit te gee op dit wat ons nie nodig het nie.

En daar spring die letters na my toe, so eie aan die Afrikaanse tong van die sewentigerjare:  Kotelet-sosaties. Nogal ‘n Kotelet-sosaties A én ‘n Kotelet-sosaties B.

Met die prys van skaapvleis wat dit is, en ‘n karmenaadjie die status van ‘n argaïsme of taalfossiel gekry het, is eksperimenteer met tjops seker nie iets wat enige mens nou se dae doen nie. Maar as die skip ingekom het, probeer gerus een van die volgende twee. Dis nie dieselfde as Judy s’n nie, maar as jy die twee resepte een maak en meng en pas na gelang van wat die kombuisrak bied, kom jy baie naby daaraan.

Mev A Hendricks se kotelet-sosaties

2 kg skaapboudkotelette
3 groot uie
1 groot knoffelhuisie
125 ml wit asyn
10 ml sout
12.5 ml suiker
10 ml borrie
2 groen rissies
Paar lourierblare
Olie

Was vleis, plaas in emalje- of erdehouer.
Sny uie in ringe.
Stamp kniffel en meng dit met al die ander bestanddele behalwe die olie.
Voeg dit by die vleis en roer dit om goed te meng.
Laat ‘n paar uur lank marineer.
Haal die vleis uit, skud die sous af en sit eenkant in ‘n bakskottel
Haal uie uit marinade.
Verhit olie in pan, voeg uie by en braai tot goudkleurig.
Voeg dan die marinade by en laat deurkook.
Giet sous oor die vleis.
Bak die vleis met sous ‘n half uur lank in die oond.
Bedien met fynaartappels of geelrys met beetslaai.

Kotelet-sosaties

450 g uie in dun ringe gesny
Vet of olie
‘n stukkie groengemmer
3 knoffelhuisies
Sout na smaak
Tamarynwater of asyn
1.5 kg skaapkotelette
Lourier-of lemoenblare
12,5 ml kerrie
5 ml borrie

Braai ui in vet of olie
Voeg gemmer, sout en knoffel saam gestamp daarby.
Voeg tamarynwater of asyn by en laat die vleis oornag daarin lê.
Laat die kotelette stadig in die sous prut, met die byvoeging van lemoen- of lourierblare, kerrie en borrie (gemeng) tot sag en gaar.

Ek, vir wat dit werd is, voeg die twee resepte se bestanddele saam, volg my eie kop met die hoeveelhede, mog het troffe met die asyn en laat dit prut op die stoof soos by tweede een, eerder as bak in oond soos by eerste.

En nee, ek kyk nie ‘n gegeefde perd in die bek nie. Hoe het die mense daai lekker ryk ongesonde mayonnaise gemaak wat hulle oor die aartappelslaai gegooi het?  


(Maleier-kookkuns, geskryf en saamgestel deur Betsie Rood, opgedra aan dr. I.D. du Plessis en die Maleiergemeenskap, is in 1977 uitgegee deur Tafelberg.)

No comments: