“’n Mens kan nie kies op wie jy verlief raak nie; jy kan wel
kies of jy daardie persoon gaan lief raak of nie.”
Nie ek wat so sê nie, maar Tannie Marthie. En ek huiwer om
die aanhalingstekens te gebruik — ek gaan haal die woorde een middag na skool
om die etenstafel lag-lag 27 of 28 jaar gelede — en dis maar hoogstens so
soorts van soos ek dit onthou.
Moeilik om in te dink dat ons, in daardie jare, en ons drie
kinders saam met haar om die tafel nie een ouer as in standerd agt nie, oor
verhoudings en huwelike oor die kleurgrens heen sou gesit en gesels het.
Tog het sy daardie middag (sonder dat ek dink sy enigsins doelbewus
wou) die waarde en sede en norm, waarmee ek tot vandag toe nog enige
liefdesverhouding wat soms deur sommiges bevraagteken kan word, in my brein
gekarteer, my as het ware geprogrammeer.
Hoe baie moes ons almal seker nie hoor dat verliefderigheid
toeslaan soos ‘n dief in die nag nie, of aan jou deur kom klop soos ‘n groot
noot waaroor jy bykans geen beheer het nie, wanneer daar geen toilet naby is
nie.
En elke keer as ek dit hoor, selfs as ‘n verliefderigheid
(en al die ander –geite wat dit inhou) in my kop (en waar ook al elders nog)
kom nesmaak, het ek Tannie Marthie se eenvoudige woorde van destyds
onthou: Jy kan nie kies op wie jy
verlief loop staan en raak nie, maar jy kan kies of jy daardie persoon gaan lief
raak of nie.
Eenvoudige woorde noem ek dit; of dit sulke maklike woorde
is, wet ek egter nie want deur die genade het ek nog nie juis nodig gehad om
die uitvoerbaarheid van haar woorde op die proef te stel nie.
Toe die geselskap hierdie naweek ‘n draai maak by
liefdesverhoudings tussen onderwyser en leerders, toe hoor ek Tannie Marthie
weer, daardie middag na skool om die etenstafel.
Toe onthou ek hulle ook weer. Hy het vir my Bedryfsekonomie
gegee. ‘n Moeilike man. Ons het die walglike gewoonte gehad om ‘n weefdraadjie
uit ons das te trek, elke keer as ons moes sak vir ‘n pak slae. En my das het
na drie jaar in sy Bedryfs-klas sommer sulke gate ingeval.
‘n Goeie atletiekafrigter was hy ook gewees. Sy drie
orrelpypies, onthou ek, het altyd as al die items by die betrokke punt verby
was, in die verspring-sandput gespeel.
In my matriekjaar het hy as graadvoog van die standerd 9’s
pa gestaan vir daardie jaar se matriekafskeid, iets wat in daardie jare suiwer
in die hande van die standerd 9’s en hul registervoogde was. Hulle het dekor
ontwerp en en gebou en geverf en vervoer, vir die kaartjies gesorg, ‘n dansitem
wat pas by die tema ingeoefen, en selfs die tafels die middag voor die tyd
gedek.
Nou is dit mos maar soos dit met skole is, die wat alles
doen, doen alles omdat hulle alles doen. En aan die hoof van die standerd
9-leerders se reëlingskomitee vir die matriekafskeid, ook daardie jaar, soos
jaar na jaar, die hoofseun en –dogter wat hoogstens so ‘n maand of wat voor die
matriekafskeid aangekondig is.
En so tussen die verf en die bou deur, tussen die kinders
gaan aflaai, of alleen saam agterbly tot aan die einde as almal weg is, gebeur
dit toe ook dat Meneer moet pa staan vir die baba van die dogter wat die
volgende jaar se aangewese en demokraties verkose hoofdogter is (was).
‘n Matriekjaar in die amp as hoofdogter, ‘n belowende
atletiekloopbaan, moer toe. ‘n Huwelik en drie klein kleuters moer toe.
Ek vermoed dat hulle, na die verliefedrigeite afgekoel het, wel
gekies het om vir mekaar lief te word. Dit was selfs die dae nog voor jy vinnig
London toe kon gaan vir ‘n aborsie, wat nog te sê vandag se dae met
eenstop-instap-aborsiedienste om elke hoek en draai.
Daar was ‘n egskeiding. Gevolg deur ‘n huwelik. ‘n Tweede
baba.
En op ons twintigjaar-reünie, ‘n hele paar jaar gelede, was
daar gesigte wat te vertelle had dat hulle steeds saam en dolgelukkig is.
Of dit ‘n sêd stôrie
met ‘n hêppie ending is, weet ek nie.
Baie sad wel die een
van die dominee wat opmerk sy broeder hoofouderling en die se vrou kom nie meer
saam kerk toe. Hy vra toe maar uit na ‘n vergadering en broeder hoofouderling
gedra vir hom Rooms en bieg van die krapperighede in die huwelik en toe die
trane begin biggel ook van die ander gemeentesuster met wie hy een die gebooie
oortree.
Daar word gebid en gehuil en ge-berader en ge-alles. Manlief
sal gaan regmaak waar hy verbrou het. Dis die regte ding om te doen.
Ook nie ‘n maand of wat na die laaste sessie nie, of broeder
hoofouderling en sy vrou sit weer saam in die kerk. Dominee merk dit op vanaf
die preekstoel en nadat die suster, wat gevaar geloop het om haar man te
verloor, klaar die Sondag-teebeurt na die erediens se koppies weggepak het,
stap hy nader om haar te komplimenteer op die volwasse en dapper keuse wat sy
uitgeoefen het na haar man hom aan ontrouheid skuldig gemaak het. Ook die wyse
waarop sy en die derde party van effe saam tee geskink het val hom op en getuig
van ware Christelike vergewingsgesindheid.
Net jammer dat broeder hoofouderling toe nooit by sy vrou
uitgekom het nie, en dit uit monde van haar predikant is dat sy toe te hore kom
van haar man se verhouding met die vrou wat nou net help tee skink het.
Dan onthou ek ook my kollega, hulle het nog die Sondagaand
geloop en handjies vashou op pad kerk toe, wie se man haar die volgende nag,
nadat sy vir hom toebroodjies gepak het praktyk toe, uit Londen bel om te sê
dat hy haar verlaat het. Sy sou later uitvind die mediese praktyk en selfs die
huis waarin sy vir hom opgewag het, is onder haar uitverkoop, die geld veilig
in die buiteland.
So onthou ons almal soortgelyke rillers.
Dan onthou ek weer eens Tannie Marthie se woorde “’n Mens
kan nie kies op wie jy verlief raak nie; jy kan wel kies of jy daardie persoon
gaan lief raak of nie.”
En dan gee ek nie om, om dit vir die waarheid te verkondig,
en daarvan te vertel nie. Hoe maklik of moeilik dit ook al mog wees om
laasgenoemde keuse te maak.
No comments:
Post a Comment