6.9.11

21/04/1928 - 21/04/2009 - 31/08/2011

Die bietjie wat van my ma oor is, en eintlik is dit so oorweldigend baie om voor dankbaar te wees, word dan nou, iewers by een of ander vakansieoord naby Warmbad (Brits? Rustenburg? Bronkhorstspruit?)  vandag 81.

Is dit nie lieflik nie? Met die oog op die Ou Lady se een en tagtigste neem haar een en negentig jarige wederhelf haar met vakansie. (Oom Cas en Tannie Marie, soos altyd, saam, om by te staan met, ek vermoed, veel meer as net die bestuur van die kar.)

En eintlik iets wat my die naweek vir die eerste keer, terwyl ek die kiddies se opstelle merk, getref het, wat ek dan nou maar vandag, heel gepas, kombineer met haar verjaarsdag.

Ek word by herhaling getref deur dit wat die kinders verklap in hul verhalende opstelle wat ‘n outobiografiese inslag móés hê. En by herhaling flits deur my gedagtes:  “Maar dis omdat jy smiddaes alleen by die huis is,” “Dis oorlat jou ma jou alleen grootmaak,” “Enkelouer.”

Alles natuurlik ‘n alledaagse, maar daar kry ek vir die eerste keer, drie en dertig jaar later, ontsettende waardering vir dit wat my ma gedoen het toe sy as werkende broodwinner oornag konfronteer word met die opvoeding van ‘n enekelouerkind.

Om die pot aan die kook te hou, Klein Hansie in standerd drie, maak sy en haar suster ‘n rokkewinkel, eers sommerso vanuit die sitkamer bedryf, oop. Hierdie klerewinkel (party fancy tannies het daarvan gepraat as ‘n boetiek, maar vir my ma-hulle was dit nooit iets anders as rokkewinkel nie) het my toe deur laerskool, hoërskool en universiteit, met vakansie en elke denkbare skooltoer of –uitstappie.

Maar teen ‘n prys: dis nie van nine to five nie, van eight to six, partykeers to half past six. Saterdae ook tot een, maar nader aan twee nadat opge-cash opgeruim is.

Ek was seker vir so twee weke ‘n flat boytjie — ‘n seuntjie met die woonstel se sleutel om sy nek vir wanneer hy van die skool kom, toe sy haar voet neersit en vir my ‘n ouerhuis kry om na terug te kom as skool verby is, ‘n ouerhuis met ‘n ma-figuur, ‘n bord kos, na vyf ook ‘n pa-figuur en sommer ‘n surrogaat boetie of sussie op die koop toe ook.

En dit was vir my normaal. Nooit het ek gedink my ma vertrou my nie, sy hok my in nie, pas my op nie. Sy soek ‘n meer huislike omgewing vir my om my middae in deur te bring.

Hierdie ander “mammas” van my, het my ma beslis nie betaal nie, hoe kon sy? Tog was hulle almal klante by  die rokkewinkel en het sy aan die hand van ‘n afslag hier en daar op haar gebrekkige manier probeer vergoed vir dit wat hulle vir my beteken.

Wat dit vir my beteken het, dink ek nou aan en besef ek vandag eers, kán met geld nie vergoed word nie.

Ledigheid is die duiwel se oorkussing. Ek weet van die onheile wat uit kan broei, uitbroei en al uitgebroei het, veral hier in die storm-en-drang-jare van ‘n kind.



Maar nooit, voor gister en die naweek se merk van die opstelle en weer eens ‘n kykie in die lewens van kinders wat smiddaes alleen aan stuur van sake staan, het ek gedink hoe anders my lewe uit sou kon gedraai het, het my ma my in die middae wees en sonder sorg gelaat nie. ‘n Tiener is ‘n tiener, ‘n seun is ‘n seun en ‘n tienerseun, ‘n bliksem.

Ons flat-boytjies was hoeka so ‘n moerse lekker crowd.

Ek weet van geen ander enkelouerkind na wie daar op hierdie manier omgesien is nie, maar daar sal baie wees.

Met twee en twintig jaar onderwyservaring weet ek dit is jammer dat nie meer enkelouers so ‘n opsie oorweeg nie.

Dankie Judy, jy het met versiendheid en uit nood gebore plan gemaak, en daardie plan het gewerk.

Dankie daarom ook, Oom Cas en Tannie Marie. Nie vir die feit dat julle op een en sewentig vir Judy en Jack vergesel op die Ou Lady se birthday bash nie, maar dankie dat julle vyf en dertig jaar gelede al (saam met Oom Gustav en Tannie Marica, Oom Hugo en Tannie Marjorie, ook Tannie Marthie) reeds daar was om my ‘n huis te gee waarheen ek na skool kon tuiskom.

Dit het ‘n wêreld, ‘n lewe, en ‘n leeftyd, se verskil gemaak.

Ek plaas hierdie ou een uit 2009 vandag, nie net in herinnering aan Judy nie, maar ook om Cas en Marie van wie ek hier vertel te eer. Teen die einde verwys ek ook na Oom Gustav en Tannie Marica, Tannie Marjorie en Oom Hugo, asook Tannie Marthie.

Die twee mans is beide reeds oorlede. Ek het Tannie Marica laat weet van die ou vrou se afsterwe. Tannie Marjorie, wat ek een keer in 28 jaar mee gepraat het, het my vanand gebel om te simpatiseer. En Tannie Marthie se seun, Riaan, my beste vriend sedert standerd 1, was verlede week, saam met Cas en Marie op die begfrafenis. Sy ma se afsterwe in 1988 kon ek nie bywoon nie, al sou ek hoen graag wou - ek was besig met my verpligte grensdiens.

Hierdie teks het my ook weer eens herinner hoe ontsettend baie in twee jaar kan verander.


No comments: